POST-FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR

(Bygewerk Julie 2021)

Net soos die Marxistiese benaderings tot die letterkunde verteenwoordig die Freudiaanse literatuurteorie, soos Paul Ricoeur dit stel, ’n hermeneutiek van wantroue: die “ware”, dog verdronge, betekenis van die literêre werk sou deur die literêre verestetisering daarvan verdoesel word (kyk o.a. Hurst, 2018:40-43; Loewenberg, 2000:98). Die betekenis wat die leser met die eerste oogopslag uit ‘n gegewe teks haal, word hiervolgens beskou as ’n sublimering van die begeertes, drifte en drange wat uit die onbewuste voortspruit. Dit is die taak van die leser om hierdie sublimering as estetiese fassade te ontluister en as ’n simptomatologie te ontsyfer ten einde die “ware betekenis” van die teks te bepaal.

In die Freudiaanse literatuurteorie is die fokus veral op een van drie aspekte: die outeur (d.w.s. in hoeverre die teks sig self daartoe leen om die psige van die outeur te verstaan, soms selfs  ook die  patologie van die outeur), karakters in die teks (wat inhou dat karakters nie gesien word as talige konstruksies nie, maar volwaardige subjekte met ego’s, wat dus psigologies geanaliseer kan word), of die leser (d.w.s die psigologiese aspekte van die leser, wat deur die teks geaktiveer word om tot sekere assosiasies en interpretasies te lei; kyk bv. Roth, 2020; Marcus, 2014:14). Freudiaanse psigoanalitici soos Marie Bonaparte (publiseer ’n psigo-biografie oor Edgar Allan Poe in 1949) en Ernest Jones (publiseer psigoanalitiese studies oor Hamlet en Oedipus in 1976) is twee seminale voorbeelde in hierdie verband (kyk biografies-psigologistiese benadering).

Die teoretiese voorveronderstellings van Freudiaanse literatuurteorie sluit duidelik die integere aard van die ego-subjek in. Hierdie perspektief word in die konteks van post-Freudiaanse psigoanalise fundamenteel bevraagteken en geproblematiseer (kyk bv. Ellman, 1994:2, 4). Hierdie bevraagtekening het egter produktief daartoe meegewerk dat die Freudiaanse psigoanalise tydens die hoogbloei van kontinentale literatuurteorie (in die vorm van strukturalisme en poststrukturalisme) ’n bepaalde relevansie behou het. Dit geld egter nie in dieselfde mate vir die werk en die invloed van Carl Gustav Jung nie (kyk bv. Rabaté, 2020:5-7). Post-Freudiaanse psigoanalitiese literatuurteorie was dus ook van kardinale belang om die hermeneutiese waarde van Freudiaanse psigoanalise as sodanig te onderskryf: hoewel “klassieke” Freudiaanse psigoanalise dalk prakties as wetenskap gefaal het, het dit waarde behou in die her-teoretisering van taal en kultuur.

Verskillende opvattings van die ego-subjek

Die verskil tussen Freudiaanse en post-Freudiaanse literatuurteorie lê veral in uiteenlopende konseptualiserings van die ego-subjek. Dit plaas egter die voorvoegsel van die term “post-Freudiaans” in ’n baie ironiese lig, aangesien sekerlik die belangrikste figuur in laasgenoemde konteks, nl. Jacques Lacan, sy werk driftig as ’n terugkeer na Freud verdedig het – ’n terugkeer na die outoriteit van laasgenoemde se seminale (en ook minder bekende) werke. Dit sou beteken dat post-Freudiaanse literatuurteorie in werklikheid Freudiaans is, terwyl Freudiaanse literatuurteorie in werklikheid on-Freudiaans is. Die motivering wat vir so ’n oortuiging aangevoer word, is onder meer dat Freud se teoretiese nalatenskap deur sy ego-psigologies georiënteerde navolgers geapproprieer en ongebalanseerd verder ontwikkel en toegepas is – ’n mening wat deels korrek is, maar wat egter nie die volle verhaal verreken nie. Kortom, die “post” in post-Freudiaanse literatuurteorie dui nie uitsluitlik op ’n fase in die historiese ontwikkeling van hierdie benadering nie, maar veral ook op ’n verskuiwing in konseptuele voorveronderstellings: die problematisiering en desentralisasie van die ego-subjek, veral as gevolg van die gewaande talige aard van die onbewuste as Ander: “l’inconscient est structuré comme un langage” (“the unconscious is structured like a language”), soos wat sekerlik Lacan se bekendste aforisme lui. Soos wat Rabaté (2001:29) dit stel: “Lacan’s central insight is that if Freud is read literally, the main practitioners of the movement Freud founded under the name of psychoanalysis will realise that he is mainly talking about language and not about ‘instincts’ or ‘depth psychology’ when plumbing the elusive depths of the Unconscious” (kyk ook Azari, 2008:59, 60; Biswas, 2012a:8).

Die stelling dat Jacques Lacan (1953-1981) as die belangrikste verteenwoordiger van post-Freudiaanse psigoanalise geld en dat sy werk daarvolgens as grondliggend tot post-Freudiaanse literatuurteorie beskou moet word is, moet insgelyks gekwalifiseer word. Soos in die geval van Freud neem Lacan en sy werk, na gelang van die teoretiese invalshoek van sy navolgers, verskillende gestaltes aan, met die gevolg dat meer as een Lacan na vore tree en sy werk moeilik tot enkele duidelik omlynde motiewe gereduseer kan word. Enkele redes is hiervoor aan te voer: Lacan se werk is berug vir die dikwels hermetiese aard daarvan (wat soms tot waninterpretasies en wanvertolkings lei; kyk Azari, 2008:1). Verder is daar ’n duidelike evolusie in sy denke bespeurbaar (wat merkbare klemverskuiwings meebring en wat volgens sommige kritici selfs tot logiese teenstrydighede sou lei). Derdens is tot op datum nog nie al sy werk uit Frans vertaal nie, en daarby het die beskikbare vertalings nie altyd ooreenkomstig die chronologiese ontwikkeling van sy oeuvre geskied nie. Die gevolg is dat die resepsie en die sedimentering van Lacan se idees in die Anglo-Amerikaanse konteks anders as in die Franse konteks verloop het.

