(Gepubliseer Februarie 2023)
In 2004 skryf die filosoof, antropoloog en sosioloog Bruno Latour ‘n essay met die titel “Why has critique run out of steam?” (2004). “Kritiek” (en daarmee saam “Teorie”, met hoofletters) verwys binne die konteks van Latour se essay na akademiese praktyke waartydens lesers en navorsers geneig is om ‘n agterdogtige afstand te handhaaf van die objek wat bestudeer word in ‘n poging om gesofistikeerde, skerpsinnige, en ingewikkelde navorsing voort te bring. Latour voer aan dat die ingesteldhede en metodes van Kritiek en Teorie wat op akademiese wyse deur die geesteswetenskappe gekultiveer is, tot so ‘n mate deur die kontemporêre kulturele konteks opgeneem en gepopulariseer is, dat dit banaal geraak het (vgl. Flaherty, 2019:136). Populêre skeptisisme oor dinge soos aardverwarming, inentings en verkose regerings se vermoë om te regeer is aan die orde van die dag. Daarmee saam word samesweringsteorieë wat skeptisisme aanwakker, vryelik versprei. In die huidige denkklimaat kan agterdogtige ingesteldhede ewe maklik vir edele en kwade doeleindes ingespan word, argumenteer Latour. Skeptisisme en kritiese denke is daarom nie meer so besonders as wat voorheen geglo is nie. Dit is in hierdie groter sosiale konteks dat die groeiende oproep om die dominante posisie van agterdogtige lees- en navorsingsbenaderings in die geesteswetenskappe in heroorweging te neem, verstaan moet word.
Volgens Elizabeth Anker (2017:17) kan hierdie oproep breedweg verstaan word onder die noemer “postkritiek”, soos gekonseptualiseer deur Rita Felski in haar boek The Limits of Critique (2015). Die ontwikkeling van postkritiese leesbenaderings wat poog om te strek verby die veronderstelde beperkinge wat kritiek stel, staan binne die konteks van wat deur sommige literatuurteoretici die postteorie-era genoem word (Selden et al., 2005:267). Selden et al. (2005:267) verwys na ‘n aantal boeke wat rondom die draai van die millennium die sogenaamde “Einde van Teorie” aangekondig het: Valentine Cunningham se Reading After Theory (2002), Jean-Michel Rabaté se The Future of Theory (2002) en Terry Eagleton se After Theory (2003), asook die versamelings, Post-Theory: New Directions in Criticism (McQuillan et al.,1999), What’s Left of Theory? (Butler et al., 2000) en Life. After. Theory (Payne & Shad, 2003).
Postkritiek kan verder verstaan word teen die agtergrond van die veronderstelde ‘krisis’ in die geesteswetenskappe (vgl. Jay, 2014; Anker & Felski, 2017:20). Dit is vandag ‘n gemeenplaas dat die nut van die kunste bevraagteken word, beide van buite en binne. Die studie van die kunste word met selfs meer agterdog bejeën. Hoekom sal ‘n mens byvoorbeeld die letterkunde wil bestudeer? Die antwoord hierop het gewoonlik te make met die aanleer van kritiese denke; dat studente en navorsers wat die letterkunde bestudeer, kritiese denke (en daarmee saam waarskynlik ‘n agterdogtige afstand) kultiveer (vgl. Felski, 2015:4). Maar is dit al waarvoor die letterkunde goed is? En wat is die rol wat literêre teorie in hierdie konteks te speel het? Sulke vrae is natuurlik glad nie nuut nie. In haar seminale essay “Against Interpretation” skryf Susan Sontag reeds in 1966 dat dit teorie, of die wetenskaplike bestudering van kuns, was wat dit in die eerste plek nodig gemaak het dat kuns sigself moet verdedig. Die eerste vorm van literêre kritiek het naamlik ontstaan toe Plato aangevoer het dat die waarde van kuns twyfelagtig is, omdat kuns bloot mimesis en die namaak van die realiteit behels. Volgens Sontag is literatuurwetenskaplikes van toe af al besig om die waarde van kuns te probeer verdedig. Vervolgens het inhoud en vorm van mekaar geskei geraak en ‘n al hoe groter fokus is geplaas op inhoud. Die sensuele ervaring van kuns het na Sontag se mening verlore geraak en kritici het kuns al hoe meer kognitief benader. Sontag (2013:3) het dit veral teen wat sy noem “the modern style of interpretation”: “ (it) excavates, and as it excavates, destroys; it digs ‘behind’ the text to find a sub-text which is the true one”.
