EKSPRESSIONISME

Die term Ekspressionisme is die eerste keer in 1901 gebruik in ‘n katalogus van die Paryse Salon des Indépendants vir ‘n uitstalling van die skilder Mien Auguste Hervé. In 1911 is dit toegepas deur die kritikus Wilhelm Worringer op skilders soos Cézanne, Matisse en Van Gogh. Die Duitse skrywer Kurt Hiller het die term in 1912 van die beeldende kunste af oorgedra na die literatuur, en sedertdien is dit al hoe meer gebruik vir die spesifiek Duitse variasie van ‘n literêre revolusie wat tussen 1910 en 1925 die literatuur bykans wêreldwyd verander het.

Voor die Eerste Wêreldoorlog was die Ekspressionisme ‘n estetiese en filosofiese beweging, maar daarna het die klem steeds meer op die politiek begin val.

Die vroeë ekspressioniste is sterk beïnvloed deur Nietzsche se kritiek op die Europese kultuur. Vir hulle was die moderne lewe so sinneloos en chaoties dat hulle selfs natuurwetenskaplike ontwikkelinge, die tegnologie en die staat as geheel verwerp het. Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het dié tendens van algehele negering versterk. Maar terselfdertyd het daar ook ‘n positiewe wending ingetree. Dit het gou geblyk dat die oorlog, eers met groot entoesiasme begroet, niks anders was as massamoord nie. Daardeur is die ekspressioniste genoop om hulle vir ‘n pasifisme te beywer wat nie gekoppel is aan patriotisme nie, maar wat waaragtige menslikheid nastreef. Die Ekspressionisme het dus ‘n beweging geword wat teen dié magte te velde trek wat volgens sy oordeel die skuld dra vir die lyding en die vernietiging van die mensdom, nl. meganisasie, industrialisasie, kapitalisme, militarisme en geweld. Daarteenoor het dit in die bresse getree vir die sosialisme, kommunisme, pasifisme en anargisme, maar sonder om een van hierdie ideologieë tot dogma te verhef; dit is eerder ondergeskik gestel aan die gedagte van medemenslikheid.

Nie net Friedrich Nietzsche se kultuurkritiek het die ekspres­sioniste sterk beïnvloed nie, maar ook sy idee dat die wêreld net ‘n estetiese fenomeen is en dat die niet deur die artistieke skeppingsproses bemeester kan word. Ander filosofiese invloede het uitgegaan van die Fransman Henri Bergson (1859-1941), wat met sy begrip van die élan vital (die krag van die irrasionele, skeppende lewe om veranderings teweeg te bring) teen die intellektuele, saaklike benadering tot die wêreld geprotesteer het; van Ludwig Klages (1872-1956) se kultuurpessimisme, waarvolgens die “tydperk van die ondergang van die siel” aangebreek het; en van Oswald Spengler (1880-1936) wat geglo het dat die Westerse kultuur en beskawing tot ‘n einde gekom het.

Literêre invloede het uitgegaan van veral die Sweedse dramaturg August Strindberg (1849-1912), wat van sy vroeëre NATURALISTIESE dramas wegbeweeg het na MISTERIESPELE soos Na Damaskus (1898-1904) en Droomspel (1902). Die personasies in dié dra­mas was nie meer karakters nie, maar spreekbuise vir die drama­turg se roubeklag, en die dramas se handeling het uit visioene en drome van die skrywer bestaan. Die poësie is beïnvloed deur die Amerikaanse digter Walt Whitman (1819-1892), wat in sy gedigte sy geloof in die mensdom verkondig het. Die Franse SIMBOLISTE, vanaf Baudelaire tot Verlaine, het ook ‘n invloed op die Ekspressionisme gehad.

Van die grootste belang vir die ekspressionistiese taalvernuwing was die Italiaanse FUTURISTE onder die leierskap van Filippo Tommaso Marinetti (1876-1944), wat in sy manifeste geëis het dat die taalgebruik gekonsentreer en vereenvoudig moes word, beperk tot selfstandige naamwoord- en infinitiefvorme. Die ekspres­sionistiese styl het in ‘n groot mate aan dié eis voldoen.