Lacan het hom wel deeglik met die letterkunde bemoei, hoewel sy aanslag baie anders was as die Freudiaanse literatuurteoretici s’n, wat ’n vorm van “toegepaste psigoanalise”, veral in die vorm van psigobiografiese analises bedryf het (kyk bv. Rabaté, 2001:43). Hy skryf uitvoerig oor werke soos Hamlet, Antigone en Paul Claudel se Coufontaine-trilogie, en oor skrywers soos Andre Gide, Marguerite Duras, Marquis de Sade en Edgar Allan Poe, en sluit sy loopbaan af met ’n hele seminaar gewy aan die James Joyce van Finnegan’s Wake (kyk o.a. Biswas, 2012a:8, 11-12). In die post-Freudiaanse literatuurteorie gebaseer op Lacaniaanse psigoanalise kom, staan verskeie idees uit sy arsenaal sentraal. Ten einde Lacan se terugkeer na of verdere ontwikkeling van Freudiaanse gedagtegoed te verstaan en die evolusie in sy oeuvre te begryp, moet enkele van die belangrikste temas in sy werk kortliks en simplisties belig word.

Belangrike temas in die werk van Jacques Lacan

Lacan onderskei drie registers of ordes wat die subjek as subjek en sy of haar relasie met die beleefde werklikheid uitmaak: die Simboliese, die Imaginêre (of Verbeelde) en die Reële (kyk o.a. Brivic, 2008:12). Die Imaginêre word veral met sy konseptualisering van die spieëlfase in verband gebring. In hierdie fase identifiseer die baba (deels met reg, deels ten onregte) met sy eie spieëlbeeld, om sodoende ’n selfbewussyn van holistiese eenheid en integere identiteit te ontwikkel:

These reflections lead me to recognize in the spatial captation manifested in the mirror-stage, even before the social dialectic, the effect in man of an organic insufficiency in his natural reality […] I am led, therefore, to regard the function of the mirror-stage as a particular case of the function of the imago, which is to establish a relation between the organism and its reality – or, as they say, between the Innenwelt and the Umwelt (Lacan, 1989:4; kyk ook Žižek, 1989:116, 145-148).

Hierdie register skep dus sinvolle betekenis deur die subjek se koöptering van imaginêre motiewe, alternatiewelik deur die imaginêre motiewe se koöptering van die subjek (Van den Berg, 2017:196). Die imaginêre kan nie tot ’n fase in die ontwikkeling van die subjek gereduseer word nie, maar moet eerder verstaan word as komplimenterend tot die Simboliese, wat veral deur middel van ’n talige ketting van betekenaars betekenis skep.

Lacan se konseptualisering van die Simboliese is grootliks beïnvloed deur die werk van Claude Lévi-Strauss, veral sy grondliggende idee dat die sosiale werklikheid deur sekere universele wette gestruktureer word – dieselfde wette wat verwantskapsrelasies en die uitruil van geskenke reguleer. Maar Lacan karteer hierdie dinamika en struktuur voorts op taal:

Since the most basic form of exchange is communication itself (the exchange of words, the gift of speech […]), and since the concepts of LAW and of STRUCTURE are unthinkable without LANGUAGE, the symbolic is essentially a linguistic dimension. Any aspect of the psychoanalytic experience which has a linguistic structure thus pertains to the symbolic order (Evans, 1996:203).

Getrou aan die tydsgees van sy era verlaat hy hom op Ferdinand de Saussure se tipering van die teken as bestaande uit die toevallige samekoms van betekenaar en betekende. Die Simboliese verteenwoordig vervolgens ’n ketting van betekenaars waardeur betekenis, of alternatiewelik, die illusie van sin en betekenis gefasiliteer word, aangesien die betekenaar inderwaarheid oor geen daadwerklike positiewe waarde beskik nie, omdat dit eerder in terme van kontrasterende en wedersydse verskille met ander betekenaars funksioneer. Die Simboliese orde be-teken – en dít in terme van ’n as van kombinasie en ’n as van seleksie, ofte wel dít wat retories gesproke in verband gebring kan word met metonimie en metafoor (Muller en Richardson, 1988:56, 57). ’n Eerste ooreenkoms met Freud se analise van droomtaal blyk hieruit, omdat laasgenoemde se analise van drome op die lees van tekens as verplasing en kondensering (dit wil sê kombinasie en seleksie, ofte wel metonimie en metafoor) geskoei is.

Die subjek se toetrede tot die Simboliese orde, met ander woorde, die aanleer van taal en al die strukturerende sosiale regulasies wat noodwendig daarmee verweef is, het verskeie implikasies (kyk Ellman, 1994:16). Die subjek moet stelselmatig leer om behoeftes en begeertes, interpersoonlike kommunikasie en relasies deur middel van taal te medieer en te navigeer, wat beteken dat al hierdie aspekte as betekendes deur taal gemoduleer en sodoende verplaas word. Sodoende ontstaan ’n diskontinuïteit of diskrepansie: die betekenaar staan skielik in die plek van die betekende en konstitueer laasgenoemde volgens die singewende funksionaliteit wat deur die Simboliese orde geïmpliseer word (kyk bv. Dean, 2014:123). Maar die lukrake en onvoldoende betekenaar wat betekenis aanbied alleenlik in terme van kombinasie en seleksie (van ander betekenaars), skiet ver tekort om die gewaande oorvloed van ’n gegewe betekende te verreken. Die Simboliese orde funksioneer dus soos ’n tweesnydende swaard: enersyds konstitueer die betekenaars die subjek en alle ander betekendes, andersyds is hierdie konstituering die direkte oorsaak van ’n miskenning en negering van alles wat nie be-teken kan word nie.

Een van die belangrikste gevolge van die toetrede tot taal (wat gelykgestel moet word met die toetrede tot die Wet as Nom-du-père, die Naam/Nee van die Vader), is dat ‘n gat in die bestaan van die subjek geruk word wat die subjek voortaan as ’n gepaardgaande leemte sal vergesel (kyk Ellman, 1994:18). Lacan beskryf die Oedipus-kompleks juis in terme van die ontwikkeling van subjektiwiteit as ’n konfigurasie: taal vervul enersyds ’n kastrerende funksie en laat dus ’n ewigdurende leemte, maar verdoesel andersyds tog ook die oorsprong van die begeerte wat dienooreenkomstig ontstaan om hierdie leemte te vul (kyk o.a. Azari, 2008:10, 12-13, 16, 61; Felman, 1994:80-85). Die oorsprong van begeerte strek egter ook verder as dit terug, deurdat die subjek deels as gevolg van die mediëring van taal, maar deels ook vanweë die feit dat hy/sy reeds in die vroegste fases van sy/haar bestaan aan die gepostuleerde begeerte van die Ander (dus die Simboliese orde) wil voldoen, in effek sy/haar begeerte tot so ’n mate op die “begeerte” van die Ander karteer. Sodoende word die subjek se begeerte inherent die begeerte van die Ander. Om dit te verstaan, moet in ag geneem word dat Lacan die eerste Ander met die moeder gelykstel, dus “(m)Other”: die baba begeer die volle toewyding van die moeder, maar wil ook teen alle koste die begeertes van die moeder vervul ten einde die objek van haar liefde te bly. So word begeerte gelei deur die (gewaande) begeerte van die Ander, met die Simboliese orde as Ander wat dan later ’n meer komplekse, maar struktureel soortgelyke dinamika aktiveer (kyk o.a. Azari, 2008:10-12, 14-15). Niks kan egter die leemte vul nie en dus funksioneer plaasvervangers as tydelike of meer langdurende plekhouers om ten minste ’n illusie van vervulde begeerte te skep – iets wat Lacan as die objet petit a postuleer – die klein Ander (in kontras met die groot Ander van die Simboliese orde). Lacan se konseptualisering van begeerte as fundamenteel die begeerte van die Ander, van die talige Simboliese orde, is dus anders as dié van Freud: Freud postuleer Wunscherfüllung in drome en psigologiese simptomatologie van sy pasiënte, maar by Lacan is begeerte buite die subjek gelokaliseer en kan dit ook nooit vervul word nie.

