VERWYSING EN TOESPELING IN DIE LITERATUUR

(Bygewerk Julie 2019)

In die tradisionele literatuurteorie en -kritiek word die terme verwysing en toespeling gebruik om betekenisvolle betrekkinge aan te toon (1) tussen ’n bepaalde teks (of aspekte van die teks) en aspekte van historiese of tydgenootlike tekseksterne verwysings-raamwerke (ervaringswêrelde wat buite die spesifieke teks lê); (2) tussen formele, tekstuele of konseptuele elemente wat verwyderd in ’n spesifieke teks voorkom; of (3) tussen spesifieke tekste of aspekte van daardie tekste, insluitend dié tussen literêre tekste en ander kunsvorme (soos die musiek en visuele kunste).

Tradisionele definisies binne dié raamwerk is geneig om verwysings en toespelings óf as vorme van ontlening óf as vorme van referensialiteit te hanteer, soos onder meer blyk uit die definisies in die verskillende uitgawes van die gesaghebbende The Princeton encyclopedia of poetry and poetics. In die 1965-uitgawe word allusion verduidelik as ‘n “tacit reference to another literary work, to another art, to history, to contemporary figures, or the like”, in die 1993-uitgawe as ‘n “deliberate incorporation (in a text) of identifiable elements from others sources, preceding or contemporaneous, textual or extratextual”, en in die 2012-uitgawe weer as ‘n “brief, indirect, and deliberate reference—in a poem or other medium—to a person, place, event (fictitious or actual), or other work of art”. Die 1965- en 2012-definisies beklemtoon bedektheid, indirektheid of geïmpliseerdheid as eienskappe van allusion, wat in Afrikaans met die term toespeling weergegee word (vgl. ook die Duitse terme Anspielung, Hinweis en Andeutung).

Pucci (1998: 6) wys op die lang geskiedenis van en teoretisering oor die konsep, en isoleer met verwysing na die 1965- en 1993-Princetondefinisies die gemeenskaplike punte wat na sy mening die Westerse konsensus verteenwoordig oor wat die verskynsel behels, naamlik ‘n vorm van verwysing wat openlik of bedek via ontlening verwys. Hy wys egter ook op die punte van verskil wat op ’n wyer verskil van opinie in die akademiese gemeenskap dui, vernaamlik oor die gesag van die outeur en die betekenis van verwysings en toespelings. Dus: aan die een kant definisies wat die  berekende gebruik van verwysings deur die outeur beklemtoon met die oog op ’n beheer van die tradisie, die uitstal van kennis en die verryking van die werk se betekenis aan die hand van materiaal uit ouer werke. Aan die ander kant definisies wat die onafhanklikheid van verwysings en toespelings van die beheer van die outeur verdedig, “stressing instead the allusion’s ability to signify broadly and widely … on a grid of cultural interchanges whose patterns, forms, and outcomes are varied” (Pucci, 1998: 6).

Benaderings wat verwysings en toespeling onder die eksplisiete of implisiete beheer van ’n outeursintensie plaas, tref dikwels ook ’n onderskeid tussen  dié en aanverwante verskynsels soos herhaling, beïnvloeding, nabootsing, parodie, topologiese formules, gemeenplase en spreekwoorde, taalpresedente en spesifiek ook intertekstualiteit en plagiaat. Intertekstualiteit word ingesluit, omdat dit, volgens Miner (1993) grotendeels nie-bewus is, in dié opsig dat alle taalgebruikers onbewus uit ’n magdom intertekste put van waaruit hulle woorde, frases en uitdrukkings leer ken. Hoewel plagiaat wel doelbewus en woord- of teksspesifiek is, bied die plagiaris die oorgeneemde gedeeltes as sy/haar eie oorspronklike werk aan (Miner, 1993).

Ander benaderings wat die referensiële aspek van verwysings en toespelings beklemtoon, onderskei gewoonlik ook bepaalde subkategorieë, soos bv.: persoonlike verwysings na omstandighede in die lewe van die outeur; aktuele verwysings na historiese en tydgenootlike gebeurtenisse; formele verwysings na die tegnieke van ander digters; metaforiese verwysings na vroeëre werke wat betekenis en diepte aan die nuwe werk toevoeg; nabootsende verwysings na die genre, retoriek, styl en atmosfeer van ’n ander werk; en strukturele verwysings na die komposisie van ’n vroeëre werk (vgl. Wetzteon, 2012).

In die tradisionele benaderings tot verskynsels soos toespeling val die klem dikwels op die identifisering van die waarskynlike bron van ’n (verskuilde) toespeling en op ondersoeke na die internalisering van die tradisie via die tekstuele integrasie van (aspekte van) die oue in die nuwe werk. Ander die ander kant fokus benaderings wat die kulturele sirkulasie van (dikwels onverbloemde en direkte) verwysings beklemtoon, op die literêre diskoers en op die breë kulturele invloed wat van die enkelwerk of oeuvre van ’n bepaalde skrywer uitgaan.  Die werkwyse van die laasgenoemde benadering is vanweë die groter en wyer opset dikwels vergelykend van aard.

