EENBEDRYF

Soos die naam aandui, is ‘n eenbedryf ‘n DRAMA wat net uit een bedryf bestaan; die speeltyd wissel van tien tot veertig minute. Onder eenbedrywe kan alle tipe dramas, van KLUG tot TRAGEDIE, gevind word. Alles wat reeds van die DRAMA gesê kan word, geld ook vir die eenbedryf; die belangrikste onderskeidende kenmerk is dat al die elemente in ‘n meer gekonsentreerde vorm aangetref word. Die eenbedryf staan in dieselfde verhouding tot die drama van volle lengte as die kortverhaal tot die roman. G.J. Beukes (1965: 42) gee die volgende definisie daarvan: “Dis die aanbieding in dramatiese vorm en in ononderbroke handeling van een verhewigde lewenskrisis, wanneer twee of meer botsende magte teenoor mekaar staan in die uiterste finale beslissing van ‘n stryd wat in die meeste gevalle reeds maande of jare vantevore begin net.”

Daarom beperk die eenbedryf hom tot een hooftema, soos dit in een enkele gebeurtenis uitgebeeld word. Dit moet ‘n krisismoment wees waarin verlede en toekoms saamgetrek word, ‘n moment waartoe ‘n hele reeks gebeurtenisse in die verlede aan­leiding gegee het en wat beslissende gevolge vir die toekoms sal hê. Dit beteken dat die eenbedryf homnormaalweg aan die eenhede van plek en tyd hou; die handeling vind op net een plek en binne ‘n baie kort tyd plaas. In die intrige is daar dus nie ruimte vir ‘n lang ontwikkeling nie en die handeling begin vlak voor die krisis. In die eksposisie word die aanvangsituasie so gou moontlik geskets en die oorsake van die komende botsing word aangedui. Daarna ontwikkel die handeling vinnig sodat daar nie tyd vir newe-intriges is nie. Hier is dit nog moeiliker as in die gewone drama om die tradisionele fases te onderskei. Jaco van der Merwe (1970: 31) sê dat die volgende indeling die beste sou wees: aanleiding, krisis en gevolg; in die meeste eenbedrywe word slegs aanleiding en krisis gevind. Daar is gewoonlik slegs een stygende spanningslyn wat tot die krisis voer. Die hoogtepunt word aan die slot gevind, dikwels in die laaste paar woorde, wat ‘n verrassende wending bring.

In die eenbedryf is daar dus geen plek vir ‘n uitvoerige ontleding van die KARAKTERS nie, want hulle word nie by verskillende geleenthede en in verskillende situasies getoon nie. Die veraaamste karakters word so gou moontlik voorgestel in ‘n situasie wat hulle belangrikste eienskappe openbaar. Daar is nie geleentheid vir karakterontwikkeling nie, maar slegs vir die openbaring van eien­skappe wat latent is en nie onmiddellik tot uiting kom nie. Konsekwentheid in die karaktertekening is hier van besondere belang; die latere optrede van ‘n karakter moet met die eerste indruk ooreenstem. Daarom is daar gewoonlik net ‘n beperkte aantal karakters. Ook die dialoog is baie gekonsentreerd en beknop. Daar is nie plek vir lang uiteensettings, uitvoerige beskrywings of monoloë nie. Alles wat gesê word, moet tot die ontwikkeling van die handeling bydra, want daar is nie tyd vir niksseggende gesprekke wat net dien om ‘n indruk van realisme te skep nie.

Die jonger eksperimentele eenbedryf wyk in baie opsigte van hierdie patroon af; dit wil nie ‘n goed geboude drama met ‘n normale dramatiese ontwikkeling en duidelik getekende karakters bied nie, maar slegs ‘n greep gee uit ‘n onoorsigtelike geheel, en dit wil na albei kante oop wees. Veral ABSURDE en GROTESKE elemente speel hier ‘n groot rol.

Dit is effens moeilik om ‘n oorsig oor die ontwikkeling van die eenbedryf te gee. Streng genome kan ‘n mens slegs van ‘n eenbedryf praat in ‘n periode waarin die indeling in bedrywe gebruiklik is. As die term egter ruimer geïnterpreteer word, kan die korter dramatiese stukke van die MIDDELEEUE ook ingesluit word. Daar was ‘n groot verskeidenheid van hierdie soort werke, veral komies, soos die KLUGTE en SOTTERNIEë, maar ook ernstiger van aard, soos die ABELE SPEL en MORALITEITE. In Engeland is die term interlude vir enige kort drama, sowel komies as ernstig, gebruik. Later, toe die klassieke reëls die oorhand gekry het, het die korter stuk minder algemeen geword, maar is nog steeds beoefen, bv. deur Molièere. In die 18e eeu het dit ontwikkel as aanvulling by langer dramas, òf aan die einde van die program, die sg. after­piece, òf meer dikwels aan die begin, die sg. curtain-raiser.

Teen die einde van die 19e eeu is daar toenemende belangstelling in die eenbedryf. Dit hang saam met die opbloei van die amateurtoneel en die stigting van onafhanklike teaters, waar daar veral aan eksperimentele dramas aandag gegee is. Die stigting van die Ierse Nasionale Teater en die eenbedrywe van Synge en Yeats het in hierdie verband ‘n belangrike invloed uitgeoefen. In die Verenigde State het amateurgroepe groot sukses behaal, en dit het ‘n groot vraag na eenbedrywe geskep waarin skrywers soos Eugene O’Neill en P. Wilde probeer voorsien het. Ook in Engeland het die eenbedryf gebloei, en bekende dramaturge soos J.M. Barrie, G.B. Shaw en Noel Coward het bydraes gelewer. Die eenbedryf is nou nie slegs as aanvulling gebruik nie, maar programme van eenbedrywe is aangebied, bv. die sg. triple bill. Ook in Rusland en Duitsland het dramaturge soos Tsjechov en Hauptmann ‘n groot bydrae gelewer. Met die ontwikkeling van die *hoorspel is gevind dat die eenbedryf baie geskik daarvoor is, en in die jongste tyd is die eenbedryf veral deur eksperimentele dramaturge soos Beckett, Ionesco en Pinter gebruik. Ook in Afrikaans is daar ‘n groot aantal eenbedrywe waartoe drama­turge soos J.F.W. Grosskopf, H.A. Fagan, Gerhard Beukes en Uys Krige bygedra het.

 

Bibliografie

Beukes, G.J. 1965. Die moderne eenbedryf. Pretoria: Van Schaik.

Cloete, T.T. 1966. Ons eenbedryfliteratuur. In: Cloete, XT. (red.). Vyfling. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Van der Merwe, J. 1970. Oor die eenbedryf. In: Bosman, F.C.L. (red.). Vier uitgesoekte eenbedrywe. Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel.

 

Wilde, P. 1923. The Craftmanship of the One-act Play. London: Allen & Unwin.

P.J. Conradie