(Gepubliseer Julie 2021)
Imagologie (image studies in Engels) het uit die vergelykende literatuurwetenskap ontwikkel, met Frankryk en die Duitse taalgebied wat as die oorspronklike nodus vir imagologiese studies beskou word. Dit het as ‘n deskriptiewe projek begin, gefokus op die inventarisasie van die uitbeelding van vreemdelinge en die karakterisering van vreemdelinge in ‘n gegewe literêre korpus, en is gekenmerk deur ‘n naïewe essensialisme, aangesien die konsep van “nasionale karakter” nie bevraagteken is nie (Leerssen, 2016:14). Dit was veral Hugo Dyserinck wie se werk in die 1960’s daartoe bygedra het dat imagologie ’n integrale deel van die vergelykende literatuurwetenskap geword het (ibid. 16). In die huidige klimaat van intense identiteitspolitiek en groeiende nasionalisme het imagologie onlangs weer die dringendheid herwin wat dit in die jare ná die Tweede Wêreldoorlog gehad het (ibid. 14).
Een van die sleutelbegrippe van die imagologie, die “etnotipe”, wat verwys na die stereotiperende representasie van nasionale karakter (Leerssen, 2016:16), is problematies binne die Suid-Afrikaanse konteks, gegewe dié land se sosio-politieke diversiteit en die polarisasie wat rondom taal- en kultuurgrense plaasgevind het. Binne die Europese konteks waar die nasionale bevolking tradisioneel meer homogeen is, was dit in die verlede wel moontlik om duideliker etnotipes af te lei. Verschaffel (2007:109) beskryf byvoorbeeld die Belge as “(d)emocratic and freedom-loving, rude yet courageous, hospitable yet quarrelsome, and inclined to gambling and drinking”. Hierbenewens blyk dit dat Franse, Duitse en Angelsaksiese literatore die Vlaamse literatuur binne die volgende “clichématig wereld- en literatuurbeeld” geplaas het: “landelijk, volks, spanning vroomheid en mystiek tegenover zinnelijkheid en schalksheid, enz.”, en dat dieselfde name daarmee vereenselwig word: onder andere Ruusbroec, Breughel, Charles de Coster, Gezelle en Timmermans (van Gorp et al., 1991:190).
Die konsep “beeld” is dit wat tradisioneel verstaan word as die meestal eensydige of onvolledige indruk wat ons van ander mense, lande of nasies, of ander kulture het (Soenen, 1995:17). Die vooroordele en stereotipes oor nasionale karakter en etniese temperament wat hieruit voortspruit, is tot ‘n groot mate ‘n tegniek om die wêreld te kategoriseer en daarvan sin te maak; naas gender, word etnisiteit en nasionaliteit beskou as waarskynlik die “most ingrained way of pigeonholing human behaviour into imputed group characteristics” (Leerssen, 2016:14). Hierdie beelde kan nie empiries gemeet word teen ‘n objektief bestaande betekende (“signifié”) nie; dit is diskursiewe objekte – narratiewe trope en retoriese formules (Leerssen, 2016:16).
Walter Lippmann se 1922-werk, Public opinion (Lippmann, 2004), is die eerste werk waarin die gebruik van die term “stereotipes” met die sosiale wetenskappe in verband gebring is. Stereotipes bied dalk nie ‘n volledige prentjie van die regte lewe nie, maar wel een van ‘n moontlike wêreld waaraan ons gewoond is – in daardie wêreld het mense en dinge hulle bekende plekke en tree hulle op spesifieke en verwagte maniere op (ibid.). Stereotipes is dus ook emosioneel gelade as vesting van tradisies waaragter mense veilig kan skuil (ibid.). Hiervan is die jaarlikse “zwartepietendebat” in Nederland rondom die tyd van Sinterklaas ‘n sprekende voorbeeld: terwyl teenstanders van Zwarte Piet kapsie maak teen die stereotiepe uitbeelding van ‘n swart karakter, beskou die voorstanders dit as ‘n onskuldige en kindervriendelike mitiese figuur eie aan hulle kultuur wat hulle selfs tot by die regsbank sal verdedig (Heijmans, 2018).
