EKOKRITIEK

(Gepubliseer Februarie 2025)

Cheryll Glotfelty en Harold Fromm, pioniers van die ekokritiese literatuurteorie, definieer ekokritiek in die seminale publikasie The ecocriticism reader (1996:xviii) as “the study of the relationship between literature and the physical environment”, terwyl die term in The Routledge Dictionary of Literary Terms (Childs & Fowler, 2006:65) omskryf word as “[t]he study of literary texts with reference to the interaction between human activity and the vast range of ‘natural’ or non-human phenomena which bears upon human experience – encompassing (amongst many things) issues concerning fauna, flora, landscape, environment and weather”.

As reaksie hierop bied ekokritiek ’n interdissiplinêre blik op die wyse waarop kultuurprodukte die mens-natuur-verhouding ontgin en verwoord. In die laaste tien jaar is daar ’n groeiende belangstelling in ekokritiese benaderings wêreldwyd waarneembaar, verklaar Axel Goodbody, Carmen Flys Junquera en Serpil Oppermann (2020:i).

Die term Ökologie is vir die eerste keer in 1873, ongeveer ’n eeu voor die geboorte van ekokritiek as ’n dissipline, deur die Duitse dierkundige, Ernst Haeckel, gebruik (Arigo s.j.). Die oorsprong van die woord kan teruggevoer word na die Griekse woord oikos, wat “huis” of “blyplek” beteken, terwyl die tweede deel van die woord, logos of logia, “woord” of “denke” of “die studie van” beteken. Ekologie beteken dus letterlik woorde oor tuiste; dus, woorde oor die aarde of die bestudering van die aarde as die tuiste van alle lewende en nielewende dinge, insluitende die mens. Die oorsprong van die term ekokritiek word allerweë teruggespoor na die opstel getiteld “Literature and ecology: An experiment in ecocriticism” (Rueckert, 1978:71–86) waarin William Rueckert die toepassing van ekologiese konsepte op die studie van die letterkunde ondersoek. Volgens Peter Barry (2009:249) het die literêre kritikus Karl Kroeber egter reeds in 1974 in sy artikel “Home at Grasmere” die term gebruik.

ʼn Kerneienskap van ekokritiek is die multidissiplinêre aard daarvan. Die wesensaard van ekokritiek is dat dit nie los te maak is van al die omringende sisteme nie. Susan Smith (2013) beskryf dit as ’n ekotoon, ’n grenssone tussen baie ander dissiplines en subdissiplines, en verduidelik dat hierdie intellektuele dissipline ’n spesifieke rol speel binne ’n spesifieke konteks. Hoewel ekokritiek deels voortspruit uit die aarde se benarde ekologiese toestand en die groeiende bedreiging van natuurlike hulpbronne, beklemtoon Smith (2013) dat dit “nie ’n panasee (is) vir alles wat verkeerd is met die omgewing nie; nog minder is dit die politieke towerstaffie wat almal gaan laat regop sit en die regte ding gaan laat doen.” Tot die rol van ekokritiek word in die slotafdeling teruggekeer.

Verskille in benaderings tot ekokritiese analise word gemotiveer deur akademiese tradisies, dominante denkskole en verskillend gestruktureerde instellings in verskeie wêrelddele, verduidelik Goodbody, Flys & Oppermann (2020:1). Ekokritiek in Europa word in ’n mate gedefinieer deur die verskille in Europese teenoor Amerikaanse beskouings van landskappe en waardes. Omdat die omgewing in Europa grootliks bewoon en bewerk is, is Europese ekokritici nie in hoofsaak geïnteresseerd in wildernis wat dikwels die dryfkrag vir agter die navorsing van hulle Amerikaanse eweknieë is nie. Die subgenre gekenmerk deur die persoonlike verslaggewing oor ongeskonde beleefde natuurruimtes, oftewel “nature writing”, wat ’n prominente plek in Amerikaanse ekokritiek het, kry minder klem in die Europese letterkunde. Wes-Europese ekokritiek word meer gedryf deur die spannings tussen die studie van omgewingsliteratuur en omgewingswetenskappe en ander vorms van betrokkenheid by die omgewing. as Amerikaanse ekokritiek. Tog word ekokritiese werk in Europa grootliks geïnspireer deur Amerikaanse teorie en praktyk. Verder het individuele Amerikaanse vakkundiges, onder andere Scott Slovic, ’n deurslaggewende rol in die internasionalisering van ekokritiek gespeel (Goodbody, Flys & Oppermann, 2020:1).

In Europa kies ekokritici om lig op retoriese struktuur, vorm en taal te werp. Hulle aandag is by voorkeur gerig op die verhoudings tussen natuur, kultuur en letterkunde; daarom ook op die hersiening van tradisionele opvattings van natuur en die ontwikkeling van meer nie-antroposentriese ekokulturele raamwerke. Die teenstelling tussen Amerikaanse en Europese benaderings staan nie soseer in verband met die naasmekaarstelling van veelvuldige benaderings wat in Amerika hoogty vier nie, reken Goodbody, Flys & Oppermann, 2020:2). Hulle wys eerder op die kultureel bepaalde diversiteit van ekokritiese teoretisering en metodologieë in Europa – ’n kontinent gekenmerk deur multitaligheid en kulturele meervoudigheid. Verder word uitgelig dat ekokritiek in Europa eerder na die spesifieke streef – die onderlinge verbondenheid tussen kulture, fisiese omgewings en geskiedenisse – as na die universele wat die fokus van die Amerikaanse beoefening van ekokritiek is (Goodbody, Flys & Oppermann, 2020:2).

(Raadpleeg ook Meyer 2016; 2017; Smith, 2012; 2013.)

Sleutelkonsepte van die ekokritiek

‘n Sentrale idee van die ekokritiek is dat alle elemente van die natuurlike wêreld diep verbind en interafhanklik is. Hierdie idee van onderlinge verbondenheid (“interconnectedness”) beklemtoon die onderlinge verhoudings tussen mense, niemenslike entiteite, kultuur en spirituele opvattings en die omgewing, en beklemtoon hoe aksies en veranderinge in een deel van die ekosisteem ander dele ingrypend kan beïnvloed. Dit daag die tradisionele mens-natuur-dualisme uit en bevorder ‘n holistiese begrip van ekologiese sisteme (Gates, 2013).

