ERGOSENTRIESE BENADERING

Die term ergosentriese benadering is ‘n spesifiek Nederlandse sinoniem vir intrinsic approach, close reading, werkimmanente benadering, practical criticism of INTERPRETASIE. Etimologies beteken dit dat die werk (Gr.: ergon) die middelpunt van die ondersoekgebied van die literatuurwetenskap vorm. Die TEKS is trouens “beginpunt, middel- en eindpunt” (Kees Fens) van die ondersoek. Die leser en veral die outeur word nie as deel van die ondersoekgebied beskou nie, omdat kontroleerbare uitsprake oor hulle nie op grond van die teks gemaak kan word nie. Postma (1977: 1) omskryf dié benadering soos volg: “Het onderzoek (is) gericht op het (zo volledig mogelijk) doorgronden van het werk als zodanig – en niet op die psychologie van de auteur, op de sociale of (literair) historische onder- en achtergrond ervan.”

Die klem op die werk as sodanig berus op ʼn a priori of postulaat dat die literêre werk “een zinvol samehangend geheel van woorden (is) waarin een werkelijkheid beschreven of aanwezig gesteld wordt, die niet rechstreeks naar een daarbuiten bestaande werkelijkheid verwijst” (Oversteegen, 1965:478). Die gedig is doelbewus geïsoleer van sy omgewing en is daarom kortom outonoom. Dit is geskryf in ‘n eiesoortige taalgebruik (Postma, 1977: 2) wat die werk uniek maak. (Vgl. OUTONOMIE VAN DIE LITERêRE WERK.)

Postma (1977:1) maak ‘n onderskeid tussen die ergosentriese benadering en die immanente benadering. Die immanente benadering konsentreer uitsluitlik op die woorde op die bladsy, terwyl die ergosentriese benadering aanvaar dat sekere gegewens van buite die teks en die konteks wel relevant is vir die interpretasie en EVALUASIE van die teks. Hierdie siening weerspieël die praktyk van die ergosentriese benadering en nie die teorie nie; teoreties word gewoonlik die teks alleen beklemtoon, terwyl in die praktyk ook buitetekstuele inligting toegelaat word. Postma se onderskeid is dus nie verteenwoordigend van die “suiwer” teorie van die ergosentriese benadering nie maar van ‘n aangepaste teorie uit ‘n later fase.

Die ergosentriese benadering word gewoonlik gekoppel aan die Nederlandse tydskrif Merlyn (1962-1966) waarvan Oversteegen (1965) die teoretikus was. Ergosentriese ontledings is egter reeds vroeg in die vyftigerjare gedoen deur die sg. Amsterdamse skool van Hellinga (vgl. Hellinga & Scholtz, 1955) en deur verskeie ander kritici soos Rodenko en Donkersloot in Maatstaf (1953), Westerlinck (1956) en Lulofs (1956) (vgl. hiervoor De Jongh, 1974:17). W. Blok se Verhaal en lezer (1960) word beskou as een van die eerste ergosentriese ontledings in Nederlands. In Afrikaans is daar die bekende ergosentriese ontledings van Scholtz (1950), Lindes (1956) en Cloete (1953), wat uit die Amsterdamse skool voortgespruit het. D’Oliveira (1967) bundel ‘n klompie opstelle uit sy Merlyn-tyd. Dit bevat ook ‘n nuttige inleiding tot die ergosentriese benadering.

(Kyk ook BENADERINGSWYSES IN DIE LITERATUURWETENSKAP.)

Literatuur

 

Blok, W. 1960. Verhaal en lezer. Leiden: Diss.
Blok, W. 1974.
Ergocentrische romananalyse en literaire geschiedschrijving. Raam, 104.
Cloete, T.T. 1953. Trekkerswee en Joernaal van Jorik. Amster­
dam: Diss.
De Jongh, M.J.G. 1974. Analisten en sociologen. Raam, 104.
D’Oliveira, H.U. J. 1967. Vondsten en bevindingen. Amsterdam:
Polak & Van Gennep.
Hellinga, W.G.S. & Scholtz, H. 1955. Kreatiewe analise van taal
gebruik. Amsterdam: Noord-Hollandse Uitgeversmaatschappij.
Lindes, E. 1956. Veelheid en binding. Amsterdam: Noord-Hol­
landse Uitgeversmaatschappij.
Lulofs, F. 1956. Verkenning door varianten. ‘s-Gravenhage: Daa
men.
Oversteegen, J.J. 1965. Analyse en oordeel. Merlyn, 3(3), 3(4),
3(6).
Postma, H. 1977. Marsmans “Verzen “: toetsing van een ergocen
trisch interpretatiemodel. Groningen: Wolters-Noordhoff.
Scholtz, H. 1950. Sistematiese verslag van ‘n stilistiese analise.
Eugène Marais: Die towenares. Kaapstad: HAUM.
Segers, R.T. & Vis, G.J. 1981. Lezen en lezen is twee: enkele gedachten over een literatuurdidactiek, gebaseerd op de principes van een receptie-esthetische literatuurbenadering. Levende talen, 364.
Westerlinck, A. 1956. Stijlgeheimen van Karel van de Woestijne.
Leuven: Leuvense Universitaire Uitgaven.

Hein Viljoen