Die verband(e) tussen literatuur en lewensbeskouing, d.w.s. die som van die mens se oortuigings i.v.m. die werklikheid, is een van die mees basiese vraagstukke in die geskiedenis van die Literatuurwetenskap. Die kompleksiteit van hierdie verband blyk eers as in gedagte gehou word dat “lewensbeskouing” na meer as een betrokkene by die literêre TEKS kan verwys: skrywer, LESER, hulle implisiete korrelate in die teks, implisiete outeur en implisiete leser, en selfs die gemeenskap waarbinne ʼn teks onbewuste konfrontasie of simbiose van die leser se eie lewensbeskouing of vooronderstellings en visioenêre hoek met dié van (ʼn ander in) ʼn teks is. Daarbenewens het lewensbeskouing (wêreldbeskouing, mensbeskouing en godsbeskouing) soveel fasette dat teoretici en ondersoekers hulle deur die eeue dikwels net met sommige van die fasette op een slag besig gehou het. Die hantering van die probleem ontwikkel uiteraard parallel met die ontwikkeling van die benadering van die literatuur en werklikheid tot die ontvangs van ʼn teks deur die leser en uiteindelik die EVALUERING van ʼn teks. As probleme is hierdie aangeleenthede baie eng met mekaar verweef, sodat met stelligheid beweer kan word dat die probleme van literatuur en lewensbeskouing draai om die wyse waarop lesers reageer op dit wat ʼn leser uit ʼn teks kan aflei as die siening van “waarheid” wat uit die teks spreek.
Reeds in die tyd van Plato het denkers besin oor die verhouding tussen die “waarheid” wat in ʼn literêre teks vergestalt is, en die “waarheid” van die reële werklikheid soos wat die leser dit vanuit sy sisteem van vooronderstellings opneem. In samehang daarmee word die geskiedenis van denke oor die literatuur oor die algemeen gekenmerk deur die beskouing dat dit ʼn wesenlike funksie van die literatuur is om aan die “waarheid” gestalte te gee en is literêre tekste, wat werklikheidsiening betref, baie soos die filosofie of die wetenskap benader. Hiervolgens is slegs die ongelooflike of duidelik valse dramatiese voorstelling van “onwaar” verwerp; dus was die oorspronklike vraag oor die beskoulike in ʼn teks eerder ʼn waarskynlikheidstoets of die werklikheidsbeelding in ʼn teks met die uiterlike van die alledaagse werklikheid ooreenkom.
Ter toeligting van die begrip is dit nuttig om die ontwikkeling van die benadering van hierdie probleem deur digters en denkers rondom veral die Engelse poësie sedert die 19e eeu te volg. In die 19e eeu het die probleem rondom wat in Engels belief genoem is, ʼn belangrike plek ingeneem in die stryd tussen sciëntisme en ESTETISISME of tussen wetenskap en digkuns. Estetisiste het die digter beskou as verhewe bo “blote” wetenskaplike waarheid, terwyl sciëntiste die digter se aanspraak op die “waarheid” ontken het. In die POSITIVISTIESE tydgees van die 19e eeu verloor die woordkunstenaar sy aanspraak daarop dat hy hom met die “waarheid” besig hou en word sy wyse van hantering van die lewensbeskoulike in verband gebring met emosionele bevrediging. Hieruit vloei die eis van “willing suspension of disbelief’ (woorde van Coleridge) aan die leser as “oplossing” vir die probleem van moontlike beskoulike konfrontasie tussen kunsteks en leser voort. Dit veronderstel ʼn “kontrak” tussen skrywer en leser, waarvolgens die leser aangemoedig word om te veronderstel dat die wêreld van die teks reëel of moontlik is i.p.v. om te “onthou” dat dit FIKSIONEEL en/of onmoontlik is. So, word in vooruitsig gestel, kan die leser hoop om (emosionele) bevrediging te smaak en ontdekkings te maak wat betrokkenheid by die wêreld van die teks, en nie afstand nie, vereis.
Die Christelike digter-geleerde Matthew Arnold (1880) sien die probleem van die lewensbeskoulike in die literatuur as ʼn botsing tussen geloof en kennis. In sy “Literature and society” (1882) skryf hy by implikasie die aanspraak van die digkuns op die “reële” waarheid af. So kan die literatuur die funksie van die godsdiens verrig en emosionele bevrediging verskaf sonder dat die leser by die lewensbeskoulike in die werk betrokke raak. Wat die literêre werk “sê”, is net gerig op die emosionele effek, sodat eventuele botsing tussen die lewensbeskouing van teks en leser irrelevant word by beoordeling van die teks. Dit word ook die standpunt van die positivis I.A. Richards, wat die literêre kommunikasie beskou as emotiewe DISKOERS (Principles of Literary Criticism, 1924) met ʼn pseudo-statement (Science and Poetry, 1926) teenoor die alledaagse referensiële diskoers.