Omdat die subjek in die reeds bestaande Simboliese orde ontvang en gebore word en laasgenoemde die subjek “onbewus” konstitueer, is die Simboliese orde niks anders as die subjek se onbewuste nie – die oorspronklike Ander van ’n vals gepostuleerde ego-bewussyn of ego-subjek. Ironies genoeg bevind die bewuste “sentrum” van die subjek sig self dus nie binne die parameters van ’n soewereine bestaan en ’n integere ego nie, maar eerder buite sig self, in die Ander van die onbewuste, wat dus per implikasie soos taal gestruktureer is (kyk o.a. Muller en Richardson, 1988: 57). In werklikheid bestaan die integere ego dus nie en versand dit in die kontoere van die Ander (as onbewuste) se diskoers (kyk o.a. Azari, 2008:11; Žižek, 2012:211; Rabaté, 2001:136, 170; Felman, 1987:11-12). Lacan se “terugkeer” na Freud beteken vervolgens sy aansluiting by wat hy sien as Freud se lees en analise van die onbewuste as iets wat soos taal gestruktureer is. Die ego-psigiatrie se groot mistasting is hiervolgens dus die sentralisering van die ego-bewussyn en die misplaaste hipotese van ’n eiesoortige onbewuste behorende tot ’n eiesoortige en unieke sentrum van identiteit. Noodwendig hou Lacan se opvatting gevolge vir die lees van tekste uit ’n (post)-Freudiaanse perspektief in. En dit is juis hierdie aspekte wat deur Lacan in een van sy bekendste essays oor ’n literêre werk, “The Purloined Letter” deur Edgar Allan Poe, bespreek word.

Lacan se seminaar oor “The Purloined Letter”

In “The Purloined Letter” word die verhaal van amateur-baasspeurder (en prototipiese Sherlock Holmes) C. Auguste Dupin ontvou. Die prefek van die Paryse polisie roep Dupin se hulp in om ’n brief met behulp van sy verbysterende deduktiewe vermoëns op te spoor. Nadat sy dit kort tevore ontvang het, is die koningin tydens die lees van ’n inkriminerende brief deur die teenwoordigheid van die koning verras – die inhoud van die brief sou die koningin in ’n onverkwiklike posisie jeens haar eggenoot en koning plaas. Sy plaas die brief op ’n tafel, om deur haar geveinsde ongeërgdheid nie aandag daarop te vestig nie, wat dan ook suksesvol is, aangesien die brief voorts die aandag van die koning ontglip. ’n Minister betree dieselfde vertrek, takseer die situasie en besef dat die koningin niks sal kan doen as hy die brief sou neem nie, aangesien ’n reaksie van haar die aandag van die koning sal trek. Die minister word as ’n slu persoon geskets, wat duidelik die inhoud van die brief sou kon gebruik om die koningin in ’n slegte lig te plaas, of selfs af te pers – hy steel dus die brief.

Alhoewel die koningin in die geheim die Paryse polisie nader om die brief op te spoor, kom van al hulle pogings dadels – hulle fynkam die minister se woonplek, maar vind niks nie. Die prefek rig ’n appèl tot Dupin, wat instem om die brief op te spoor, wat hy ook met betreklike gemak doen. Tydens ’n volgende besoek van die prefek oorhandig Dupin die brief aan hom en verduidelik ook sy sukses – die polisie het in al die plekke gesoek waar mens sou verwag om iets kosbaars te versteek, maar die punt was om te kyk waar niemand ’n vonds sou verwag nie, naamlik iewers oop en bloot, vir almal om te sien. Tydens ’n besoek aan die minister het Dupin maklik die brief geïdentifiseer, net om onder ’n voorwendsel die volgende dag terug te keer en tydens ’n oomblik toe die minister se aandag afgetrek was, die brief te neem en ’n ander in die plek daarvan te plaas. Dupin laat ’n boodskap aan die minister in die vals brief wat hy agterlaat, sodat laasgenoemde bewus sal wees van wie hom uitoorlê het, sou hy die brief gebruik vir sy eie duistere gewin.

Twee dinge val op in Poe se verhaal: die inhoud van die brief bly geheel en al duister (alhoewel die groot impak van die bekendmaking daarvan telkens weer duidelik word). Verder is daar’n strukturele herhaling in die kortverhaal: in ’n eerste toneel is die koning blind vir die stand van sake, die koningin wel bewus, maar magteloos om iets te doen en die minister bewus van beide die koning en koningin se (beperkte) insig en/of vermoëns om in te gryp – wat hy vervolgens uitbuit. In die strukturele herhaling van die toneel skyn die Paryse polisie (as verteenwoordiger van die koningin) blind te wees, die minister bewus te wees van die situasie, maar magteloos om iets daaraan te doen (die prefek stel dit duidelik dat die minister se hande gebind is deur sy veinsing van onskuld, asook die feit dat sy voordeel berus op die nie-bekendmaking van die inhoud van die brief, aangesien sy kaarte uitgespeel sou wees die oomblik wanneer hy die bekendmaking sou doen) en Dupin bewus te wees van beide, waardeur hy die situasie kan uitbuit (hy verdien natuurlik heelwat met die verkryging van die brief en laat die minister op sy neus kyk as wraak vir ’n vorige nie-genoemde onderonsie tussen beide). Die vraag is natuurlik wat die waarde van Lacan se analise van “The Purloined Letter” vir die literatuurteorie inhou.