Van der Merwe (1994:2) onderskei tussen ‘n stereotiperende denkpatroon en ‘n stereotiepe fiktiewe karakter. Laasgenoemde is ‘n ongekompliseerde tipe wat gereeld in verhale voorkom, die beliggaming van ‘n stereotiperende denkpatroon. Hy gebruik as voorbeelde die “gierige Jode” en “dom swart mense” wat in vroeë Afrikaanse fiksie uitgebeeld is en wat die samelewing se stereotiperende denkpatrone in daardie tyd weerspieël het. Hierdie onderskeid is belangrik in ’n imagologiese studie.
Die bestudering en teoretisering van nasionale en kulturele stereotipes word vanuit ‘n transnasionale en vergelykende perspektief gedoen. Dit is nie ‘n teorie van nasionale of kulturele karakter as sulks nie, en die fokus is nie op wat nasies of nasionaliteit presies is nie, maar wel hoe hulle uitgebeeld word (Van Doorslaer, 2019:57). Die veld het intussen uitgebrei om ook voorsiening vir ’n post-nasionale imagologie en post-literêre imagologie te maak, want die nasiestaat is nie meer die vanselfsprekende kategorie wat dit altyd was nie, aangesien staat en “nasie” of etnisiteit byna nooit kongruent met mekaar is nie (Leerssen, 2016:28). Hierbenewens konfronteer die vorming van groepe – sowel leefstylgroepe as die multikulturalisering van immigrasiegroepe – ons met ’n skerp afwyking van die tradisionele idees van kulturele of temperamentele homogene nasiestate (ibid.). ‘n Post-nasionale imagologie omvat ook kulturele representasie wat in die multikulturele Suid-Afrikaanse samelewing besonder relevant is. “Etnotipes” word dus met “sosiotipes” vervang en verwysings na “nasionale karakter” is gevolglik ook, afhangend van die konteks, eerder “kulturele karakter”.
Literêre geskrifte word beskou as ‘n duidelike rekord van hoe nasionale karakter nie op grond van empiriese waarneming of uitdrukkings van objektiewe feite uitgebeeld word nie, maar eerder ‘n saak van gemeenplase of hoorsê is. Die letterkunde is dus by uitstek ’n genre vir die verspreiding van stereotipes (Beller & Leerssen, 2007:26). Dyserinck en ander imagoloë het reeds vasgestel dat baie tekste oor ander lande en veral letterkundes ‘n kunsmatige beeld oordra, of dat navorsers ‘n “beeld van hul wense” (“image de leurs désirs”) van ander kulture daaruit skep (Jonckheere, 1999:12). Die opspoor van “illusies” oor ander letterkundes en kulture en die uitwys van stereotipes daarvan is dus vir Dyserinck ‘n belangrike taak van die literatuurwetenskap (ibid.). In sy imagologiese studie oor die beeld van Suid-Afrika in Nederlandstalige literatuur, Van Mafeking tot Robbeneiland, toon Jonckheere aan dat die Nederlandse literatuur oor Suid-Afrika in die eerste helfte van die vorige eeu wemel van stereotipes soos Afrikanerhelde en swart en Engelse booswigte, terwyl anti-apartheidstekste weer ‘n ander stel stereotipes oplewer. Dit is dus geen verrassing nie dat die opinie van Nederlandse literatore oor Suid-Afrika oorwegend ooreenstem met dié van politieke meningsvormers en die media (De Boer, 2001).
Imagoloë is se hooffokus is om ondersoek in te stel na die wyses waarop die letterkunde die beelde en stereotipes van die ander vorm, en gevolglik ook die selfbeelde van diegene wat stereotipeer (Jansen, 2015:165). Die Self-Ander-opposisies wat geaktiveer word (identiteit vs. alteriteit; etnosentrisme vs. eksotisisme of xenofobie) kan ‘n prentjie skets van ‘n nasionale karakter wat deur die waarnemer as vergelykingsbasis ingespan kan word vir identifisering of onderskeiding (Leerssen, 2016:17). Imagologie is dus ‘n interkulturele konfrontasie waar een land sy selfbeeld toets aan die beeld wat hy van ‘n ander land het (Jonckheere, 1999:12) – of, met die post-nasionale uitbreiding daarvan soos vroeër genoem, dan etniese, sosiale of kultuurgroepe.