Vir die Ekspressionisme is die innerlike belewenis van groter waarde as die uiterlike lewe. Die digters moet verkondigers wees, mense met visioene wat in die kuns uitgedruk word. Die essensie moet vasgevang word, nie die werklikheid, die skyn, die atmosfeer of die gevoel nie. Die primêre maatstaf vir die ekspres­sionistiese kunswerk is nie sy skoonheid of sy artistieke waardigheid nie, maar die krag van sy uitdrukkingsvermoë. Die wese van ‘n kunswerk is sy ritme, en omdat ‘n ritmiese skepping van ‘n logiese skepping verskil, is die ware kunswerk nie logies nie.

In die praktyk is die Ekspressionisme egter tweeslagtig: aan die een kant word afgebreek en vernietig, aan die ander kant word geglo in en vertrou op ‘n beter toekoms; aan die een kant word literêre tradisies en konvensies afgekeur, aan die ander kant word streng gelet op artistieke vorm; aan die een kant heers daar ‘n woordoordadigheid, aan die ander kant ‘n woordaskese. Maar daar is een gemeenskaplike tendens, en dit is om eerder tipes voor te stel as konkrete karakters, om te beweeg in die rigting van abstraksies en simbole. Omdat die Ekspressionisme op essensies konsentreer, beweeg dit weg van die getroue afbeelding van die sg. uiterlike werklikheid na die uitbeelding van die in­nerlike wat as die eintlike werklikheid beskou word. Die ekspres­sioniste se uitdrukkingswyse is dus basies subjektief. Gevolglik ontstaan daar ‘n nuwe gevoelsintensiteit, ‘n patos, wat in ongebreidelde taalgebruik die tekens van digterlike grootsheid sien.

Dit lei weer tot ‘n afkeer van die vormkuns soos dit deur Stefan George, Rainer Maria Rilke en Hugo van Hofmannsthal beoefen is, tot ‘n bevraagtekening en bevryding van elke formalisme. Maar terselfdertyd word daar ook naarstig na die unieke vorm gesoek. Nêrens is die ambivalente karakter van die Ekspressionisme duideliker te sien as in die taalgebruik nie: aan die een kant is dit orgiasties, vol versierings, amper barok, en word vrye ritmes verkies (Ernst Stadler, Franz Werfel), aan die ander kant sien dit af van alle tierlantyntjies en beperk dit sigself tot ‘n opeenhoping van selfstandige naamwoorde (August Stramm, Georg Trakl, Georg Heym, Georg Kaiser).

Die oorkoepelende tema van die ekspressioniste is die ondergang en wedergeboorte van ‘n tydperk, die ellende van die ou mens en die verlange na ‘n nuwe mens. Daaroor skryf en dig hulle met ‘n grenslose individualisme en ‘n onbeperkte subjektiwiteit. As die eietydse krisis hulle tot pessimisme stem, dan ontstaan daar groteske kunswerke, soos dit aan die begin deur Christian Morgenstern en Frank Wedekind en later deur Carl Sternheim geskryf is. En as die digters hulle eie tyd met optimisme benader, dan ontstaan daar, voortbouend op Strindberg, ‘n visioenêr ekstatiese kuns soos by Franz Werfel, Ernst Toller, Fritz von Unruh en Hanns Johst. Maar omdat die voorneme om uiterlike toestande te verander al hoe sterker word, omdat die digters in die politiek wil ingryp, mense wil opvoed en verander, begin dit noodsaaklik word dat die verstand weer ‘n groter rol speel – wat lynreg indruis teen die oorspronklike doelwitte van die ekspressioniste. Gedurende die oorlog, en daarna, kry die poësie, ook onder invloed van die KABARET, proteselemente en revolusionêre aksente by. Nietemin begin slagspreukagtige formulerings die oorhand kry oor die ekstatiese taalgebruik.

 

Aan die begin van die ekspressionistiese stroming is dit veral die poësie wat die toon aangee. Die vroeë ekspressioniste (Georg Heym, Georg Trakl, Ernst Stadler, Else Lasker-Schüler) het uit die IMPRESSIONISME ontwikkel, maar die skeidslyne tussen die twee stromings bly vloeibaar. Die bepalende faktor vir die eks­pressionistiese poësie was nie soos by die impressioniste die argitektoniese bou nie, maar die RITME. Die METAFORE in die impressionistiese poësie het verwys na die behandelde onderwerp, terwyl dit by die ekspressioniste betrekking het op die ego van die digter. Daarom kan die ekspressioniste die metafoor só gebruik dat dit ‘n samehang tussen dinge bewerkstellig wat buite die gedig nie moontlik is nie.

