Toorliteratuur het in die Antieke tyd voorgekom in die vorm van gebede, vlugskrifte, praktyke en veral liefdestoordery. Dit is op papirusrolle geskryf en het uit die bygeloof van die sinkretisme van die laat Antieke tyd ontwikkel (3e eeu n.C). Uit die Romeinse tyd het die toorspreuke van Varro en Plinius bewaar gebly. In die 1e eeu n.C. het die klassieke skrywers die magiese bloot as literêre motief gebruik. Filostratos het ‘n werk geskryf oor die towenaar Apollonius van Tyana. Vanaf die Middeleeue is heelwat towerboeke geskryf wat die beheersing van die demone aflei uit kennis van die regte name, tekens en beelde.
Gedurende die Renaissance was die magiese en die okkulte ‘n wetenskap, soos blyk uit die geskrifte wat daaroor verskyn het. In Sachwörterbuch der Literatur sê Von Wilpert (1979: 917) dat die vroegste towerboeke wat vandag nog bekend en gewild is uit die lOe eeu dateer. Die meeste dateer egter uit die 9e eeu.
Voorbeelde: Clavicula Salomonis, Romanusbüchlein en Sechstes und siebentes Buch Mosis.
Sommige towerboeke bevat ook towerformules, seënspreuke en verwensingformules.
Towery as literêre motief kom reeds in Homeros se Odusseia voor. (Vgl. EINFACHE FORMEN)
Anna-Marie Bisschoff