Paul Ricoeur het rondom dieselfde tyd soortgelyke bekommernisse as Sontag gekoester. Volgens hom is die “meesters van agterdog”, Karl Marx, Sigmund Freud en Fredrich Nietzsche (Ricoeur, 1970:34), verantwoordelik vir die ontstaan van wat hy “’n hermeneutiek van agterdog” noem. Na aanleiding van die voorbeeld wat hierdie drie gestel het, is die taak van die kontemporêre sosiale kritikus (wat letterkundiges insluit) om verborge waarhede op te diep, en onvleiende en onderdrukte betekenisse bloot te lê waarvan die meeste mense nie bewus is nie (Felski, 2015:1). Hierdie denkers se idees het die algemene denkstrukture van akademici deursuur en het gelei tot skeptiese of agterdogtige benaderinge tot die bestudering van die geesteswetenskappe, en daarmee saam sosiale produkte soos letterkunde. Sulke skeptiese benaderings word beskou as onafhanklike en gesofistikeerde denke en word hoog aangeslaan. Alternatiewe word as naïef en liggelowig beskou. Die taak van die (agterdogtige) kritikus is volgens die skeptiese skool om soos ‘n speurder die teks te deursoek om bloot te lê hoe die spesifieke literêre werk aandadig is aan die instandhouding van verdoeselde sosiale houdings en opvattings. Sulke ondersoeke kan insiggewend wees omdat dit lesers of kritici bewus maak van sekere aspekte van die samelewing waaroor hulle self dalk nog nooit gedink het nie. Maar dit kan ook hoogs voorspelbaar raak indien dieselfde ongeregtighede oor en oor in ‘n teks uitgewys word; as dieselfde “mode of militant reading […] a hermeneutics of suspicion” (Felski, 2015:1) aanhou om sonder meer voorkeur te geniet. Volgens Brian McHale (2006:12) is sulke lees- en interpretasiestrategieë vir die afgelope dekades toegelaat om te floreer: “ramifying into ever more resourceful, ingenious, and arrogant varieties” met die gevolg dat die daad van lees volgens McHale in “wurggreep” gelaat is.
Alle letterkundiges onderskryf natuurlik nie noodwendig hierdie leesstrategie nie, maar Ricoeur se frase (‘n hermeneutiek van agterdog) slaag wel daarin om “a widespread sensibility and an immediately recognisable shape of thought” (Felski, 2015:1-2) vas te vang. Volgens Felski is agterdogtige lees wel dominant, en die rede daarvoor is dat dit maklik is om die waarde van letterkunde te verdedig deur aan te voer dat dit noodsaaklike kritiese denke ontwikkel (Felski, 2015:4). Só ‘n lesing van ‘n teks sluit egter verskeie ander leesmoontlikhede uit, en waarborg nie noodwendig robuuste en radikale denke, soos die veronderstelling is nie, redeneer Felski. Kritici, dosente en studente benader nie ‘n teks met ‘n oop ingesteldheid en laat nie die teks toe om self te ‘praat’ nie, en so word verwondering en betowering vervang met agterdog, voorskriftelikheid en sinisme. Dieselfde verskynsel bestaan onder verskillende name, onder andere “symptomatic reading” (Stephen Best en Sharon Marcus, 2009:1), “paranoid reading” (Eve Sedgewick, 1997:1), “instrumentalistic reading” (Attridge, 2004:7), “hermetic reading” (Harris, 1996:10), wat alles funksioneer binne wat Anker (2017:18) “the cult of complexity” noem wat deel vorm van die veronderstelde “pervasive pessimism of academic thought” (Anker & Felski, 2017:11).
