Daar bestaan onsekerheid omtrent die betekenis en oorsprong van die woord “dandy”. Een verklaring wat deur die Encyclopaedia Britannica gegee word, is dat “dandy” afgelei is van die Franse woord “dandin”, wat “swaap” beteken.
Die verklaring wat die meeste voorkorn en die algemeenste aanvaar word, is dat “dandy” waarskynlik gedurende die 18e eeu in Skotland ontstaan het. Volgens Brewer (1963:266) beteken die woord “windmaker” of “fat”.
‘n Ander waarskynlikheid is dat die term “dandy” ontleen is aan die woord “dandiprat”. Laasgenoemde was ‘n klein muntstukkie wat deur koning Hendrik VII geslaan is.
Verder kan “dandy” ook verband hou met die woord “Jack-a-dandy”, wat so vroeg as 1659 voorgekom het. (“Jack” = ‘n persoon, “a” = van, “dandy” = waarskynlik ontleen aan die Skotse naam Dandy wat ‘n verkorte vorm van Andrew was.)
Volgens die Winkler Prins Encyclopedie het die klassieke “dandy” soos volg daar uitgesien: hy het bakkebaard gedra en “droeg, uit vrees zijn figuur onvoordelig te doen uitkomen, nooit een huissleutel in zijn broekzak en verving in zijn spreken de klank r door een w”.
Teen 1880 was dié soort “dandy” nie meer in die mode nie en ander woorde het nou ook die modewoorde geword, nl. “masher” (“fat” of “Don Juan”) en “swell” (“haan” of “doring”). In wese was die “mashers” of “swells” egter steeds “dandies”.
Volgens die Collins Dictionary of the English Language word die term “dandy” vandag gebruik t.o.v. “a man greatly concerned with smartness of dress”. Dus kortom: ‘n fat.
Vroeg in die 19e eeu was daar ‘n groepie Engelse jong mans wat geweldig opvallend was vanweë hulle besonder swierige kleredrag. Hulle was kenbaar aan die “uniform” wat hulle gedra het: hulle baadjies was altyd blou of bruin met koperknope. Die agterste baadjiepante was besonder lank – dit het soms tot byna op hulle skoenhakke gehang. Die onderbaadjies – waaronder hulle valletjieshemde en swierig geknoopte krawatte gedra het – was styfpassend. So ook die broeke. Op hierdie wyse is hulle smal middeltjies beklemtoon. Daarby het hulle lang kapstewels met tossels gedra.
Dié groepie jong mans was nie net opvallend vanweë hulle kleredrag nie, maar ook vanweë hulle lewenshouding van bestudeerde onbeskoftheid. Teen 1813 is hierdie groepie “dandies” genoem.
Die bekendste van hierdie “dandies” was George (soms ook Georges gespel) Bryan Brummell, of Beau Brummell soos hy genoem is. Eintlik het die dandyisme as lewenshouding ontstaan “in de mythe rond Georges Bryan Brummell, als dandy het product van een Engelse society, die zich verveelde …”, volgens Swinkels (1964: 264) in Moderne encyclopedie der wereldliteratuur.
As Eton-student was Brummell ‘n intelligente student wat egter nie veel erg aan sy studie gehad het nie. Hierin was hy eg dandyisties: dandies stel dikwels nie daarin belang om iets konstruktiefs te verrig nie. Tipies van die dandy het Brummell dikwels in buie van melancholie verval. Dit het die boustene gevorm vir sy latere lewenswyse van elegansie en koele onbeskoftheid.
Ander bekende dandies van Brummell se tyd was lord Alvanley en hertog D’Orsay wat in 1852 oorlede is en as die laaste dandy bekend gestaan het. In werklikheid was hy nie die laaste dandy nie – die dandyisme kom vandag nog voor.
Beau Brummell het vir baie dandies as voorbeeld gedien. In Engeland is hy bv. nagevolg deur die ROMANTIESE digter lord Byron.
‘n Ander baie bekende dandy in Engeland was Oscar Wilde, Skots van geboorte. “Zijn boutades, zijn met sier en zwier gespeelde luiheid doen het enigszins denken aan de Nederlandse romancier Louis Couperus” (Swinkels, 1964: 264-265). Tipies van die dandy het Wilde ‘n neiging tot die buitensporige gehad, nie net in sy kleredrag nie maar ook in sy huis: “The house was extravagantly and beautifully decorated according to Wilde’s idiosyncratic taste”, aldus die Encyclopaedia Britannica.
