TROEBADOER

Troebadoer (Provensaals: trobador, trobaire; N-Fr.: trouvére: uitvinder, van nuwe lirieke, melodieë en ander nuwighede) is die benaming vir die MIDDELEEUSE digter-sanger-voordragkunstenaar. Die troebadoers het in die Middeleeue die rol van vertolker vir die volk vervul, want die boekdrukkuns het nog nie bestaan nie. Hulle het dus as “leser” vir die volk opgetree. Die troebadoers het hulle kuns van 1100 tot 1350 aan die adellike howe dwarsoor Europa beoefen, maar veral in Suid-Frankryk, Spanje en Italië. In Provence is hulle troubadours genoem, in Noord-Frankryk trouvères, in Duitsland Minnesänger en in die Nederlande minstreels. Die troebadoer moet onderskei word van die jongleur, wat anders as die troebadoer net ‘n uitvoerende kunstenaar was.

Die hoofmotief in die kuns van die troebadoers was die hoofse liefde (fin’amors). Hulle het veral liefdeslirieke geskryf, maar party van hulle liedere het ook ‘n SATIRIESE of politiese inslag gehad. Ander motiewe wat in hulle werk aangetref word, is teerheid, verlange, eerbetoon, vrouediens en skoonheidsaanbidding.

Die troebadoers het hoofsaaklik ses genres beoefen, nl. die canso d’amor (‘n Provensaalse liefdeslied wat meestal bestaan het uit 5 tot 7 strofes van ‘n gelyke aantal versreëls, gevolg deur ‘n envoi); die pastorela (idilliese lied; dit was ‘n kort narratiewe gedig); die alba (oggend- of wagterlied, wat in Duits die Tagelied genoem is); die tenso (‘n strydgedig wat bestaan het uit ‘n dialoog tussen twee digters – of tussen ‘n digter en fiktiewe teenstander; die onderwerpe van bespreking was die liefde, politiek en literêre kritiek); die partimen of jeu parti (dialoogliedere, waarin die een digter met ‘n hipotese kom wat deur die tweede digter verdedig of gekritiseer word) en laastens die sirvente (‘n satiries-politiese lied).

Die troebadoers het hulle liedere in Ou-Provensaals gekomponeer en het ‘n groot invloed gehad op Dante en Petrarca asook op die ontwikkeling van die LIRIEK (veral liefdesliriek) dwarsoor Europa. Verder het hulle poësie ‘n belangrike invloed gehad op die hoofse roman.

Die troebadoers was afkomstig uit alle lae van die bevolking. Die talentvolste van hulle was uit die hoë adel afkomstig, soos Willem VII, graaf van Pitou. Ander wat van minder luisterryke afkoms was, is deur vorstinne soos Eleanora van Aquitanië in ‘n bevoorregte posisie geplaas. Sowat 400 troebadoers is by name aan ons bekend. Die eerste was Willem IX, hertog van Aquitanië. Ander bekende troebadoers was Marcabru, Bernart de Ventadorn, Jaufre Rudel, Arnaut Daniel, Bertram de Born en Eugedius. Sommige van hulle pragtig versierde handskrifte het deur die eeue bewaar gebly.
(Vgl. PROVENSAALSE LITERATUUR.)

 

Bibliografie

Anglade, J. 1973. Les troubadours de Toulouse. Genève: Slatkine Reprints.

Arnoux, J. 1972. Les troubadours et les félibres du midi. Genève: Slatkine Reprints.

Bee, P. 1961. Les saluts d ‘amour du Troubadour Arnaud de Mareuil. Toulouse: Pivot.

Briffault, R. 1965. The Troubadours (transl. Robert Briffault). Bloomington: Indiana University Press.

Brinckmeier, E. 1969. Die provenmlischen Troubadours nach ihrer Sprache, ihrer bürgerlichen Stelhtng, ihrer Eigenthümlichkeit, ihren Leben und Wirken. Wiesbaden: Sándig.

Cloete, T.T. (samest.). 1963. Van Hendrik van Veldeke tot Spieghel. Pretoria: Van Schaik.

De Paepe, N. 1970. Ik zag nooit zo roden mond: Middeleeuwse liefdespoëzie. Leiden: Sijthoff.

Diez, F. 1882/1965. Leben und Were der Troubadours: ein Beitrag zur näheren Kentniss des Mittelalters. Amsterdam: Rodopi.

Diez, E 1966. Die Poesie der Troubadours. Hildesheim: Olms. Salverda de Grave, J.J. s.a. De troubadours. Leiden: Sijthoff.

Strónski, S. 1968. Le troubadour Folquet de Marseille. Genève: Slatkine Reprints.

Topsfield, T. 1975. Troubadours and Love. Cambridge: Cambridge University Press.

Raadpleeg ook:

Kendrick, L. 1988. The Game of Love: Troubadour Word Play. Los Angeles: University of California Press.

Paterson, L.M. 1988. Life in the World of the Troubadours: Medieval Occitan Society. Cambridge: Cambridge University Press.

Roubaud, J. 1986. La Fleur inverse. Paris: Ramsay.

 
Anna-Marie Bisschoff