In hulle boek, Critique and Postcritique (2017) verduidelik Anker en Felski (2017:3-9) dat daar hoofsaaklik drie spesifieke wydverspreide kenmerke van kritiek is waarteen tans kapsie gemaak word. Die eerste is die diagnostiese ingesteldheid van kritiek waartydens ‘n teks (die pasiënt) deur ‘n kenner soos ‘n letterkundige (die dokter) vanuit ‘n posisie van professionele afstand ondersoek word om vas te stel wat moontlik daarmee verkeerd kan wees. Die veronderstelling is dat daar noodwendig iets met ‘n teks “verkeerd” is, en dat dit uitgewys en aan die kaak gestel behoort te word. Sulke simptomatiese leesstrategieë is tot ‘n groot mate bevorder deur psigoanalise, die Nuwe Historisme en Marxisme (Anker & Felski, 2017:4-5). Die tweede eienskap is allegoriese en homologiese modusse van lees waartydens ‘n leser daarop aandring om ‘n teks wat nie noodwendig allegories bedoel is nie, wel só te lees. Homologiese lees behels dat ‘n literêre teks beskou word as ‘n eggo van die strukture van groter sosiopolitiese realiteite (kyk Literatuursosiologie). Alle tekste word derhalwe onderwerp aan die idee dat dit waarskynlik verborge, en onaangename, sosiale ongeregtighede soos seksisme, imperialisme en heteronormatiwiteit ondersteun en bevorder, en dat dit gedekonstrueer behoort te word. Best en Marcus (2009:2) voer aan dat letterkundiges hul werk op hierdie manier gelykstel aan politieke aktivisme, wat hulle help om die waarde van dit waarmee hulle daagliks besig is, te verdedig. Dekonstruksie en die talige wending het in hierdie opsig ‘n groot rol gespeel. Die laaste kenmerk van kritiek waarna Anker en Felski verwys, is dat dit geneig is tot oormatige selfrefleksiwiteit. Enige (agterdogtige) lees van ‘n teks is altyd weer onderworpe aan verdere diepgaande agterdogtige ondersoek. So ‘n ingesteldheid lei tot wat Anker en Felski (2017:8) “a rhetoric of defamiliarization” noem: “(a) distrust of anything that does not persistently call its own assumptions into question”. Die gevolg is ‘n bespreking van ‘n teks wat uit die staanspoor reeds sigself bevraagteken en oortuigende, bevestigende (“affirmative”, in Ricoeur se woorde) gevolgtrekkings ondermyn. So ‘n selfrefleksiwiteit raak voorspelbaar en siklies, en kan selfs van “navel gazing” beskuldig word.
Alhoewel die strategieë wat hierbo uiteengesit is vir ‘n aantal dekades dominant was in die studie van letterkunde, ontstaan daar vanaf die laat negentigerjare ‘n vermoeienis met wat Anker en Felski (2017:18) oorkoepelend beskryf as “various forms of negativity, oppositionality, and skepticism […] at the expense of more affirmative or constructive approaches”. Anker en Felski verwys na hierdie vermoeienis as “die postkritiese wending” (Anker & Felski, 2017:2).
Postkritiek word soms daarvan beskuldig dat dit ‘n dramatiese en absolute einde vir (literêre) teorie veronderstel en aankondig. Die wending moet egter eerder gesien word as ‘n herbesinning en reoriëntasie rondom die plek van literêre kritiek en teorie in die studie van letterkunde. Waaroor daar min of meer eenstemmigheid is, is dat die era van Teorie (met ‘n hoofletter) verby is, soos verstaan aan die hand van teorieë soos strukturalisme, poststrukturalisme en postmodernisme wat in die 1970’s en 80’s deur denkers soos Barthes, Althusser, Foucault, Lacan, Derrida, Baudrillard, Lyotard, Kristeva, Cixous, Spivak, Bhabha en Jameson voorgehou is (Selden et al., 2005:268). Die idees en denke wat deur hierdie bekende name uitgebou is, is vir dekades lank beskou as die groot en belangrike bewegings waarby die grootste hoeveelheid navorsers op een of ander manier aangesluit het, of moes aansluit. Dit het die rigting en pas van navorsing oor letterkunde en filosofie bepaal.
Vandag kan eerder gepraat word van teorie (met ‘n kleinletter) of teorieë: “understood less as a body of texts or positions than an activity: one which brings a critical scepticism to taken-for-granted assumptions about institutions, social, sexual, economic relations, and conceptions of subjective, cultural and transcultural identities” (Selden et al., 2005:268). Anker en Felski (2017:1) verduidelik dat die “post-“ van postkritiek (en postteorie) ‘n komplekse temporaliteit veronderstel: dit is ‘n poging om vars interpretasiemoontlikhede vir die studie van literêre en kulturele tekste te ondersoek, sonder om geheel en al afstand te doen van die praktyke wat dit steeds onherroeplik onderlê. Die idees wat deur die groot denkers hierbo voorgehou is, word dus nie uit die oog verloor nie, maar geherkalibreer vir die kontemporêre oomblik.
Alhoewel nie almal van hulle sal wil aanvaar dat hulle navorsing as postkrities bestempel word nie, is daar ‘n al hoe groter wordende groep navorsers wie se argumente in ‘n groot mate met dié van Felski ooreenstem. Anker (2017:17) voer aan dat die meeste stemme opgaan teen wat beskou word as die grooste probleem van agterdogtige lees: dat die oordrewe fokus op teorie daartoe lei dat letterkunde – ironies genoeg – die literêre in literatuurstudie uit die oog verloor het. As ons aanvaar dat ‘n negatiewe en opposisionele ingesteldheid nie meer voldoende is om die estetiese en sosiale belang van letterkunde en ons praktyk as kritici te regverdig nie, watter alternatiewe bestaan daar dan? Vervolgens word ‘n aantal variasies op die idee van postkritiek uitgepak waarmee navorsers poog om opnuut die kollig te plaas op waarom literêre tekste die moeite werd is om wetenskaplik te bestudeer.
