(Hersien Desember 2020)
Metafisies is ‘n etiket wat Dryden in die laat-17de eeu en Johnson in die 18de eeu geheg het aan gedigte deur Donne, Cowley en andere wat ongewone of geleerde metafoordraers (vehicles) in hulle vergelykings gebruik het.
Die bedoeling was oorspronklik nie om te suggereer dat die materiaal van die digters geskryf het, besonder filosofies was nie; dit het bloot die materiaal van sekere vergelykings benoem. Hoe ontoepaslik of misleidend dit ook mag wees, het metafisies die standaardetiket geword vir ‘n sekere groep digters wat soms ‘n besondere soort poësie geskryf het. Die “metaphysical poets” was egter nooit ‘n selfomskrewe groep of skool nie. ‘n Mens moet ook in aanmerking neem dat die werk van 17de-eeuse digters wat gewoonlik nie as metafisies beskou word nie, soms metafisiese trekke toon, en dat die metafisiese digters se werk nie altyd metafisiese eienskappe toon nie.
John Donne en die digters wat hy beïnvloed het (met name veral Abraham Cowley, Andrew Marvell, George Herbert, Henry Vaughan, en Richard Crashaw) het gedigte in ‘n neutrale register (die sg. plain style) geskryf, in teenstelling met die versuikerde styl van die Petrarkaanse tradisie (Grierson, 1921: 15; Eliot, 1921: 285; Lewis, 1938: 64-65), maar metafisiese vergelykings of beeldspraak (“conceits”) gebruik en het hulle dikwels verlustig in die vaardige opbou van argumente. Onder hulle was sowel sekulêre as religieuse digters, al het sommige van hulle net een soort poësie geskryf.
Die vergesogte metafisiese vergelykings, gewone styl en argumentatiewe aanpak van Donne en sy volgelinge is nie altyd goed ontvang nie. Johnson het afkeurend opgemerk dat “[t]he most heterogeneous ideas are yoked by violence together; nature and art are ransacked for illustrations, comparisons, and allusions” (Johnson, 1779–81: 678). Dwarsdeur die neoklassieke 18de eeu en tydens die era van die Romantiek en die nadraai daarvan het die metafisiese poësie min aanhangers gehad.
In 1921 het Herbert Grierson ‘n bloemlesing met die titel Metaphysical lyrics and poems of the seventeenth century gepubliseer. Met die vestiging van Engelse Letterkunde as ‘n akademiese dissipline het Grierson se bloemlesing ‘n herwaardering van die metafisiese poësie beteken. Vir die Moderniste was die onverwagse vergelykings en die metriese eise van metafisiese poësie aantreklik. T.S. Eliot se reaksie op sowel Grierson se bloemlesing as Johnson se afkeuring was dat “…a degree of heterogeneity of material compelled into unity by the operation of the poet’s mind is omnipresent in poetry” (Eliot, 1921:283). Sedertdien maak die Metafisiese poësie ‘n belangrike onderdeel van die Engelse poësiekanon uit. In die laaste dekades van die 20ste eeu is Donne se sentrale posisie in die tradisie egter minder beklemtoon.
Metafisiese poësie vertoon minstens twee van die volgende vier eienskappe: gewone styl, die gebruik van metafisiese beeldspraak (“conceits”), argumenterende uitbreiding en/of vermenigvuldiging van sulke beelde; aanbieding van ‘n dramatiese oomblik.
Die gewone styl, verteenwoordig byvoorbeeld deur Herbert se gedig “Virtue”, is oor die algemeen kenmerkend van metafisiese poësie. In die 17de eeu is hierdie gewone styl egter nie uitsluitlik deur metafisiese digters gebruik nie (Trimpi, 1962).
Helen Gardner betoog dat ‘n metafisiese beeld of vergelyking nie noodwendig geleerd of obskuur hoef te wees nie, maar wel ongewoon moet wees. Sy omskryf ‘n metafisiese beeld “(conceit”) as:
…a comparison whose ingenuity is more striking than its justness, or, at least, is more immediately striking. All comparisons discover likenesses in things unlike: a comparison becomes a conceit when we are made to concede likeness while being strongly conscious of unlikeness… (Gardner, 1985: 19).
In Donne se sonnet “Batter my heart” word God met die beleërder van ‘n ommuurde stad en die ontvoerder van ‘n verloofde vrou vergelyk, maar hierdie vergelykings word geregverdig in die sonnet.