Antroposeen. Die Antroposeen word ook die Era van die Mens genoem (Crutzen, 2002). Die term verwys na die mag wat die “antropos” bekom het oor (ander) mense, lewende niemense en die vele nielewende andere. Dirk Postma (2022:390) roep, in sy naspeur van die oorsprong van hierdie tradisie, Descartes (2006:73) se ontologiese sentraalstelling van die menslike rede in herinnering: “Ek dink, daarom bestaan ek.” Die geloof in die mens se unieke rasionele vermoëns vorm die basis van die konvensionele Westerse onderskeid tussen die mens en die res van die heelal, en plaas die mens in ’n intellektuele en morele voorrangposisie wat die oorheersing van die andere tradisioneel regverdig. Die Cartesiese dualisme van liggaam en siel lê ten grondslag van die menslike oorheersing van die “natuur” in die mens self asook van die “natuur” buite die mens. Hierdie mag lei vir Gilles Deleuze (1992) tot die “gekontroleerde samelewing” wat nie soseer uitgeoefen word deur eksterne dissipline nie, maar deur meganismes van beheer in die denke, liggaam en begeertes. Die vernietigende impak daarvan spruit uit die versuim om erns te maak met die skadukant van die rede, ’n ongekwalifiseerde geloof in vooruitgang en die mag van die tegnologie. Met behulp van tegnologie oefen die mens invloed uit op die fisiese, chemiese en biologiese prosesse waarvan almal afhanklik is. Crutzen (2002) beklemtoon dat die vrystelling van koolstofdioksied as gevolg van die mens se lewenstyl en ekonomiese aktiwiteite moontlik ‘n onomkeerbare effek op die planeet het. Nuusbulletins wêreldwyd maak ons bewus van die ongekende skaal van klimaatsverandering en die vernietiging van habitat en biodiversiteit.

Postma (2022:386) noem die manier waarop mens sowel as die natuur uitgebuit word tot voordeel van diegene wat die markte beheer as grootliks bydraend tot die problematiek van die Antroposeen. Die humanistiese motief van oorheersing lei onvermydelik tot die idee dat die mens nou in staat is om die toekoms van die planeet te bepaal. Hierdie motief van oorheersing bewerk ’n hiërargiese verhouding waar die “mindere” mens oorheers word deur diegene wat “meer” mens is. “Mindere” mense sluit in vroue, armes, “nieblankes” – almal wat nie voldoen aan die Westerse model van die wit, manlike, heteroseksuele heersersklas nie. Die gebruik van die term Antroposeen om menslike mag te vier, is beide misleidend en onvanpas, meen Postma (2022:288). Dit is onvanpas, want die “vierende” mens wat in die middel geplaas word, is die individualistiese, selfsugtige, kompeterende verbruiker wat sigself definieer in terme van binêre onderskeid tussen mens/dier, man/vrou, wit/swart, kultuur/natuur. Dié viering is ook misleidend, aangesien die mag van die antropos die uitbuiting impliseer van menige andere soos die “mindere” mense, diere, tegnologie en natuurkragte en -bronne.

Die blote gedagte dat die mens in die sentrum is, vorm die kern van die misleiding, redeneer Postma (2022:289), aangesien die mens nog altyd verweef was met die menige andere en nog nooit onafhanklik en onverbonde was nie. Dit is juis die onvermoë om die verweefdheid met die menige andere te erken en om erkentlik te wees teenoor magte wat van hulle afkomstig is wat die individualistiese verbruiker tot gevolg het. Die “Era van die Mens” is eerder ’n distopie, ’n era van uitwissing waartydens die voortbestaan van talle lewensvorme bedreig word.

(Raadpleeg ook Tempelhoff, 2021.)

Biosentrisme: Buell (2005:134). beskryf biosentrisme as die siening dat alle organismes, insluitend die mens, deel is van ’n groter biotiese web of gemeenskap wie se belange die menslike belange moet beperk of rig.

Natuur: Die woord natuur is afgelei van die Latyn natura wat in die antieke tye letterlik “geboorte” beteken het. Die konsep van die natuur as ’n geheel, die fisiese heelal, is een van verskeie uitbreidings op die oorspronklike gedagte. Die woord nature word deur Raymond Williams, die Britse Marxistiese kritikus, as “perhaps the most complex word in the language” bestempel (1983:219). Buell (2005:154) wys daarop dat Williams drie basiese betekenisse identifiseer: natuur as die essensiële karakter (of aard) van iets; natuur as inherente mag wat die wêreld stuur; en natuur as materiële wêreld, wat in sekere gevalle ook die mens insluit. Die derde van hierdie basiese betekenisse van natuur wat Williams onderskei hou met materie of die fisiese verband, en dié terme word gebruik om te dui op enigiets wat deel uitmaak of grondstof is van die sintuiglik waarneembare wêreld (materie, VivA); alles betreffende die natuur in sy geheel, alles ooreenkomstig die wette van die natuur (ook die mens), alle aspekte betreffende natuurlike, wesenlike dinge (fisies, VivA) . Die betekenisonderskeid tussen eerste natuur, oftewel die primordiale natuur, en tweede natuur, dit wat deur die mens geskep is, of vervaardigde plek, is ook nuttig vir ekokritiek (Buell, 2005:154).

(Raadpleeg ook Meyer, 2019.)

Hierby aansluitend is die konsep “emplaced writing”, deur Russo (s.j) gedefinieer as ’n skryfpraktyk van “writing within”: “It (Emplaced writing) recognizes a material emplacement within a complicated set of conditions and relations.” Hierdie praktyk, vertaalbaar as  ingeplaaste skryf (Smith, 2012) verwys na ’n taalbewuste, plekbewuste skryfaksie, waardeur taal as sosiale waarnemings- en konstruksie-instrument ingespan word en die sosiale dimensie van taal geaktiveer word, die sogenaamde “perceiving and construction tool” waarmee plekverbondenheid van die outeur met die omgewing bewerkstellig word (Russo s.j.). Daarbenewens behels ingeplaaste skryf ’n aktiewe bewussyn van die self en van die plek wat op daardie oomblik fisies deur die liggaam van die outeur in beslag geneem word. Die outeur vra: Waar is ek? Waar is hier? Hoe pas ek nou, op hierdie oomblik, in die hier? Wat is die verbintenisse tussen my en die dinge om my, en tussen die dinge onderling? Ingeplaaste lees fokus op die leser se betrokkenheid en plasing binne die ekoteks en die wyse waarop plekoordrag gedurende die leesproses plaasvind vanaf die skrywer na die leser (Smith, 2012:927). Materiële ingeplaastheid kan nie losgemaak word van die taal of van die outeur nie. Dit veronderstel ’n sensoriese, emotiewe en intellektuele bewussyn wat ’n binne-die-liggaam ervaring (Smith, 2012:902) genoem kan word (Russo s.j.)

