Die Verligting (siècle des lumières, illuminismo, Aufkädrung, Enlightenment) is ‘n historiese term as aanduiding van ‘n kosmopolitiese, intellektuele beweging wat ongeveer met die 19e eeu saamgeval het maar wat nie aan die eeu gebonde is nie. Elke Europese land het sy eie besondere bydrae tot die beweging gelewer, hoewel sekere lande, om politieke en godsdienstige redes, minder as ander bygedra het.
Die nuwe stroming, waarvan die naam die woord “lig” omvat het om intellektuele en kulturele aktiwiteite te beskryf, het sy oorsprong in die Antieke gehad, maar kon van voorafgaande eeue onderskei word deur die feit dat dit alles op die oorheersing van die rede, van logika en van kennis berus het. Die leiers van die beweging, die denkers of “philosophes” wat die leer van die RASIONALISME onderskryf het, het gepoog om mense in te lig en om hulle te bevry van die ou beperkende gelowe en ook van die despotisme van die kerk en die staat. Die kritiese rede was heeltemal gekant teen die Christendom wat op geloof gebaseer is, daarom is die Christendom verwerp en vervang deur ‘n sekulêre fïlosofie en ‘n natuurgodsdiens. Die opvatting dat die mens van nature goed is, maar uitgelewer aan ‘n bose samelewing, is gehuldig.
Die voorlopers van die stroming was Francis Bacon, die grondlegger van die wetenskap, Isaac Newton met sy teorie van universele swaartekrag, die libertyne soos Molière, La Rochefoucauld en La Fontaine, en die Engelse skrywers en filosowe Locke, Pope en Shaftesbury. Descartes met sy filosofie van die rede, kan beskou word as die grondlegger van die moderne filosofie, waarin die denke allesoorheersend is. Descartes het die idee verkondig dat die denke die ware bron van alle kennis en die bewerker van eenheid in die wetenskappe is. Deur die logika kan die mens sy eie bestaan bewys, asook die bestaan van die Volmaakte Wese wat God is (“Cogito ergo sum”, “Je pense donc je suis”: “Ek dink, dus is ek”). Van hom is die idee van die Deïsme afkomstig, asook die moderne idee van vooruitgang wat gelei het tot die stryd tussen die Antieke en die Moderne. Descartes se leer van die rede het die weg gebaan vir die Rasionalisme van die Verligting en van die kritiese houding en die objektiwiteit wat die filosowe graag wou bevorder.
Daar kan geen vaste datum genoem word vir die begin of die einde van die Verligting nie. In Engeland, waar die beweging op die tradisionele Britse empirisme gebaseer is, het dit ná die verskyning van Newton se Mathematical Principles of Natural Philosophy (1685) en Locke se On Human Understanding (1690) begin versprei. In Holland het die filosofiese beweging sy loop begin neem na die publikasie van Spinoza se teologies-politieke geskrifte in 1670.
In Frankryk waar die rede en logika die sleutelwoorde was in die literêre salonne waarheen die beweging versprei het, was Montesquieu se Lettres persanes (1721) en Voltaire se Lettres philosophiques (1734) die eerste werklik verligte werke. Italë en Spanje is albei deur Frankryk beïnvloed en het sy voorbeeld gevolg.
In Duitsland het die beweging ná 1720 begin met die werke van Christian Wolff, die dissipel van die filosoof Leibniz. Hy is gevolg deur Kant, die rasionalis Lessing en die “Duitse Voltaire”, Wieland. Die stroming het eerste in die universiteite posgevat en tot interne vryheid, die transendentale ideaal geneig. Daar was eenheid in die beweging van die Verligting m.b.t. oorspronge en voornemens, maar daar was verskillende maniere om uitdrukking daaraan te gee – afhangende van die land waar dit ingang gevind het.