Die argument van ‘n metafisiese gedig kan bestaan uit veelvuldige beelde wat uitloop op dieselfde gevolgtrekking (Gardner, 1985: 16–17). Marvell se “To his coy mistress” bou ‘n hele reeks vergelykings uit tot ‘n verleidelike argument. Ander gedigte werk weer ‘n enkele beeld verder uit, sodat die digter ons dwing om voortdurend nuwe raakpunte te ontdek. Hier is die beeld ‘n soort “… ‘hammering out’ by which a difficult join is made” (Gardner, 1985: 20), of “the elaboration … of a figure of speech to the furthest stage to which ingenuity can carry it” (Eliot, 1921: 282). Marvell se gedig “The coronet” hamer al die implikasies van die vergelyking van ‘n bundel religieuse poësie met ‘n koronet uit. In ‘n gedig kan albei tegnieke gebruik word. In ieder geval,
[i]t is the use which they make of the conceit and the rigorous nature of their conceits, springing from the use to which they are put, which is more important than their frequently learned content. A metaphysical conceit … is used … to persuade, or it is used to define, or to prove a point. … It can only do this if it is used with an appearance of logical rigour… I have said that the first impression a conceit makes is of ingenuity rather than of justice: the metaphysical conceit makes us concede justness while admiring ingenuity (Gardner, 1985: 20).
Donne se gedig “Valediction: forbidding mourning” bestaan uit ‘n reeks vergelykings waarvan sommige net genoem maar ander in heelwat besonderhede uitgewerk word.
Die argument van ‘n metafisiese gedig ontwikkel dikwels binne ‘n spesifieke ruimte en binne ‘n enkele dramatiese oomblik, net soos ‘n dramatiese monoloog. Anders as die spreker in ‘n dramatiese monoloog, is die spreker in so ‘n gedig die digter of die digter se persona en nie ‘n onderskeibare historiese of fiktiewe figuur nie. Die dramatiese moment bied ‘n rede vir die argumentering en die ontwikkeling van die beelde – om te verlei, te bid, te omskryf, of wat ook al. Die gewone styl wat alle soorte metafisiese poësie deel, versterk die gesprekskarakter van daardie gedigte wat ‘n dramatiese oomblik oproep. “Metaphysical poetry is famous for its abrupt, personal openings in which a man speaks to his mistress, or addresses his God, or sets a scene, or calls us to mark this or that” (Gardner, 1985: 22; Lewis, 1938: 68). Hiervan is Donne se gedig “The flea” ‘n goeie voorbeeld: dit skets kennelik ‘n dramatiese oomblik met ‘n skielike opening, ontwikkel onverwagte vergelykings en verlustig hom in argumente wat daardie vergelykings regverdig.
Die metafisiese digkuns word hoofsaaklik met die Engelse letterkunde geassosieer, maar Warnke (1961) demonstreer aan die hand van 85 gedigte deur 33 digters dat hierdie styl betreklik eenvormig en wyd deur 17de-eeuse kontinentale Europa versprei het. Van belang vir die Afrikaanse literêre tradisie is veral die Nederlandse digter Constantijn Huygens (1596-1687), wat ook by Warnke se versameling ingesluit word. Huygens was ‘n ware Renaissance-man wat verskeie klassieke en moderne tale beheers en oor vaardigheid in verskillende kunsvorme beskik het. As diplomaat het hy ook na Engeland gereis, waar hy met John Donne in aanraking kom. Hy vertaal ‘n aantal Donne-gedigte na Nederlands, wat volgens Schutte (1998:214) dui op ‘n gevoel van digterlike verwantskap met Donne. Schutte (1988:211) wys daarop dat Huygens, as digter van die intellek en geestige vernuf, in die 19de eeu saam met Donne in onguns verval het as gevolg van die Romantiek se vooropstelling van die gevoelsbelewing. Die herwaardering wat die metafisiese digkuns in die 20ste eeu beleef het, het nuwe belangstelling in Huygens se werk gewek. Daar is spesifiek ook ondersoek ingestel na aspekte van sy digterskap wat aansluiting by die Engelse metafisiese digkuns toon (Colie, 1959; Schutte, 1988; Van Dorsten, 1958). Van Coller (2019: 104) lig enkele metafisiese kenmerke in die werk van Huygens uit: “die vernuftige woordspelings, die intensiteit van die bedoeling, die selfondersoek”. In sy bespreking van Huygens se werk noem Cloete (1978: 169) die volgende voorbeelde van leksikale nuutskeppings en samestellings uit “Batava Tempe”: “alle schoon-in-‘t-oog”, “min-verleidt”, ” ‘t sonder-ende”, “luysterschoon”.
Die oplewing in belangstelling in die metafisiese digkuns vind ook neerslag in navorsing oor die verband tussen die metafisiese poësie en die werk van digters wat ná die 17de eeu aan die woord kom of oor die mate waartoe bepaalde latere digters as metafisiese digters beskou kan word (vgl. Burrow, 2006; Emsley, 2003). As belangrike oorweging by die vasstel van verwantskap met en invloed van die metafisiese digkuns, geld dat die definisie van metafisiese poësie onlosmaaklik verbonde is aan Donne. Burrow (2006:xxiv) definieer metafisiese poësie as daardie gedigte “which in one way or another imitate or respond to the work of Donne”.