(Raadpleeg ook Smith, S. 2012; Meyer, 2014a; Greyling, 2017).

Bioregionaliteit: Die teorie en metodologie van bioregionaliteit vorm ’n belangrike praktyk binne die denkraamwerk van ekokritiek. Bioregionaliteit beklemtoon die organiese verwantskap van sisteme (sowel natuur as kultuur) en stel ’n kleinskaalse, gedesentraliseerde en plekgebaseerde benadering tot die lewe voor (McGinnes, 2005:189). Thomashow (1999:21) omskryf bioregionaliteit as ’n poging tot ekologiese en kulturele verbintenisse binne die domein van ’n plekgebaseerde bewussyn. Vanuit die ekologiese perspektief is ’n bioregio of biostreek ’n geografiese area waar dieselfde klimaat en ekosisteem en groepe van spesies gevind kan word. Bioregionalisme sien egter die biostreek nie net as ’n gebied wat deur natuurlike merkers afgebaken word nie; dit is ook die domein van die bewussyn en fokus van mense wat konvensionele politieke grense uitdaag. Die aandag is gevestig op die wyse waarop interaksie met topografie, klimaat en niemenslike lewe ’n direkte invloed het op die wyse waarop mense in ’n bepaalde biostsreek leef en/of behoort te leef (Buell, 2005:135). Bioregionalisme wil die respek vir natuurlike sisteme herstel en terselfdertyd op ’n volhoubare manier die basiese menslike behoeftes bevredig – iets wat, volgens Buell (2005:135), meer waarskynlik sal slaag in geografiese eenhede wat relatief klein is. Bioregionale denke manifesteer in filosofiese, politieke en kulturele praktyke wat as vorme van omgewingsetiek in die daaglikse aktiwiteite van mense manifesteer (Lynch en Glotfelty, 2012:3).

(Raadpleeg ook Greyling, 2017)

Uit ’n vergelyking tussen dié dissiplines, soos wat Prieto (2016:19) doen, blyk dat hulle aanvullend beskou kan word op grond van belangrike ooreenkomste, soos ʼn gedeelde besorgdheid oor die manier waarop ruimtes en plekke beskou word, uitgebeeld word en uiteindelik benut word. Bertrand Westphal, wat die konsep géocritique geskephet (Tally, 2013: 112), wys egter daarop dat die persepsie van ruimte en plek nie gelyk gestel moet word aan die verteenwoordiging daarvan nie (Westphal, 2011:1). Die onderskeid tussen geokritiek en ekokritiek word sigbaar in die verskil tussen hulle onderskeie doelwitte. Terwyl ekokritiek daarop fokus om ʼn beter begrip van die teks te kry deur middel van merkers soos plek, fokus geokritiek daarop om ʼn beter blik op plek te kry deur interaksie tussen fiktiewe verteenwoordiging van ʼn plek en die reële plek self. Die fokus val by uitstek op die ruimtelike data van plek.

Geokritiek, as interdissiplinêre metode van literêre analise, is waardevol as ’n kritiese praktyk geskik vir wat geokritici literêre kartografie noem (Tally & Battista, 2016:9). Geokritiek beklemtoon die wyse waarop literatuur interaktief betrokke is by die omringende wêreld. Mimetiese kunste word betrek om teks, beeld en kulturele interaksie saam te snoer in die verkryging van ’n breë, multifokale blik op plek (Westphal, 2011:6). 

(Raadpleeg ook Smith, 2022.)

Afrikaanse ekokritiek

Slovic, Rangarajan en Sarveswaran (2015:vii) verduidelik dat ekokritiese perspektiewe in spesifieke streke dikwels die gevolg van koloniale en postkoloniale toestande is, terwyl inheemse kulturele praktyke eweneens die metodologieë en doelstellings van ekritiek in ekspesifieke streke rig. Hulle dui aan dat diskoerse in die veld van ekokritiek sedert die 1970’s internasionaal gevorm en ontwikkel is deur die invloed van verskillende geografiese toestande, historiese en huidige kollektiewe gebeure en kulturele tradisies eie aan ’n bepaalde plek. Dit is egter eers in die afgelope ongeveer tien jaar dat ons die dissipline van ekokritiek standhoudend in Afrikaanse letterkunde toepas (Meyer, 2021:84; Smith, 2022:209). Ná die publikasie van die eerste ekokritiese artikel in Afrikaans, “Die ekologie as (vernuwende) leesstrategie” deur G. Meintjes (1995), het daar toenemend nuwe stemme in die veld van hierdie intellektuele beweging begin opklink, hoewel Smith in 2013 onomwonde verklaar dat ekokritiek nog ’n “uiters geringe rol in die Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse, literêre landskap speel”.

Tans is die belangrikste rolspelers in hierdie veld Susan Meyer, wat haar toespits op die bestudering van mens-niemens-verhoudings in die eietydse Afrikaanse prosa sedert 2006 by die ontwikkeling van die diskoers van ekokritiek in Suid-Afrika, en Susan Smith, wat ongeveer sedert 2012 op die lees van poësie vanuit ekokritiese perspektief fokus. Betekenisvolle bydraes is ook gelewer deur (met navorsing oor dierestudies en kritiese plantstudies ingesluit): Joan-Mari Barendse (2013, 2016), Bibi Burger (2016, 2019), Reinhardt Fourie (2011, 2016, 2018), Franci Greyling (2017), Corné Coetzee (2015), Marius Crous (2016a, 2016b), Erika Lemmer (2007, 2008, 2017), Henriëtte Loubser (2017), Carien Smith (2016, 2018), Elzette Steenkamp (2011), Neil van Heerden (2021), Andries Visagie (2013), asook Louise Viljoen (2019, 2021). Meyer (2021) bied ’n krities-beskrywende oorsig oor die totale korpus van ekokritiese studies wat in die voorafgaande dekade op die Afrikaanse verhaalkuns toegespits was asook die bevindings van hierdie navorsing.