Maar namate die politisering van die literatuur toeneem, is dit die drama wat na vore tree. Carl Sternheim, sterk beïnvloed deur die krities-eksentrieke styl van Frank Wedekind, gaan in sy dra­mas uit van sosiale werklikhede, maar sy personasies word al hoe meer GROTESKE burgerlike karakters. Ernst Toller, Ernst Barlach en gedeeltelik ook Georg Kaiser beeld die lyding uit van jong mense wat ‘n veranderingsproses ondergaan. Die verandering van die mens is immers hulle tema. Dié dramas is sterk liries-monologies; hulle verskil van die naturalistiese dramas met hulle baie karakters en realistiese taalgebruik, en van die impressionistiese dramas met hulle sielkundig noukeurige karakterisering. Vir die ekspressionistiese drama is die konfliksituasie van minder belang as die belydenis, en daarom is die hooffiguur meestal net spreekbuis en ewebeeld van die skrywer.

Die hooffiguur is in die meeste gevalle die “jong mens” wat nie soseer teen ‘n teenstander rebelleer nie, maar eerder teen bomenslike magte. Realistiese besonderhede en burgerlike milieu is van minder belang, en daarom het baie personasies geen name nie. Hulle tree eenvoudig op as “die man”, “die vrou”, “die seun” en is om dié rede eerder draers van idees as individuele karak­ters. (Vgl. ABSURDE DRAMA.)

 

Vanselfsprekend vereis dié nuwe drama ook ‘n nuwe soort opvoering. Die skeidings tussen die verskillende kunsgenres word opgehef, soos Strindberg reeds geëis het; musiek, klankbaan en dekor word gelykwaardige medespelers van die akteurs, en die tegniese apparaat van die verhoog word nie vir die toeskouer weggesteek nie. Daar word gepoog om die skeiding tussen verhoog en toeskouerruimte op te hef, en die toeskouers sodoende daadwerklik te betrek by die oproep om aan revolusionêre gevoelens uiting te gee.

 

Die prosa speel in die Ekspressionisme ‘n ondergeskikte rol, veral omdat dit steun op realistiese middele wat die basiese eise van ekspressionistiese kuns weerspreek. In die kortprosa is egter wel tekens van die Ekspressionisme te bespeur, soos bv. die verkorting van sinne, die karakters as tipes, en die opbou van ‘n kunsmatig gemonteerde werklikheid, veral by skrywers soos Gottfried Benn, Alfred Döblin, Franz Kafka, Kasimir Edschmid en Leonhard Frank.

 

Na 1925 verloor die Ekspressionisme gou sy trefkrag. Die hoofrede is dat dit weliswaar teen die samelewing gerebelleer het, maar geen alternatiewe kon voorstel nie. ‘n Ander rede vir die onvermoë om op politieke terrein enige veranderings teweeg te bring, was die perkelose subjektiwiteit daarvan. Toe die Nazi’s die bewindhebbers word, is mettertyd selfs alle ekspressionistiese kunswerke verban, nie net boeke nie, ook skilderye en beeldhouwerke, omdat dit glo die tradisies van die volk sou ondermyn en skadelik sou wees vir die sedes van die jeug. Eers ná die einde van die Derde Ryk is weer indringend gekyk na hierdie literêre stro­ming, en die ondersoek gaan steeds voort.

Die parallel verlopende kuns-“stromings” in ander lande was van net so ‘n korte duur. Die Futurisme in Italië was ‘n uiters radikale vorm van die Ekspressionisme. Dit het alle gebondenheid aan tradisie verwerp, ook die tradisie van logies-grammatikale sinsbou, en na nuwe uitdrukkingsvorme gesoek wat pas by die tydperk van die masjien. Met die opkoms van die Fascisme het dit gou verdwyn, maar elemente daarvan het bly voortlewe in die DADAISME en die SURREALISME, wat albei op gedagtes van die Ekspressionisme voortgebou het.