Teen hierdie agtergrond is dit dan ook moontlik om die deurwerking van die metafisiese digkuns tot by die Afrikaanse poësie te ondersoek. In hierdie verband noem Schutte (1988: 211) spesifiek die poësie van T.T. Cloete en hy koppel die gunstige ontvangs van Cloete se werk aan die herwaardering van die metafisiese digkuns. Dis ook van belang om te noem dat Cloete as digter en akademikus hom dikwels ook in breër verband as die metafisiese op skrywers en kunstenaars uit die Renaissance rig, sowel binne as buite die Nederlandse konteks.
Deurslaggewend spesifiek vir die metafisiese modus is die intellektueel-vernuftige byeenbring van uiteenlopende dinge, en in hierdie verband ondersoek Schutte (1984) die poëtika van korrespondensies in Cloete se vroeë werk. Hy (1984: 93) wys daarop dat die poëtika van korrespondensies verder teruggaan as die Simbolisme van die 19de eeu en dat Cloete se poësie ook aansluit “by ’n ander poëtika van korrespondensies, naamlik dié van die ‘metaphysical’ poësie van die sewentiende eeu”. Sowel die Simbolisme, wat ‘n gevestigde interpretasiekader vir die Afrikaanse digkuns daarstel, as die metafisiese poësie gaan uit van die eenheid en verbondenheid van alles. Die verskille tussen simbolistiese en metafisiese opvattings oor korrespondensies blyk duidelik uit Schutte (1984) se betoog. Op die spoor van Duncan se The Revival of Metaphysical Poetry wys Schutte (1984: 94-95) daarop dat die Simbolisme se benadering tot vergelyking anti-intellektueel, intuïtief en suggererend is. Hierteenoor is die metafisiese poësie meer logies argumenterend en maak dit “vanweë die intellektuele instelling ‘n begripsmatige indruk wat van presiesheid getuig” (Schutte, 1984:95). Vir ‘n gedig om as metafisies te kwalifiseer, moet die uiteenlopende dinge wat byeengebring word, inderdaad ook behoorlik deurgevoer (uitgehamer) word. Schutte (1984:104-105) toon die werking van die jukstaposisie en korrespondensies in die werk van enkele Afrikaanse digters aan. Daaruit word duidelik dat die naasmekaarplasing by byvoorbeeld Leipoldt en Van den Heever nog bloot sporadies in die gedig aangewend word, en eers by Opperman, Van Wyk Louw en Ernst van Heerden deel van die hele gedigverloop word. By Eybers stel Schutte (1984:105) “sedert Die helder halfjaar (1956) ‘n duidelike ‘metaphysical’ aanslag” vas. Ook in Peter Blum se debuutbundel Steenbok tot poolsee (1955) is spore van die metafisiese digkuns aanwysbaar, spesifiek in die “Wat die hart van vol is”-siklus wat, volgens Kannemeyer (1983: 278-279), een van die hoogtepunte van die bundel verteenwoordig en danksy die geestigheid, die hiperboliese tegniek, die sensueel-erotiese inslag, die “kontrasterende uitwerking van die beeld” en die “verbluffende saambinding van die heterogene materiaal” (Kannemeyer, 1983: 278) by Donne aansluit.
Een van die sterk deurlopende retoriese lyne in Cloete se werk, soos ook by Huygens (vgl. Schutte, 1988: 211), is die verbluffende samehang van, aan die een kant, die verhewene en, aan die ander kant, die doodgewone en die banale. Die gedig “kat” in Karnaval en Lent, Cloete se laaste bundel, bevat as motto ‘n gedeelte van die eerste versreël van een van Donne se “holy sonnets”, naamlik “Batter my heart, three person’d God”. Die ek-spreker in Cloete se gedig vra hier om vergifnis omdat hy soos ’n kat “die onreine/ in my pynlike peins/ saam met die spartelende vis indra” (Cloete, 2014: 15). Hierdie kontras tussen die banale en die verhewene word digterlik verken aan die hand van byvoorbeeld die spysverteringsproses in ‘n gedig soos “Vraagteken van die maag” uit Cloete se tweede bundel Jukstaposisie, wat Schutte (1984: 100-101) as metafisiese gedig bespreek. Schutte (1984: 101) fokus op die manier waarop onversoenbaarhede in hierdie gedig meesterlik verenig word: “… met watter gemak en speelse vernuf word dit nie bereik nie – in strofe 2 alreeds deur die verskyning van die maag in die menslike anatomie raak te vat in terme van ’n ‘conceit’ waardéúr die vraagstelling van die gedig ingegee word”. Die gevolgtrekking waartoe Schutte (1984: 101) kom, is dat die saambestaan wat in hierdie gedig ondersoek word nie leë vernufspel is nie, “maar dui op die doel van die poëtika van korrespondensies: dit wil ’n eenheid ontdek in sake van uiteenlopende aard”.
