Die HAT omskryf tradisie (Lat.: tradere: oorhandig) as die “oordra van geslag aan geslag, mondelings of in geskrif, van geestelike besittings, kultuurgoedere”. BALLADES, VOLKSVERHALE en gesegdes is mondeling van een geslag aan die ander oorgedra en hoort dus tot die MONDELINGE tradisie. Literêre konvensies wat van een geslag na die ander oorgedra word, vorm ook deel van ‘n literêre tradisie. Wanneer ‘n skrywer bv. van ‘n MOTIEF gebruik maak wat uit die verlede geërf is, is die motief ‘n tradisionele element in sy werk. Die pastorale literatuur strek ongeveer 2 000 jaar terug tot by Theokritos (3e eeu v.C), sodat daar gepraat kan word van die pastorale tradisie. ‘n Literêre tradisie omsluit dus “all the conventions, literary devices, and habits of expression handed over to a writer from the past”, aldus Shipley (1964: 418) in die Dictionary of World Literature. So kan ‘n mens praat van die tradisie van die “gelukkige einde”, van die BAROKTRADISIE, die ROMANTIESE tradisie, ens. Tradisionalisme kom voor wanneer sekere waardes uit die verlede as onontbeerlik vir die hede en toekoms gesien word.
Die term tradisie kan in sowel ‘n positiewe as ‘n negatiewe sin gebruik word. Daar word ‘n positiewe konnotasie aan geheg as ‘n mens sê dat ‘n skrywer se werk strook met ‘n eeue-oue en geëerde tradisie. Wanneer ‘n mens egter beweer dat sy werk bloot tradisioneel is, word tradisie in ‘n negatiewe sin gebruik. Die LITERATUURKRITIEK kan tradisioneel wees of in stryd met die heersende konvensies: ‘n bepaalde werk kan volgens ‘n bepaalde tradisionele opvatting geïnterpreteer word of ‘n tradisionele benaderingswyse kan verbreek word deur ‘n totale nuwe hantering.
Tradisie staan ook in verband met die ESTETIKA VAN IDENTITEIT (bevestiging), omdat die estetika van identiteit daarop berus dat die KODES wat die outeur beheers, dieselfde is as dié wat die leser beheers. Die estetika van teenstelling staan dus in verband met die nie-tradisionele, die AVANT-GARDISME bv., omdat die skrywer en die leser in hierdie geval verskillende kodes beheers.
Tradisie het ‘n negatiewe konnotasie wanneer ‘n skrywer passief en verbeeldingloos van sy kulturele erfenis gebruik maak; wanneer hy die konvensies van die verlede gebruik om nuwe lig op die hede te werp of die hede in die lig van die verlede te sien, word ‘n positiewe betekenis aan tradisie geheg.
Alle skrywers se werk besit in ‘n meerdere of mindere mate tradisionele elemente. Die spesifieke taal waarin hy skryf maak deel uit van ‘n tradisie, ook spesifieke literêre kodes, tegnieke en genres: “Anything traditional is established, has often been tried and is constantly returned to”, sê Cuddon (1979: 702) in A Dictionary of Literary Terms. Op sy beurt het die skrywer weer ‘n invloed op die tradisie.
T.S. Eliot se opstel “Tradition and the individual talent” het ‘n geweldige invloed gehad op sy kontemporêre en latere sienings van die tradisie, omdat die opstel geskryf is in ‘n tyd toe die eksperimentalisme hoogty gevier het en die tradisionele as iets afkeurenswaardigs gesien is. Eliot sien tradisie in ‘n positiewe lig: “Tradition is a matter of much wider significance. It cannot be inherited, and if you want it you must obtain it by great labour. It involves, in the first place, the historical sense, which we may call nearly indispensable to anyone who would continue to be a poet beyond his twenty-fifth year; and the historical sense involves a perception, not only of the pastness of the past, but of its presence; the historical sense compels a man to write not merely with his own generation in his bones, but with a feeling that the whole of the literature of his own country has a simultaneous existence and composes a simultaneous order” (Eliot, 1945: 49). ‘n Skrywer se hede is dus nie volledig sonder sy verlede of tradisie nie. Robert Weimann (1972: 9) vat dieselfde idee soos volg saam: “Tradisie is nooit net ‘n literêr-histories of nooit net ‘n eietydse literatuurverskynsel nie, maar dit omvat albei – en bring albei in verhouding tot mekaar: die historiese werk en sy hedendaagse werking, die oorgelewerde resultaat van skepping uit die verlede (die ‘voorbeeld’) en sy lewende voorstelling en omskepping.”
Bibliografie
Eliot, T.S. 1945. Tradition and the individual talent. In: Eliot, T.S. The Sacred Wood: Essays on Poetry and Criticism. London: Methuen.
Weimann, R. 1972. Einleitung: das Traditionsproblem und die Krise der Literaturgeschichte. In: Weimann, R.,
Lehmann, C, Militz, H. & Walter, M. Tradition in der Literaturgeschichte. Berlin: Akademie.
Anna-Marie Bisschoff