Lacan interpreteer “The Purloined Letter” as ’n fabel van psigoanalitiese motiewe en dinamikas. Die brief se inhoud bly tot teen die einde van die vertelling duister en funksioneer dus as betekenaar sonder betekende – ’n betekenaar wat wel subjekposisies bepaal (wie die brief besit of blind is vir die bestaan daarvan, word daarvolgens gekonstitueer), maar desnieteenstaande sonder enige inhoud is en dus vir alle praktiese doeleindes die plek van die inhoudelike leemte of afwesigheid inneem. Die betekenaar is duidelik ’n plaasvervanger vir ’n afwesige betekende, maar dui dus soveel te meer op die mag van die betekenaar, wat sonder twyfel en selfs sonder verwysing na ’n betekende die posisie van die subjek in die deelname aan die Simboliese orde bepaal: blind, siende maar magteloos, of siende en dus in beheer van die intersubjektiewe relasies van die Simboliese betekenisketting (kyk bv. Lacan, 1988b:39; Muller en Richardson, 1988:58). Die brief, as leë betekenaar, skuif telkens weer metonimies op in die betekenisketting en geld ook as die primêre faktor wat die subjek en sy/haar subjekposisie bepaal – dit is die Simboliese orde as Ander, wat as onbewuste die subjek konstitueer. Soos wat Lacan self dit in hierdie essay stel:

So runs the signifier’s answer, above and beyond all significations: ‘You think you act when I stir you at the mercy of the bonds through which I knot your desires. Thus do they grow in force and multiply in objects, bringing you back to the fragmentation of your shattered childhood. So be it: such will be your feast until the return of the stone guest I shall be for you since you call me forth (Muller en Richardson, 1988:67).

Tweedens word die intersubjektiewe konstellasie van die subjekposisies herhaal – telkens met ander subjekte in die onderskeie posisies van die intersubjektiewe driehoek, maar juis as gevolg daarvan tekenend van ’n dinamika wat Lacan met die Freudiaanse herhalingskompulsie in verband bring (kyk bv. Felman, 1988:144, 145). Die afwesigheid van die inhoud van die brief sou volgens Felman herleibaar wees tot die psigologiese onderdrukking of dan verplasing van die brief se inhoud, wat egter op sy beurt dan lei tot ’n simptomatiese herhaling van die proses: die impak van taal as oorsprong van begeerte kondisioneer ’n herhalende dinamika rondom ’n afwesige inhoud – wat dus indirek as simbolies van begeerte gelees sou kon word: “Unconscious desire, once repressed, survives in displaced symbolic media that govern the subject’s life and actions without his ever being aware of their meaning or of the repetitive pattern they structure” (Felman, 1988:146).

Felman maak vyf afleidings uit Lacan se lees van Poe se kortverhaal:

  1. Wat in die storie herhaal word, is nie ’n enkelvoudige en literêr-gesublimeerde simptoom van die outeur, Poe, soos wat Marie Bonaparte vanuit ’n psigo-biografiese perspektief sou beweer nie, maar eerder die dinamika van verskil, soos voortgestu in die Simboliese orde (“[…] for Lacan, any possible insight into the reality of the unconscious is contingent upon a perception of repetition, not as a confirmation of identity, but as the insistence of the indelibility of a difference”, Felman, 1988:148).
  2. Lacan se interpretasie gaan oor die analise van die betekenaar en nie die betekende nie (laasgenoemde is en bly trouens heeltemal afwesig), wat beteken dat die leser nie kan lees vir betekenis soos vergestalt in ’n betekenaar nie, maar eerder moet lees vir die afwesigheid van betekenis (Felman, 1988:148-149).
  3. Lacan fokus op die teks en nie op die outeur nie.
  4. Die posisie van die leser toon ooreenkomste met die derde posisie van die driehoek (dus die minister in die eerste toneel en Dupin in die herhaling daarvan), ’n posisie wat ook met die analis in verband gebring kan word. Dit beteken egter ook dat die leser én analis steeds in die Simboliese orde geïmpliseer bly, soos wat beide die minister en Dupin dit ondervind (Felman, 1988:150-152; kyk ook Felman, 1987:21-22).
  5. Lacan pas nie psigoanalise toe op die teks nie, maar deurdink eerder die wedersydse implikasies van letterkunde en psigoanalise: beide is produk van die Simboliese orde, wat nie ’n metaposisie bied as luukse vir ’n gedistansieerde interpretasie nie. Uiteindelik gaan “The Purloined Letter” oor die implikasies van die Simboliese orde vir die subjek, hetsy laasgenoemde karakter, outeur, leser of psigoanalis is:

If what Freud discovered, and rediscovers ever more abruptly, has a meaning, it is that the signifier’s displacement determines subjects’ acts, destiny, refusals, blindnesses, success, and fate, regardless of their innate gifts and instruction, and irregardless of their character or sex; and that everything pertaining to the psychological pregiven follows willy-nilly the signifier’s train, like weapons and baggage (Blake, 2012:40).

Lacan se Reële

Die Reële as derde en laaste register is die moeilikste om te tipeer, aangesien die onsegbare aard daarvan die moontlikheid om betekenis te skep en onder woorde te bring, op grondliggende wyse uitdaag. Verder teoretiseer Lacan die Reële op verskillende wyses in die ontwikkeling van sy oeuvre. Hy laat vaar met ander woorde kontinuïteit en plaas die begrip eerder binne ‘n veeltal perspektiewe en ander konsepte (kyk bv. Lacan 1988a:229, 271; Fink 1995:7). Van den Berg (2018:35-42) identifiseer twaalf teoretiese benaderings tot die Reële: dit is onrepresenteerbaar; dit verteenwoordig die grens van die subjek se (sinvolle) ervaring; dit verteenwoordig die inherente spanning wat noodwendig voortspruit uit die subjek se identifisering met Imaginêre motiewe; dit verteenwoordig beide die keersy van die Simboliese orde as potensiële betekende (wat egter nooit ten volle be-teken kan word nie), asook die materialiteit van taal as sodanig (veral in terme van skrif); dit word deels met die objet petit a, of dan ten minste die funksie daarvan, in verband gebring; dit word as iets traumaties uitgebeeld (das Ding, oftewel la Chose); as logiese voorveronderstelling speel dit ’n fundamentele rol in die fasilitering van narratiewe (ook beskryf as fantasie), wat geskep (moet) word om die leemte(s) in die Simboliese orde te vul; dit is konstant en onveranderlik; dit kan funksioneer as katalisator vir verandering (tuché); dit kan deels met ’n konseptualisering van Drang in verband gebring word; dit kan deels met jouissance as manifestasie van oorweldigende genot in verband gebring word; en as verdere verlenging van laasgenoemde, kan dit ook met Lacan se teoretisering van die sinthome as ’n estetiese modulering van jouissance in verband gebring word.