Ook in Frankryk het Brummell se dandyisme ‘n aanhang gehad in figure soos die reeds genoemde hertog D’Orsay en die skrywer Honoré de Balzac. Balzac was so gefassineer deur die dandyisme dat hy ‘n teoretiese werk genaamd Traitè de la vie elegante (Traktaat van die elegante lewe) daaroor geskryf het. Ook in sy literêre werk figureer dandies dikwels, meestal gemodelleer op die Beau Brummell-beeld.
J.A. Barbey d’Aurevilly het ‘n sg. handboek van die dandyisme geskryf met die titel Du Dandysme et de Georges Brummell. Hierin sê hy o.a. dat ‘n mens die dandyisme nie kan definieer nie: jy is ‘n dandy of jy is nie ‘n dandy nie. Dit is m.a.w. nie iets wat ‘n mens kan aanleer nie – dit is iets wat uit jouself vloei of nie vloei nie.
‘n Ander Franse dandy was Charles Baudelaire. Baudelaire was ‘n rebel in die burgermaatskappy, en vir hom was die woord dandy sinoniem met “heilige” en “held”, hoewel hy die verband met die modebewustes en verfyndes nie ontken het nie.
In die Nederlande was, afgesien van Louis Couperus, o.a. Paul van Ostaijen ‘n dandy. Anders as die gewone dandy wat opvallend was vanweë sy uiters modieuse kleredrag, het Van Ostaijen na die teenoorgestelde geneig: hy is dikwels gesien in ‘n onmodieuse rooi jas en rooi onderbaadjie. Verder was hy in swart geklee. Van Ostaijen was dus eerder opvallend vanweë die vreemdheid van sy kleredrag as die oormodieusheid daarvan soos ‘n mens gewoonlik by die dandy aantref.
Die dandyisme is ‘n kosmopolitiese verskynsel – dit het in die 19e eeu selfs sover as Rusland voorgekom – waarskynlik via Frankryk. Enkele Russiese dandies was Poesjkin, Gogol, Tolstoy en Chekhov.
Die dandyisme kom vandag nog voor en nie noodwendig altyd by kunstenaars en kunstenaarstipes nie, hoewel dit die meeste by hulle voorkom en voorgekom het. Dit kan beskou word as ‘n simptoom van die mens, en veral die kunstenaar se strewe na “andersheid”, sy begeerte om sy individualiteit aan die wêreld te verkondig.
‘n Ander uitvloeisel van dieselfde begeerte van die mens, en veral van die kunstenaar, om kenbaar te wees te midde van ‘n massa, is die hedendaagse neiging om ‘n voorkoms te hê wat juis die teenoorgestelde is van die van die dandy, nl. ‘n taamlike onversorgde en onkonvensionele voorkoms.
Een van die opvallendste aspekte van die “tradisionele” dandy is sy altyd onberispelike kleredrag. Trouens, die klere getuig gewoonlik van oorversorgdheid. Couperus het bv. nie daarvan gehou om smiddae te gaan wandel nie, “omdat zijn kleding dan niet meer ‘immaculée’ was zoals hij het noemde” (Vogel, 1973: 98). Couperus was nie net uiters gesteld op sy kleredrag nie; sy hande was ook altyd netjies gemanikuur en met ringe versier. Hy het dikwels voordragte uit sy eie werk gehou, en tydens hierdie voordragte het hy gewoonlik ‘n eksotiese orgidee in sy knoopsgat gedra.
Kunstenaardandies is dikwels baie produktief, maar hou daarvan om ‘n front van luiheid voor te hou. Couperus het dikwels koketterig verwys na sy sg. luiheid: “Poserend als flaneur, lui en verveeld, die niets anders had dan te wandelen door de Haagse lanen, heeft hij in werkelijkheid een enorm oeuvre achtergelaten, dat slechts met een grote werkkracht tot stand gebracht kon worden” (Vogel, 1973: 12).
