Die verhouding tussen literatuur en film is kompleks en veelvlakkig, met woord en beeld in betekenisvolle gesprek oor die ineenvloeibaarheid van verskillende media en tekste. In die hedendaagse transmediale medialandskap dui hierdie ineenvloeibaarheid daarop dat media en tekste verskeie knooppunte met mekaar het waarin die idees van “begin” en “einde” vervleg is met mekaar en moeilik onderskei word. In hierdie verhouding tussen literatuur en film staan sekere idees en/of prosesse wel gereeld op die voorgrond. Dit sluit in: die historiese konteks van die verhouding tussen literatuur en film; mediumspesifisiteit; verwerkings van bronmateriaal na film; inbedding (“embeddedness”); intertekstualiteit; en herinterpretasie. ‘n Inleidende oorsig in hierdie verband kom tot die gevolgtrekking dat die verhouding tussen literatuur en film nie naastenby ten volle deur ‘n enkele omvattende breë, algemene konseptuele en teoretiese raamwerk of model gedien en gekontekstualiseer kan word nie. Trouens, elke teks- of gevalspesifieke ondersoek na hierdie dinamiese verhouding onthul en bied insig in ‘n spesifieke aspek van hierdie verhouding, en vorm deel van ‘n groter onderhoudende ondersoek wat as ‘n netwerk van idees funksioneer eerder as ‘n enkele verklarende raamwerk. In hierdie netwerk dien elke knooppunt – waaronder verwerking, intertekstualiteit en getrouheid – opsigself as ‘n omvattende term of raamwerk wat verdere diskoers aanmoedig.
‘n Gesaghebbende siening van die verhouding tussen literatuur en film word vervat in vier sleutelvolumes waarin die gesiene Amerikaanse teoretikus Robert Stam sentraal staan. Stam het reeds in 2000 met die lywige Film Theory: An Introduction die idee van mediumspesifisiteit ondersoek (sien onder), asook outeurskap en genre. In dieselfde jaar publiseer Blackwell Film Theory: An Anthology, geredigeer deur Robert Stam en Toby Miller. Die volume bevat essays oor teks, interteks, vroeë film op soek na ‘n eie identiteit, outeurskap en genre. In Literature through film: realism, magic, and the art of adaptation (2005) bespreek Stam die verhouding tussen literatuur en film as meer as ‘n blote studie van verwerkings. Stam bied onder meer die insig dat Flaubert se roman Madame Bovary proto-filmies is, o.a. omdat die roman self in woorde aspekte van die filmmedium antisipeer. Hier bevat die bronmateriaal reeds iets filmies wat verder ontgin word op die skerm. Stam (2004:XIIIV) beskryf self die reeks boeke se inhoud as volg: “The first volume in the series, Literature Through Film: Realism, Magic, and the Art of Adaptation, approaches the subject from the specific angle of the history of the novel. Arranged according to the chronology of the literary source texts rather than that of their filmic adaptations, Literature Through Film highlights key moments and trends in the history of the novel from Don Quixote and Robinson Crusoe to Nabokov’s Lolita and Carpentier’s Concierto barroco”. Hier dui Stam reeds die uiteenlopende fokusareas in die ondersoek na die verhouding tussen literatuur en film aan.