Lacan se sieining van die Reële verteenwoordig ’n duidelike en belangrike verskuiwing van fokus in sy denke – ’n verskuiwing wat volgens sommige dui op ’n diskontinuïteit in sy oeuvre, maar deur ander gesien word as verstaanbaar teen die agtergrond van wat die Reële alles impliseer:

Jacques-Alain Miller has taught us to read Lacan against Lacan, to point out that Lacan first said something and then said something completely to the contrary 10 years later, of course in a different context. We can demonstrate with the texts of Lacan how he contradicted later what he had demonstrated at the beginning, which can be difficult at times to sustain, although interesting. But why? Because it is with contradiction, with something that cannot be unified together that one can surround and approach what Lacan called the real as an impossible to say (Grigg, 2012:299).

Biswas (2012b:173) identifiseer die draaipunt as die essay geskryf in 1971: “On a Discourse that Might not be a Semblance”. Spesifiek met betrekking tot post-Freudiaanse literatuurteorie beteken hierdie keerpunt die skuif van die fokus op die Simboliese in “The Purloined Letter” na ’n ondersoek van die “littoral” en van James Joyce as sinthome, soos wat dit vergestalt word in die taalgebruik van Finnegan’s Wake.

Die belangrikste aspek van die Reële van taal of die Reële as taal, oftewel die Reële as die keersy van die singewende funksie van die betekenaar, het te make met die oortuiging dat taal nie net gaan oor kommunikasie nie, maar dat die mediërende funksie van taal as draer van betekenis ook rekenskap eis – veral wanneer dit in geskrewe vorm voorkom. Letters is die draers van betekenis, maar is ook letterlik as letters teenwoordig, ongeag enige semantiese betekenis wat daaraan geheg kan word (dink aan onverstaanbaare hiërogliewe). Sou semantiese betekenis as inhoud gesien word, geld skrif of klank as die medium vir die oordrag daarvan. En wanneer hierdie medium veral vervreemdend tot uitdrukking kom – dus skrif en klank as “taal” wat nog nie “gesemantiseer” en “gesintaktiseer” is nie op die voorgrond geplaas word – word noodwendig een van die Reële keersye van die Simboliese orde sigbaar en hoorbaar. Dit is dan die “realiteit van die letter”, veral van geskrewe taal, wat nie pasgemaak kan word vir die betekenaars van die Simboliese orde nie:

What is a signifier, in fact? This is the word with which we designate a sign in so far as it has a signified effect. But this is not all that a sign is. It is possible to think it is when one speaks (since the sound dissipates, or so we think, despite the evidence of the Freudian unconscious), but not when one writes: a letter, once read, remains. Will it end up in the rubbish bin? Will it be torn up, archived, displayed, lost, sold, purloined? In each case, the destiny of the letter is disjoined from its function as a signifier; the addressee of one is not the addressee of the other. What, then, shall we call a letter as such? A sign; but a sign that is defined, not by its signified effect but by its nature as an object” (Lacan in Miller, 2012:2; kyk ook Azari, 2008:48, 64-65, 67-68).

Iets wat gedeeltelik hiermee oorvleuel is die konsep van littorals, wat disrupsies van betekenaars en betekenis veronderstel sodat “nie-betekenis” manifesteer, hetsy as ambivalensies, teenstrydighede of gewone afwesigheid van betekenis (kyk bv. Azari, 2008:71, 158-159, 164; Klotz, 2012:198-199); en lalangue, wat deur Lacan veral met die gebabbel van ’n klein kind omskryf is, dus as ’n pre-taal voor die toetrede tot die Simboliese orde, en iets wat dus ontstaan in die bymekaarkom van die onbewuste en die organiese liggaam (kyk Azari, 2008:13, 144-145, 155; Rabaté, 2001:174; Žižek, 2012:207-208).

In ’n literêre konteks is dit veral in die modernistiese eksperimentering met taal dat hierdie Reële modulerings van die Simboliese orde die duidelikste waarneembaar word, en waarvan Finnegan’s Wake as Lacan se emblematiese maatstaf en norm geld (kyk bv. Azari, 2008:154, 156-157). Iets van ’n genot in transgressie skemer in Lacan se beskrywing van lalangue deur, deurdat dit ’n bykans utopiese moment verteenwoordig (selfs indien dit op ’n illusie sou berus) voor die kastrerende gevolge veroorsaak deur die toetrede tot die Simboliese orde – ’n genot wat hy met die term jouissance tipeer. Laasgenoemde word mettertyd een van die sleutelbegrippe in Lacan se woordeskat, maar soos die Reële is dit ’n konsep waarvan die betekenis telkens weer uit ’n ander hoek belig word. Transgressie van die singewende funksie van taal, soos wat dit in littorals en lalangue tot uitdrukking kom (as die implisering van die Reële) sou dienooreenkomstig ’n vonk van jouissance insluit (kyk bv. Rabaté, 2001:180-181; Miller, 2012:4-5; Grigg, 2012:296-298). Jouissance word trouens moontlik deurdat die Reële van die Simboliese bewus in die literêre teks gevier word. En hierdie viering of bewuste modulering van jouissance as ’n literêre uitdrukking, word as een van die manifestasies van die sinthome beskryf. Die sinthome word, met Joyce as eksemplariese eksponent hiervan, die unieke wyse waarop die subjek die relasie tussen die Reële en die Simboliese, maar nog altyd ook die Imaginêre, navigeer (kyk bv. Azari, 2008:146). Die sinthome vervul dus ’n mediërende funksie tussen die drie registers – met ’n spesifieke fokus op die Reële:

It is not a break between the symbolic, the imaginary, and the real that defines perversion, it is that they already stand apart in such a way that a fourth term has to be supposed, which on this occasion is the symptom (Lacan, 2016:11; kyk ook Azari, 2008:51-56, 147; Rabaté, 2001:158, 160; Rabaté, 2012:57; Biswas, 2012b:177; Klotz, 2012:202).

Die sinthome is uiteindelik die subjek se skakel met die Reële, wat funksioneel, maar ook kreatief in die literêre teks tot uitdrukking kan kom. Aangesien James Joyce in Finnegan’s Wake onder meer hierdie spanning tussen die Reële en die Simboliese performatief uitspeel, maar daaruit ’n literêre kunswerk van hoogstaande gehalte skep, sien Lacan James Joyce as ’n subjek wat sy persoonlike jouissance op die bes moontlike wyse in sy sinthome kondisioneer.