In ‘n essay, “Surface Reading” (2009) wat ná publikasie heelwat debat uitgelok het, argumenteer Stephen Best en Sharon Marcus dat ‘n teks iets is met beide oppervlakke en dieptes, en dat die dieptes nie ten koste van die oppervlakke bestudeer moet word nie. In ‘n poging om weg te kom van die simptomatiese leespraktyke waarna reeds verwys is, stel hulle voor dat letterkundiges opnuut aandag moet gee aan die oppervlakke van tekste. Best en Marcus staan die idee teen dat lesings wat in die dieptes (onder die oppervlakke) van tekste delf vir verborge of onderdrukte waarhede, noodwendig die meeste en belangrikste insigte sal oplewer. “Surface” verwys nie bloot na die letterlike oppervlakke (papier, bindwerk, tipografie, ens.) van tekste nie, en ook nie na iets wat soos ‘n sluier oor die dieptes getrek is om iets te versteek nie. “A surface is what insists on being looked at rather than what we must train ourselves to see through”, skryf Best en Marcus (2009:9) (hulle kursivering). Hulle verwys na ‘n aantal verskillende tipes lees wat beskou kan word as “surface reading”. Die eerste val binne die kader van die “Nuwe Materialisme”: die idee om lees te verstaan aan die hand van die materialiteit van boeke as objekte met ‘n geskiedenis wat met die materialiteit van die brein se werking begryp word (Best & Marcus, 2009:9). Edisiestudies en kognitiewe narratologie is voorbeelde van so ‘n lees van die oppervlakke van tekste. Die tweede is die “Nuwe Formalisme” wat lees binne die konteks van die struktuur van literêre taal beskou en die fokus plaas op linguistiese digtheid en verbale kompleksiteit. Sulke leesstrategieë verstadig die proses van lees en beweeg langsaam vanaf teks na konteks, en is veel verskuldig aan die New Critics (Best & Marcus, 2009:10). Die derde tipe lees, die affektiewe en etiese omarming van die oppervlak van ‘n teks, sluit aan by Susan Sontag se argumente in “Against Interpretation” waarvan vroeër melding gemaak is. Best en Marcus (2009:10) beskryf dit soos volg: “Sontag’s manifesto (…) refused the notion that meaning and content define the work of art and proposed that we set aside the theory of mimesis in favor of the experience of art in its ‘pure, untranslatable, sensuous immediacy,’ a stance that she also called an ‘erotics of art’”. Best en Marcus argumenteer dat Eve Kosofsky Sedgwick se pleidooi vir “reparative reading” en Timothy Bewes se “reading with the grain” hierby aansluit, aangesien albei fokus op die idee dat die leser die teks met ‘n oop ingesteldheid moet ontmoet en toelaat dat dit ‘n affektiewe invloed op hulle uitoefen.
Best en Marcus voeg nog ‘n vierde, vyfde en sesde tipe lees by. Die vierde is om aandag te gee aan die oppervlak as praktyk van kritiese beskrywing (Best & Marcus, 2009:11). Die argument is dat daar geen verskil is tussen die diepte wat kritiese lees veronderstel is om tot letterkunde by te voeg, en dit wat reeds inherent deel is van tekste nie. “Kritiese metataal” oor tekste is na hulle mening onnodig en oorbodig, aangesien ‘n teks se waarde en eienskappe (vorm, struktuur en betekenis) ‘n effek is van die teks se immanensie. Daar hoef nie daarna gesoek te word nie; dit is reeds daar. Die vyfde tipe lees plaas die fokus op die patrone wat in en oor tekste bestaan (Best & Marcus, 2009:11). Waar simptomatiese lees sulke patrone (soos ideologiese en sosiale strukture) in tekste opsoek en radikaal daarvan probeer wegbreek, bestudeer ‘n oppervlaklees sulke patrone bloot as ‘n realiteit wat gekarteer en beskryf kan word. Die idee is dat die kollig geplaas word op dit wat wel daar is, eerder as op dit wat afwesig is. Die laaste tipe lees waarna Best en Marcus verwys, is om op die oppervlak te lees vir die letterlike betekenis van ‘n teks. Sharon Marcus se voorstel van “just reading” (Best & Marcus, 2009:12) is hier rigtinggewend. Regverdige lees is ten gunste van ‘n lees wat dit wat in die teks staan op sigwaarde neem, sonder om te veronderstel dat dit noodwendig iets anders insinueer, of behoort voor te hou. Die voorbeeld van vriendskap tussen vroue in Victoriaanse romans word genoem. ‘n Lees vir die letterlike betekenis sal die uitbeelding van vriendskap lees as bloot dít: vriendskap. ‘n Agterdogtige lees sal die vriendskapsverhouding moontlik interpreteer as onderdrukte homoseksuele begeerte. Nog ‘n voorbeeld is om slegs die opstandigheid in slawenarratiewe te beklemtoon, en die kompleksiteit van ‘n spektrum van opstand en lojaliteit teenoor die onderdrukkers in die karakterisering mis te kyk. In die proses word die kompleksiteit en nuanse van die menslike kondisie moontlik misgelees en tekste word deur ‘n verskralende lens gekategoriseer en gediagnoseer.