Stam beklemtoon dat die boeke deur die lens van verskeie rolprentverwerkings benader word; die boeke word as ’t ware deur die films ‘gespeel’ (2004:XIIIV). In sewe hoofstukke ondersoek Stam bekende verwerkings waarin die dialoog tussen bronmateriaal en verwerking unieke aspekte en kritiese raamwerke van die spesifieke verwerking toelig, waaronder postmodernisme en dekolonisasie. Stam vermy dus ‘n resepmatige benadering met voorskriftelike idees oor wat ‘n verwerking is of nie; vir Stam is die verhouding tussen literatuur en film altyd sosio-polities van aard omdat ander kunsvorms en -tale ook betrek word. Stam (2004:362-363) beklemtoon dat die verwerkingsproses en -uitkomste uniek kan wees, omdat die verwerkings van bekende romans grootse kreatiewe werke kan oplewer wat filmtaal gebruik om onder meer konvensionele realisme teen te werk. Hierdie teenwerking is weliswaar dikwels reeds aanwesig in die bronmateriaal self, waarin genre en veral magiese realisme (sien 2004: 7-14; 314-316) ‘n rol speel. Met verwysing na Bakhtin gebruik Stam (2004:364) hier die idee van embeddedness om ‘n boek (en verwerking) se inbedding in ‘n genre, tradisie, kultuur en ‘n historiese moment/oomblik te beklemtoon. Binne hierdie inbedding is die verhouding tussen bronmateriaal en filmverwerking veel dieper as bloot ‘n kwessie van bronne en invloede (2004:364). Die verwerking word ‘n ander manier om die bronmateriaal sensories te beleef en te konseptualiseer soos wat geen ander kunsvorm of medium kan nie (2004:365). Hierdie “productive tension” word steeds volgens Robinson (2012) hoofsaaklik onderwaardeer in kontemporêre hoofstroomfilm. Dié spanning manifesteer veral wanneer deel van een medium (geskrewe teks) in ‘n ander medium (film) gevoeg word.
Mediumspesifisiteit
Mediumspesifisiteit is dus ‘n sleutelbegrip wanneer die verhouding tussen literatuur en film ter sprake kom. Timothy Corrigan (2007:31) verduidelik dat hierdie spesifisiteit verwys na ‘n medium se unieke materiële en formele strukture wat hierdie medium van ander verteenwoordigende praktyke onderskei. Corrigan (2007:31) konstrasteer spesifisiteit met getrouheid (“fidelity”). Getrouheid beklemtoon akkuraatheid in die herskepping van die bronmateriaal op film, en word hoofsaaklik as getrouheid-aan-intrige en getrouheid-aan-gevoelswaarde (“tone”) beskryf. Intertekstualiteit is waarskynlik ‘n veel waardevoller maatstaf as die idee van getrouheid (McFarlane 2007:26). In haar oorsig fokus Margarete Landwehr (2002) op die idee van intertekstualiteit in literatuur, film en ander visuele kunste. Landwehr (2002:2-3) oorskou kortliks Julia Kristeva, Mikhail Bakhtin en Roland Barthes se bydrae tot intertekstualiteitsdiskoers voordat sy Gérard Genette se taksonomie van intertekstualiteit bespreek soos vervat in sy boeke The Architect: An Introduction (1992), asook Palimpsests: Literature in the Second Degree (1997) en Paratexts: Thresholds of Interpretation (1997). Vir Landwehr (2002:8) bied Genette se terminologie ‘n wyse om die verhoudings tussen literatuur en visuele kunste te beskryf en selfs te sistematiseer. In haar toepassing van Genette, vind Landwehr (2002:13) byvoorbeeld dat Orson Welles in sy “visuele herinterpretasie” van Kafka se The Trial sekere aspekte en tegnieke van Duitse Ekspressionisme gebruik om filmiese realisme te ondermyn, soortgelyk aan Kafka se ondermyning van literêre realisme. Die verhouding tussen literatuur en film word deur hierdie soort visuele (her)interpretasie getipeer. Wanneer (her)interpretasie ‘n nuwe kunsvorm voorstel, betree ons die wêreld van Peter Greenaway se The Pillow Book (1996). Hierdie film verken verskeie media en tekste in die vorm van ‘n vollengte rolprent, met erkenning aan beide verwerking en intertekstualiteit. Isaac Tylim (1998) en Paula Willoquet-Maricondi (1999) verken albei The Pillow Book se gebruik van die menslike liggaam om woord en beeld byeen te bring om ‘n liminale kunsvorm te skep. Die film bly relevant in gesprekke oor literatuur en film danksy sy visuele trefkrag (sien Robinson 2012).
