Triviaalliteratuur is literatuur wat op die massa afgestem is. Dit is literatuur wat bloot op ontspanning gemik is en sluit die volgende in: wildewesteverhale, rillers, strokiesprente, melodramatiese liefdesverhale en doktersromans. Die Franse noem dit paralittérature en die Duitsers Massenliteratur. In Engels word ‘n onderskeid gemaak tussen penny dreadfuls, en dime novels, ‘n Roman waarvan die doel bloot is om sensasie uit te buit en letterlik en figuurlik goedkoop is, is ‘n penny dreadful of ‘n dime novel. Pulp is op papier van ‘n minderwaardige gehalte gedruk; die verhale kan as triviaalliteratuur geklassifiseer word.
Triviaalliteratuur is ‘n literatuur wat grootliks tydgebonde is. Die gewildheid daarvan hang af van ‘n sekere groep lesers op ‘n sekere tydstip. Sommige jongmense is bv. in hulle tienerjare lief daarvoor om triviaalliteratuur te lees. As gevolg hiervan het triviaalliteratuur ‘n kort lewe.
Triviaalliteratuur het groot oplaesyfers – juis omdat dit op die massa afgestem is. Fontijn (1974) noem dit populaire literatuur. Triviaalliteratuur word soms ook lektuur genoem – die term hou soms ‘n waardeoordeel in: dit verwys na tekste wat ‘n mindere waarde het. Kruithof (1973: 27) vat die verskil tussen literatuur en lektuur (triviaalliteratuur) soos volg saam: “Het literaire verhaal kan zich lijnrecht, of van hot naar haar verspringend ontwikkelen, het literaire personage een rol spelen of zichzelf zijn, de literaire taal alledaags of buitengewoon; in lectuur kan slechts het eerste.”
Triviaalliteratuur streef dus geensins daarna om van hoogstaande literêre gehalte te wees nie.
Volgens Van Gorp et al. (1986) in die Lexicon van literaire termen is triviaalliteratuur “in wezen conservatief. Ze bevestigt de bestaande orde”. In triviaalliteratuur word slegs die ekstreme gestel: iets is óf swart óf wit. Triviaalliteratuur skep verder ‘n werklikheid wat skynbaar ‘n afskaduwing van die alledaagse werklikheid is, maar dit is in der waarheid ‘n fantasiewerklikheid, want “door de illusie van werkelijkheidsbeheersing (held, happy ending), door de naive ernst en het gebrek aan humor en ironie, dringt men de lezer in een pasieve leeshouding”.
Triviaalliteratuur is vir die literatuursosioloë en -psigoloë van groter waarde as vir die literatuur. Vir die literatuursosioloë gaan dit om die deurgronding van die ekonomiese en ideologiese werktuie van die kultuur waarin die triviaalliteratuur gepubliseer word. Die literatuurpsigoloë beskou triviaalliteratuur as ‘n neerslag van MITES van ‘n bepaalde tyd en sê dat dit die angste, node, die verlange na liefde, rykdom en sekuriteit weerspieël. (Vgl. ESTETIKA VAN IDENTITEIT EN ESTETIKA VAN TEENSTELLING (OPPOSISIE).)
Bibliografie
Fontijn, J. 1974. Schrivers van populaire romans. In: Fontijn, J. et al. Populaire literatuur. Amsterdam: Thespa.
Kruithof, J. 1973. Literatuur en lectuur. Roam, 96.
Raadpleeg ook:
Inge, MX 1988. Handbook of American Popular Literature. London: Greenwood Press.
Schulte-Sassen, J. 1981―1982. Trivialliteratur. In: Kanzog, K., Masser, A. & Kanzog, D. Reallexikon der deutschen Literaturgeschichte, IV. Berlin: De Gruyter.
Anna-Marie Bisschoff