Best en Marcus se idees rondom oppervlaklees is egter gekritiseer as konserwatief en dat lesers wat só lees, hulle doelbewus blind hou vir ongeregtighede wat in letterkunde uitgebeeld word (vgl. Moi, 2017:33). Die argument is dat dieptelees ‘n onontbeerlike bydrae het om te lewer tot die lees van literêre tekste. In haar bydrae tot Anker en Felski se boek, Critique and Postcritique (2017), argumenteer Toril Moi dat navorsers ‘n fout maak deur uitsluitlik oppervlaklees óf dieptelees aan te hang. Volgens haar is niks versteek nie, niks hoef opgediep te word nie en die onderskeid tussen oppervlak en diepte is ‘n illusie. “[T]he fetishization of the hidden and the deep does no work for literary critics”, voer sy aan wanneer sy uitwys dat dit ‘n fout is om teorieë soos dekonstruksie en feministiese teorie as metodes te sien wat op ‘n teks toegepas moet word (Moi, 2017:35). “What we – literary critics – call different ‘methods of reading’ are really different thematic and political interests, and different views of what is important in literature (and in life)” skryf sy (Moi, 2017:35). Sy stel gewonetaalfilosofie as alternatief voor: ‘n beskouing van taal as inherent helder en duidelik beskrywend. In plaas daarvan om taal te beskou as altyd besig om iets te versteek, en om op die “characteristic oppositions – latent/manifest, hidden/shown, depth/surface” van ‘n hermeneutiek van agterdog te fokus, kan die leser boot gewillig wees om te kyk, te sien en te lees, en om maksimale aandag te gee aan die woorde op die bladsy (Moi, 2017:35). Op hierdie manier raak die onderskeid tussen oppervlak en diepte ontersaaklik; dit wat op die oppervlak is, raak onvermydelik vervleg met die dieper gedagtes wat dit noodwendig oproep.
Caroline Levine se voorstel om te fokus op die gebruiklikhede (“affordances”) wat inherent deel is van letterkunde, sluit in ‘n mate hierby aan. Volgens Levine (sien Anker, 2017:19) is letterkunde inherent onvaspenbaar, onstabiel en saamgestel uit interne spanninge. ‘n Noukeurige leser is bewus hiervan en benader ‘n teks dus as iets wat met die nodige ontsag ervaar moet word vir die rykheid, omvattendheid en digtheid daarvan. Jonathan Culler se pleidooi in Theory of the Lyric (2015) bevestig so ‘n “experiential engagement with literature”. Die beweging om die klem tydens die lees en bestudering van tekste op die ervaring daarvan te plaas, moet verstaan word binne die konteks van die affektiewe wending (Anker & Felski, 2017:10). Die affektiewe wending in letterkunde poog om verby ‘n blote psigoanalitiese lees van ‘n teks te kom waartydens tradisionele nosies rondom gedeelde, universele emosies in tekste bestudeer word. Aan die hand van die werk van die psigoloog, Silvan Tomkins, stel affekteoretici Eve Sedgwick en Adam Frank voor dat ‘n wye spektrum van affekte soos skaamte, belangstelling, verrassing, vreugde, woede, vrees, nood, walging en minagting met geduldige aandag vir die eiesoortigheid daarvan en kwalitatiewe verskille daartussen bestudeer moet word (Anker & Felski, 2017:11). Die interaksies tussen sulke affekte vertoon ook interessante en noemenswaardige kompleksiteite. Feministiese en queer navorsers se ondersoeke na liggaamlikheid, die affektiewe dimensies van lees, en die rassige en gegenderde aspekte van mense se emosies, is voorbeelde hiervan. So ‘n fokus op affek wat die studie van letterkunde betref, maak verder duidelik dat interpretasie en argumentvoering oor tekste nie net ‘n kwessie is van beter of slegter insigte en lesings nie, maar dat etos, ingesteldheid en ervaring net so belangrik en navorsingswaardig is.