Nog ’n onderliggende opposisie wat in imagologie belig word, is die geografiese Noord-Suid-opposisie – “one of the most longstanding distinctions in European cultural history” (Beller & Leerssen, 2007:387) waarin die literêre tradisies “a cool, cerebral, frugal and morally-inclined North” gekontrasteer het met “a warm, sensual, opulent and amoral (or immoral) South” (Leerssen in Gentile & Van Doorslaer, 2019:799). Die konsep is intussen uitgebrei tot die “Globale Noorde” teenoor “Globale Suide” om na ’n streek se ekonomiese vooruitgang al dan nie te verwys. (Australië word, terloops, nie as deel van die suide beskou word nie, danksy hulle ekonomiese status binne die internasionale gemeenskap) (ibid. 800). ’n Imagologiese ondersoek het ook ten doel om vas te stel waar en tot hoe ’n mate hierdie karaktereienskappe in nasionale en kulturele representasies en diskoerse aangewend word (ibid. 799).
Imagologie in vertaling
In vertaling word etnotipes van ’n bronkultuur oorgedra aan die doelkultuur via verskillende bemiddelaars, of agente – uitgewer, vertaler, redakteur – wat kan lei tot die vorming van nuwe representasies of persepsies (of die bevestiging van ou sienings) ten opsigte van die bronkultuur in die doelkultuur: die kulturele representasie verander onvermydelik namate hulle oorgedra word van die een kultuur na die ander (Zlatnar Moe & Žigon, 2015:145). Paul Bandia is van mening dat sowel in etnografie as in vertaling, die “kulturele Ander” nie direk verwoord word nie, maar dat dit gefiltreer en aangepas, en indirek verwoord word deur die etnograaf of vertaler (Bandia, 2001:124). Bandia se postkoloniale perspektief skakel naatloos met dié van Lefevere oor vertaling as herskrywing: aan die een kant kan dit nuwe konsepte, genres en literêre tegnieke invoer en lei tot literêre innovasie wat dui op die vormingskrag van een kultuur op ‘n ander; maar herskrywing kan ook vernuwing onderdruk, en lei tot versteuring en inperking (Lefevere, 1992:vii). ‘n Bewustheid van die manipulasieprosesse in die letterkunde – soos dit in vertaling uitspeel – kan bydra tot groter begrip vir die wêreld waarin ons leef (ibid.).
Imagologie in Afrikaans
Jakes Gerwel promoveer in 1979 met ’n proefskrif getiteld Literatuur en apartheid: Konsepsies van “gekleurdes” in die Afrikaanse roman tot 1948. Dit is later in boekvorm gepubliseer en verskeie letterkundiges beskou dit as ’n belangrike teks wat tot ’n verskuiwing in die literatuurbeskouing van Afrikaanse letterkunde bygedra het (kyk in hierdie verband Painter, 2012; Galloway, 2012; en Toerien, 1985). Hoewel Gerwel sy studie slegs as ’n “[s]osiaal-bewuste literatuurbeskrywing” beskou, gee hy toe dat dit onder literatuursosiologie of sosiologie van die literatuur betrek sou kon word (Gerwel, 1979:51). Verder probeer die studie nie literatuursosiologiese verklarings vir die ondersoekte “konsepsies” of beelde gee nie, maar wel “om deur middel van die ontleding van die betrokke werke dié ‘konsepsies’ uit te lig en te beskryf” (ibid. 55). Dit word nie as ’n imagologiese studie aangebied nie, maar sou duidelik daaronder geklassifiseer kon word. Enkele stereotiepe uitbeeldings van “gekleurdes” wat in die studie aan bod kom, is “the joker, the clown, the drunk and thief”, terwyl die wit boer geïdealiseer is as “a tough patriarch, a frontiersman, struggling against the harsh forces of nature with the support of the ‘Colored’ farm laborers, held in line through benign paternalism” (Toerien, 1985).