Die onderskeid tussen die tradisionele (tradisiegebonde) terugkykbenaderings en die breër opgesette kultureelgerigte benaderings is nie absoluut of rigied nie (soos dit uit die voorafgaande blyk). Tog dit wil voorkom of eersgenoemde benaderings geredelik binne die invloedsfeer van die formele en teksgerigte literatuurbenaderings tuisgebring kan word en die verwysingsgeoriënteerde benaderings binne dié van die semiotiese en poststrukturalistiese benaderings.

In die kontemporêre literatuurstudie, wat sterk deur bepaalde opvattings van Mikhail Bakhtin, Julia Kristeva, Roland Barthes, en die semiotiek en  die Post-Strukturalisme in die algemeen beïnvloed word, word verwysing en toespeling onder inter- en transtekstualiteit tuisgebring. Onder hierdie invloede, en die gepaardgaande bevraagtekening van die idee van die outonomie en oorspronklikheid van die literêre teks, het die term intertekstualiteit die tradisionele gebruik van die terme verwysing en toespeling in ’n hoë mate verdring. Intertekstualiteit gee te kenne dat geen teks uniek is nie, maar dat elke teks ‘n teks-tussen-ander-tekste is wat op ander tekste terugslaan. Elke teks staan dus in ’n verhouding tot ander tekste wat die verstaan van daardie teks meer as die bedoeling van ’n outeur met ’n spesifieke teks beïnvloed: ’n teks is “a multidimensional space in which a variety of writings, none of them original, blend and clash … a tissue of quotations… The writer can only imitate a gesture that is always anterior, never original. His only power is to mix writings, to counter the ones with the others, in such a way as never to rest on any one of them” (Barthes, 1977: 146). Omdat binne die post-strukturalisme die outeur nie meer die bron van betekenis in ’n werk is nie, verskuif die aandag na die rol van die leser in die produksie van die teks en die lê van verbande. Die aandag verskuif van die skrywer en die diktaat van die outonome werk na die rol van die leser wat by elke nuwe lees van ‘n teks gekonfronteer word deur die gelyktydige saambestaan van al die tekste wat sy al gelees het, as ‘n persoonlike verwysingsraamwerk, ’n verwagtingshorison, wat elke nuwe leeshandeling beïnvloed. Die implikasie hiervan is dat selfs  ‘n teks wat ná ‘n gegewe teks gepubliseer is as verwysing kan dien by die lees van daardie teks.

Verskeie intertekstuele studies in Afrikaans kyk na verwysings en toespelings sonder om noodwendig op die problematiek van hierdie verskynsels in te gaan (vgl. onder meer: Taljaard (2008), Viljoen (2008), Viljoen (2009), Vos (2010), Wessels (2011), Human (2012).

 

Ronel Johl

 

Bibliografie en verdere leeslys

Allen, Graham. 2011. Intertextuality. 2nd ed. The New Critical Idiom. Abingdon, Oxon.; New York: Routledge.

Barthes, Roland. 1977. Roland Barthes. New York: Hill and Wang.

Barthes, Roland, and Stephen Heath. 2010. Image, music, text. London: Fontana Press, Harper Collins Publishers.

Du Plessis, P.G. 1965. Die literêre verwysing aan die hand van voorbeelde uit die Afrikaanse poësie. Proefskrif (Ph.D. (Afrikaans)). Johannesburg: Universiteit van die Witwatersrand.

Greene, Roland. ed. 2012. The Princeton encyclopedia of poetry and poetics. 4th edition. Princeton: Princeton University Press.

Human, Thys. 2012. “Uit watter bronne sal ek put?” : Metafore van tekstuele interafhanklikheid in Ingrid Winterbach se Die benederyk (2010). Stilet: Tydskrif van die Afrikaanse Letterkundevereniging, 24 (2): 16-35.

Miner, Earl. 1993. Allusion. In: Preminger, Alex. 1993. pp.38-40.

Preminger, Alex & T.V.F. Brogan. eds. 1993. The Princeton encyclopedia of poetry and poetics. Princeton: Princeton University Press.

Pucci, Joseph Michael. 1998. The full-knowing reader: allusion and the power of the reader in the w]Western literary tradition. New Haven, Conn: Yale University Press.

Taljard, Marlies. 2008. Stoei teen die gedikteerde narratief: Palimpses, sgraffito en permutasie van tekste in Antjie Krog se “skilderysonnette e.a.”. Stilet: Tydskrif van die Afrikaanse Letterkundevereniging, 20 (1): 215-236.

Van Dijk, Yra, Maarten de Pourcq, en Carl de Strycker. reds. 2013. Draden in het donker: Intertekstualiteit in theorie en praktijk. Nijmegen: Vantilt.

Viljoen, Louise. 2008. Digterlike gesprekke met Van Wyk Louw: navorsings- en oorsigartikel. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 48 (3): 267-291.

Viljoen, Louise. 2009. Afrikaanse digters in gesprek met Breyten Breytenbach as digterLitnet Akademies: ‘n Joernaal vir die Geesteswetenskappe, 6 (3): 185-109.

Vos, Cas J.A. 2010. Die opname van ‘n Jobgedig in enkele eietydse gedigte. Verbum et Ecclesia, 31 (1): 1-4.

Wessels, A. 2011. Intertekstualiteit en modernistiese kompleksiteit in Henriette Grové se Linda Joubert-romans. Tydskrif Vir Letterkunde, 48(2).

Wetzteon, R. 2012. Allusion. In: Greene, Roland. 2012. pp.42–43.