Intertekstualiteit
Wanneer die spanning tussen getrouheid en spesifisiteit uitgelig word, neem ons verder kennis van die industriële en kommersiële strukture en meganismes wat tussen ‘n literêre teks en ‘n verwerking staan. Corrigan (2007:29) beskryf verwerkings as “multiple textual exchanges besides those involving film. Literary and theatrical works have regularly adapted historical chronicles; paintings have adapted theatrical or literary scenes, and music has converted literary figures into audio motifs and scores”. Die verhouding tussen film en literatuur word dikwels geken aan intertekstualiteit, verwerking en verskeie minder ooglopende konneksies, byvoorbeeld die sosio-politieke kontekste waarbinne verwerking plaasvind. Corrigan (2012:7) verduidelik dat die gesprekke oor kwaliteit en wat later die diskoers rondom film en literatuur sou vorm, momentum kry teen die einde van die agtiende eeu (met die industriële rewolusie goed onderweg) en vroeg in die negentiende eeu. Hier let Corrigan (2012:8-9) op sosiale angstigheid oor die laer klasse se kunsvoorkeure. Teen die 1900’s is Realisme asook melodrama sleutelkonsepte en -praktykte in literatuur en toneel, en vorm Realisme en melodrama deel van die diskoers rondom literatuur en film. Charles Eidsvik (1974:20) wys daarop dat die Franse filmteoretikus en sogenaamde vader van rolprentrealisme, André Bazin, lankal film as ‘n produk van die verbeelding geposisioneer het. Vir Eidsvik (1974:21) is dit sinvol dat die kritikus wat fokus op die verhouding tussen film en literatuur, ondersoek instel na die mate waarin ‘n film ‘n verdieping of verlenging is van vroeëre tradisies. Hierin word beide literatuur en ander media asook tegnologieë by hierdie tradisies betrek. Veral boeke en films skep geleentheid vir heelwat verteenwoordigende realisme (“representational realism”) (McFarlane 2007:20), gekenmerk deur die noue verband tussen – in semiotiese terme – die betekenaar en die betekende.
Literatuur (insluitende toneeltekste) word deel van die aantrekkingskrag en kulturele regverdiging van film in die vroeë 1900’s (Corrigan 2012:12-13). Dit is Erich von Stroheim se verwerking van Frank Norris se roman McTeague as Greed (1924) wat vroeg reeds wys dat film betekenisvol waarde tot die lees van ‘n teks toevoeg (Corrigan 2012:17). As deel van die verhouding tussen film en literatuur word die gebruik van teks op die skerm (oftewel intertitels) in die stilfilm-era ondersoek deur Gregory Robinson (2012). In stilfilms bestaan teks en beeld in ‘n “productive tension … where image and text ‘speak’ both to the audience and each other” (2012:33). Destyds was intertitels bekostigbaar en maklik om te vervaardig; boonop het gehore hierdie teks as deel van die film (en beeld) aanvaar (Robinson 2012:43). Kamilla Elliot (2007) meen ook dat “the intertitles of silent films complicate standard theories of film montage” in “an interdisciplinary paradox that simultenously opposes and connects novels and films” (2007:17). Hier is die “productive tension” tussen woord (teks) en beeld weer ter sprake.
Van die eerste stilrolprente was verwerkings van bekende literêre tekste, waaronder Romeo and Juliet. Dit is juis die Amerikaanse regisseur DW Griffith se verwerking van Thomas E. Dixon se boek The Clansman as The Birth of a Nation (1915) wat, as ‘n verwerking, die lineariteit van die klassieke narratiewe struktuur, asook die belangrikheid van oorsaak en gevolg daarin, vasgelê het (Corrigan 2007:34). Deborah Cartwell (2012:2) voer aan dat sulke bekende verhale nie dialoog nodig gehad het om die inhoud aan kykers bekend te maak nie, en dat hierdie verwerkings verder ‘n manier was om klassieke tekste na die sogenaamde massas te bring. Dis is hierdie ‘massas’ wat soveel sosiale angstigheid in sekere ekonomiese en kultuurkringe veroorsaak het (soos bo). Matthijs Engelberts (2013:771) verduidelik dat die eerste periode van die akademiese studie van literatuur en film in die 1960’s en 1970’s juis gevolg is deur ‘n afkeur in die onderwerp omdat talle filmnavorsers film wou losmaak van die invloed van literatuur. In Amerika was “Film and the Novel” een van die algemeenste rolprentstudievakke. Hierdie vak het veral literatuurdosente en skrywers die geleentheid gegee om hul vakgebied toeganklik te maak vir ‘n jong gehoor wat ook visueel ingestel is (Thomson 2012: 353). Volgens Brian McFarlane (2007) is George Bluestone se Novels into Film (1957) ‘n sleutelstudie van rolprentverwerking. McFarlane (2007:17) voer aan dat verwerking bloot een tipe vergestalting is van die verhouding tussen literatuur en film. Ander verhoudings sluit in rolprente wat literatuur en biografie skakel (bv. Peter Pan en Finding Neverland), asook rolprentverwerkings wat struktureel soortgelyk is aan die oorspronklike teks maar ander temas as die bron aanpak (bv. Emma en Clueless).