Dandies het dikwels houdings of poses wat vir die buitewêreld aanstellerig voorkom. ‘n Neef van Couperus herinner hom hoe Couperus altyd op ‘n oordrewe manier gereageer het.
‘n Verdere karaktertrek wat ‘n mens by die dandy aantref, ook by Couperus, is melancholie: “Hij lijdt zo hevig aan de fin de siècle-gemelijkheid, dat hij in Parijs in een soort crisistoestand komt” (Van Garrel, 1974: 37). Couperus het gaste tydens sulke buie van melancholie dikwels weggestuur met die boodskap dat hy hulle nie te woord kon staan nie, want “de heer Couperus weent” (Van Garrel, 1974: 42). (Vgl. FIN DE SIÈCLE.)
Gepaardgaande met die melancholie, kry ‘n mens by die dandy dikwels ‘n gevoel van lewenstragiek. Hierdie pessimisme omtrent die lewe het by Couperus toegeneem namate hy ouer geword het. Dit het hy besweer met “het mildste verweer van het hart: de charme” (Dinaux, 1958: 19).
Die sjarme is ‘n verdere karaktertrek van die dandy, nie net in die werklikheid nie, maar ook in die literatuur. Sjarme is die dandy se verweer teen die melancholie en pessimisme.
‘n Ander tiperende eienskap van die dandy, wat ‘n mens ook by Couperus aantref, is uiterse sensitiwiteit. Hy kon negatiewe kritiek op sy werk nie verduur nie en het self ook nooit negatiewe kritiek op ander outeurs se werk gelewer nie.
Tipies van die dandy het Couperus ‘n smaak vir die oordadige gehad. Soos Vogel (1973: 55) dit stel, Couperus het meer van ‘n barokpêrel gehou as van ‘n ronder, suiwer waterpêrel. Vandaar ook dat Couperus so geweldig gefassineer was deur die laaste DEKADENTE jare van die Griekse Klassieke Oudheid wat gekenmerk is deur ‘n oordadigheid op feitlik alle gebiede.
Dandies is altyd slank – ‘n ronder figuur sou hulle voorkoms van fyn versorgdheid tot nadeel strek. Dit is bekend dat Couperus met gewigte geoefen het namate hy ouer geword het, juis met die oog daarop om sy slanke figuur te behou.
Die dandy handhaaf ook ‘n bepaalde lewenshouding: dit is gewoonlik dié van neerbuigendheid of meerderwaardigheid in verskillende grade teenoor die werklikheid waarin hy beweeg, of sekere aspekte daarvan waarmee hy te doen kry.
By sommige dandies kan hierdie houding van meerderwaardigheid so intens wees dat dit as onbeskoftheid bestempel kan word.
Soos in die geval van Couperus, kan die dandyisme ‘n spel wees, ‘n pose: “De uiterlijke houding van de dandy was voor hem echter de beste pose, om zijn onevenwichtig op stemmingen drijvend gevoelsleven zowel te maskeren als te uiten” (Vogel, 1973: 159).
Dandies word nie net in die werklikheid aangetref nie, maar ook in literêre werk. Die interessante is dat die outeurs van die werke dikwels self ook dandies is of was.
Een van die uitnemendste dandies in die literatuur is Dorian Gray in The Picture of Dorian Gray, geskryf deur Oscar Wilde, wat self ‘n dandy was. Tipies van die dandy besit Dorian Gray ‘n ongeëwenaarde skoonheid: “Yes, he was certainly wonderfully handsome, with his finely-curved scarlet lips, his frank blue eyes, his crisp gold hair” (Wilde, 1916).
Male sonder tal word Dorian Gray se modieuse kleredrag en juwele genoem. Hy is selfs toonaangewend wat die mode betref: “His mode of dressing, and the particular styles that from time to time he affected, had their marked influence on the young exquisites of the Mayfair balls and Pall Mall club windows, who copied him in everything that he did, and tried to reproduce the accidental charm of his graceful, though to him only half-serious, fopperies” (Wilde, 1916: 145-146).
Die vermelde “fopperies” is ook deel van die dandy se lewenshouding: die oorversorgdheid wat deur sy uiterlike weerspieël word, word ook deur sy innerlike weerspieël.