Dit bring ons terug na die persoon wat die term “postkritiek” eerste gebruik het, Rita Felski. In ‘n poging om die fokus te plaas op die verbintenis tussen kunswerke en die sosiale wêreld, stel sy voor dat lesers en kritici hul leesposisie aanpas: in plaas daarvan om agter ‘n teks te soek na versteekte oorsake en motiewe, moet die leser hom- of haarself vóór die teks posisioneer en reflekteer oor wat die teks self voorstel en suggereer. Postkritiese lees is nie idealisme, estetisisme of magiese denke nie, skryf Felski (2015:12): “(it is) a recognition – long overdue – of the text’s status as coactor: as something that makes a difference, that helps makes things happen”. Wanneer sy praat van ‘n “coactor”, raak die invloed van akteurnetwerkteorie op haar argumente duidelik. In 2008, voordat The Limits of Critique in 2015 gepubliseer is, verskyn Felski se boek, Uses of Literature. In hierdie boek ontwikkel Felski die argument dat verbintenis (“connectedness”) (2008:5) en betrokkenheid (“engagement”) (2008:132) van die belangrikste eienskappe van letterkunde is. Daarmee saam is dit belangrik vir lesers en kritici om te besef en te erken hoe hulle eie veelvuldige verbintenisse in die werklikheid hul lees van ‘n teks beïnvloed. Uit die afdelings van die boek, naamlik herkenning, betowering, kennis en skok, blyk dit duidelik dat haar denke rondom die doel en aard van tekste op daardie stadium nog sterk gesteun het op resepsieteoretiese uitgangspunte. Sonder om verder hierop in te gaan, kan ‘n mens agterkom dat sy hiermee ‘n positiewe estetika (Felski, 2008:22) bevorder, ‘n idee wat sterk herinner aan Ricoeur se hermeneutiek van bevestiging (Ricoeur, 1970:24). Felski (2008:22) verduidelik dat Ricoeur se raad aan lesers was om ‘n gewilligheid om te verdink te kombineer met ‘n gretigheid om te luister, en dat daar geen rede is waarom die lees van ‘n boek nie analise en interpretasie kan kombineer met verbintenis en toegeneentheid nie. Om verbintenis met ‘n teks te ervaar is immers “messy, blurred, compounded, and contradictory” (Felski, 2008:132).
In The Limits of Critique verfyn Felski haar argument deur akteurnetwerkteorie te betrek om die netwerke van verbintenis waarbinne boeke, lesers en kritici funksioneer, te probeer karteer en verduidelik, ‘n proses wat in haar nuutste boek, Hooked (2020) steeds aan die gang is. As ‘n mens die werklikheid verstaan as netwerkagtig, bestaande uit akteurs wat deurlopend en onvermydelik besig is om mekaar te beïnvloed, raak dit moontlik om ‘n stuk letterkunde te beskou as ‘n medeakteur wat handelingsbevoegdheid (“agency”) het, wat die vermoë het om dinge te laat gebeur en te laat verander. Bruno Latour, die belangrikste denker wat akteurnetwerkteorie (ANT) betref, se idees is sterk beïnvloed deur Graham Harman se objekgeoriënteede ontologie (vgl. Flaherty, 2019:137), wat ook aansluiting vind by die Nuwe Materialisme. ANT, Harman se objekgeoriënteerde ontologie, sowel as die Nuwe Materialisme streef daarna om bevestigende verbintenisse tussen objekte te bevorder deur erkenning te gee aan alle objekte as akteurs se vermoë om invloed op mekaar uit te oefen. Kunswerke, soos literêre tekste, het handelingsbevoegdheid, en daarom is lees ‘n proses waartydens betekenis aktief tussen akteurs gevorm word (Felski, 2015:12). Vir Felski (2015:11) is dit duidelik dat die sosiale aspekte van letterkunde nie te skei is van die suiwer literêre aspekte nie: “Works of art cannot help being social, sociable connected, wordly, immanent”. Dit beteken egter nie dat ‘n teks nie ook “incandescent, extraordinary, sublime, utterly special” kan wees nie. ‘n Teks se uniekheid (“singularity”, vgl. Attridge, 2004:106) en die sosiale aard daarvan (“sociability”) is altyd en onherroeplik vervleg.
In haar nuutste boek, Hooked (2020), fokus Felski op een baie spesifieke postkritiese argument oor waarom letterkunde vandag saak maak. Volgens haar is dit juis die vermoë van letterkunde om ‘n leser soos ‘n vis aan ‘n hoek te vang en te hou, wat letterkunde interessant maak. Letterkunde vang lesers, hou hulle vas en tree in verhouding met hulle. Dit is juis die veelvoud verbintenisse (“attachments”) waarbinne letterkunde funksioneer wat betekenis daaraan gee, en wat dit die vermoë gee om lesers telkens opnuut mee te voer en te betower. In die boek argumenteer sy dat om verbintenis met ‘n kunswerk soos ‘n literêre teks te ervaar, om daarop ingestel te wees (“attunement”), en om daarmee te identifiseer net so belangrik en navorsingswaardig is as die teoretiese en kritiese. Haar gevolgtrekking is dat estetiese interpretasie inherent verbintenis en intimiteit, eerder as afstand, veronderstel.
