VIRELAI

Die virelai (vireli, virelay) is ‘n Provensaalse kunslied wat in die 14e en 15e eeu gewild was, maar dit is ook in die 17e eeu deur bv. Deschamps beoefen. Dit word ook die chanson baladée genoem. Die virelai is verwant aan die lai, ‘n digvorm uit die Middeleeuse Franse literatuur. Die virelai was oorspronklik ‘n vorm van die danslied; dit is waarskynlik gesing deur een of meer leierstemme en ‘n koor.

Die virelai kom in verskeie vorme voor. In sy eenvoudigste vorm bestaan dit uit vyf strofes wat 21 verse vorm. Dit word verdeel in ‘n refrein van vyf verse, ‘n eerste strofe wat uit drie verse bestaan, ‘n tweede strofe wat uit drie verse bestaan, die derde strofe bestaan uit vyf verse en die gedig eindig dan met ‘n refrein van vyf verse. Na die refrein kry ‘n mens ‘n keerpunt of le lai vire; hierna kan ‘n mens weer drie strofes en ‘n refrein kry. Die patroon kan herhaal word solank dit die digter behaag.

Die virelai kan ook ‘n ander getal strofes as bg. hê.

‘n Dubbele virelai kom voor wanneer twee strofes van drie reëls elk tot ‘n kwatryn omvorm word.

Wanneer die virelai net uit een strofe bestaan, word dit ‘n bergerette genoem.

Daar bestaan twee soorte virelai, nl. die virelai ancien, waar ‘n mens twee rymklanke in ‘n strofe het en waar die tweede rymklank die eerste rymklank van die volgende strofe vorm; die laaste rymklank in die virelai is ‘n herhaling van die twee heel eerstes. In die virelai nouveau is die hele gedig op twee rymklanke gebou. Die eerste twee verse sluit opeenvolgende strofes om die beurt af; die laaste strofe word deur die eerste twee verse beëindig, maar in spieëlorde. Die soort virelai kom soms by Austin Dobson voor.

Die woorde virelai en vireli was waarskynlik oorspronklik betekenislose woorde wat in die refrein gebruik is. Later het dit die benaming vir die gedigsoort geword.

(Vgl. ook PROVENSAALSE LITERATUUR en TROEBADOER.)

Raadpleeg ook:

Bee, P. 1977—1978. La lyrique française au moyen-âge (XIIe — XIIIe siècles). Contribution à une typologie des genres poètiques médiévaux, 2 die. Paris: Picard.

Anna-Marie Bisschoff