Nog ’n studie in Afrikaans van imagologiese belang, hoewel vanuit Dahrendorf se raamwerk van Ideologiekritik benader, is dié van Andree-Jeanne Tötemeyer (1984), getiteld The racial element in Afrikaans children’s and youth literature. In hierdie studie word nie alleen verskeie negatiewe én positiewe stereotipes oor hoofsaaklik swart mense in Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur geïdentifiseer nie, maar word ook aangetoon hoe die beeld van swart mense oor tyd verander het soos dit in die literatuur waargeneem is. Enkele negatiewe stereotipes wat sy kon identifiseer, sluit in die stories van wit “helde” wat teen swart “barbare” moes veg, terwyl die grensoorlog se verhale die terroriste meestal uitgebeeld het as swart kommuniste, met hulle samesweerders wat wit sendelinge, liberale immigrante en ander buitelanders was (Tötemeyer, 1984:50-53). Positiewe literêre uitbeeldings van swart mense, soos die verryking wat wit kinders ervaar het danksy Afrika-volksverhale wat om kampvure vertel is, en verhale met swart en wit hoofkarakters waar hulle interaksie as tussen dié van gelykes uitgebeeld word, is ook in die korpus geïdentifiseer (ibid. 130-133).
Chris van der Merwe bied ’n oorsig oor die aard en ontwikkeling van stereotipes ten opsigte van vyf etniese groepe in Afrikaanse prosa en drama (Van der Merwe, 1990), en brei hierop uit in sy boek getiteld Breaking barriers: Stereotypes and the changing of Afrikaans writing 1875-1990 (Van der Merwe, 1994). Marion Hattingh (1996) gebruik stereotipering as aanknopingspunt vir besprekings van Afrikaanse kortverhale binne ’n opvoedkundige konteks. Estelle Kruger (1996, 2002, 2003) werk ook binne die opvoedkundige konteks, en is die enigste navorser wat tot dusver die Afrikaanse letterkunde vanuit ’n spesifiek imagologiese invalshoek benader het.
Marike van der Watt
Bronnelys
Bandia, P. 2001. ‘Le concept bermanien de l’Etranger’ dans le prisme de la traduction postcoloniale. TTR: traduction, terminologie, rédaction. 14(2). 123–139. doi: https://doi.org/10.7202/000572ar.
Beller, M. & Leerssen, J. (reds.). 2007. Imagology: The cultural construction and literary representation of national characters. A critical survey. Studia imagologica: Amsterdam studies on cultural identity. Amsterdam/New York: Rodopi. doi: 10.5007/2175-8026.2010n59p269.
De Boer, S. 2001. W. Jonckheere, Van Mafeking tot Robbeneiland. Zuid-Afrika in de Nederlandse literatuur 1896-1996. BMGN – Low Countries Historical Review, 116(2). 252–253. doi: 10.18352/bmgn-lchr.5482.
Galloway, F. 2012. Die jaar 1983 – drie boeke, drie denkers in ’n drempeltyd. LitNet. [Aanlyn beskikbaar]. [22/11/2020].
Gentile, P. & Van Doorslaer, L. 2019. Translating the North–South imagological feature in a movie: “Bienvenue chez les Ch’tis” and its Italian versions. Perspectives: Studies in Translation Theory and Practice, 27(6). 797–814. doi: 10.1080/0907676X.2019.1596137.
Gerwel, G. J. 1979. Literatuur en apartheid: Konsepsies van “gekleurdes” in die Afrikaanse roman tot 1948. Ongepubliseerde PhD-proefskrif. Brussel: Vrije Universiteit Brussel.
Hattingh, M. 1996. Stereotipering as aanknopingspunt by die lees van Afrikaanse kortverhale in ’n multikulturele klas. Stilet: Tydskrif van die Afrikaanse Letterkundevereniging, 8. 155–169.
