LESERROL

Die verhouding tussen die literêre TEKS en lesers is reeds deur Plato as die etiese en politieke uitwerking van die literatuur op werklike lesers beskryf. Hierdie passiewe en tekseksterne leserrol word deur die literatuursosiologie en literatuurdidaktiek ondersoek. Die psigologiese en subjektiewe uitwerking van die lite­ratuur is reeds deur Aristoteles geformuleer in sy definisie van die tragiese effek as die katarsis van vrees en medelye. In die literatuurkritiek was die leserrol meestal beperk tot geskoolde tekskommentaar, en subjektivisties of psigologisties beskryf in terme van belesenheid, goeie smaak of etiese beginsels. Die leser as interpreteerder is die onderwerp van die HERMENEUTIEK wat die verhouding tussen teks en leser as interpretasieprobleem ondersoek.

Sedert 1960, as reaksie op klassieke en konvensioneel-strukturalistiese OUTONOMIEBESKOUINGS waarvolgens tekste objektiewe betekenisse of geslote strukture is wat m.b.v. modelle weergegee kan word, kry die leserrol nuwe literatuurwetenskaplike waarde, met as sterkste vernuwende lesergesentreerde benadering die Duitse RESEPSIE-ESTETIKA (W. Iser, H.R. Jauss e.a.). Die leser word as teksinterne faktor en die literatuur-leser-verhouding as interaksie en interafhanklik beskryf. Hiermee word nie teruggekeer na die konvensionele subjektivisme van die affective fal­lacy nie, maar eerder erken dat tekste altyd eerstens gelese tekste is. Die Literatuurwetenskap word geprovokeer om selfrefleksief te word en die leesaktiwiteit as basis in sy eie benaderings te erken.

Die teorie oor die leserrol probeer die volgende vrae beantwoord: Waar is die teks in die leser? Waar is die leser in die teks? Watter tekstuele en ekstratekstuele faktore bepaal lees- en verstaanswyses? Kan lees/verstaan epistemologies begryp word, bv. m.b.v. fenomenologiese, semiologiese, hermeneutiese of ander modelle, en kan dit empiries beskryf word m.b.v. psigologies- of sosiologies-statistiese metodes?

Howel W. Booth reeds met die begrip “IMPLISIETE LESER” ʼn teksbepaalde leserrol formuleer, skep die Praagse STRUKTURALISME (Mukařovský, Vodička) die eerste teksdefinisie wat die leser as noodsaaklik, teksvoltooiend en betekenisgewend beskryf, omdat dit die literêre boodskap in die struktuur van die teks sien en nie in gegewe wêreldbeskouings of ideale betekenisse nie.

Die sender-boodskap-ontvanger-model van die waarnemings- en informasieteorie, gebruik deur strukturaliste soos R. Jakobson, ken ook ʼn teksverankerde rol aan lesers toe, maar die eerste omvattende beskrywing van sy rol as betekenisgewer kom van R. Ingarden (1973) wat op grand van ʼn fenomenologiese teksbeskrywing die leserrol verduidelik as KONKRETISERING van bloot materiële teksdata tot sinvolle semantiese of referensiële gegewens en die rekonstruksie van die teks tot sinvolle betekenisgeheel op grond van hierdie konkretiserings. Die leser is egter slegs hulpmiddel by die vorming van ʼn ideële teksgegewe ESTETIESE OBJEK. W. Iser (1974) se fenomenologiese model van die leesproses formuleer ʼn leserrol waardeur die teks in die leser en die leser in die teks in ʼn verhouding van interaksie en wedersydse afhanklikheid beskryf word. Iser beskou ʼn literêre teks as ʼn seleksie en betekenisopheffende kombinasie van bekende literêre, kulturele en ander betekenissisteme in die werklikheid. Die teks as geheel en in onderdele is asimmetries t.o.v. die werklikheid. Dit impliseer ʼn leser en maak sy rol teksintern aantoonbaar, nl. by die lees-of betekenisonderbrekings. Die teks is ʼn FIKTIEWE waarnemingsontwerp en die leesproses ʼn opbou van betekenisperspektiewe in die leser wat ʼn estetiese of literêre ervaring moontlik maak. Die leserrol word beskryf as psigiese teksverwerking en subjektiewe ervaring gerig deur die teksstruktuur.

Hierdie teorie formuleer die leserrol volgens die leesproses. Volgens die fenomenologiese model verwerk die leser spontaan en passief teksdata wat geredelik herleibaar is tot vir hom bekende betekenissisteme of KODES, totdat die kodes deur tekstuele vervlegting onderbreek word en hy tot aktiewe betekenisvorming gedwing word, en so by die teksvorming betrek word. Elke nuwe betekenisvorming wysig die reeds gelese en geïnterpreteerde teks wat as geheue in die leser aanwesig is en skep verwagtings t.o.v. die daaropvolgende nie-gelese teks. (Vgl. VERWAGTINGSHORISON.) Gedurende die betekenisgewende proses moet die leser tekswêreld en eie wêreld verbind. Die tekstueel bepaalde implisiete leser word ʼn ekstratekstuele werklike leser. Dit beteken dat die leser ʼn teks steeds ook in die lig van sy eie waardestelsels of betekeniskodes lees. Hierdie leserrol het eties-didaktiese implikasies: die teks dwing die leser tot formulering van nuwe be­tekenisse vir hom waardeur hy tydelik bevry word van heersende ideologiese, kulturele, semantiese of ander betekenissisteme.

