(Bygewerk Februarie 2019)
‘n Paradoks (Gr.: paradoxa: para: naas + doxa: opinie) is ‘n uitspraak wat aanvanklik lyk of dit ‘n teenstrydigheid bevat, maar by nader beskouing tog onverwags betekenisvol en waar is. Etimologies is die voorvoegsel para– (“verby” of “buite”) met die werkwoord dokein (“om te dink”) gekombineer en paradoxos gevorm, ‘n byvoeglike naamwoord wat “teen die verwagting” beteken. ‘n Paradoks ‘n stelling wat hom skynbaar self weerspreek, bv. “koue vuur” of “om te lewe moet jy sterwe” of “Epimenides van Kreta sê: ‘Alle Kretense is leuenaars’” (die sg. leuenaarsparadoks, vgl. Titus 1:12). Ten spyte van die teenstrydighede lê dieperliggende waarhede in die paradoks opgesluit wat deur die twee uiteenlopende komponente met mekaar versoen word.
Die term is aanvanklik in die logika gebruik vir ‘n stelling wat van die gangbare denkpatrone afgewyk het, maar wat nie as onjuis bewys is nie. Die struktuur van die paradoks is soortgelyk aan die oksimoron, want dit kombineer twee teenstrydige begrippe in ‘n derde Die paradoks staan ook in noue verband met ironie omdat ironie met teenstellings werk.
Die Stoïsyne het die paradoks reeds formeel ontleed. Dit was ‘n gewilde stylmiddel in die klassieke retorika. Die Grieke het die term ook buite die retorika gebruik om na opvallende en buitengewone aangeleenthede te verwys. ‘n Mens tref dit bv. in die Odusseia en elders by Homeros aan. Die beoefenaars van die paradoks is paradoksograwe genoem.
Die paradoks het na die 16de eeu gewild geword en gewild gebly binne die Christelike diskoers, o.a. by Martin Luther; trouens, binne baie soorte *mistiek. Die Bybel bevat trouens talle paradokse, bv. dat ‘n mens sterk is wanneer jy swak is (2 Korintiërs 12:10). Søren Kierkegaard het die menswording van God as die absolute paradoks van die menslike bestaan beskou, omdat God totaal anders as die mens is.
Die paradoks is ook dikwels deur die humaniste gebruik. Erasmus van Rotterdam se werk Lof der Zotheid (1511) is gebaseer op ‘n paradoks, nl. dat die dwaasste mens ook die wysste mens is. Die paradoks is ‘n sentrale stylfiguur in die *Barok en in die metafisiese poësie, veral by John Donne. In die letterkunde van die 17de en 18de eeu kom die paradoks na vore in ‘n antitetiese verbale struktuur eerder as in die logika. In Romantiek het Friedrich Schlegel die paradoks as ‘n basiese vorm van menslike ervaring beskou, nou verbonde aan poësie en ironie. Vir De Quincy is die paradoks ‘n dinamiese element in die poësie, omdat dit die paradoksale aard van die werklikheid weergee wat die poësie naboots. By Nietzsche is die paradoks ‘n sleutelbegrip in die menslike ervaring en in sy eie manier van skryf.
In die 20ste- eeuse literêre kritiek is die term paradoks dikwels gebruik, veral in die werk van die New Critics. Cleanth Brooks beskryf dit in The well wrought urn (hfst 1) as ‘n vorm van indirekte taalgebruik wat veral kenmerkend is van poëtiese taalgebruik en struktuur. Vir hom het paradoks ‘n baie wye betekenis wat inhou dat gedigte insigte bied wat ons gewone simplistiese opvattings en oortuigings vergroot of verrassend verander. Die taal van die poësie is met ander woorde die taal van paradoks, soos Breyten Breytenbach se werk getuig. Hy praat bv. van “die ewigdurende galmende momentum van stilte” (die windvanger, 2007).
Paul de Man (1971) het egter uitgewys dat die New Critics se klem op eenheid, samehang en organiese vorm (hulle “blindheid”) onversoenbaar is met die idee van poësie as vol ironie, paradoks en meerduidigheid (hulle “insig”).
Deur hulle antitetiese struktuur toets paradokse die grense van ons kennis en die oorgelewerde raamwerke en kategorieë waarbinne ons die wêreld verstaaan en beoordeel. Rabelais se Gargantua et Pantagruel (16de eeu) is ‘n soort bloemlesing van paradokse wat die oorgelewerde idees en waardes van daardie tyd bevraagteken, soos wat Erasmus die sotheid sy eie sotheid laat besing.
Op die spoor van die New Critics het Afrikaanse kritici ook die paradoksale aard van die poësie ontleed. Meer resente werk (soos dié van Diala) verken die paradokse van betrokke literatuur en die ideale van die estetiese teks in die postkoloniale konteks van die nuwe Suid-Afrika.
Anna-Marie le Roux
Bibliografie
Britz, E. C. 1971. Die paradoks in die poësie, met verwysing na Elizabeth Eybers. MA-verhandeling, Stellenbosch: Stellenbosch Universiteit. http://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/64186.
Colie, Rosalie L. 2014 (1973-5). “Literary Paradox”. In Encyclopedia of Ideas (=Dictionary of the history of ideas), onder redaksie van Philip P. Wiener. New York: Scribner. https://sites.google.com/site/encyclopediaofideas/literature-and-the-arts/literary-paradox. 22 Februarie 2019.
De Man, Paul. 1971. Blindness and insight: essays in the rhetoric of contemporary criticism. New York, N.Y: Oxford University Press.
Diala, I. 2005. André Brink: An aesthetics of response. Tydskrif vir letterkunde, 42(1):5-30. https://www.ajol.info/index.php/tvl/article/view/29688
Editors of Encyclopædia Britannica (the). 2017. Paradox. (In Encyclopædia Britannica, inc.) https://www.britannica.com/art/paradox-literature
Mallari, R. 2010. Seven Great Bible Paradoxes https://www.sermoncentral.com/…/seven-great-bible-paradoxes-rodelio-mallari-sermo...
Merriam-Webster. 11th ed. Definition of Paradox. https://www.merriam-webster.com/dictionary/paradox
Olivier, Bert. 2013. The Paradoxes of Art. South African Journal of Art History 28 (2): 199–210.
Van der Merwe, Anna Maria. 1975. Paradoks as poësie: ’n Ondersoek aa enkele aspekte van die poësie van Breyten Breytenbach. Proefskrif: D. Phil. Grahamstad: Rhodes-Universiteit.