COMMEDIA DELL’ARTE

(Hersien Mei 2017)

Die commedia dell ‘arte (It.: komedie van die gilde) was ‘n toneelgenre van ‘n toneelgilde wat in Noord-Italië teen 1550 deur ‘n klein groepie beroepstoneelspelers gestig is; hierdie teatervorm is tot in die 18de eeu aangetref. Hierdie tipe komedie het sy oorsprong in Italië gehad, maar opvoerings is oor die hele Europa en selfs in Moskou gehou. Die commedia het sy grootste sukses buite Italië in Frankryk behaal; dit is hier die Comédie-Italienne genoem.

Die commedia dell’arte is waarskynlik Romeins van oorsprong. Soos die naam aandui, het hulle komedies opgevoer. Baie toneelgeselskappe is gestig, soos die Compagnia dei Comici Gelosi (Die Jaloerses), die Confidenti-geselskap, die Desio-geselskap en die Fideli-geselskap. Die bekende Isabella Andreini (ook bekend as Isabella da Padova) en haar man Francesco Andreini het aan IGelosi behoort het. (Die karakter Isabella is na haar vernoem.) Die opvoerings het gewoonlik op platforms of buite, bv. op piazzas, plaasgevind.

Die kunstenaars van die commedia dell ‘arte het nie van ‘n amptelike teks af gewerk nie; die uitvoerings is op sketse of scenario’s gebaseer. Die dialoog is dus ook geïmproviseer. Daar is wel ‘n paar repetisies gehou om die basiese besonderhede uit te werk. Die karakters wat uitgebeeld is, was stokkarakters (stereotipes). Die manlike karakters was bv. die nar, die kaptein, die dokter; die bediendes was die harlekyne Brighella en Scapino. Die vrouekarakters was o.a. Inamorata (die verliefde), die bediende (Isabella, Celia, e.a.) – sy was gewoonlik verlief op een van die bediendes, asook die canterina en die ballerina wat tussenspele gelewer het. Een speler het dikwels voortdurend dieselfde rol vertolk. Dié sosiale tipes is gewoonlik oordryf – hulle het dus in ‘n groot mate karikature geword, bv. ‘n wysneus dokter (Ill Dottore) en ‘n ou man (Pantalone).

Die plot van die commedia is dikwels aan die klassieke litererêre tradisie van die commedia erudita (literêre drama) ontleen, meestal aan Plautus, Terentius en hulle Italiaanse navolgers. Plautus en Terentius was Romeinse komedieskrywers. Die plots het gewoonlik met liefdesintriges te doen gehad. Karakters van alle ouderdomme en klasse was daarby betrokke. Die sukses van ‘n bepaalde opvoering het baiekeer van die spelers se vernuf afgehang. Gedigte was dikwels vervleg met die dialoog en handeling en die gebeure het gewoonlik ook ‘n gelukkige einde gehad.

Die kostuums was meestal ook stereotiep. Die hansworse en ou mans het maskers gedra; die nar het ‘n rooi en swart langbroek gedra, met ‘n mantel en ‘n pet; Arlecchino (harlekyn) het veelkleurige klere gedra, ‘n pet met ‘n haasstert, en ‘n houtswaard; die dokter het ‘n universiteitstoga gedra en ‘n masker gevlek met wyn; die minnaars was gewoonlik modieus geklee.

Die lede van die commedia dell ‘arte het hulle inspirasie meestal uit die volkshumor geput. Die stukke het dikwels ‘n boertige karakter gehad. Die tipiese toneelgroepe het uit agt of nege mans en drie of vier vroue bestaan.

Die commedia dell’arte was ‘n vorm van lae komedie. Later kry ‘n mens die gemaskerde komedie waarin die akteurs gewoonlik maskers gedra het en elkeen sy eie dialek gepraat het. Die komedies wat deur die commedia-geselskappe opgevoer is, toon ‘n ooreenkoms met die karnaval in Venesië waar die skrywer-akteur Andrea Calmo die karakter Il Magnifico geskep het; hy is ‘n voorloper van die commedia se pantalone. Calmo was een van die pioniers van hierdie tipe gemaskerde teater.

Die commedia dell’arte het ‘n groot invloed op die Europese drama gehad, bv. op die 18de-eeuse Engelse pantomime. Die invloed staan ook i.v.m. die feit dat die akteurs van die commedia dell’arte baie gereis het, veral na Frankryk. Die commedia dell’arte het ook ‘n groot invloed gehad op dramaturge soos Shakespeare (bv. Comedy of Errors), Lope de Vega, Jonson, Molière, Goldoni en die Weense volkstoneel van Stranitzky tot Raimund en Nestroy.

Teen 1700 het daar verval by die commedia dell ‘arte ingetree toe dit verdring is deur die Franse toneel en melodrama. Slegs in Kopenhagen het dit tot in die 20ste eeu (as pantomime) bly voortbestaan.

Vandag is die klassieke commedia dell’arte ‘n verlore kuns – die atmosfeer daarvan kan eenvoudig nie herskep word nie.

(Vgl. ook Barok.)

Literatuur

Ducharte, P.L. 1966. The Italian Comedy. Mineola: Dover Publications.
Pandolfi, V. 1957. La commedia dell’arte. Firenze: Edizioni Sansoni Antiquarito.
Taviani, F. 1969. La commedia dell’arte e la societa barocca. Roma: Bulzoni Editore.
Oreglia, G. 1968. The commedia dell’arte. London: Methuen.
Hoyle, M.L. 1984. “Commedia dell’Arte: The Image of Comedy”. In: Cowan, L. ed. The Terrain of Comedy. Dallas: Dallas Institute of Humanities & Culture.
Ekelof, G. 1984. i. Sallskapet: Bokvannerna.
Esrig, D. et al. 1985. Commedia dell’arte: Eine Bildgeschichte der Kunst des Spektakels. Delphi.
Gordon, M. 1983. “Lazzi: The Comic Routines of the Commedia dell’arte”. Performing Arts Resources, 1.
Mariti, L. & Baratto, M. 1980. Alle origini del teatro moderno: La commedia dell’arte. Atti del convegno di studi. Pontedera, 28, 29, 30 maggio 1976.
Rolfe, B. 1977. Commedia dell’arte: A Scene Study Book. Personabooks.
Salerno, F. vert. 1996. Scenarios of the Commedia dell’arte: Flaminio Scala’s Il Teatro Delle Favole Rappresentative. Limelight Editions.

Kyk ook https://www.britannica.com/art/commedia-dellarte
www.theatrehistory.com/italian/commedia_dell_arte_001.html
www.factionoffools.org/history

 

Anna-Marie le Roux