VELDTEORIE

 (Hersien November 2023)

Die veldteorie is ontwikkel deur die Franse sosioloog P. Bourdieu (1930-2002). Bourdieu konseptualiseer die samelewing of die sosiale omgewing waarbinne akteurs optree as ‘n stel oorvleuelende, relatief outonome velde. Voorbeelde van velde is die literêre, die ekonomiese, die kulturele, die godsdienstige, die politieke, ensovoorts. Elke veld is ‘n stel verhoudings met sy eie spesifieke struktuur en doelwitte, wat nie maklik oordraagbaar is na ‘n ander veld toe nie. Die literêre veld bestaan ​​uit simboliese goedere (of ware), dit wil sê produkte waarvan die waarde nie tot hul streng ekonomiese waarde beperk is nie. Die veldteorie ontleed hoe die produksie, verspreiding en verbruiksverhoudings van hierdie simboliese goedere deur sosiale strukture bepaal word, hoe dit deur sosiale interaksie geskep word. Die literêre veld is inderdaad ‘n sosiaal gestruktureerde ruimte van posisies waarin uiteenlopende akteurs (skrywers, kritici, uitgewers, tydskrifte, ens.) voortdurend worstel om die wettige, dominante literêre modelle te bepaal en sodoende literêre legitimiteit (simboliese kapitaal) te verkry. Hierdie stryd impliseer ‘n voortdurende soeke na onderskeiding. Aangesien die mees doeltreffende onderskeidingsbeginsels dié is wat die spesifisiteit van die veld die beste uitdruk, word literêre hiërargieë rondom sekere tegnieke, style, temas gevorm, sodat daar ‘n voortdurende verfyning van vorme en konsepte is.

Daarbenewens onderskei P. Bourdieu ook die ‘habitus’ wat eie is aan spesifieke situasies en groepe. ‘Habitus’ verwys na ‘n sisteem van disposisies, dit wil sê skemas wat deur sosialisering bereik word wat ons persepsie en gedrag in so ‘n mate rig dat dit as ‘spontaan’ en ‘vanselfsprekend’ ervaar word en dat hul beperkende normatiewe invloed nie meer erken word deur betrokkenes self nie. Die habitus dra dus by tot ‘n konsolidasie van die veldstruktuur – die veld word outomaties as sinvol, waardevol en belangrik ervaar – terwyl die veld omgekeerd ook die habitus kondisioneer.

Die vraag hoe die grense van ‘n veld afgebaken word is dus ‘n interne kwessie van die veld self. Dit is dus belangrik om deur middel van ‘n empiriese ondersoek vas te stel waar die veldeffekte die sterkste is (die kragsentrum) of waar dit skaars waarneembaar is (die grens of die periferie). Eerstens gaan hierdie vraag oor die outonomie van die literêre veld, maar verskeie velde funksioneer ook gelyktydig binne literêre (kulturele) produksie. Bourdieu onderskei hier hoofsaaklik tussen ‘n ‘veld van grootskaalse produksie’ (wat fokus op kapitaal en verbruik) en ‘n ‘veld van beperkte produksie’, wat aanspraak maak op onbeperkte outonomie vir homself en integraal gerig is op die verkryging van kulturele kapitaal binne ‘n beperkte groep van ingewydes.

 

Van Gorp et al. 2009, vertaal en aangevul deur Hein Viljoen

 

Bibliografie

Bonthuys, M. & Foster, R. 2022. ‘Literêre pryse: ’n Oorsigtelike bespreking met voorbeelde uit die Afrikaanse literêre veld. Litnet Akademies : ’n Joernaal vir die Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe, Regte en Godsdienswetenskappe, 19(1), pp. 232–260.

Bourdieu, P. 1989. Opstellen over smaak, habitus en het veldbegrip, Amserdam: Van Gennep.

Bourdieu, P. 1993. The field of cultural production: essays on art and literature. R. Johnson (red.). New York: Columbia University Press.
 
Bourdieu, P. 1994. De regels van de kunst: Wording en structuur van het literaire veld. Amsterdam: Van Gennep.

Fowler, B. 1997. Pierre Bourdieu and Cultural Theory. Los Angeles: Sage.

Hilgers, M. & Mangez, E. 2014. ‘Introduction to Pierre Bourdieu’s Theory of Social Fields’, in Bourdieu’s Theory of Social Fields. Concepts and Applications. London; New York: Routledge (Routledge Advances in Sociology), pp. 1–36.
 
Dorleijn, G.J. & Van Rees, K. (reds.). 2006. De productie van literatuur: het Nederlandse literaire veld 1800-2000. Nijmegen: Vantilt.
 
Senekal, B.A. 2012. Die Afrikaanse literêre sisteem: ’n Eksperimentele benadering met behulp van Sosiale-netwerk-analise (SNA) – LitNet Akademies 9(3).
 
Speller, J.R.W. 2014. Bourdieu and Literature. Cambridge: Open Book Publishers.