Aangesien die inherente aard van ekokritiek transnasionaal, multikultureel en transdissiplinêr is, kan ons in Suid-Afrika onsself nie losmaak van internasionale tendense nie. Smith (2022:213) voer aan dat die klem tans internasionaal val op ondersoeke na die materialiteit van ons bestaan (as deel van die vierde golf in die ontwikkeling van ekokritiek), op die oorsteek van nasionale grense deur meer vergelykend te werk te gaan en selfs op ekokritiese toepassings in nienatuurlike kontekste. Sy identifiseer ’n paar verdere ondersoekvelde wat globaal ’n opbloei in navorsingsbelanstelling beleef, naas die nuwe materialisme en verbandhoudende objekgeoriënteerde ontologie, naamlik stedelike ekologie, kultuurekologie, geokritiek, en die veld van postkoloniale denke wat geïntegreerd met die veld van ekokritiek ondersoek word (Smith 2022:213). Die inslag wat internasionale navorsingstendense op die werk van ekokritici in die veld van Afrikaanse letterkunde vind, is duidelik uit te wys, soos Smith (2022) ook doen. Sy lig die parallelle belangstelling hier plaaslik in die vervlegting van postkoloniale en ekokritiese denke uit en meen postkoloniale ekokritiek vorm ’n belangrike uitgangspunt vir ’n genuanseerde blik op ’n eie, Afrikaanse ekokritiek.

In Meyer (2021) word Afrikaanse ekokritiese studies binne die konteks van die groter Suid-Afrikaanse en Afrika-sisteme van ekokritiek geplaas. Dié artikel baan die weg om ’n antwoord te vind op die vraag: Hoe sou ’n Afrikaanse ekokritiek daar uitsien? Meyer identifiseer die navorsingstemas wat die volledigste en gereeldste ondersoek word in die ekokritiese ontleding van die Afrikaanse verhaalkuns. Dié temas is die mens se interafhanklike en interaktiewe deelwees van die niemenslike wêreld, die natuuromgewing as persoonlike plek (gekoppel aan identiteit), etiese beskouings van die mens se magsposisie oor die natuur, die rol van die natuurwêreld en -elemente in menslike welsyn, en die historiese ontwikkeling as deel van die betekenis van landskap (Meyer, 2021:87–88). Meyer verwys na die toenemend vaardige benutting van relevante globale teoretiese invalshoeke in Afrikaanse verhaalanalise en na ’n lewenskragtigheid in die beoefening van ekokritiek in die Afrikaanse literêre wêreld. Smith (2022:210) beaam dat plaaslik, net soos internasionaal, die toename in gesofistikeerde en weldeurdagte teoretiese konseptualisering gesien kan word as ’n regstelling van die voorafgaande randstandige posisie van ekokritiek.

 a) ’n Omgewingsgesentreerde ekokritiek van plek as ’n materiële en geografiese ruimte van agentskap waarin daar ’n unieke en wisselwerkende verbintenis tussen die mens en die niemenslikes en nielewendes in hierdie ruimte bestaan; b) in samehang en interaksie met bogenoemde, ’n postkoloniale ekokritiek van plek as persoonlike ruimte, as herkoms en identiteit, met inagneming van die politieke geladenheid van plek, die geskiedenis van plek en mens; en c) die wyse waarop hierdie genoemde aspekte tot uitdrukking kom in kultuurprodukte soos literêre tekste, spesifiek Afrikaanse tekste oor die Suid-Afrikaanse geografiese landskap.

Meyer bevestig die oortuiging omtrent die sentrale rol van plek in Afrikaanse ekokritiek, en dat plekgehegtheid en -verbintenis onlosmaaklik verbonde is aan ’n ekokritiese perspektief op die Afrikaanse literatuur (Meyer, 2024:191; Smith, 2022:205). Meyer identifiseer egter bepaalde praktiese uitdagings wanneer geografiese plekbesonderhede die ekokritiekse bestudering van ons letterkunde sou rig. Die geografiese omvang en verskeidenheid van uitgebeelde landskappe in die Afrikaanse letterkunde maak dit haas onmoontlik om die diversiteit van hierdie beeldespektrum van Suid-Afrikaanse geografiese landskappe in ekokritiese studies te probeer dek. Hierdie studies, uitdagings ten spyt, sou egter as besonder belangrik beskou kon word, juis terwyl die “going South”-beweging vinnig veld wen en Eerste Wêreld-ekokritici grootliks onbekend is met die stemme van skrywers vir wie die plek(ke) aan die mees suidelike punt van Afrika en die plekverbondenhede aan hierdie plek(ke) spesiaal is.

(Raadpleeg verder Meyer, 2021; 2024; Smith, 2022.)

Nuutste tendense in die ekokritiek: temas en benadering

’n Bestekopname oor die afgelope jare se uitgawes van Ecozon@, ’n invloedryke internasionale tydskrif uit die handvol wat toegewy is aan ekokritiek, toon die tematiese kwessies aan wat in die hedendaagse ekokritiese diskoers uitgelig word. Die postkoloniale niemenslike vorm die tema van ’n spesiale afdeling in die 13(2)-uitgawe van 2022. Die bydraes in hierdie uitgawe fokus op die vernietiging toeskryfbaar aan kolonialisme en uitwysbaar in terme van die wye afmetings daarvan, hetsy ten opsigte van woude, flora, fauna of multispesie-vervlegtings. Die vraag waarop in hierdie uitgawe gekonsentreer word, is:

How could we not attend to the nonhuman lives and forms being impacted by such a wide variety of human actions, without falling prey to absurd assumptions of human exceptionalism that imply our existence at a distance from the other earthly beings? [ …] There actually is no life outside of ecological cycles, outside of the air/ water/ multispecies intra-actions. And human beings [ …] are no exceptions to this rule. (Sullivan, 2022:i)

In die 14(1)-uitgawe van 2023, getiteld Contemporary Collapse: New Narratives of the End stel bydraers ondersoek in na mens-en-niemens-kwessies met spesifieke aandag aan die idee van sorg vir die uitgebreide spektrum van alle wesens en metgesel-spesies (“companion species”) bo, op en onder die aardoppervlak: niemenslik, meer as menslik, posthumaan, plantaardig, dierlik, die ekosistemiese geheel, ingeslote ook die vreemde (“alien”), bioniese en meer. Die mag van die plantaardige niemenslike (“plant power”) kry in die uitgawe met die tema “Gardening (against) the Anthropocene”, 14(2) van 2023, spesifiek aandag. Die bydraes in hierdie uitgawe werp lig, vanuit verskillende tematiese perspektiewe, op die magsverhoudings wat dikwels voorgestel word op grond van die illusie dat die mens, in sy arbeid met lewensondersteunende plantaardige kragte, daardie kragte domineer.

Schliephake (2015:195) wys daarop dat wat as ’n herbesinning oor die rol van letterkunde en kultuur in ons interaksie met die niemenslike omgewing begin het, ontwikkel het in ’n omvattende dissipline met verskeie subvertakkinge wat verreikende epistemologiese en ontologiese impak het binne ’n toenemend transdissiplinêre raamwerk – ’n raamwerk wat geskiedenis, wetenskap, geografie, sosiologie, sielkunde, filosofie en vele meer insluit. In die lig van dramatiese grensverskuiwings en ontwikkeling op die terrein van ekokritiek bestempel Slovic, Rangarajan en Sarveswaran (2015:2) ekokritiek as een van die vinnigs groeiende en sosiaal dringendste vertakkinge van die menswetenskappe.