Die Verligting het twee stadia deurloop: tot en met 1780 die stryd om intellektuele vryheid, en gedurende die dekade 1780 e.v. die tydperk waartydens die “filosofiese” beweging verbrokkel het en ‘n nuwe geslag wat graag hervorming wou sien na vore gekom het. Die Franse Revolusie was die klimaks van die onrus in Frankryk. Daarná het Kant e.a. begin reageer teen die sosiale utilitarisme en die sedeloosheid van die tydperk. Die Verligting het nie daarin geslaag om nuwe etiese grondslae te vind en so die bestaande metafisiese en politieke stelsels te verander nie, maar dit het wel die grondslag vir die moderne liberale wetenskappe gelê. Skrywers in die daaropvolgende twee eeue, soos Baudelaire, Rimbaud, Dostojevski, Jarry, Sartre, Tolstoy en Zola het voortgegaan met die soeke na antwoorde op die bestaansprobleme.
Die literêre GENRES is deur die nuwe stroming beïnvloed en die TRAGEDIE, KOMEDIE en die ROMAN het ‘n vernuwing ondergaan en volgens hulle eie onderskeidende style ontwikkel. Die saaiheid van die Rasionalisme het egter ‘n kentering in die rigting van die sentimentele en die misterieuse gebring. Die verskyning van Richardson se Pamela (1740) was ‘n keerpunt, in dié sin dat die sentimentaliteit van die roman die oorhand oor die filosofiese beweging gekry het. Op dieselfde wyse het die Duitse skrywer, Goethe, met sy melancholiese werke die weg gebaan vir die ROMANTIEK van die 19e eeu.
Die artistieke en literêre gebied het baie skrywers opgelewer: Voltaire (Zaire), Marivaux (komedies), Goldoni (TRAGIKOMEDIES). Lessing, Richardson (Pamela, Clarissa Harlowe), Diderot (Le neveu de Rameau), Hume (History of Great Britain), Goldsmith (The Vicar of Wakefield, The Citizen of the World), Goethe (Die Leiden des jungen Werthers, Wilhelm Meister), Rousseau (Rêveries du promeneur solitaire), Wieland (Oberon), Schiller, Sade, Blake en Wordsworth.
Op wetenskaplike en filosofiese gebied was die skrywers net so talryk: Spinoza, Bayle (Historical and Critical Dictionary), Newton, Fontenelle, Locke (grondlegger van die sensualisme, Letters on Tolerance, On Human Understanding), Shaftesbury (Essay on Virtue), Leibniz (“calculus”), Steele en Addison (die blad The Spectator), Wolff (op die gebied van die metafisika), Montesquieu (De l’esprit des his, Lettrespersanes), Butler (Sermons on Human Nature), Diderot (Encyclopédie), Pope (Essay on Man), Voltaire (Discours, Lettres Philosophiques) Hume, Buffon (Histoire naturelle), Wieland (Agathon), Rousseau (Emile, Le contrat social) wat ‘n invloed uitgeoefen het op Marx, Engels e.a., en Kant (Kritik der reinen Vernunft).
Die Verligting sou lei tot die Romantiek en tot die idee van die natuur as aanvullende komponent vir die mens in sy onbevredigende bestaan. Dit het ook gelei tot die ontwikkeling van ‘n voorliefde vir belydenis in die roman en aldus tot die ontwikkeling van die genres van die BRIEFROMAN en die MEMOIRES. Die aandrang op erkenning van die individu was ook belangrik en die roman het al meer persoonlik en subjektief geword.
Die historiese roman en drama het gewilder geword namate ontwikkelinge in die wetenskap tot ‘n historiese besef gelei het.
Die Verligting was dus ‘n kosmopolitiese intellektuele beweging, waartoe al die Europese lande bygedra het en wat gepoog het om die mens te bevry van die bande van die eertydse gelowe deur die heerskappy van die rede voorop te stel. Dit was ‘n beweging wat gekenmerk is deur kritiek op alle bestaande waardes sonder dat daar noodwendig enige bruikbare oplossings voorgestel is.
Bibliografie
Anchor, R. 1967. The Enlightenment Tradition. Berkeley: University of California Press.
Biedermann, A. (red.). 1969. La philosophic des Lumiéres dans sa dimension européenne. In: Nouveau classique Larousse, 1, 2.
Crocker, L.G. (ed.). 1969. The Age of Enlightenment. London: Macmillan.
Fellows, O. (ed.). 1942. The Age of Enlightenment. New York: Appleton-Century-Crofts.
Goldman, L. 1973. The Philosophy of the Enlightenment. London: Routledge & Kegan Paul.
Hilda M.B. Thomas