Volgens T.S. Eliot (1932) kry die woordkunstenaar sy oortuigings uit sy omgewing. Hulle is egter Moot roumateriaal vir sy gedig, wat bestaan uit emosionele ekwivalente wat deur die simboliese objek (objective correlative) van sy gedig bepaal word. Aangesien die digter slegs die objektiewe ekwivalente van sy emosies in sy teks kan oordra, is die gehalte van die beskoulike (belief) in die teks volgens hom irrelevant vir die gehalte van die gedig. Mits die beskoulike getuig van rypheid en intelligensie, moet dit nie in die weg staan van die lees van die gedig nie. Dan moet die leser dit “vergeet” en konsentreer op dit wat tel, nl. die vergestalting van die emosies wat die outeur as draer van dié bepaalde lewensbeskouing ervaar. Eliot erken wel dat die vergestalte lewensbeskouing (bv. in sekere Shelley-tekste) ʼn hindernis kan wees by die lees van die teks, maar skei die gedig en sy lewensbeskoulike aspek van enige soort “waarheid”. Die funksie wat hy aan die lewensbeskoulike toeken, is dus hoogstens die negatiewe, dat dit ʼn hindernis vir die oordra van die emotiewe kan wees. Sy tweedeling tussen die lewensbeskoulike en die emotiewe in die gedig, in ooreenstemming met die tradisionele onderskeid VORM: inhoud, is egter nog ver van die kontekstuele benadering van tekste wat tans breed aanvaar word. Hierdie onderskeid maak dit vir hom onmoontlik om die geïntegreerdheid van die idee in bv. sommige gedigte van Shelley te herken, sodat hy die tekortkoming wat hy opmerk aan die belief, dus aan die “inhoud”-aspek van die tweedeling vorm:inhoud, i.p.v. aan die samehang van die twee, toeskryf.
Die vraag of die beskouing van die (implisiete) *outeur van ʼn teks pueriel is of nie, word steeds gesien as ʼn nie-literêre vraag en gewoonlik as een wat nie opgelos kan word deur na die “objektiewe” aspekte van die werk te verwys nie (vgl. Preminger (1979: 76) in die Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics).
Die vraag na die samehang tussen die beskoulike en aanskoulike aspekte van ʼn teks, word terdeë algemeen aanvaar as ʼn literêre vraag, wat slegs opgelos kan word na deeglike ondersoek van die “objektiewe” aspekte van die teks. Die finale toets sal dan wees of die teks funksioneer as ʼn “fully self-contained aesthetic object” (Preminger, 1979: 76), m.a.w. of die beskouing (statements) van die teks slegs referensieel of suiwer kontekstueel funksioneer. Dus, die beskouingprobleem in die “kontrak” tussen teks (outeur) en leser in die literêre kommunikasieproses, is steeds in die eerste helfte van die 20e eeu in die Engelse denke brandend, in die sin dat die beskoulike weens die potensiële hinderlikheid daarvan vir die resepsie van ʼn teks as literêr irrelevant beskou is.
Hierdie benadering is tesame met die STRUKTURALISTIESE literatuur-benadering en die verhouding van eenstemmigheid tussen outeur en leser in die “lojale” of “lojale verset”-werke in Afrikaans die agtergrond van die denke oor hierdie probleem. Die lewensbeskoulike vernuwing in die werke van prominente Sestiger-prosaïste het die ou vrae opnuut maar sterk polemies na vore laat kom. In hierdie krisis skrywer:gemeenskap rondom die Sestiger-vernuwing het literatore soos A.P. Grové (1969: 48) die denke op hierdie gebied uitgebou deur te wys op die kompleksiteit van die “boodskap” van ʼn groot werk en die noodsaak om bv. die roman as geheel (volgens Botha (1969: 99) van “lering-en-vermaak”) “as struktuur wat sy eie sê sê” te lees en te beoordeel. Hoewel hierdie benadering die probleem van literatuur en lewensbeskouing beter toelig, bring dit nog geen ander oplossing nie as Coleridge se beleid van “willing suspension of disbelief’, m.a.w. die wens om deel te hê aan ʼn “skone”, geordende wêreld wat vir jou kunstige bevrediging bring selfs al bevat dit elemente wat teen die leser se beskouing indruis. Dit laat heelwat teoretiese en praktiese vrae egter onbeantwoord.