Wat soos “nuwe lewe” in ekokritiek lyk, geartikuleer op sosiale media en blogs, is slegs nuwe wyses waarop tegnologie die reaksie van mense op toenemend skrikwekkende scenario’s van klimaatverandering en die gevolge daarvan kan vasvang. Hierdie reaksies, bekend as eko-angs (“eco-anxiety”) en eko-smart (“eco-grief”), is ’n toenemende werklikheid, bevind Greta Gaard (2020:224). Empatie-uitputting (“caring exhaustion”) as gevolg van die konstante reaksie op lydende diere en kwynende ekosisteme het die oorhand begin kry, word verklaar.

Nuwe ontwikkelings in ekokritiek verskyn uit die verbinding van studievelde. Tendense en benaderings wat die afgelope dekade en ’n half verskyn het en die meeste navorsingsaandag getrek het, is ekofobie, ekonarratologie, kulturele ekologie, affektiewe ekokritiek, queer ekokritiek en empiriese ekokritiek.

Simon Estok stel in 2009 die term ekofobie (“ecophobia”) bekend, “an irrational fear of and antipathy towards nature”, ook beskryfbaar as “contempt and fear of the natural world that has created the conditions of climate change [ … ] thoroughly interwoven with racism, misogyny, homophobia, speciesism” (Estok, 2009:208). Vir Estok is dit duidelik dat praktiese en volhoubare ekokritiese metodologie begin by die erkenning van ekofobie as gevestig in en afhanklik van antroposentriese arrogansie en spesiesisme  (Estok, 2009:216).

Ekonarratologie hou met die kognitiewe onderdrukking van empatie vir noodlydendes verband –  om egoïstiese, ekonomiese, praktiese, ideologiese of kulturele redes. Alexa Weik von Mossner (2017:83) verduidelik: “In narrative, ethically-motivated writers try to bypass these forms of empathy resistance through ‘authorial strategic empathizing’ – aligning the narrative viewpoint with those experiencing injustice, or with a narrator who isn’t directly affected but who learns to care for those experiencing the injustice.” Weik von Mossner (2020:133) omskryf affektiewe ekokritiek as ’n hoogs interdissiplinêre strewe om ons menigvuldige emosionele betrokkenhede by kulturele tekste (letterkunde, films, ensovoorts) wat ons eietydse omgewingsnood uitdruk, te verstaan. Affektiewe ekokritiek word met die volgende oortuiging in verband gebring: “(T)he emotions we experience when engaging with cultural texts are no different from the emotions we experience in everyday life, and since emotions create memories and drive behavior, there is reason to believe that such engagements might also resonate beyond the immediate reading or viewing experience” (Weik von Mossner, 2020:132).

Queer ekokritiek is nog ’n teorie wat die oplewing van affektiewe reaksies op omgewingsgerigte tekste ondersteun. Nicole Seymour (2013:23–24) verduidelik: “Queer theory’s trademark sensibilities – playfulness, irreverence, perversity, irony – as well as queer culture’s characteristic delight in absurdity, camp, frivolity, indecorum, ambivalence, and glee create new opportunities for inquiry into environmental crisis”.

Empiriese ekokritiek bevorder ’n empiries gefundeerde, interdissiplinêre benadering tot omgewingsgeoriënteerde narratiewe, “developing a methodology for documenting the ability of environmental narratives to stimulate real-world conversations and influence behavior”, aldus Schneider-Mayerson (2018:476). Onlangse navorsing in die veld van empiriese ekokritiek laat blyk dat kulturele tekse ons belewing inderdaad kan dra verby ’n vlak van kommer tot ’n veranderde vorm van betrokkenheid by daardie onderwerp van ons vroeëre kommer, byvoorbeeld oor die welstand van die niemenslike en klimaatverandering. Weik von Mossner (2020:133) verwoord egter die standpunt wat allerweë geld, naamlik dat daar tans nie voldoende navorsing bestaan om die idee dat affektiewe betrokkenheid by omgewingsgeoriënteerde tekste ’n betekenisvolle impak kan hê op die plekke waar ons leef en die druk wat ons planeet moet hanteer, te bevestig of te weerspreek nie.

Ekokritiek van aandagtigheid (“Mindful ecocriticism”) is terug te voer na Zen-ekokritiek en na die oorspronklik Bhoeddistiese praktyk van aandagtigheid van gees (“mindfulness”) waarmee bewustheid van die oomblik gekweek word. Ekokritici in hierdie veld benut navorsing oor ’n aandagtige geesom teorie en pedagogie te ontwikkel wat studente ondersteun wat worstel met die realiteit van tallose klimaatskrisisse. Gaard (2020:229) plaas die ekopedagogie van mindfulness in groter perspektief: “Mindfulness ecopedagogy encourages awareness of mental narratives, but unlike narrative ecocriticism, mindfulness invites students to ‘let go of the story’, thereby cultivating intimacy with present-moment experience.”

Hubert Zapf definieer kulturele ekologie as die bestudering van en teorievorming oor die interaksie en lewende onderlinge verband tussen kultuur en natuur. In die studieveld van kulturele ekologie word gefokus op die funksie van letterkunde as ʼn soort ekologiese krag of energie (“ecological force”) binne die groter sisteem van kulturele diskoerse (Zapf, 2016:27). Letterkunde is ’n gebied van voortdurende, kreatiewe vernuwing van taal, persepsies, kommunikasie en verbeelding. Hierdie herstrukturerende en selforganiserende beginsels van letterkunde herinner Zapf aan die ekologiese prosesse met behulp waarvan alle lewe op selforganiserende wyse voortbestaan (2006:56).

Die sogenaamde “ekologiese” beginsel van letterkunde vind op verskeie wyses beslag. Een daarvan manifesteer in die beskouing van letterkunde as ʼn klankbord vir verskuilde probleme, tekorte en wanbalanse in die groter kulturele werklikheid (Zapf, 2006:56). Zapf identifiseer in die letterkunde, as ʼn vernuwende krag, ook die potensiaal om teengesprekke tot stand te bring, “challenging current unsustainable societal and economic practices, operating as a medium of radical civilizational critique” (2016:28). Ten tweede behels die ekologiese funksie van letterkunde dat geslote denkpatrone onderliggend aan dogmatiese wêreldbeskouings afgebreek word om eksklusiewe aansprake op die waarheid te vervang met ’n verskeidenheid van perspektiewe en veelvuldige interpretasie­moontlikhede (Zapf, 2006:56).