Heijmans, T. 2018. Het zwartepietendebat begon in 1968 en dit is de stand vandaag: een straatgevecht. De Volkskrant, 9 October. [Aanlyn beskikbaar]. [24/11/2020].
Hoenselaars, T. & Leerssen, J. 2009. The Rhetoric of National Character: Introduction. European Journal of English Studies, 13(3). 251–255. doi: 10.1080/13825570903223467.
Jansen, H. 2015. Bel Paese or Spaghetti noir? The image of Italy in contemporary Italian fiction translated into Danish. In van Doorslaer, L., Flynn, P., & Leerssen, J. (eds.). Interconnecting Translation Studies and Imagology. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins. 163–179.
Jonckheere, W. 1999. Van Mafeking tot Robbeneiland. Zuid-Afrika in de Nederlandse literatuur 1896-1996. Nijmegen: Vantilt.
Kruger, E. 2003. Die gebruik van Wit Oemfaan (F. A. Venter) in ’n imagologiese raamwerk vir die onderrig van Afrikaans as addisionele taal. Literator, 24(3). 57–83.
Kruger, E. 2002. Imagologie en die bestudering van literêre stereotipes in die onderrig van Afrikaans as addisionele taal. Literator, 23(3). 197–219.
Kruger, E. 1996. ’n Imagologiese analise: F.A. Venter se Wit Oemfaan in die Afrikaans tweedetaalklaskamer. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Durban: Universiteit van Natal.
Leerssen, J. 2016. Imagology: On using ethnicity to make sense of the world. Iberic@l, Revue d’études ibériques et ibéro-américaines, 10(Automne). 13–31.
Lefevere, A. 1992. Translation, rewriting, and the manipulation of literary fame. Londen/New York: Routledge.
Lippmann, W. 2004. (Oorspronklik 1922). Public opinion. Urbana, Illinois: Project Gutenberg. [Aanlyn beskikbaar].
Painter, D. 2012. Die tye en teenstrydighede van Jakes Gerwel. Versindaba. [Aanlyn beskikbaar]. [22/11/2020].
Soenen, J. 1995. Bella: bijdragen over vertalen, imagologie en literatuur. Antwerpen: Linguistica Antverpiensia.
Toerien, B. J. 1985. Literatuur en apartheid: Konsepsies van “gekleurdes” in die Afrikaanse roman tot 1948 by G. J. Gerwel. World Literature Today, 59(1). 151. [Aanlyn beskikbaar]: .
Tötemeyer, A. 1984. The racial element in Afrikaans children’s and youth literature. Ongepubliseerde PhD-proefskrif. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.
Van der Merwe, C. N. 1994. Breaking barriers. Stereotypes and the changing of values in Afrikaans writing 1875-1990. Amsterdam, Atlanta, GA: Rodopi.
Van der Merwe, C. N. 1990. Etniese stereotipes in die Afrikaanse prosa en drama. Stilet: Tydskrif van die Afrikaanse Letterkundevereniging, 2(2). 95–116.
Van Doorslaer, L. 2019. Embedding imagology in Translation Studies. Slovo.ru: baltijskij accent, 10(3). 56–68. doi: 10.5922/2225-5346-2019-3-4.
Van Gorp, H., Ghesquiere, R., Delabastita, D. en Flamend, J. (reds.). 1991. Lexicon van literaire termen. Groningen: Wolters-Noordhoff.
Verschaffel, T. 2007. Belgium. In Beller, M. & Leerssen, J. (eds.). Imagology. The cultural construction and literary representation of national characters. A critical survey. Amsterdam/New York: Rodopi. 108–113.
Zlatnar Moe, M. & Žigon, T. 2015. Comparing national images in translations of popular fiction. In van Doorslaer, L., Flynn, P., en Leerssen, J. (eds.). Interconnecting Translation Studies and Imagology. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamin. 145–161.
Verdere bronne
Imagologica. Webblad vir imagologie.