As die leser as ʼn mens met ʼn eenheidspersoonlikheid beskou word en die literêre teks is ʼn eenheid, hoe moet die leser, en in besonder die kritikus, ʼn teks hanteer waarvan die lewensbeskoulike aspek van dié van die leser verskil? Ironisering en SATIRISERING van die “wêreld” van ʼn teks kompliseer hierdie probleem. Dit word reeds besef i.v.m. die romantiese IRONIE in die werke van die Duitsers Achim von Arnim en E.T.A. Hoffmann, waarin die aanvaarding van die “wêreld” wat geskep word juis ondermyn word en spanning geskep word tussen die leser se wens om dit te aanvaar en die appèl om skepties daarteenoor te staan. Die skepties-militante werklikheidsinstelling van die outeur in werke van outeurs van bv. die nuwe Afrikaanse prosa, soos Etienne Leroux en André P. Brink, dra tot hierdie komplisering van die probleem by.
Hierdie vraag is verdiep deurdat mettertyd ook die probleem van literatuur en etiek daaraan gekoppel is. En haas geen Westerse literatuur wat die 20e-eeuse waardekrisis beleef het en waarmee Christen-kritici krities omgegaan het, het die worsteling hiermee vrygespring nie (te oordeel aan die bibliografie in Steenberg, 1981).
Uiteraard sluit die volgende teoretiese obskure vraag hierby aan: hoe moet twee goeie tekste met teenoorgestelde beskouings krities benader word, m.a.w. kan die lewensbeskoulike in ag geneem word by evaluering van ʼn teks?
Antwoorde op hierdie vrae is langs twee uiteenlopende weë gesoek, nl. die monistiese weg van die ideologiese literatuurbenadering en die weg van erkenning van diversiteit, wat moontlik gemaak word met die verfyning van begrippe deur teoretici van die Resepsie-estetika. (Vgl. RESEPSIETEORIE.)
Die ideologiese benadering van hierdie probleem is nie tot die MARXISTIESE literatuurbeskouing beperk nie. Stemme van hierdie aard kom ook uit die Christelike denksfeer. Die bekendste hiervan is dié van die kunsfilosoof Calvin Seerveld, wat uitgaan van die stelling: “Art is worship. Art is a symbolically significant expression of what lies in a man’s heart, with what vision he views the world …” (1968: 28). Hoewel hy ʼn spontane Christelike literatuur bepleit, stel hy hom op die standpunt van Abraham Kuyper (in Seerveld, 1968: 119) soos uiteengesit in De gemene gratie (III: 522): “Dat wij, die belijden, ook de wetenschap aangrijpen als een instrument voor de propaganda van onze geloofsoortuiging”, in teenstelling met die Kommunistiese siening van kuns en literatuur as magtige wapen om die vyand mee te vernietig.
Die verwikkeldheid van die kommunikasieproses waarby die lewensbeskoulike in ʼn teks betrokke is, het reeds begin blyk by die besef waarvan M.H.P. in Roger Fowler se A Dictionary of Modern Critical Terms (1973: 21) gewag maak, nl. dat, anders as wat Seerveld (1968) beweer, ʼn skrywer daarna kan streef om sy beskouing in sy woordkunswerk te verdoesel of (moontlik a.g.v. die onderhawige tema) aspekte van sy lewensbeskouing weg te laat by die skryf van sy teks. Die strukturalistiese teksgerigtheid lei daartoe dat die lewensbeskoulike suiwer vanuit die teks as skepping van ʼn implisiete outeur benader word en daar tussen die verskillende aspekte daarvan onderskei word. Die resepsie-estetiese begrip kulturele VERWAGTINGSHORISON, wat verwys na die totaal van die toerusting wat veronderstel word vir die ontsluiting van ʼn bepaalde literêre teks, sluit die veronderstelde lewensbeskoulike kermis van die implisiete outeur in. Sinvolle ontsluiting van die teks is alleen dan moontlik wanneer die verwagtingshorison van die leser (dus implisiete leser) daarmee korreleer. Wat so ʼn leser ontsluit, is dan nie die (vanselfsprekende) verwagtingshorison waarop begrip van die teks berus nie, maar wel die visie van die implisiete outeur.