‘n Ander dandy wat ‘n mens in die Engelse literatuur aantref, is Sherman Winter in Angus Wilson se Hemlock and After. Sherman Winter is na die uiterlike nie so aantreklik soos Dorian Gray of Vincent Vere van Couperus nie, maar sy optrede is dié van die dandy: “He had fallen into a conventional, caricatured pansy manner (my kursivering) when he was quite young, and, finding it convenient, had never bothered to get out of it … The manner, too, fitted well with his neither striking nor unpleasant pink face, his receding fair hair and willowy shape …” (Wilson, 1968: 89).
In die Nederlandse literatuur kan ‘n mens Eline Vere se neef Vincent (in Eline Vere deur Louis Couperus) as ‘n dandy beskou. Vincent se netjiese, mooi voorkoms is dié van die dandy: “Zijn gelaat had schone regelmatige trekken, bijna te schoon voor een man, met de fijne rechte neus, de kleine mond … overdonsde door het dunne snorretje … Zeer slank en fijn gebouwd, en hij was eenvoudig en keurig in een donker, half gekleed kostuum, en opvallend waren zijn smalle voeten en zijn slanke hand, met dunne, witte vingers, een hand als van een artist …” (Couperus, 1974b: 59-60).
As ‘n dandy is Vincent altyd moeg, loom en melancholies: “Vincent scheen echter geen andere indruk te krijgen dan die van een rustige bien-être, in zijn gewone matheid …” (Couperus, 1974b: 150; my kursivering).
‘n Moderne dandy in die literatuur is Spalanzani in Louis Ferron se De Gallische ziekte. “Hij is een opvallende type: lang, slank en benig: bleek gezicht met donkere, loerende ogen … Hij heeft slanke vingers die hij heel melancholiek langs zijn kaken kan laten strelen” (Ferron, 1979: 9-10). Spalanzani bestee altyd besondere aandag aan sy voorkoms – Nathanael verdink hom selfs daarvan dat hy gesigpoeier gebruik: “Hij ruikt naar spaanse zeep, bewerkt dagelijks zijn nagelriemen en soms zelfs heb ik het akelige vermoeden dat hij zich blanket. Poudre de riz, rimmel, tijden, zeden” (Ferron, 1979: 11).
Anders as in die geval van Oscar Wilde en Louis Couperus, is Louis Ferron self nie ‘n dandy nie. Sowel Eline Vere as The Picture of Dorian Gray is sterk outobiografies, terwyl dit nie die geval is met De Gallische ziekte nie.
By die karakteristieke van die dandy is reeds genoem dat hy gewoonlik ‘n meerderwaardige, selfs onbeskofte houding teenoor sy omgewing inneem. Sherman Winter is bekend vir sy “malicious chatter” (Wilson, 1968: 89). Om Vincent Vere se mond speel “vaak iets spotzieks of minachtends” (Couperus, 1974b: 59). Spalanzani se houding teenoor veral Nathanael is meestal meerderwaardig: “Hij lachte hoog en melodieus. ‘Jouw onderwerpen,’ zei hij, ‘zijn de moeite van het bespreken niet waard; ijdel gesnapt, loopt als zand tussen de vingers door’ ” (Ferron, 1979: 11-12).
Dandies in die literatuur, anders as dandies in die werklikheid, is selde met iets konstruktiefs besig. Vincent is altyd moeg en mat en beoefen geen bepaalde beroep nie. Spalanzani se geliefkoosde tydverdryf is om sy tyd in restaurante te verwyl en die dames geselskap te hou: “Vrijwel brengt hij uren door in lunchrooms, konditoreien, wijnkroegen of cafes om daar, gezeten naast de modepoppen die hij er opdoet, lucht te geven aan zijn twijfelachtig gemoed” (Ferron, 1979: 11). Dorian Gray hou of woon die een partytjie na die ander by, maar verrig niks daadwerkliks nie.
Slankheid is ‘n eienskap van die dandy, ook in die literatuur. Dorian Gray is skraal, so ook Vincent, Sherman Winter en Spalanzani.
Dandies in die literatuur (en dikwels in die werklikheid ook) is gewoonlik kunssinnig. Vincent hou van luukse voorwerpe om hom; so ook Dorian Gray. Daarby handhaaf hulle ‘n houding van erudisie: Sherman Winter spreek hom bv. krities uit oor die drama wat hy bygewoon het, terwyl Spalanzani vlot kan filosofeer oor die waarde van ervaring (Ferron, 1979: 13) of oor digterskap.