Die teksstruktuur is ʼn struktuur beplan om ʼn bepaalde uitwerking op lesers te hê; betekenisgewing deur die leser verwesenlik hierdie uitwerking. Betekenisgewing word hier as dinamiese, sintetiserende en subjektiewe proses beskryf.

Spraakhandelingsteoretiese teksbeskrywings wat tekste as performatiewe spraakhandelinge beskryf waarby die pragmatiese gespreksituasie van sender, ontvanger en konteks ontbreek, maak die leser en sy leeswyse tot die PRAGMATIESE veld van die gedig. (Vgl. TAALHANDELING EN DIE LITERATUUR.) Die leser funksionaliseer die teks omdat hy daaraan ʼn reële situasie verskaf en die betekenissisteme van ʼn histories en kultureel omskrewe werklikheid met die teks verbind.

Semiologiese teksdefinisies maak ooreenstemmende beskrywings van die leserrol moontlik, maar verskil in die mate van kreatiwiteit en subjektiwiteit wat toegelaat word. Waar die teks beskryf word as ʼn SEMIOTIESE proses opgebou uit semantiese en referensiële taalmateriaal, is die betekenisgewing van die leser die subjek­tiewe plek waar die semiotiese proses homself kan afspeel. Die leesproses verloop eers referensieel en taalmatig. Die leser maak semantiese en ander groeperings. Daarna lees hy a.g.v. teksbepaalde hindernisse hermeneuties waarby hy teksoorspannende herhalings, parallelismes of omkerings vorm en INTERTEKSTUELE konnotasies maak. Die leserrol is strukturerend. Lees en be­tekenisgewing word ook beskryf as DEKODERING van die kodekombinasies waarmee tekste lesers konfronteer.

Alle modelle vir teks-leser-interaksie berus op die aanname dat tekste en lesers sekere betekenissisteme of konvensionele denkwyses (kodes) deel. Hulle fundeer die verstaanproses en dien as basis vir die betekenisgewende, teksstrukturerende rol van die leser. Hierdie gedeelde betekenissisteme word o.m. as VERWAGTINGSHORISON, kode, of literêre KOMPETENSIE beskryf en kan gespesifiseer word as: literêre kennissisteme wat na GENRES, retoriese tegnieke en leserverwagtings t.o.v. sin, samehang en FIKTIWITEIT verwys; taalkodes wat na taalkennis verwys maar ook ʼn verbale kompetensie op ʼn hoër vlak kan insluit waardeur afwykende visuele en akoestiese taaleffekte verstaanbaar word; IDEOLOGIESE sisteme wat verwys na kultureel, maatskaplike of polities bepaalde wêreldbeskouings en waardestelsels maar wat enige vanselfsprekende konvensies, byvoorbeeld t.o.v. menslike gedragspatrone, kan insluit; referensiële kodes wat verwys na kennisgebiede of feitelikhede en wat aktualiteite kan insluit; ander, bv. simboliese denkwyses, hermeneutiese, ontraaiselende leeswyses, ens.

Empiriese, psigologiese en sosiologiese lesernavorsing bevestig die teoretiese beskrywings van die leserrol. Literêre verstaansprosedures verloop van (taal)-betekenisvulling na die soek na samehang en die beoordeling van die teks in die lig van die eie wêreld. Geslag, ouderdom, agtergrond, onderrig en ander sosiologies-psigologiese faktore beïnvloed die leser.

Die leser word normaalweg as na-voltrekker van ʼn gegewe en objektief beskryfbare teksstruktuur gesien. Die lesergerigte STILISTIEK beskryf egter die emotiewe en kognitiewe reaksies van lesers as die enigste en direkte weergawe van die teks self: die leserreaksie is die teks. Pogings is aangewend om die leesproses psigoanalities i.t.v. afweermeganismes en betekenisgewing deur projeksie te beskryf.

Onvoldoende empiriese navorsing beperk beskrywings van die leserrol tot teoretiese modelle. Beskrywings van die leserrol is afhanklik van teksdefinisies. Hoe die werklike leser bepaalde werke op bepaalde tye lees, en hoe betekenis lyk, is nog nie vasgestel nie. Die meeste leserrolbeskrywings is afhanklik van ʼn postulaat van geslote subjektiwiteit wat deur die POST-STRUKTURALISTIESE filosofie en psigologie bestry word. Die post-strukturalistiese teorie sien die leserrol as die verbinding van die tekstuele met ander kodes. Die leser is die plek van intertekstualiteit en multikodifikasie omdat hy self ʼn teks of kode is. Die teks word nie meer met betekenis ingevul of gestruktureer nie, maar met kodes aangevul. Die leser rond nie die teks af nie, maar versprei hom.