In haar oorsig van literati se vroeë kritiek op rolprentverwerkings verwys Cartmell (2012:4) verwys na Britse skrywer Virginia Woolf se essay “The Cinema” (1926). Woolf se prominente stem was verteenwoordigend van heelwat literatuurkritici wat die verhouding tussen film en bronteks as parasities beskoud het, waar film literatuur bedreig en met sy “minderwaardige, ontoereikende verwerkings” besmet (2012:2). Hoewel Woolf haar kommer uitspreek oor die verwrongendheid van sekere rolprentverwerkings, waardeer sy sekere rolprenttegnieke wat op beskrywende wyse selfs in haar eie skryfwerk sou verskyn. Cartmell is self ‘n prominente stem in navorsing oor rolprentverwerkings, veral saam met medeskrywer Imelda Whelehan in Screen Adaptation: Impure Cinema (2010). Maria Leavenworth (2010) verken die invloed van film op Woolf se werk verder, terwyl Mary Joe Hughes (2004) spesifiek op die film The Hours fokus as postmoderne werk waarin die literêre werk sentraal staan (sien ook McFarlane 2007: 17).
Verwerking en kritiek
A Companion to Literature and Film (2004) deur redakteurs Robert Stam en Alessandra Raengo bevat 25 essays wat die verhouding tussen literatuur en film verken en veral die verwerkingsproses op betekenisvolle wyse herposisioneer as, onder andere, kritiek en herskrywing. Soos te verwagte, is daar verskeie fokuspunte en invalshoeke, insluitende die rol van godsdiens in woord en beeld (en die verbod op die filmiese visualisering van sekere heilighede), die sosiologiese waarde van film noir-verwerkings, en verskeie studies oor die vele weergawes van H.G. Wells se War of the Worlds. ‘n Deel van die boek word gewy aan die sogenaamde kultuuroorlog (dalk eerder, ‘n “productive tension”) tussen woord en teks. In hulle vroeëre geredigeerde versameling Literature and Film: A Guide to the Theory and Practice of Film Adaptation (2004) is daar meer eksklusief gefokus op verwerking in verband met sosiologie, politiek, geskiedenis, en herinnering. Peter Gardner (1992) se Literature and film: an annotated bibliography of resources bied ‘n waardevolle en nuttige oorsig van artikels en monografieë oor literatuur en film – en selfs draaiboeke – wat in die 1970’s en 1980’s verskyn het. Talle van die publikasies wat Gardner insluit, bly relevant soos wat rolprentstudies, en spesifiek die verhouding tussen literatuur en film, gekompliseer word deur die digitale media en ontwikkelinge in IT-tegnologie (sien Stenport & Traylor 2015). Stephen Jay Schneider se artikel “Thrice-told tales: ‘The Haunting’, from novel to film…to film” (2002) bly ‘n belangrike bespreking van ‘die nuwe’ en ‘innovasie’ in verwerkings. Schneider fokus op Shirley Jackson se verhaal asook twee verwerkings daarvan om die kompleksiteite van die intertekste uit te lê. Andrew Shail se The Cinema and the Origins of Literary Modernism (2012) en Christophe Wall-Romana se Cinepoetry: Imaginary Cinemas in French Poetry (2013) is meer onlangse monografieë wat die belangrikheid van film vir die ontwikkeling van modernistiese literatuur ondersoek (Engelberts 2013: 778). Die geredigeerde volume Film and Literature: an introduction and reader (2012) neem die verwerkingsgesprek verder na onder meer transmediale ruimtes wat verby die tradisionele rolprentverwerking beweeg. In hierdie volume staan Simone Murray (2012:365-384) se bydrae uit. Murray (2012) voer aan dat akademici te veel fokus op teksanalise en -kritiek in verwerkingstudies, terwyl meer aandag gegee moet word aan die politieke ekonomie van ‘n sogenaamde verwerkingsindustrie gesetel in sosio-kulturele kontekste. Murray (2012) voer hier Stam (2004) se idee van inbedding eksplisiet verder.
