TRAVESTIE

Die herkoms van die woord (Fr.: travestir. om te vermom/verklee; Lat.: trans: oor, en vestire: te klee) suggereer sy essensiële betekenis van “presenting a subject in a dress intended for another type of subject”, aldus Holman (1972: 538) in A Handbook to Literature.

Travestie het aanvanklik gedui op ‘n SATIRIESE TEKS waarin ‘n ander teks belaglik gemaak word deur sy inhoud in ‘n nuwe vorm aan te bied. Die verhewe, deftige inhoud van die oorspronklike teks bly in essensie onveranderd, maar dit word op ‘n ligsinnige, ABSURDE, grotesk buitensporige wyse in banale, alledaagse taal geklee. Hierdie diskrepansie tussen “inhoud” en “VORM” verleen aan die travestie sy KOMIESE en satiriese effek. Die travestie, as ‘n vorm van literêre PARODIE, is egter minder subtiel as die parodie (wat ook steun op die ongerymdheid van “inhoud” en “vorm”).

M.M. Walters se gedig “Moses” (Cabala) bied ‘n voorbeeld van die soort travestie: die waardige Ou-Testamentiese Moses word beskryf as: “Net ‘n ou witkop wat met donker bril/ wydsbeen oor die woestyn uit staat/ en wonder watter koers vannag/ met sy weerbarstige volk weer in te vaar.// Tot dusver het dit bars gegaan …/ niemand wat sy penarie ook verstaan:/ die manna’s droog, die water’s min,/ more sal hy weer die klip moet slaan!// Die son bak blink, die laer is stil/ net die leier wat na rigting tas –/ hy sug en trek die sagte bokriem – stywer om sy boepens vas”.

Paul Claes (1988: 123—133) wys daarop dat die konsep travestie ook in ‘n nie-omiese sin gebruik word. Dié ernstige variant het burgerreg verkry met James Joyce se Ulysses-verhaal van een dag uit die lewe van drie Dublin-karakters – ‘n verhaal wat, soos die titel reeds aandui, sy parallel het in Homeros se mitiese verhaal van Odusseus se swerftogte. Die procédé om deur gebruikmaking van die mite ‘n deurlopende parallel te trek tussen hede en oudheid, is kenmerkend van die travestie as besondere romangenre. (Vgl. MITE IN DIE MODERNE ROMAN.)

Voor Ulysses (1922) het verskeie outeurs reeds van antieke modelle gebruik gemaak in die strukturering van hulle tekste: Thomas Mann gebruik dit in Der Tod in Venedig (1913) en Gustav Flaubert in Salammbô (1862); na Ulysses is die tegniek ook toegepas (o.a.) deur Marnix Gijsen in Klaaglied om Agnes (1951), W.F. Hermans in Nooit meer slapen (1966), Harry Mulisch in Twee vrouwen (1975) en in die Afrikaanse letterkunde deur Etienne Leroux in sy “reisverhaal” Isis Isis Isis (1969) waarin die (omgekeerde) Isis-mite hanteer word.

Wanneer personasies die sintese is van verskeie historiese, mitologiese en literêre figure soos in James Joyce se Finnegans Wake (1939) word die meervoudige travestie aangetref.

Die travestie kan in enger sin ook gebruik word om te dui op ‘n toneel waarin “verklee” word – waarin seksrolle omgeruil word en ‘n akteur ‘n vroulike rol en ‘n aktrise ‘n manlike rol speel. Die hieruit voortvloeiende spel van vergissings kom dikwels voor in komedies (vgl. bv. Shakespeare se The Comedy of Errors (1592) en Louis de Villiers se Johanna, o Johannes (1982)).

Hierdie eenvoudiger model van die travestie word ook in die KABARET gevolg (Aucamp, 1986: 12-13): ‘n man tree op in vroueklere en ‘n vrou in ‘n swaelstert.

Spraaktravestie as kabarettistiese element ontstaan wanneer woorde en dialoog wat volgens tradisionele verwagtinge by bepaalde sprekers of situasies pas, op verrassende, ontstellende, en daarom lagwekkende wyse in ‘n onversoenbare konteks byeengedwing word. Dieselfde travestie-effek kan ook tussen liriek en musiek ontstaan wanneer die kabarettis bekende musiek wat bepaalde assosiasies oproep disjunktief gebruik. (Vgl. Aucamp se gebruik van “Home, sweet home” en Afrikaanse volksliedjies in sy kabaretteks Slegs vir almal.)

 

Bibliografie

Aucamp, H. 1986. Slegs vir almal. Pretoria: HAUM-Literêr.

Claes, P. 1988. Echo’s echo’s. De kunst van de allusie. Amsterdam: De Bezige Bij.

 
Réna Pretorius