ELEGIE

 

Gewoonlik word aangeneem dat die woord elegie afkomstig is van die Grieks elegeia (elegos), ‘n treurlied. Oor dié afleiding bestaan daar egter ‘n mate van twyfel omdat die Grieke elegieë geken het wat geen treurliedere was nie. Trouens, nie die onder­werp was in die Griekse elegie van deurslaggewende betekenis nie, maar wel die metriese patroon en die reëlorganisasie. Alle gedigte (uitgesonderd die “Epigram) is elegieë genoem indien hulle in distiga, d.w.s. in verspare, elk bestaande uit ‘n heksameter gevolg deur ‘n pentameter, opgebou is. Dergelike gedigte het reeds in die 7e eeu v.C. ontstaan en het naas somber temas ook ‘n verskeidenheid ander onderwerpe behandel, soos oorlog, dapperheid, staatsmanskap en die liefde.

Daar is ‘n hele reeks Griekse elegiese digters te noem, o.a. Kallinos, van wie Bowra o.a. hierdie strofe in ‘n Engelse vertaling aanhaal: “How long, young men, unsoldiered, disregarding,/ Laze you, scorned by neighbours round about?/ Slack to the bone, on peace resolved, supinely/ Careless in a land where all is war?” Verder Solon, eweneens uit die 7e eeu, en die godsdienstige hervormer en “filosoof’ Xenophanes (6e-5e eeu v.C.) wat sy leerstellings RAPSODIES op sy reise voorgedra het, Phokulides, Theognis (6e eeu v.C), e.a.

Hierdie liedere is ook dikwels tydens simposia voorgedra, met fluitbegeleiding, ‘n feit wat aanleiding gegee het tot die vermoede dat die oorsprong van die benaming elegie dalk in die Frigiese woord elegn – ‘n fluit – gesoek moet word.

Treur- en begrafnisliedere was daar wel by die Grieke; ook pas­torale poësie waarin ‘n onbedorwe landelikheid soms deur ‘n ligte weemoed oorglans word, soos bv. dié van Theokritos uit die 3e eeu v.C. – landelike poësie wat kon dien tot inspirasie vir die pastorale elegieë wat eeue later in Engeland so ‘n hoë bloei sou beleef. Maar hierdie Theokritos-poësie is IDILLIES genoem (uit eidullion – ‘n beeldjie, prentjie) en nie elegieë nie.

In Latyn het die formele elegie in die 1e eeu v.C. tot hoë bloei gekom by Gajus Gallus, Propertius, Tibullus en Ovidius. Die fluit-begeleiding het hier egter verval en die erotiek het ‘n oorwegende rol gespeel. So rig die soklaat-digter Gallus sy gedigte aan Lyconis, en alhoewel sy werk verlore geraak het, word hy deur Quintilianus tot die kwartet van groot elegiedigters gereken. Propertius besing in sy elegieë weer sy liefdesverhouding met Cynthia, Tibul­lus syne met Delia.

Ovidius het die vorm dikwels aangewend, o.a. ook in sy Tristia. En omdat die toon hier oorwegend klaend-weemoedig is (soos die titel ons ook laat verwag) en omdat die digter in later eeue so invloedryk geword het, het die aksent wat die elegie betref gaandeweg van die bou na die onderwerp en stemming verskuif en het die elegie gewoonweg ‘n gedig geword waarin daar oor die dood van ‘n dierbare getreur word (lykdig), of waarin daar weemoedig oor die verganklikheid van die skoonheid en die verbygaan van dinge gepeins word (klaagliedere). Langs die weg het daar in latere elegieë dikwels ook ‘n pastorale element bygekom, juis omdat die pastorale siening dit oor ‘n verbygegane tyd en leefwyse het. Daarmee saam het gaandeweg ‘n hele aantal pas­torale konvensies die elegie binnegedring: die natuur word by die klag betrek, die toneel is pastoraal, die muse se hulp word ingeroep, die gebeure word in herderstemme opgevoer en die klag eindig meermale, ná besinning, met vreugde en verwagting. (Sodra die klag oor die dood van ‘n geliefde ter sprake kom in die elegie, moet die Bybelse invloed nie uit die oog verloor word nie, vgl. maar Dawid se klag by die dood van Jónatan en Saul, 2 Sam. 1:17 e.v.)