Wanneer ‘n mens die dandy in die werklikheid vergelyk met die dandy in die literatuur, kan tot die gevolgtrekking gekom word dat hulle grootliks ooreenstem. Trouens, in die bespreekte karakteristieke verskil die literêre dandy en die dandy van die werklikheid net in een opsig: dandies in die werklikheid is dikwels geweldig produktief, terwyl dandies in die literatuur dit gewoonlik nie is nie. Daar moet egter in gedagte gehou word dat die dandy in die werklikheid sy ywer dikwels wegsteek agter ‘n skerm van luiheid (soos Couperus en Wilde gedoen het).
Volgens Holman (1972: 146) in A Handbook to Literature, verwys die dandyisme ook na ‘n literêre styl wat gewoonlik voorkom in die werk van die Franse en Engelse skrywers van die laaste kwart van die 19e eeu. Die styl word gekenmerk deur oorversierde taal en ‘n oordrewe aandag aan die beskrywing van emosie. Oscar Wilde se werk getuig dikwels van dandyisme; in Nederland kom dit ook dikwels in die werk van Louis Couperus voor.
(Vgl. ESTETISISME en DEKADENSIE.)
Bibliografie
Anon. 1983. Introduction. In: Wilde, O. The Picture of Dorian Gray. The Complete Short Stories. De profundis. Poems. The Importance of Being Earnest and Other Plays. London: Octopus.
Borgers, G. 1974. Inleiding voor het geëerd publiek. In: Van Ostaijen, P. Music-hall: een programma vol charlestons, grotesken, polonaises en dressuurnummers. Den Haag: Bakker.
Couperus, L. 1905/1974a. De berg van licht. Wageningen: Veen.
Couperus, L. 1974b. Eline Vere: een Haagse roman. Amsterdam: Van Kampen.
Dinaux, C.J.E. 1958. Louis Couperus. In: Dinaux, C.J.E. Gegist bestek: benaderingen en ontmoetingen. ‘s-Gravenhage: Stols.
Ferron, L. 1979. De Gallische ziekte: roman. Amsterdam: De Bezige Bij.
Hartcup, A. 1981. Introduction. In: Wilde, O. The Importance of Being Earnest: A Trivial Comedy for Serious People. London: Methuen.
Van Garrel, B. 1974. Louis Couperus: dandy in domineesland. In: Van Garrel, B. et al. Schrijversportretten. Amsterdam: Elsevier.
Vogel, A. 1973. De man met de orchidee: het levensverhaal van Louis Couperus. ‘s-Gravenhage: Nijgh & Van Ditmar.
Wilde, O. 1916. The Picture of Dorian Gray. London: Simpkin, Marshall, Hamilton & Kent.
Wilson, A. 1968. Hemlock and After. Harmondsworth: Penguin.
Raadpleeg ook:
Baudelaire, C. 1976. Le peintre de la vie moderne, LX: Le Dandy. In: Oeuvres complètes II. Paris: Pléiade.
Carassus, E. 1971. Le mythe du dandy. Paris: Colin.
Cully, L.E 1982. Artists’ Life-styles in Nineteenth-century France and England: The Dandy, the Bohemian and the Realist. Ann Arbor: University Microfilms International.
Hinterhäuser, H. 1972. Der Dandy in der europäischen Literatur des 19. Jahrhunderts. In: Weltliteratur und Volksliteratur.
Joseph, A. 1984. Die ekspressionistiese poëtika van Paul van Ostaijen. M.A.-verhandeling, PU vir CHO, Potchefstroom.
Moers, E. 1960. The Dandy: Brummel to Beerbohm. London: Seeker & Warburg.
Neumeister, S. 1973. Der Dichter als Dandy: Kafka, Baudelaire, Thomas Bemhard. München: Fink.
Prevost, J.C. 1957. Le dandysme en France (1817-1839). Gèneve: Droz.
Rieger, D. 1980. Don Juan als Dandy. Zeitschrift für französische Sprache und Literatur, 90.
Anna-Marie Bisschoff