Die beskouing van letterkunde as ekologiese krag in die groter kultuursisteem lei tot die beklemtoning van die potensiaal daarvan om bepaalde werklikheidsaspekte wat deur konvensionele denke uitgesluit is van die kulturele werklikheidsgeheel daarmee te herenig. Letterkunde sou dan deel wees van wat Zapf (2006:64) die diskoers oor herintegrasie (“reintegrative interdiscourse”) noem. Hy illustreer die konsep van die “geskeide werklikheid” met verwysing na voorbeelde van die verskillende samelewingsfere wat ontstaan deur ekonomiese differensiasie, die openbare en die private rolle van die self, die bewuste en die onbewuste en ook – grondliggend aan verskeie manifesteringsvorms van hierdie skeidingsbeginsel – kultuur en natuur (2006:64–65). Die oortuiging dat letterkunde op ʼn kragtige wyse deel van diskoerse oor herintegrasie vorm, is ’n kernkomponent in Zapf se beskouing van letterkunde as kulturele ekologie.

(Raadpleeg verder Lemmer, 2017; Meyer, 2017; 2019.)

Ten slotte

Ekokritiek bied ’n vars blik op die verwikkelde verhouding tussen die mens en sy omgewing en die wyse waarop dit in die literatuur tot uitdrukking kom. Om deur ’n ekokritiese lens na die literêre teks te kyk, beteken dat ons opnuut ondersoek instel na hoe ons met en in die plek waar ons is, leef; hoe ons in die verlede geleef het en die merke wat ons gelaat het. In die hedendaagse ekokritiese diskoers word die leser gekonfronteer met die uitwerking van sy gesentraliseerde magsposisie en magsmisbruike; hy word blootgestel aan ’n omgekeerde blik op ’n omgekeerde orde van desentralisasie, wisselwerking en uitruil wat tot veranderde persepsies en optrede lei.

Hoewel ekokritici wêreldwyd dit eens is dat ekokritiek geen wondermiddel bied om omgewingsprobleme te ondervang nie, behoort die waarde van die ekokritiese benadering tot letterkunde in die lewe van die leser nie misgekyk te word nie. Dit is nie die teoretici wat die wêreld gaan verander nie, meen Smith (2013), maar die skrywer/digter wat, een leser op ’n slag, ’n nuwe perspektief kan bied, die ontkieming van ’n nuwe ingesteldheid kan skep of laat groei. Dit is “die toeganklike, voete-op-die-grond” literêre teks wat veral vir jonger lesers aan die hart kan ruk, argumenteer sy, en – in die woorde van Serenella Iovino (2010:57) – “(can) potentially impact the imagination of an entire society, and thus offer more tools designed to interact with social life”. As die letterkunde die wyses waarop menslike en niemenslike verskynsels beskryf word, kan verruim, bied dit ’n skerper perspektief op die sosiale en natuurlike werklikheid wat lei tot ’n skerper insig in die self. Literatuur word dan die terrein van konstante skeppende hernuwing van taal, persepsie, kommunikasie en verbeelding, aldus Smith (2013).

Die terrein van potensiële impak van ekokritiek is, volgens Timothy Morton (2010:2), baie wyd:

It has to do with love, loss, despair, and compassion. […] It has to do with amazement, open-mindedness, and wonder. It has to do with doubt, confusion and skepticism. It has to do with concepts of space and time. […] It has to do with reading and writing. It has to do with race, class, and gender. It has to do with ideas of self and the weird paradoxes of subjectivity. It has to do with coexistence.

(Kyk ook ekopoësie, dierestudies, en posthumanisme.)

Susan Meyer

Susan Smith


Bibliografie

Arigo, C. s.j. Notes toward an ecopoetics: Revising the postmodern sublime and Juliana Spahr’s This connection of everyone with lungs. How2, 3(2).

Barendse, J.M. 2013. Distopiese toekomsromans in die Afrikaanse literatuur ná 1999. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch. (Proefskrif – PhD).

Barendse, J.M. 2016. Die “grense van menswees” en insekwording in Willem Anker se toneelstuk Samsa-masjien. LitNet Akademies, 13(3):1–25. .

Barry, P. 2009 (1995). Beginning Theory: An Introduction to Literary and Cultural Theory. Manchester: Manchester University Press.

Bigell, W. & Chang, C. 2014 The Meanings of Landscape: Historical Development, Cultural Frames, Linguistic Variation, and Antonyms. Ecozon@ 5(1): 84-103.

Buell, L. 1995. The Environmental Imagination: Thoreau, nature writing, and the formation of American Culture. Cambridge, MA. en Londen: Harvard University Press.

Buell, L. 2005. The Future of Environmental Criticism. Environmental Crisis and Literary Imagination. Malden MA: Blackwell Publishing. 

Burger, B. 2016. ’n Geokrities-vergelykende analise van Afikaans- en Engelstalige Suid-Afrikaanse stedelike romans. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch (Proefskrif – PhD).

Burger, B. 2019. “Al half dier”: Objekgeoriënteerde ontologieë, gestremdheidstudies en Siegfried (Willem Anker). Tydskrif vir Letterkunde, 56(2):28–37.

Childs, P. & Fowler, R. 2006 [1973]. The Routledge Dictionary of Literary Terms. Londen en New York: Routledge & Kegan.

Coetzee, C. 2015. Huisies aan die Rand: Ekokritiek en in die besonder stedelike ekokritiek as lens vir die lees van sewe gedigte met Johannesburg as agtergrond. LitNet Akademies, 12(3):1–50.

Cosgrove, D. 1993 Social Formation and Symbolic Landscape. Madison: University of Wisconsin Press.

Cronon, W. 1996. The Trouble with Wilderness; or, Getting Back to the Wrong Nature. In: Cranon, W., red. Uncommon Ground: Rethinking the Human Place in Nature. New York City: W.W. Norton and Company. pp. 69–90. 

Crous, M. 2016a. Die hadeda as liminale dier in Kaar van Marlene van Niekerk. LitNet Akademies, 13(1):209–31.

Crous, M. 2016b. ’n Diergerigte lesing van “Beeld van ’n jeug: duif en perd”. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 23(1):32–47.

Descartes, R., 2006. A discourse on the method of correctly conducting one’s reason and seeking truth in the sciences. Vertaal deur Ian Mclean (1–1 online resource (lxxv, 84 pages)). Oxford: Oxford University Press.