Die waarde van Lacan vir die literatuurteorie

Die vraag is watter waarde Lacan se idees tot literatuurteorie toevoeg. Met reg kan ook gevra word in hoeverre die verskuiwing van fokus vanaf Poe na Joyce, vanaf “The Purloined Letter” na Finnegan’s Wake nie tog maar ’n verskuiwing van ‘n strukturalistiese na ‘n psigobiografiese literatuurteorie veronderstel nie (kyk bv. Rabaté, 2014:166). En is sy weergawe van post-Freudiaanse literatuurteorie nie té ahistories nie, gebaseer op idees van Freud wat intussen enige aanspraak op ware wetenskaplikheid moes laat vaar het nie? Die antwoord lê na alle waarskynlikheid daarin dat, watter weergawe van “Lacan” ook al as wegspringplek gebruik word, die simplistiese toepassing van sy idees op literêre werke uiteindelik voorspelbaar en sodoende onproduktief sal wees. Lacan se groot bydrae is dat hy ’n ander manier van lees voorstaan, omdat hy ’n ander blik op taal werp – taal wat juis die medium van die literêre werk uitmaak:

It is precisely in this respect that he who is called ill sometimes goes further than he who is called a man of sound mind. Rather, the question is why a normal man, a man said to be normal, doesn’t notice that speech is a parasite, that speech is a veneer, that speech is a form of cancer that afflicts the human being? How is it that there are some who go so far as to sense this? It is quite certain that Joyce affords us a little inkling of this (Lacan, 2016:78).

Dit is in die letterkunde dat bewuswording van hierdie kanker plaasvind. So gesien, ondersoek Lacan in letterkunde die funksie van taal as sodanig; ondersoek hy die rol van die leser in die leesproses (siende dat beide deel uitmaak van die Simboliese orde beteken interpretasie voorts die transferensie van een onbewuste op ’n ander, van een sinthome op ’n ander); problematiseer hy die gesentraliseerde lokus van skrywer, teks en outeur (wat noodwendig enige reduserende interpretasie uitskakel); bevraagteken hy die soeke na betekenis ten koste van die soeke na die afwesigheid van betekenis; en beskryf hy via literêre tekstualiteit die interafhanklikheid van die Simboliese en begeerte. Sy blik op taal as kanker, parasiet en vernislagie kan gebruik word om verskeie verdere vraagstukke te aktiveer, waaronder die sogenaamde dekolonisering van beide taal en letterkunde en die moontlikheid van vertaling net twee ooglopende voorbeelde is.

Žižek se Lacaniaanse analise van ideologie

Slavoj Žižek geld as een van die belangrikste eksponente van Lacaniaanse psigoanalise vandag. Sedert die verskyning van The Sublime Object of Ideology in 1989 het tientalle werke uit sy pen verskyn, waarin die fokus veral val op die waarde van Lacaniaanse teorie vir die analise van politieke ideologie. Ingebed in die filosofie van Hegel en die psigoanalise van Lacan gebruik Žižek ’n enorme palet van populêre kulturele verwysings om hierdie denkers toeganklik te maak. Met betrekking tot post-Freudiaanse psigoanalise gaan dit by hom dus telkens weer daaroor om die politieke implikasies van Lacan se denke te ondersoek – veral wat betref sy konseptualisering van ideologie as fantastiese politieke konstruksies eie aan die Simboliese orde, wat gebruik en gemanipuleer word om die oënskynlike vervulling van begeerte te veins. Sy benadering bied nie werklik meer in terme van literatuurteorie as wat reeds uit Lacan geput kan word nie, buiten die politieke implikasies wat op die voorgrond gestel word: die bespreking van letterkundige werke geld grootliks as demonstrasie van Lacaniaanse konsepte.

Peter Brooks se analise van plot

Peter Brooks se teoretisering van plot het veel te make met enkele Freudiaanse en post-Freudiaanse motiewe: volgens hom verteenwoordig plot ’n dinamiese strukturering van soms oënskynlik kohesielose gegewens en gebeure, ten einde in nabetragting (of gepostuleerde, toekomstige nabetragting) betekenis te konstrueer in terme van koherente samehang (of identiteit), wat sinvol aan ander oorgedra kan word (Brooks, 1984:25, 93). Hy gebruik die Russiese Formaliste se onderskeid tussen fabula en sjužet, en beskou die sjužet as die aktiewe komponent in die konstruering van die fabula – hoewel hy die meer primêre status van fabula bo sjužet op ‘n oortuigende wyse problematiseer, deur te wys op die mimetiese illusie waarop so ’n oortuiging sou berus (kyk bv. Brooks, 1984:12-14). Brooks verwys telkens weer na Freud en stel “begeerte” (veral gelees in terme van Lacan se semiotiese konseptualisering daarvan) sentraal om die resonansie tussen die plotgedrewe dinamika (sjužet) van literêre tekste en die begeerte van die menslike subjek as sodanig te beklemtoon. Hy stel dit duidelik dat sy benadering nie volstaan by ’n statiese strukturalistiese tipologie van plot-elemente nie, maar juis fokus op die dinamiese aard daarvan, as ’n vergestalting van begeerte (kyk bv. Brooks, 1984:xi, xii, 10, 27, 313). Daarom berus sy benutting van Freudiaanse motiewe nié op ego-gedrewe voorveronderstellings nie, maar veel eerder (post-Freudiaans) op tekstuele begeerte in relasie tot begeerte van die subjek: “[…] I want to see the text itself as a system of internal energies and tensions, compulsions, resistances, and desires […]. Through study of the work accomplished by fictions we may be able to reconnect literary criticism to human concern” (Brooks, 1984:xv; kyk ook 112).

Soos Lacan sien Brooks begeerte as onvervulbaar (Brooks, 1984:55), wat beteken dat geen narratief vervulling kan bring deur die leemte (dus die teenoorgestelde van vervulling) deur middel van taal as plaasvervanger uit die weg te ruim nie. Die Lacaniaanse Simboliese skep juis die leemte wat vervolgens nie deur die betekenaar vervul kan word nie – maar dit aktiveer voorts tog ook ’n herhalingskompulsie as gevolg van die onbewuste pogings om juis dít te laat realiseer (Brooks, 1984:61, 105). Ten spyte van die futiliteit daarvan, is begeerte dienooreenkomstig die begeerte na ’n einde en dus per implikasie ook die begeerte na ’n plot as sinvolle oriëntasie:

The sense of a beginning, then, must in some important way be determined by the sense of an ending. We might say that we are able to read present moments – in literature and, by extension, in life – as endowed with narrative meaning only because we read them in anticipation of the structuring power of those endings that will retrospectively give them the order and significance of plot (Brooks, 1984:94).