In Engeland het die elegie oor die eeue hoë vlugte geneem, bv. met Milton se “Lycidas” (1637), ‘n pastorale elegie (n.a.v. die dood van ‘n vriend), “Adonais” (1821) van Shelley (n.a.v. die dood van Keats), “Thyrsis” (1867) van Matthew Arnold, ‘n pastoraleelegie (n.a.v. die dood van Arthur Hugh Clough), Tennyson se “In memoriam” (1859), Auden se “In memory of W.B. Yeats” – om die beroemde melancholiese “Elegy written in a country churchyard” (1750) van Gray nie te vergeet nie, die gepeins oor ‘n lewenstyl wat verbygegaan het.

Ook in ander lande van Wes-Europa is die elegie beoefen. So het in Frankryk beroemd geword Villon (15e eeu) se BALLADES met hulle sterk elegiese inslag, die Elégies van Louise Labé en van Ronsard (16e eeu) en “Le lac” van Lamartine (19e eeu), wat al met Gray se bekende elegie vergelyk is. In Portugal moet Camoẽs (16e eeu) genoem word, in Spanje Juan Jiménes met sy Elegías puras (1908), sy Elegías intermedias (1908) en sy Elegías lamentabiles (1909), ook Lorca wie se “Klaaglied vir Ignacio Sanchez Mejias” deur Uys Krige in S.A. beroemd gemaak is. Soms word beweer dat Duitsland geen elegieë in die ware sin van die woord opgelewer het nie. Maar tog moet Goethe vermeld word (Römische Elegiën) en Schiller met die sterk “Sehnsuchtinslag” in sy elegieë (“Der Pilgrim”). Ook o.a. Hölderlin (“Griechenland”, “An die Natur”) en Rilke (Duineser Elegien).

In Nederland het in ‘n heel ander gees en toon beroemd geword die lykdigte van Vondel uit die 17e eeu n.a.v. die dood van ‘n seuntjie (“Kinderlijk”), ‘n dogtertjie (“Uitvaart van mijn dochterken”), of die heengaan van ‘n openbare figuur (“Op het overlijden van C.P. Hooft”). Soms verneem ons ook ‘n klag oor verlore geluk of ‘n grootsheid wat verbygegaan het: W. van Haren met ” ‘t Menschelijk leven” en Ledeganck met “Brugge”.

In Afrikaans het Totius se elegiese poësie van Wilgerboombogies en veral Passieblomme (n.a.v. die dood van sy kindertjies) wye bekendheid verwerf. Naas die klag en die smart is hier ook die berusting wat ons in Vondel se “Kinderlijk” verneem het: “Eeuwig gaat voor ogenblik”. In Afrikaans is daar ook elegiee op die dood van digters, soos bv. Leipoldt se “Roulied vir A.G. Visser” en Opperman se “By die dood van Roy Campbell”, hoewel hierdie Oppermangedig, net soos sy “Nagedagtenis aan my vader” en “Mev. H.S.M. Opperman” nie soseer klaagpoësie is nie, eerder beskouende of beeldende nagedagtenispoësie. Die “Twee elegiese verse” van Van Wyk Louw is o.a. ‘n elegiese besinning op die teenstellings (liggaamlike) vreugde en (geestelike) pyn wat die geskiedenis en die menslike bestaan bied.

 

Bibliografie

Bowra, CM. 1938. Early Greek Elegists. Harvard: Harvard University Press.

Bowra, CM. 1967. Ancient Greek Literature. London: Oxford University Press.

Draper, J.W. 1967. The Funeral Elegy and the Rise of English Romanticism. New York: Cass.

Gerber, D.E.  1999.  Greek Elegiac Poetry, from the Seventh to the Fith Centuries BC. Cambridge, Mass., London: Harvard University Press.

Henderson, W.J. 2009. Vir Griekse Fluite. Vroeë Griekse elegiese poësie. Pretoria: Protea Boekhuis.

Luck, G. 1959. The Latin Love Elegy. London: Methuen.

Patez, H. 1898. L’elégie en France avant le romantisme. Paris: s.n.

A.P. Grové