Deleuze, G. 1992. Postscript on the societies of control. October, 59:3–7.

Darici, K. 2015. “To draw a map is to tell a story”. Interview with Dr Robert T. Tally Jr. on Geocriticism. Revista Forma, 11:27–36.

Estok, S.C. 2009. Theorizing in a Space of Ambivalent Openness: Ecocriticism and Ecophobia. ISLE, 16(2):203–25.

Flys, C. 2010. The state of ecocriticism in Europe – panel discussion. Ecozon@, 1(1):108–22.

Fourie, R. 2011. A Postcolonial and Ecocritical Reading of Marlene van Niekerk’s Modern plaasroman Agaat. Gent: Universiteit Gent. (Verhandeling – MA).

Fourie, R. 2016. Is ekopoësie te maklik bloot belangepoësie? Stilet, 28(1):45–63.

Fourie, R. 2018. Duiwelsadvokate en die ekokritiek. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 58(4-2): 1010–1014.

Gaard, G. 2020. New Ecocriticisms: Narrative, Affective, Empirical and Mindful. Ecozon@, 11(2):224–33.

Garrard, G. 2012. Ecocriticism. Londen en New York: Routledge.

Gates, S. (2013). Interconnectedness: An Ecocritical Approach [Honours thesis, Edith Cowan University].

Goodbody, A. & Junquera, C.F. 2016. Introduction. In: A Goodbody & C.F. Junquera, reds. Sense of Place: Transatlantic Perspectives. Alcalá: Universidad de Alcalá: pp. 1–22.

Goodbody, A., Flys, C. & Oppermann, S. 2020. Introduction: Ecocriticism, in Europe and Beyond. Ecozon@ 11(2):1–7

Greyling, F. 2017. Sin van plek, ingeplaastheid en bioregionaliteit in ’n kunstenaarsboek-installasie, Mooirivier: weerspieëling en weerklank. LitNet Akademies, 12(3):308–357.

Iovino, S. 2010. The Human Alien. Otherness, Humanism, and the Future of Ecocriticism. Ecozon@, 1(1):53–61.

Kingsolver, B. 2010. Exchange Every Day: Kingsolver on Water. National Geographic Magazine, May 2010. . Geraadpleeg: 14 Julie 2024.

Lemmer, E. 2007. Introduction: Special Issue Ecocriticism. Part 1. Journal of Literary Studies, 23(3):223–227.

Lemmer, E. 2008. Introduction: Special Issue Ecocriticism. Part 2. Journal of Literary Studies 23 (4):337–340.

Lemmer, E. 2017. “Om ‘n tamatie te kan vertrou”: plantpolitiek in Jeanne Goosen se Vrydag-rubrieke (1996 – 1999) en Plante kan praat. Journal of Literary Studies, 33(3):59–83.file:///C:/Users/10200088/Downloads/04+Lemmer+Derde+lees.pdf

Loubser, H. 2017. Die uitbeelding van omgewingskwessies in Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur: ’n ekokritiese perspektief. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch. (Proefskrif – PhD) (Ongepubliseer).

Lynch, T. & Glotfelty, C. 2012. Introduction. In: Lynch, T. & Glotfelty. C., reds. 2012. The Bioregional Imagination: Literature, Ecology, and Place. Athene: The University of Georgia Press. pp. 1–6.

McGinnes, M.V. 2005. Bioregionalism. In: Taylor, B., red. Encyclopedia of Religion and Nature. Londen en New York: Continuum. pp. 188–189. Geraadpleeg: 14 Augustus 2024.

Meintjes, G. 1995. Die ekologie as (vernuwende) leesstrategie. Stilet, 7(2):22–85.

Meyer, S. 2014. Ingeplaaste skryf as vergestalting van ekosentriese ingesteldheid in Petra Müller se verhaalkuns. Literator, 35(2):1-12.

Meyer, S. 2014. “Ons ís mense. My kinders hét gesigte.” Die natuurlike omgewing en die konseptualisering van die self in Karretjiemense (Carol Campbell). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):675-692.

Meyer, S. 2015. ’n Alternatiewe beskouing van die natuur se andersheid in E. Kotze se kortverhaal ‘Halfkrone vir die Nagmaal’. Tydskrif vir Letterkunde 52(2): 102–116. file:///C:/Users/10200088/Downloads/ajol-file-journals_192_articles_121983_submission_proof_121983-2281-334981-1-10-20150911.pdf

Meyer, S. 2016. Natuurgesentreerde skryfwerk as ekosisteem: ’n Ondersoek na Boomkastele: ’n Sprokie vir ’n stadsmens (Schalk Schoombie). Deel 1. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 56(4-2):1200–1212.

Meyer, S. 2017. Natuurgesentreerde skryfwerk as ekosisteem: ’n ondersoek na Boomkastele: ’n sprokie vir ’n stadsmens (Schalk Schoombie). Deel 2. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 57(1):154-167.

Meyer, S. 2017. Mens-plantverbintenisse in Die sideboard van Simon Bruinders (2014). LitNet Akademies 14 (1):1-26.

Meyer, S. 2019. Letterkunde as kulturele ekologie in Die Bergengel (Carina Stander). Tydskrif vir Letterkunde 56(2):10-20. file:///C:/Users/10200088/Downloads/ajol-file-journals_192_articles_191080_submission_proof_191080-2281-484757-1-10-20191111.pdf

Meyer, Susan. 2019. Wildernis van menslike belewenis in Die troebel tyd van Ingrid Winterbach. LitNet Akademies 16(3):103–27. https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/EJC-1c1125d165

Meyer, S. 2020a. Omgewingsidentiteit in die Era van die Mens: Nuwe perspektiewe op Toorbos. Deel 1. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 60(3):708–726. https://scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512020000300009&lng=en&nrm=iso&tlng=af

Meyer, S. 2020b. Omgewingsidentiteit in die Era van die Mens: Nuwe perspektiewe op Toorbos. Deel 2. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 60(4-2):1 150–1 163. https://scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512020000500004&lng=en&nrm=iso&tlng=af

Meyer, Susan. 2024. Mens en klimaat in Katherine Graham se debuutroman en die werk van Abraham H de Vries. Tydskrif vir Letterkunde, ?

Meyer, S. 2021. Ecocritical Concerns in Select Afrikaans Narrative Works: Critical Perspectives. Journal for Literary Studies 37(4):84–105.

Meyer, S. 2024. Fisies-geografiese plekbesonderhede en Karoo-mens-verbintenisse in gestaltegewing aan die Afrikaanse ekokritiek. LitNet Akademies 21(2): 185-223.