Met verwysing na Freud ondersoek Brooks die strukturele middele waardeur die middelste gedeelte van die plot, dus die gedeelte tussen die begin en die einde, uit die verf kom: metonimie en metafoor. Waar metonimie die beweging van die plot tipeer – prakties gesproke die voorstuwing in die leesproses soos gedra deur die spanningslyn – dui metafoor op die herhaling van strukturele elemente om betekenis, veral afgeslote betekenis met voltrekking van die plot te fasiliteer. Herhaling is soortgelyk aan die konsep by Lacan nie die herhaling van die identiese nie, maar die herhaling van verskil, of dan die ooreenkomste in die verskillend-wees (Brooks, 1984:101). Die plot speel dus tussen hierdie twee pole af, wat Freud reeds in sy Die Traumdeutung gevestig het – want ook sy droomtaal funksioneer volgens hierdie dinamika van verdigting en assosiasie:

Plot is the structure of action in closed and legible wholes; it thus must use metaphor as the trope of its achieved interrelations and it must be metaphoric insofar as it is totalizing. Yet it is equally apparent that the key figure of narrative must in some sense be not metaphor but metonymy: the figure of contiguity and combination, of the syntagmatic relation. The description of narrative needs metonymy as the figure of linkage in the signifying chain: precedence and consequence, the movement from one detail to another, the movement toward totalization under the mandate of desire (Brooks, 1984:91).

Soos die lewe van die subjek met die ophef van begeerte in die dood eindig, so verteenwoordig die suiwering van die tekstuele metonimie tot metafoor ’n ophef van begeerte – die uniekheid van elke plot (en lewe) veronderstel egter dat dit gebeur ooreenkomstig die uniekheid van die gegewe (lewens)plot (Brooks, 1984:102, 106, 108).

As primêr ’n narratiewe benadering kan nòg psigoanalise, nòg die literêre teks volgens Brooks aanspraak maak op waarheid, maar dit is juis in hierdie gemeenskaplikheid dat hy die steierwerk van beide die psigoanalitiese proses van analise én die literêre teks sien:

Centerless and never finally terminable, analytic discourse is consubstantial with the complementarity and uncertainty, either/ors, deferred actions and retroactions, to which Freud has narrative recourse when he finds there is no centered and authoritative explanatory history. As we have said before, the patient comes to the analyst with a story to tell, a story that is not so much false – since it does in some manner signify the truth – as it is incomplete and untherapeutic. Its plot lacks the dynamic necessary to creating sequence and design that integrate and explain. The fuller plot constructed by the analytic work must be more dynamic, thus more useful as a shaping and connective force; above all it must be hermeneutically more forceful. It must carry the power of conviction, for its tellers and its listeners, that is the ultimate goal of storytelling (Brooks, 1984:283).

Waar die psigoanalitiese proses inherent “unendlich” blyk te wees (vergelyk die titel van Freud se 1937-werk, Die endliche und die unendliche Analyse), kan dit kunsmatig, deur die skep van ’n plot (deur die analis as leser en die leser as analis) as betekenisvolle greep op die subjek se psigologiese relasies tot sy of haar beleefde wêreld funksioneer. Dit is voorts soortgelyk aan die sjužet van die literêre teks se narratiewe diskoers, wat ’n kapstok word om die nimmereindigende potensialiteit van die fabula tot stolling te bring in die afgebakenheid van ’n plot (Brooks, 1984:25, 32-33).

Bloom se “anxiety of influence”

Periferaal tot post-Freudiaanse literatuurteorie, siende dat dit in beginsel meer relevant is vir literatuurgeskiedskrywing, is die teorie rondom poëtiese beïnvloeding wat Harold Bloom in sy The Anxiety of Influence: A Theory of Poetry (1973) ontwikkel het (kyk bv. Fry, 2012:179-191). Soos uit die titel blyk, gaan dit in sy teks oor die wyse waarop ’n digterskap sigself teenoor die voorafgaande manifestasies van seminale digterskappe in die literêre tradisie opstel. Die term “digterskap” dui op Bloom se poging om relasies van invloed tussen tekste, of dan eerder tekstualiteite, te ondersoek en nie tussen historiese figure nie: “Influence, as I conceive it, means that there are no texts, but only relationships between texts” (Bloom, 1994:173). Hy som sy invalshoek as volg op:

Poetic Influence – when it involves two strong, authentic poets – always proceeds by a misreading of the prior poet, an act of creative correction that is actually and necessarily a misinterpretation. The history of fruitful poetic influence, which is to say the main tradition of Western poetry since the Renaissance, is a history of anxiety and self-saving caricature, of distortion, of perverse, wilful revisionism without which modern poetry as such could not exist (Bloom, 1973:30).

Sy idees is grootliks ’n meer tradisionele roete terug na Freud, deurdat die Oedipale konfigurasie van opstand teen die vaderfiguur hier belangrik word (kyk Bloom, 1973:8). Die gevolglike “rebellie” neem vorm aan in die verkeerde lees en waninterpretasies van die werke waarteenoor nuwe skrywers hulself opstel. Die bewuste verdringing of onbewuste blinde hoeke geskied volgens ses revisionistiese praktyke, wat uitvoerig in sy teks omskryf word: clinamen, tessera, kenosis, daemonisering, askesis en apophrades.

Post-Freudiaanse psigoanalise en feministiese literatuurteorie en traumateorie

Die invloed van literatuurteoretiese motiewe wat ooglopend as post-Freudiaans sou kon geld, is waarneembaar in veral twee ander teoretiese velde, wat egter afsonderlike aandag noodsaak: feministiese literatuurteorie en traumateorie. Dit is veral met betrekking tot laasgenoemde dat nuwe implementering en ontwikkeling van (post-)Freudiaanse psigoanalitiese motiewe die duidelikste na vore kom. Feministiese kritiek jeens beide Freud en Lacan lei tot meer of minder radikale aanpassings van hulle idees, met feministe soos Julia Kristeva, Judith Butler, Luce Irigaray, Judith Fetterley en Patrocinio Schweickart wat belangrike invalshoeke verteenwoordig. Traumateorie verteenwoordig ’n wye spektrum van benaderings, met psigoanalitiese motiewe wat onder meer via die werk van Shoshana Feldman, Cathy Caruth, Eric Santner, Robert Jay Lifton en Dominick LaCapra van kardinale belang is (kyk bv. Rabaté, 2014:174-198; Brooks en Woloch, 2000; Lac, 2020:70-87).

As terapeutiese benadering mag post-Freudiaanse psigoanalise dalk nie meer sentraal staan nie, maar dit is in die rol wat dit speel in die kritiese aftasting van kultuur en kulturele aspekte, dat dit ’n onuitwisbare merk gelaat het. Die noue verweefdheid daarvan met talle teoretiese benaderings, of alternatiewelik, die kritiese reaksies en gesprekke wat dit van ander benaderings noodsaak, dui op die produktiewe waarde wat dit steeds inhou. Hetsy dit tot kondonerende of afwysende reaksies lei – die plaag wat Freud 1909 na die VSA gebring het en die kanker wat Lacan in taal gediagnoseer het, sal altyd organies in die kritiese diskoers bly voortbestaan.

 

Cilliers van den Berg

 

Bronnelys

Azari, Ehsan. 2008. Lacan and the Destiny of Literature: Desire, Jouissance and the Sinthome in Shakespeare, Donne, Joyce and Ashbery. Londen en New York: Continuum.