Samevattend kan gevra word: Hoe sal ‘n postkritiese lees van ‘n literêre teks dan nou lyk? In die eerste plek sal ‘n leser ‘n proses van “ontlering” (“unlearning”) (Anker, 2017:29) moet deurgaan om die agterdogtige en skeptiese interpretatiewe protokolle waarmee hulle opgelei is, in ‘n mate opsy te skuif. Lesers moet hulself ook aktief daartoe verbind om nie tydens die leesproses ‘n logika van dualismes aan te hang nie, sodat die teks opnuut op ‘n intuïtiewe manier ervaar kan word. Die teks se oppervlakke word op sigwaarde beskou, wat dan outomaties aanleiding gee tot relevante dieptelees. Die leser is nie hardnekkig op soek na dinge wat nié daar is nie, maar ondersoek en analiseer dít wat wel daar is. Om ‘n teks postkrities te lees, beteken verder om beide kognitief-intellektuele én ervaringsgerigte doelwitte in gedagte te hou tydens die lees van die teks. ‘n Postkritiese leser poog om binne-tekstuele dinge soos styl en vorm net so belangrik te ag as buite-tekstuele strukture en kontekste soos ideologie, politiek, mag, worsteling en antagonisme. Dit beteken egter nie dat die teks se etiese implikasies geïgnoreer word nie. Postkritiese lesers laat hulleself toe om verstrengel te raak in ‘n teks wat inherent handelingsbevoegdheid het as akteur in ‘n sosiale netwerk. Sodoende ervaar ‘n beliggaamde en geplaaste leser ‘n teks as sosiaal, verbind, wêreldlik en immanent, en daarom nooit verwyderd van die werklikheid nie. Saam met die teks (en ander relevante medeakteurs) ontstaan ‘n proses van betekenisvorming wat nooit heeltemal afgehandel word nie. So ontstaan daar ‘n lewende verbintenis tussen die teks en leser, wat ‘n materiële, sensoriese en beliggaamde leeservaring moontlik maak, bevry van die voorskriftelikheid van agterdogtige leespraktyke.
Wanneer ‘n leser byvoorbeeld ‘n postkritiese lees van ‘n “populêre” teks soos deur Deon Meyer, Dalene Matthee of Sophia Kapp uitvoer, sal die leser nie van die tekste verwag om op komplekse, filosofiese maniere aandag te gee aan sosiale ongeregtighede nie. Die tekste sal ervaar word vir die tipe tekste wat dit is: ‘n spanningsverhaal, ‘n historiese verhaal en ‘n liefdesverhaal, sonder dat grootse argumente rondom byvoorbeeld sosio-ekonomiese ongelykheid, feminisme en restitusie daarin gesoek word. Die mate waarin hierdie tipe tekste wel aandag skenk aan sulke tematiek, word bestudeer bloot soos die teks dit oordra, en nie soos die agterdogtige leser dink dit aan bod behóórt te kom nie. ‘n Meyer-teks se betrokkenheid kan dan byvoorbeeld beoordeel word volgens hoe die werklikheid lewensgetrou uitgebeeld word, en nie hoe die teks selfs meer sosiale kommentaar behoort te lewer nie. Dieselfde sal geld vir kwessies soos feminisme en ongelykheid oor rassegrense heen in Kapp en Matthee se skryfwerk. Daar word dus nie van sulke tekste verwag om iets te wees wat dit inherent nié is nie.