Die visie van die implisiete outeur in ʼn teks word volgens Fowler (1973: 22) gesteun of versterk deurdat in ʼn teks bv. deur beelding van KARAKTER, RUIMTE en PLOT ʼn so groot moontlike waarskynlikheid tot stand gebring word en die skeptiese leser so oorreed word om wat in die teks aangebied word, as moontlik te aanvaar. Verder word dit ook bewerkstellig deur die volgehoue aanbieding van ʼn samehangende wêreld, deur “metafisiese patos” (term van Lovejoy, 1965: 10–14) by die leser op te wek en deur ʼn nie-intellektuele appèl (bv. treffende poësieritme (vgl. RITME (IN DIE POËSIE)) of assosiasie met die imponerende verhaalfiguur) om intellektuele idees. Hans van den Bergh (1979) benader die probleem van oordrag van beskouing in ʼn verhalende prosateks deur uit resepsieteoretiese oogpunt aan te dui hoe die precédés wat die verhouding tussen implisiete outeur en leser beïnvloed, aangewend word om die gunstigste gesindhede, nl. ʼn outentisiteitsverhouding, ʼn betroubaarheidsverhouding en verwantskapsverhouding by ʼn leser tot stand te bring.
Met die erkenning dat deur verskillende werklike lesers verskillende estetiese objekte uit dieselfde ARTEFAK tot stand gebring kan word, word die resepsie van ʼn bepaalde teks so gedifferensieer dat vir alle lesers wat die literêre verwagtingshorison van ʼn bepaalde teks deel, interpretasie en omgang met ʼn teks die aard van ʼn gesprek aanneem, omdat die opvatting van die teks as dokument (soos by die genetiese teorieë) of as monument (soos by Strukturalisme) plek gemaak het vir ʼn opvatting van die teks as teken.
Verder baan die kritiese model van H.T. Boonstra (1979) die weg vir gedifferensieerde kritiek, sodat die kritikus wat ʼn teks spesifiek lewensbeskoulik wil benader, dit kan doen op grond van ʼn “morele argument” of ʼn “didaktiese argument”, met inagneming daarvan dat ʼn “kompositoriese argument” (vgl. Boonstra, 1979: 247, 248 en 248 resp.) ook ʼn duidelike plek in ʼn model van norme het. ʼn Franse kritikus, Pierre Chazel (in Berchtold, 1964: 545) vat die ideale hantering van die lewensbeskoulike in ʼn teks deur ʼn kritikus uit Christelike oogpunt soos volg saam (vry vertaal): “Sonder dat hy dit aanval, sal hy dit wat die kuns graag met ʼn waas omhul, helderder omlyn. Hy sal die kunstige omgang met die woord bewonder, maar hy sal aandui wat daarin opgesluit lê; hy sal dwalinge aan die lig bring en die koring van kaf stroop.”
(Vgl. IDEOLOGIEKRITIEK en LITERATUURSOSIOLOGIE.)
Bibliografie
Abbing, P.J.R. 1977. Norm, inhoud en werking. In: Van der Ent, H. (red.). Literatuur en ethiek. ‘s-Gravenhage: Boekencentrum.
Arnold, M. 1880. The study of poetry. In: Ward, T. The English Poets. London: Smith Elder.
Arnold, M. 1882. Literature and society. In: Arnold, M. Irish Essays and Others. London: Smith Elder.
Berchtold, A. 1964. Critique protestante. Reformatio, 13(9).
Boonstra, H.T. 1979. Van waardeoordeel tot literatuuropvatting. De gids, 4.
Botha, E. 1969. Die roman en die gemeenskap. In: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die kuns en die gemeenskap. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Eliot, T.S. 1932. Hamlet. In: Eliot T.S. Selected Essays. London: Faber & Faber.
Gardner, H. 1983. Religion and Literature. Oxford: Oxford University Press.
Grové, A.P. 1969. Die literatuur en die gemeenskap. In: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die kuns en die gemeenskap. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Lovejoy, O.A. 1965. The Great Chain of Being. New York: Harper & Row.
Richards LA. 1924. Principles of Literary Criticism. London: Routledge & Kegan Paul.
Richards, LA. 1926. Science and Poetry. London: Routledge & Kegan Paul.
Seerveld, C.G. 1968. A Christian Critique of Art and Literature. Toronto: ARRS.
Servotte, H. 1966. Literatuur als levenskunst: essays over hedendaagse Engelse literatuur. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel.
Steenberg, D.H. 1981. Lewensbeskouing en literatuurbenadering. In: Interpretasie en oordeel. Potchefstroom: PU vir CHO.
Van den Bergh, H. 1979. De verteller als strateeg. In: Segers, R.T. (red.). Lezen en laten lezen. ‘s-Gravenhage: Nijhoff.
D.H. Steenberg