Die retoriese uithamering van uitdagende vergelykings, insluitend dié rondom die liggaamlike en die hoogste uitdrukkings van die menslike gees, word in Karnaval en Lent voortgesit in ‘n gedig soos “Brueghel bestry Descartes en Kant” en in die komplekse reeks “die drie stadia” (vgl. Van Schalkwyk, 2015). In “oorlywing”, die tweede gedig opgedra aan “joan”, word onmiddellik ‘n gekombineerde “conceit” aan die orde gestel: “musiek skilderye/ en gedigte is oorlywing/ is soos koïtus” (Cloete, 2014: 135). In hierdie gedig en bundel word, met as sleutel die woordspeling “oorlywing” waarin ook die woord “oorlewing” meeklink, aangetoon dat die digter voortleef deur op te gaan in talryke ander (kunstenaars)lewens en lywe, en dat transendensie ook in en deur die liggaamlike geskied. Uiteindelik moet die leser toegee: kuns ís oorlywing; kuns ís soos koïtus; oorlywing ís soos koïtus.
Michèle du Plessis-hay
Phil van Schalkwyk
Bibliografie
Blum, P. 1955. Steenbok tot poolsee. Kaapstad: Tafelberg.
Burrow, C. (ed.). 2006. Metaphysical poetry. London: Penguin.
Cloete, T.T. (red.) 1978. Uit die skat van die Nederlandse liriek: Van Hooft tot Luyken. Pretoria: Van Schaik.
Cloete, T.T. 1982. Jukstaposisie. Kaapstad: Tafelberg.
Cloete, T.T. 2014. Karnaval en Lent. Kaapstad: Tafelberg.
Colie, R. 1959. Constantijn Huygens and the metaphysical mode. Germanic Review XXXIV:59-73.
Eliot, T.S. 1921. The metaphysical poets. In Eliot, T.S. 1953. Selected essays. 3rd ed. London: Faber & Faber. p. 281–91.
Emsley, S. 2003. Is Emily Dickinson a metaphysical poet? Canadian Review of American Studies 33(3):249-265.
Gardner, H. 1985. Introduction. In: Gardner, H., ed. The metaphysical poets. Harmondsworth: Penguin. p. 15-29.
Grierson, H.J.C. 1921. Introduction. In: Grierson, H.J.C., ed. Alastair Fowler, 1995. Metaphysical lyrics and poems of the seventeenth century: Donne to Butler. Rev. ed. Oxford: Oxford University Press. p. 1–36.
Johnson, S. 1779–81. Prefaces to the works of the English poets: Cowley. In Greene, D., ed. 1984. Samuel Johnson. Oxford: Oxford University Press. p. 677–78.
Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Band 2. Pretoria: Academica.
Lewis, C.S. Donne and love poetry in the seventeenth century”. 1938. Seventeenth century studies presented to Sir Herbert Grierson. Oxford: Clarendon Press. p. 64-84.
Schutte, H.J. 1984. ’n Poëtika van korrespondensie: Angelliera en Jukstaposisie. In: Viljoen, H., Gräbe, I., Jooste, E. & Steenberg. D. (reds.). In teen die groot vergeet: ‘n Bundel opstelle opgedra aan T.T. Cloete by geleentheid van sy sestigste verjaarsdag op 31 Mei 1984. Potchefstroom: PU vir CHO, p. 93-107.
Schutte, H.J. 1988. C. Huygens. In: Van der Elst, J., Ohlhoff, C.H.F. & Schutte, H.J. (reds.). Momente in die Nederlandse letterkunde. Pretoria: Academica. p. 209-216.
Trimpi, W. 1962. Ben Jonson’s poems: a study of the plain style. Stanford: Stanford University Press.
Van Dorsten, J.A. 1958. Huygens en de Engelse “metaphysical poets”. Tijdschrift voor Nederlandse Taal en Letterkunde 76:111-125.
Van Coller, H.P. 2019. Verbintenis en venster: Die Nederlandse letterkunde van aanvang tot hede. ‘n Literatuurgeskiedenis vir Afrikaans. Deel een. Pretoria: Van Schaik.
Van Schalkwyk, P. 2015. “[V]ra omgekeerd die maag in die teken van ’n vraag”: T.T. Cloete en die metafisiese poësie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 55(2):135-157.
Warnke, F.J. 1961. European metaphysical poetry. New Haven: Yale University Press.