‘n Postkritiese lees van “populêre” letterkunde lyk dalk maklik, aangesien “hoër” letterkunde só geskryf is dat dit juis kritiese strategieë inkorporeer. ‘n Skrywer wat beïnvloed is deur kritiek, skryf waarskynlik só dat die teks aan die analitiese verwagtinge van ‘n kritiese leser voldoen. Daar word van die leser verwag om juis onder die oppervlak te lees vir die dieper betekenis. Dit beteken egter nie dat ‘n postkritiese lees van so ‘n teks onmoontlik is nie. ‘n Postkritiese lees van ‘n “hoër” literêre teks soos Marlene van Niekerk se Triomf sal aandag gee aan beide die allegoriese en parodiese aard én die talige, sensoriese ervaring van die teks. Dit sal ook nie vashaak by die meer swartgallige, pessimistiese inhoud in Triomf nie, maar ook die humoristiese en toekomsgerigte aspekte raaksien. Alhoewel die teks die leser aanmoedig om agterdogtig en krities soos ‘n speurder te lees, sal ‘n postkritiese leser nie die ligter kant van ‘n boek soos Triomf mislees nie. Daar sal dalk eerder aandag gegee word aan die delikate balans tussen “lig” en “duisternis” wat Van Niekerk in Triomf uitbou. Dit sal die een doen en die ander nie nalaat nie, ook wat betref oppervlak- en dieptelees. ‘n Skrywer soos Van Niekerk se tekste vra immers juis vir beide die kognitiewe en sensoriese, affektiewe ervaring daarvan. Verskeie akademiese studies oor Van Niekerk vertoon reeds so ‘n gebalanseerde, en volgens my postkritiese, benadering tot haar tekste (vgl. bv. Buxbaum, 2014, Rossmann, 2014, Loots, 2011, en Linde, 2018).
Janien Linde
Bibliografie
Anker, E.S. 2017. Postcritical Reading, The Lyric, and Ali Smith’s How to be Both. Diacritics, 45(4):16-42.
Anker, E.S & Felski, R. 2017. Introduction. (In: Anker, E.S & Felski, R., eds. Critique and Postcritique. Durham and London: Duke University Press. pp.1-28).
Attridge, D. 2004. The Singularity of Literature. London: Routledge.
Best, S. & Marcus, S. 2009. Surface Reading: An Introduction. Representations, 108 (Fall):1-21.
Butler, J., Guillory, J. & Thomas, K. 2000. Eds. What’s Left of Theory? London: Routledge.
Buxbaum, L. 2014. “To see another person’s face … to touch another person’s hand”: Bodies and Intimate Relations in the Fiction of Marlene van Niekerk. Johannesburg: WITS. (Thesis – PhD).
Felski, R. 2008. Uses of Literature. Oxford: Blackwell Publishing.
Felski, R. 2015. The Limits of Critique. Chicago: The University of Chicago Press.
Felski, R. 2020. Hooked. Chicago: The University of Chicago Press.
Flaherty, M. 2019. Expressive Realism and the Phenomenological Turn: A Canon for Postcritical Literary Studies. Poetics Today, 40(1):135-158.
Harris, W. 1996. Literary Meaning: Reclaiming the Study of Literature. London: Macmillan.
Jay, P. 2014. The Humanities Crisis Then and Now. In: The Humanities “Crisis” and the Future of Literary Studies. Palgrave Macmillan, New York. https://doi.org/10.1057/9781137398031_2
Latour, B. 2004. “Why Has Critique Run out Of Steam?” Critical Inquiry, 30(Winter):225-248.
Linde, J.L. 2018. Relasionele performatisme: ‘n Metamodernistiese benadering tot die resente werk van Marlene van Niekerk. Potchefstroom: NWU. (Proefskrif– PhD).
Loots, S. 2011. Die teks as museum of argief in onlangse Afrikaanse romans. Stilet, 23(2):75-101.
Moi, T. 2017. “Nothing is Hidden”. From Confusion to Clarity; or Wittgenstein on Critique. (In: Anker, E.S & Felski, R., eds. Critique and Postcritique. Durham and London: Duke University Press. pp.31-49).
McHale, B. 2006. “Against Interpretation” Revisited. American Book Review, 28(1):12-13.
McQuillan, M., Macdonald, G., Purves, R. & Thomson, S. 1999 eds. Post-Theory: New Directions in Criticism. Edinburgh: Edinburgh University Press.
Payne, M. & Shad, J. 2003. eds. Life. After. Theory. London: Continuum.
Ricouer, P. 1970. Freud and Philosophy. An Essay on Interpretation. New Haven: Yale University Press.
Rossmann, J. 2014. Orion, Ram’s-horn and Labyrinth: Quest and Creativity in Marlene van Niekerk’s Triomf, Agaat and Memorandum. Pietermaritzburg: UKZN. (Thesis – PhD).
Sedgwick, E.K. 1997. Paranoid Reading and Reparative Reading; or, You’re So Paranoid, You Probably Think This Introduction is About You. (In: Sedgwick, E.K., ed. Novel Gazing: Queer Readings in Fiction. Durham: Duke University Press. pp.1-33).
Selden, R., Widdowson, P. & Brooker, P. 2005. Conclusion: Post-theory. (In: Selden, R., Widdowson, P. & Brooker, P. A Reader’s Guide to Contemporary Literary Theory. London: Pearson Longman. pp. 267-279).
Sontag, S. 2013. Against Interpretation and Other Essays. London: Penguin UK.