In Suid-Afrikaanse en spesifiek Afrikaanse film is daar talle hoogs aangeskrewe rolprente wat slim en kreatief met hulle literatuurbasis omgaan. Die rolprent Triomf (Michael Raeburn, 2008), gebaseer op die gelyknamige 1994-roman van Marlene van Niekerk, oes verskeie pryse in. In sy artikel vir Litnet kom Adean van Dyk (2019:158) tot die gevolgtrekking “dat die Triomf-filmverwerking ’n interpretasie lewer wat meer sinies en somber in toon is, met ’n suggestie dat hoop vir ’n vreedsame toekoms na die 1994-verkiesing nie moontlik is nie. As sodanig bied die Triomf-filmverwerking ’n alternatiewe vertelling van die romanverhaal en dien dit as ’n oorspronklike verhaal”. In hulle verkenning van die Anglo-Boereoorlog in ‘n spesiale uitgawe van die tydskrif Stilet poog Rochelle Marais-Botha en Thys Human (2021:7) om in Afrikaanse romans “ooreenkomste of verskille [uit te lig] in die wyse waarop die onderskeie tekste met die Anglo-Boereoorlog as agtergrond omgaan”. Die verhouding tussen literatuur en film is in dié artikel nie tot verwerking beperk nie, maar ondersoek ‘n sentrale historiese gebeurtenis soos dit in woord en beeld, gegewe die mediumspesifisiteit, voorgestel word.
Talle Afrikaanse rolprente is verwerkings van Engelse en Afrikaanse romans. Meg Rickards se Tess (2016) verwerk Tracey Farren se boek Whiplash. Ook jeugliteratuur kry aftrek in onder meer Die Pro (2015) en Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (2010). Die prolifieke Leon van Nierop se Ballade vir ‘n enkeling en Wolwedans in die skemer word tot films verwerk. Albei is vroeër as televisiereekse geskiet. Van Nierop (2016:419-439) bespreek sy ervaring van die bladsy-tot-beeldproses in Daar doer in die fliek. Die films van Christiaan Olwagen gebruik prosa en toneel as basis: Die seemeeu transponeer die Chekoviaanse gegewe na Suid-Afrika in ‘n onbepaalde tyd in die negentigerjare. Olwagen se bekroonde Johnny is nie dood nie is gebaseer op ‘n toneelteks deur Malan Steyn uit 2011. Dalene Mathee geniet baie blootstelling. Fiela se kind (2019) en Toorbos (2019) word in dieselfde jaar uitgereik tot groot kritiese lof. Fiela se kind herroep beide Mathee se roman asook die 1988-verwerking deur Katinka Heyns. Oliver Hermanus se bekroonde queer film Moffie (2020) is gebaseer op ‘n outobiografiese roman deur André Carl van der Merwe, en roep intertekstueel verskeie ander oorlogsrolprente (insluitende die Suid-Afrikaanse anti-oorlogsrolprent The Stick (1988), asook oorlogsromans op.
Chris Broodryk
Bibliografie
Cartmell, B. 2012. 100+ Years of Adaptations, or, Adaptations as the Art Form of Democracy. In: Cartmell, D. red. A Companion to Literature, Film, and Adaptation. Eerste uitgawe. London: Blackwell, pp. 1–13.
Cartmell, B. red. 2012. A Companion to Literature, Film, and Adaptation. First Edition. London: Blackwell.
Corrigan, T. 2007. Literature on Screen, A History: In the Gap. In: Cartmell, D. & Whelehan, I. reds. The Cambridge Companion to Literature on Screen. New York: Cambridge University Press, pp. 29-44 [10.1017/CCOL0521849624.003]
Corrigan, T. 2012. The prehistory of film and literature. In: Corrigan, T. red. Film and Literature. An Introduction and Reader. London: Routledge, pp. 7-11.
