(Hersien April 2024)
‘n Ghasel (ghazel, ghazal) (Arabies: ghazal, “weefsel”, “flirtasie”, “liefdeslied”) is ‘n Oosterse digvorm, afkomstig uit die Persiese literatuur wat vanaf die agste eeu veral in die Midde-Oosterse en Indiese poësie voorkom. Die klassieke tema daarvan druk liries die verhaal uit van hopelose, idealistiese minnaars wat tot die dood toe na mekaar hunker. Dit is in ongeveer 610 n.C. deur Umm Jamil van Hejaz, Saoedi-Arabië, ingevoer. Mettertyd het die ghaselinhoud veel groter verskeidenheid begin toon. Twee hoofsoorte ghaselle kan onderskei word, naamlik dié afkomstig uit Saoedi-Arabië en dié uit Irak. Ghaselle deur ʿUmar ibn Abī Rabīʿah (644–714 n.C.) uit Mekka is realisties, lewendig en hoflik, hoofsaaklik gebaseer op sy eie lewe en liefde vir sy beminde. Sommige kenners onderskei tussen die ghasel en die nasīb, waarin oorspronklik talle verwysings na Bedoeïen-plekke voorkom en slegs ’n vrou aangespreek word. Die ghaselle deur die Soefi-digteres Rabiah al-Adawiyah (717-801 n.C.) van Basra in Irak word daarteenoor gekenmerk deur liefdesverlange en mistieke besinning.
Die lengte van die gedig wissel gewoonlik tussen 36 verse of vyf en twaalf koeplette. Die ghasel het tradisioneel die rymskema aabacadaeafagaha. Buiten die rym kom daar soms in die Persiese ghasel ook ’n refrein (radif) direk na die rympare voor. In die laaste koeplet is daar ’n verwysing na die digter se naam. Die gedig word veral gesing om die resonansie en estetiese werking van die temas te behou en is met musikale begeleiding steeds uiters gewild in Indië en Pakistan in Hindi en Oerdoe waar Amir Khusrau (1253-1325 n.C.) se invloed geweldig sterk is. Die genre is ook deel van baie ander letterkundes van Sentraal- en Suid-Asië. Beroemde Persiese ghasel-digters soos Rumi (13de eeu) en Hafez (14de eeu) bly volksbesit.
‘n Afbeelding van Rumi se ghasel 18 van 1247
uit Arbery. A.J. 2009. Jalal al-Din Rumi, Maulana, 1207–1273. Mystical poems of Rumi. Uit Persies vertaal deur A.J. Arberry. The University of Chicago Press: Chicago (ghasel 163 uit die Furūzanfar-manuskrip), wat begin Beravīd, ey harīfān “Gaan, my vriende”. Dit is ’n baie bekende Persiese ghasel van sewe verse wat die liefde vir die geliefde pragtig uitdruk.
Die ghaselvorm het die Westerse literatuur hoofsaaklik via die Duitse Romantici, Schlegel, Rückert en Platen (Ghaselen, 1821) binnegekom. Die ghasel kom ook by Goethe voor (in sy West-Östlicher Divan, 1819). Daar is 200 jaar na sy oorspronklike uitgawe ’n herlewing in Europa van dié vorm. Die ghasel het in die Nederlandse literatuur in die 19de eeu voorgekom by J. van Droogenbroeck (Makamen en ghazelen, 1866). Hélène Swarth se Nederlandse ghaselle (“Ghazelen”, 1902) het in navolging van die Persiese ghasel behalwe die rym ook sterk bindende refreine.
In Engels het Sir William Jones al in 1777 “A Persian Song of Hafiz”, gebaseer op ‘n ghasel van Hafez gepubliseer sonder behoud van die vorm. Omar Khayyam (1048-1131 n.C.) se Rubaiyat is in 1872 deur Edward FitzGerald in Engels gewild gemaak. William Hastie (1842–1903) het daarna Friedrich Rückert se vertaling van Rumi se ghaselle in Engels omgesit as ’n teenvoeter vir die gewildheid van Omar Khayyam, wat as hedonisties en agnosties beskou is. Dis veral R. A. Nicholson (1898) en later A.J. Arberry (1968) en F.D. Lewis (2007) se vertaalwerk van Rumi se mistieke ghaselle wat daartoe gelei het dat Coleman Barks se omsettings veral in Amerika uiters gewild is en Rumi steeds die gewildste digter bly. As gevolg daarvan het die vorm na Suid-Afrika versprei. In Afrikaans is daar bv. die ghasel van Breytenbach, nl. “112.27 (Ghaselle)” wat in Lewendood verskyn, ghaselle in Versindaba en D.Z. van der Berg se vertalings in Rumi: Liefdesverse en aanhalings.
Dietloff van der Berg
Bibliografie
Barks, C. (vert.). 1995. The Essential Rumi. New Jersey: Castle Books
Lewis, F.D. 1995. Reading, Writing and Recitation: Sanāʾī and the Origins of the Persian Ghazal. Ph.D. dissertation, Chicago University.
Tavanaei, A., Rohani, M. & Soltani, S.A.A. 2020. The Discourse Semiology of Resistance Literature in Hafiz’ Ghazals, Religion & Communication, 26(56), pp. 121–156. https://doi.org/10.30497/rc.2019.2824.
Van der Berg, D.Z. (vert.) 2023. Rumi: Liefdesverse en aanhalings. Gansbaai: Naledi
Van der Berg, E.J. 2019. Performatiwiteit van taalgebruik en verstegniek in die mistieke digkuns van Jalāl al-Dīn Muhammad Rūmī, asook in die werk van geselekteerde Afrikaanse digters: ’n vergelykende studie. Ph.D.-proefskrif, Noordwes Universiteit.