Die teksinterne/implisiete leser asook ander leserrolle word beskryf in Link (1976) en Malan (1983), terwyl Iser (1974, 1975 asook 1979) die leser in die leesproses beskryf. Leser en verwagtingshorison word bekendgestel in Jauss (1970) en toegepas in Segers (1979). Literêre kompetensie word deur Culler (1983) beskryf, terwyl Eco (1979) die verband tussen leser en kode uiteensit. Segers (1979) en Grimm (1975) bied voorbeelde van empiriese resepsienavorsing, terwyl Barthes (1974 en 1975) asook Culler (1983) die post-strukturalistiese leserdefinisie behandel. Praktiese voorbeelde van die ontleding van die leserrol kan gevind word in Suleiman en Crossman (1980), Segers (1979) en Malan (1983). Holub (1984) verskaf definisies en agtergrond to.v. resepsie en die leser.

(Vgl. KOMPETENSIE (LITERÊRE)RESEPSIETEORIE en LESERTIPES.)

 

Bibliografie

Barthes, R. 1974. S/Z. New York: Hill & Wang.

Barthes, R. 1975. The Pleasure of the Text. New York: Hill & Wang.

Bleich, D. 1978. Subjective Criticism. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Culler, J. 1979. Structuralist Poetics: Structuralism, Linguistics and the Study of Literature. Ithaca: Cornell University Press.

Culler, J. 1983. On Deconstruction. Theory and Criticism after Structuralism. Ithaca: Cornell University Press.

Derrida, J. 1976. Of Grammatology. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Eco, U. 1979. The Role of the Reader: Explorations in the Se­miotics of Texts. Bloomington: Indiana University Press.

Fish, S. 1970. Literature in the reader: affective Stylistics. New Literary History, 2(1).

Fish, S. 1980. Is There a Text in this Class?: The Authority of Interpretative Communities. Cambridge: Harvard University Press.

Gadamer, H-G. 1975. Truth and Method. London: Sheed & Ward.

Grimm, G. 1975. Literatur und Leser: Theorien und Modelle zur Rezeption literarischer Werke. Stuttgart: Reclam.

Groeben, N. 1972. Literaturpsychologie: Literaturwissenschaft zwischen Hermeneutik und Empirie. Stuttgart: Kohlhammer.

Holland, N. 1975a. 5 Readers Reading. New Haven: Yale Univer­sity Press.

Holland, N. 1975b. Unity identity text self. PMLA, 90.

Holub, R.C. 1984. Reception Theory: A Critical Introduction. New York: Methuen. (New Accents.)

Ingarden, R. 1973. The Literary Work of Art: An Investigation on the Borderlines of Ontology, Logic, and the Theory of Litera­ture. Evanston: Northwestern University Press.

Iser, W. 1972. The reading process: a phenomenological approach. New Literary History, 3.

Iser, W. 1974. The Implied Reader: Patterns of Communication in Prose Fiction from Bunyan to Beckett. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Iser, W. 1975. The Act of Reading: A Theory of Aesthetic Response. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Iser, W. 1976. Der Akt des Lesens: Theorie ästhetischer Wirkung. München: Fink.

Iser, W. 1979. The Act of Reading. London: Routledge & Kegan Paul.

Jauss, H.R. 1970. Literaturgeschichte als Provokation. Frankfurt am Main: Suhrkamp.

Link, H. 1976. Rezeptionsforschung: eine Einführung in Methoden und Probleme. Stuttgart: Kohlhammer.

Malan, C. (red.). 1983. Letterkunde en leser. ʼn Inleiding tot lesergerigte literêre ondersoeke. Durban/Pretoria: Butterworth.

Naumann, M. et al. 1976. Gesellschaft, Literatur, Lesen. Ber­lin: Aufbau.

Palmer, R.D. 1969. Hermeneutics: Interpretations Theory in Schleiermacher, Dilthey, Heidegger and Gadamer. Evanston, Ill.: Northwestern University Press.

Riffaterre, M. 1959. Criteria for style analysis. Ward, 15.

Segers, R.T. 1979. Receptie-esthetica. Grondslagen, theorie en toepassing. Amsterdam: Huis aan de drie grachten.

Segers, R.T. 1980. Het lezen van literatuur. Baarn: Ambo Basisboeken.

Suleiman, S. & Crossman, I. (eds). 1980. The Reader in the Text: Essays on Audience and Interpretation. Princeton: Princeton University Press.

Tompkins, J.P. (ed.). 1980. Reader-Response-Criticism: From For­malism to Post-Structuralism. Baltimore: Johns Hopkins Univer­sity Press.

Warning, R. (ed.). 1975. Rezeptionsästhetik: Theorie und Praxis. München: Fink.

 
Marianne de Jong