In Londen het in 1914/1915, rondom Wyndham Lewis se tydskrif Blast, die VORTICISME ontstaan. Dit was ‘n stroming wat téén die NEO-ROMANTIESE poësie van destyds gerig was en wat na ‘n minder emosiebelaaide, meer klassieke vorm gesoek het. Eintlik was die Vorticisme net ‘n kort voorloper van die IMAGISME wat deur Ezra Pound gestig is. Die Imagisme se doel was om die alledaagse spreektaal so bondig moontlik te gebruik, om alles wat nie absoluut noodsaaklik was nie vir die voorstelling van ‘n onderwerp te vermy, en om soveel moontlik beeldspraak te gebruik. Dié stroming het ‘n sterk invloed op T.S. Eliot gehad, maar dit het in die twintigerjare doodgeloop.

In die Nederlande neem die Ekspressionisme verskillende vorms aan: in België ontstaan dit saam met Paul van Ostaijen se debuut in 1916. Vanweë die polities onrustige agtergrond wat deur die Duitse besetting van België en die stryd van die Vlaamse Beweging geskep is, word die Ekspressionisme ‘n politiese én estetiese stro­ming wat uitdrukking gee aan die wil om die wêreld te verander maar andersyds geen literêre betrokkenheid by die politiese werk­likheid voorstaan nie. Volgens Van Ostaijen moes die kunstenaar uitdrukking gee aan die wroeging waarmee hy dinge herskep; sy kuns het dus niks te make met die blote nabootsing van ‘n uiterlike werklikheid nie.

In Nederland was die kunstenaars egter minder gretig om by sosiale, morele en politiese sake betrokke te raak. Hulle het die klem verskuif van die materie na die gees, van die waarneming na die idee. Die realiteit het vir hulle bestaan uit energie, bewe­ging, spanning, en hulle het gedroom van broederlikheid, universaliteit en kosmopolitanisme. Op literêre gebied het dit veral in die werke van Herman van den Bergh en Hendrik Marsman tot uiting gekom. Maar met die Belgiese en Duitse ekspressioniste het die Hollandse kunstenaars eers na 1920 kontak opgeneem.

Ten spyte van die wedersydse beïnvloeding en die baie ooreenstemmings wat daar tussen die ekspressionistiese strominge van die verskillende lande bestaan, sou dit egter simplisties wees om te se dat hulle net verskillende nasionale variasies op ‘n konstante styl is. Die Ekspressionisme bestaan dus eintlik nie, slegs ver­skillende Ekspressionismes wat in verskeie dele van die wêreld gedurende die eerste twee dekades van hierdie eeu ontstaan het en wat elkeen ‘n duidelik omlynde eiesoortige karakter gehad het.

Goeie inleidings tot die Ekspressionisme word deur Brinkmann (1980) en Rötzer (1976) gegee. ‘n Pragtige oorsig met baie beeldmateriaal word deur Hamann & Hermand (1977) aangebied.

(Vgl. ABSURDE.)

 

Bibliografie

 

Brinkmann, R. 1980. Expressionismus: intemationale Forschung zu einem internationalen Phänomen. Stuttgart: Metzler.

 

Hamann, R. & Hermand, J. 1977. Expressionismus. Berlin: Akademie.

 

Hohendahl, P.U. 1967. Das Bild der bürgerlichen Welt im expres-sionistischen Drama. Heidelberg: Stiehm.

 

Martini, F. 1952. Deutsche Literatur zwischen 1880 und 1950; ein Forschungsbericht. Deutsche Vierteljahresschrift für Literaturwissenschafi und Geistesgeschichte, 26.

 

Muschg, W. 1961. Von Trakl zu Brecht: Dichter des Expressionis­mus. München: Francke.

 

Paulsen, W. (Hrsg.). 1968. Aspekte des Expressionismus: Periodisierung – Stil – Gedankenvelt. Heidelberg: Stiehm.

 

Rasch, W. 1956. Was ist Expressionismus? Akzente, 3.

 

Rötzer, H.G. (Hrsg.). 1976. Begriffsbestimmung des literarischen Expressionismus. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.

 

Schneider, K.L. 1962. Expressionismus in Dichtung und Malerei. Philobiblon, 6.

 

Weisstein, U. (ed.). 1973. Expressionism as an International Liter­ary Phenomenon. Paris: Didier.

A.N.G. Blumer