Biswas, Santanu (red.). 2012a. The Literary Lacan: From Literature to Lituraterre and Beyond. Londen, New York en Kalkutta: Seagull Books.

Biswas, Santanu. 2012b. Introduction. In: Biswas, 2012a:8-34.

Biswas, Santanu. 2012c. A Literary Introduction to “Lituraterre”. In: Biswas, 2012a:173-195.

Blake, Nancy. 2012. From the Letter to the Objet petit a: The Evolution of Lacan’s Literary Metaphors. In: Biswas, 2012a:37-50.

Bloom, Harold. 1973. The Anxiety of Influence: A Theory of Poetry. New York en Oxford: Oxford University Press.

Bloom, Harold. 1994. Freud and the Sublime: A Catastrophe Theory of Creativity. In: Ellmann, Maud (red.). 1994. Psychoanalytic Literary Criticism. Londen en New York: Routledge:173-195.

Brivic, Shelly. 2008. Joyce Through Lacan and Žižek: Explorations. New York: Palgrave Macmillan.

Brooks, Peter. 1984. Reading for the Plot: Design and Intention in Narrative. Cambridge en Londen: Harvard University Press.

Dean, Tim. 2014. Queer Desire, Psychoanalytic Hermeneutics, and Love Lyric. In: Marcus, Laura en Mukherjee, Ankhi (reds.). 2014. A Concise Companion to Psychoanalysis, Literature, and Culture. Chichester: John Wiley & Sons:119-130.

Ellmann, Maud. 1994. Introduction. In: Ellmann, Maud (red.). 1994. Psychoanalytic Literary Criticism. Londen en New York: Routledge:1-35.

Evans, Dylan. 1996. An Introductory Dictionary of Lacanian Psychoanalysis. Londen en New York: Routledge.

Felman, Shoshana. 1987. Jacques Lacan and the Adventure of Insight: Psychoanalysis in Contemporary Culture. Cambridge en Londen: Harvard University Press.

Felman, Shoshana. 1988. On Reading Poetry: Reflections on the Limits and Possibilities of Psychoanalytic Approaches. In: Muller, John P. en Richardson, William J. (reds.). 1988. The Purloined Poe: Lacan, Derrida & Psychoanalytic Reading. Baltimore en Londen: The Johns Hopkins University Press:133-156.

Felman, Shoshana. 1994. Beyond Oedipus: The Specimen Story of Psychoanalysis. In: Ellmann, Maud (red.). 1994. Psychoanalytic Literary Criticism. Londen en New York: Routledge:76-102.

Fink, Bruce. 1995. The Lacanian subject: Between Language and Jouissance. Princeton: Princeton: University Press.

Fry, Paul H. 2012. Theory of Literature. New Haven en Londen: Yale University Press.

Grigg, Russel. 2012. The Enigma of Jouissance. In: Biswas, 2012a: 291-304.

Hurst, Andrea. 2018. Derrida and the Psychoanalysis of Culture. In: Rabaté, Jean-Michel (red.). 2018. After Derrida: Literature, Theory and Criticism in the Twentieth Century. Cambridge: Cambridge University Press:39-57.

Klotz, The Littoral Condition of the Letter. In: Biswas, 2012a:196-204.

Lac, Astrid. 2020. Trauma Theory, or Literature’s Will to Power. In: Rabaté, Jean-Michel (red.). 2020. Knots: Post-Lacanian Psychoanalysis, Literature and Film. New York en Londen: Routledge:70-87.

Lacan, Jacques. 1988a. The seminar of Jacques Lacan. Book I: Freud’s papers on technique 1953–1954. New York en Londen: W.W. Norton & Company.

Lacan, Jacques. 1988b. Seminar on “The Purloined Letter”. In: Muller, John P. en Richardson, William J. (reds.). 1988. The Purloined Poe: Lacan, Derrida & Psychoanalytic Reading. Baltimore en Londen: The Johns Hopkins University Press:28-54.

Lacan, Jacques. 1989. The Mirror Stage as Formative of the Function of the I. In: Lacan, Jacques. 1989. Écrits: A Selection. Londen en New York: Routledge:1-8.

Lacan, Jacques. 2016. The Sinthome: The Seminar of Jacques Lacan, Book XXIII. Cambridge: Polity Press.

Loewenberg, Peter. 2000. Psychoanalysis as a Hermeneutic Science. In: Brooks, Peter en Woloch, Alex (reds.). 2000. Whose Freud? The Place of Psychoanalysis in Contemporary Culture. New Haven en Londen: Yale University Press:96-115,

Marcus, Laura. 2014. Introduction: Psychoanalysis at the Margins. In: Marcus, Laura en Mukherjee, Ankhi (reds.). 2014. A Concise Companion to Psychoanalysis, Literature, and Culture. Chichester: John Wiley & Sons:12-19.

Miller, Jacques-Alain. 2012. Joyce with Lacan. In: Biswas, 2012a:1-7.

Muller, John P. en Richardson, William J. 1988. Lacan’s Seminar on “The Purloined Letter”: Overview. In: Muller, John P. en Richardson, William J. (reds.). 1988. The Purloined Poe: Lacan, Derrida & Psychoanalytic Reading. Baltimore en Londen: The Johns Hopkins University Press:55-76.

Rabaté, Jean-Michel. 2001. Jacques Lacan: Psychoanalysis and the Subject of Literature. Houndmills: Palgrave.

Rabaté, Jean-Michel. 2012. Psychoanalysis Appliccable and Inappliccable: The Case of Literature. In: Biswas, 20112a:51-85.

Rabaté, Jean-Michel. 2014. The Cambridge Introduction to Literature and Psychoanalysis. Cambridge: Cambridge University Press.

Rabaté, Jean-Michel. 2020. Editor’s Introduction: “Ampersands”. In: Rabaté, Jean-Michel (red.). 2020. Knots: Post-Lacanian Psychoanalysis, Literature and Film. New York en Londen: Routledge:1-17.

Roth, Merav. 2020. A Psychoanalytic Perspective on Reading Literature: Reading the Reader. Londen en New York: Routledge.

Van den Berg, Cilliers. 2017. Slavoj Žižek en film(teorie)? Deel 1: ’n Oorsig. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 57(1):187-204.

Van den Berg, Cilliers. 2018. Die Lacaniaanse Reële en grufilms: Jennifer Kent se The Babadook (2014). LitNet Akademies 15(1):30-68.

Žižek, Slavoj. 1989. The Sublime Object of Ideology. Londen en New York: Verso.

Žižek, Slavoj. 2012. Cogito in Literature: Descartes with Beckett. In: Biswas, 2012a:207-222.