Corrigan, T. 2012. Filming literature. From early film and literature to classical form, 1895-1925. In Corrigan, T. red. Film and Literature. An Introduction and Reader. London: Routledge, pp. 12-16.
Corrigan, T. 2012. Testing and expanding the value of film and literature, 1915-1940. In Corrigan, T. red. Film and Literature. An Introduction and Reader. London: Routledge, pp. 17-24.
Corrigan, T. red. 2012. Film and Literature. An Introduction and Reader. Tweede uitgawe. London: Routledge.
Eidsvik, C. 1974. Soft edges: the art of literature, the medium of film. Literature/Film Quarterly, 2(1):16–21.
Elliott, K. 2007. Novels, films, and the word/image wars. In: Stam, R. & Raengo, A. reds. A Companion to Literature and Film. London: Blackwell, pp. 1-22.
Gardner, PS. 1992. Literature and film: an annotated bibliography of resources. Literature/Film Quarterly, 20(2):156–165.
Hughes, MJ. 2004. Michael Cunningham’s The Hours and Postmodern Artistic Re-Presentation. Critique: Studies in Contemporary Fiction, 45(4):349-361, DOI: 10.3200/ CRIT.45.4.349-361.
Landwehr, M. 2002. Introduction: literature and the visual arts: questions of influence and intertextuality. College Literature, 29(3):1–16.
Leavenworth, ML. 2010. ‘‘A Life as Potent and Dangerous as Literature Itself”: Intermediated Moves from Mrs. Dalloway to The Hours. The Journal of Popular Culture, 43(3): 503–523.
Marais-Botha, R. & Human, T. 2021. Die Anglo-Boereoorlog in Afrikaanse romans en rolprente ná 2002. Stilet, 33(1):5-30.
McFarlane, B. 2007. Reading film and literature, In: Cartmel, D. & Whelehan, I. reds. The Cambridge Companion to Literature on Screen. New York: Cambridge University Press, pp 15-27. [10.1017/CCOL0521849624.003]
Murray, S. 2012. Materializing adaptation theory. In: Corrigan, T. red. Film and Literature. An Introduction and Reader. London: Routledge, pp. 367-384.
Robinson, G. 2012. Writing on the silent screen. In: Cartmell, D. red. A Companion to Literature, Film, and Adaptation. Eerste uitgawe. London: Blackwell, 33–51.
Schneider, SJ. 2002. Thrice-told tales: ‘The Haunting’ from novel to film… to film. Journal of Popular Film & Television, 30(3):166–176.
Stam, R. 2000. Film Theory: An Introduction. Malden: Blackwell.
Stam, R. & Miller, T. reds. 2000. Film Theory: An Anthology. Malden: Blackwell.
Stam, R. & Raengo, A. reds. 2004. Literature and Film: A Guide to the Theory and Practice of Film Adaptation. Oxford: John Wiley & Sons.
Stam, R. 2005. Literature through film: realism, magic, and the art of adaptation. Malden: Blackwell.
Stam, R & Raengo, A. reds. 2007. A Companion to Literature and Film. Chichester: John Wiley & Sons.
Stenport, A.W. & Traylor, G. 2015. The eradication of memory: film adaptations and algorithms of the digital. Cinema Journal, 55(1):74-94.
Thomson, D. 2012. The Big Screen: the story of the movies. New York: Farrar, Stauss & Giroux.
Tylim, I. 1998. Body as Text, Text as Body: The Pillow Book. Psychoanalytic Review, 85(3): 449–453.
Van Dyk, A. 2019. Filmverwerking as interpretasie: Die verwerkingsproses van roman na film met verwysing na Marlene van Niekerk se Triomf en Michael Raeburn se Triomf. LitNet Akademies, 16(3), 158-185.
Van Nierop, L. 2016. Daar doer in die fliek. Pretoria: Protea.
Willoquet-Maricondi, P. 1999. Fleshing the Text: Greenaway’s Pillow Book and the Erasure of the Body. Postmodern Culture, 9(2):[sp].