Morton, T. 2010. The ecological thought. Cambridge, Massachusetts en Londen: Harvard University Press.

Postma, Dirk. 2022. Onderwys in die skaduwee van die Antroposeen. Kritiese posthumanistiese eksperimentering. LitNet Akademies 19(2): 386–405.

Prieto, E. 2016. Geocriticism meets ecocriticism: Bertrand Westphal and environmental thinking. In: Tally, R.T en Battista, C.M., reds. Ecocriticism and Geocriticism. Overlapping Territories in Environmental and Spatial Literary Studies. Londen en New York: Palgrave Macmillan. pp. 19–35.

Roos, H. 2011. “The War of the Worlds”: Relocating the Boundaries between the Human and the Non-Human. Journal of Literary Studies 27(4):50–70.

Rueckert, W. 1978. Literature and ecology: An experiment in ecocriticism. Iowa Review, 9(1):71–87.

Russo, L. s.j. Writing within: Notes on ecopoetics as spatial practice. How2, 3(2).

Schliephake, C. 2015. Review essay. Re-mapping ecocriticism: New directions in literary and urban ecology. Ecozon@, 6(1):195–207. Geraadpleeg:

Schneider-Mayerson, M. 2018. The Influence of Climate Fiction: An Empirical Survey of Readers. Environmental Humanities, 10(2):47–3500.

Seymour, N. 2013. Strange Natures. Futurity, Empathy, and the Queer Ecological Imagination. Chicago: University of Illinois Press.

Slaymaker, W. 2007. Ecoing the Other(s): The Call of Global Green and Black African Responses. In: Olaniyan, T. & Quayson, A., reds. African Literature: An Anthology of Criticism and Theory. Oxford: Blackwell, 683–697.

Slovic, S., Rangarajan, S. & Sarveswaran, V. 2015. Introduction. In: Slovic, S., Rangarajan, S. & Sarveswaran, V., reds. Ecocriticism of the global south. Londen: Lexington Books. pp. :1–10.

Smiley, S.P. 1999. Musing the Garden: A Poetics of Space and Emplacement. Louisiana: Louisiana State University. (Proefskrif – PhD). Geraadpleeg: 14 Januarie 2022

Smith, C. 2016. Die vrou, swangerskap en die dier in die kortverhaal “Katvoet” deur Riana Scheepers: ’n fenomenologiese ondersoek. LitNet Akademies, 13(2):227–252.

Smith, C. 2018. ’n Ekokrities-filosofiese perspektief op die kortverhaal “Katvoet” (Riana Scheepers). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58(2):310–329.

Smith, S. 2012. Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies, 9(3):887–928.

Smith, S. 2013. Ekokritiek: In gesprek met Susan Smith. LitNet Seminare. Geraadpleeg: 23 Julie 2024.

Smith, S. 2022. Op weg na ’n eiesoortige Afrikaanse ekokritiek: ’n Ontleding van die gedigreeks “werf” in die bundel Mede-wete (2014) van Antjie Krog. LitNet Akademies 19(1):205–31.

Steenkamp, E.L. 2011. Identity, Belonging and Ecological Crisis in South African Speculative Fiction. Grahamstown: Rhodes University (Proefskrif – PhD).

Sullivan, H.I. 2022. Editorial. Ecozon@, 13(2): i–iv. Geraadpleeg: 2 Augustus 2024.

Tally, R.T. jr. 2013. Introduction: On Geocriticism. In: Tally, R.T. jr., red. Geocritical Explorations. New York: Palgrave Macmillan, pp. 1-9

Tally, R.T. jr. & Battista, C. 2016. Introduction: Ecocritical Geographies, Geocritical Ecologies, and the Spaces of Modernity. In: Tally, R.T & Battista, C.M., reds. Ecocriticism and Geocriticism. Overlapping Territories in Environmental and Spatial Literary Studies. Londen en New York: Palgrave Macmillan. pp.1–15

Tempelhoff, J. 2021. Die Antroposeen en historiese bewussyn. Tydskrif Vir Geesteswetenskappe, 61(2):429-451.Darian-Smith, K. 1996 Introduction. In: K. Darian-Smith, Gunner, L. & Nuttall, S., reds. Text, Theory, Space: Land, Literature and History in South Africa and Australia. Londen en New York: Routledge. pp. 1-9.

Thomashow, M. 1999. Toward a Cosmopolitan Bioregionalism. In: McGinnis, M., red. Bioregionalism. Londen: Routledge, 121–132.

Van Heerden, N. 2021. Toekomstaal, saadstories en ekokritiek in Alettie van den Heever se Stof. LitNet Akademies, 18(1):87–132.

Viljoen, L. 2019. Hand my hond: ’n Dierestudies-perspektief op verskyningsvorme van die hond in die digter se latere poësie. In: Galloway, F., red. Breyten Breytenbach: Woordenaar, woordnar. Pretoria: Protea Boekhuis: pp. 121-151.

Viljoen, L. 2021. Dystopian ecologies: Thinking about South African ecocriticism through a comparative reading of Henrietta Rose-Innes’s Green Lion and Alettie van den Heever’s Stof (Dust). Journal of Literary Studies, 37(1):20–35.

Visagie, A. 2013. Pasmaatspesies, niemenslike diere en die omgewing: gedagtes oor die postkoloniale ekokritiek in Suid-Afrika. LitNet Seminars and Essays. Geraadpleeg: 4 Julie 2024.

VivA Woordeboekportaal. s.j. Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT) aanlyn. Geraadpleeg: 22 Junie 2024.

Warren, K.J. 2015. Feminist environmental philosophy. Stanford Encyclopedia of Philosophy. Geraadpleeg: 25 Mei 2021.

Weik von Mossner, A. 2017. Affective Ecologies: Empathy, Emotion, and Environmental Narrative. Columbus: Ohio State University Press.

Weik von Mossner, A. 2020. Affect, Emotion, and Ecocriticism. Ecozon@, 11(2):128−136. Geraadpleeg: 4 Julie 2024

Westphal, B. 2011. Geocriticism. Real and fictional spaces. Vertaal deur R.T. Tally. New York: Palgrave Macmillan.

Zapf, H. 2006. The state of ecocriticism and the function of literature as cultural ecology. In: Gersdorf, C. & Mayer, S., reds. Nature in Literary and Cultural Studies. Transatlantic Conversations on Ecocriticism. Amsterdam: Rodopi. pp. 50–69.

Zapf, H. 2016. Literature as Cultural Ecology: Sustainable Texts. Bloomsbury: Bloomsbury Academic Press.