LITERATUURSOSIOLOGIE

Die literatuursosiologie kan beskou word as ʼn byna onoorsigtelike veld wat nog omtrent glad nie in institute of formele strukture georganiseer is nie. Dit is daarom ook haas ondefinieerbaar en bestryk ʼn reeks navorsingsprogramme wat almal min of meer die oortuiging deel dat LITERATUUR (ook) ʼn sosiale verskynsel is en dat literatuur en samelewing mekaar weerspieël of wedersyds beïnvloed. Die literatuur kan vergelyk word met die fantastiese spieël in Andersen se “Sneeukoningin” wat aspekte van die werklikheid sistematies misweerkaats, vergroot of verklein, verdraai of weglaat (Ferguson et al., 1988). Volgens Ferguson et al. daag die literatuursosiologie hierdie spieëls en hulle uitvinders uit en ondersoek die wanweerkaatsings en die gevolge daarvan. Volgens hulle moet die literatuursosiologie ook aandag skenk aan die spieël se raam, d.w.s. die institusionele en intellektuele konteks van die teks, en die duiweltjies wat dit vashou, d.w.s. die agente wat die teks versprei en KANONISEER. Daarom kan die literatuursosiologie nie net die literêre teks of literêre instellings bestudeer nie, maar moet dit teks, instellings en individu integreer – spieël, raam en duiweltjies.

Vandag kan die literatuursosiologie nie meer summier afgemaak word, soos wat Wellek & Warren (1949) gedoen het, as ʼn sg. ekstrinsieke BENADERING nie. Hulle meen dat ekstrinsieke benaderings die literatuur wil wegredeneer, hoogstens van eksegetiese waarde is en nie die probleme van beskrywing, analise en EVALUERING van die werk kan oplos nie. Bowendien misken hulle die diskrepans tussen die werk en sy oorsake. Hierdie besware teen die literatuursosiologie kyk die vae grense van die begrip TEKS mis. Dit is ook verreweg nie moontlik om spesifiek literêre dinge soos METRUM, simboliek, GENRES of die KODES en konvensies waarbinne literatuur geproduseer word, slegs tot die individuele teks te beperk nie. Literatuur is tog ʼn omvattender nosie as teks of werk. (Vgl. egter HISTORIES-SOSIOLOGIESE BENADERING.)

Die meeste literatore deel waarskynlik ʼn oortuiging dat daar ʼn vae verband tussen die literatuur en die samelewing van sy tyd is. Immers, die hoë bloei van bv. die Sestigerkuns val saam met ʼn tydperk van ekonomiese (en nasionalistiese) hoogkonjunktuur in Suid-Afrika. GRENSLITERATUUR is nie los te dink van die politieke, ekonomiese of militêre konteks waarbinne dit ontstaan het nie. Dit is egter ook duidelik dat die literatuur self nie net ʼn versameling tekste is nie, maar ook ʼn sosiale instelling met sy eie indoenas en ampsdraers, sy ghoeroes en voorvroue, gebaseer op hulle literêre prestige en produksie, sukses in die verlede of baanbrekende werk. Die polemiek in 1988 tussen A.P. Brink en die sg. “Noordelike Mafia” getuig hoe fel die stryd om die voorste posisies kan wees.

In die literatuur speel nie net die skrywer, die teks en die leser ʼn belangrike rol nie, maar ook die sg. gatekeepers soos kritici, uitgewers, verspreiders, sensors, onderwysers, en aankopers by openbare biblioteke. Die uitvinding van die boekdrukkuns, die ontstaan van ʼn relatief onafhanklike literêre mark en die moderne uitgewersbedryf is sosiale verskynsels wat ʼn geweldige groot invloed op die literatuur uitoefen. Ohmann (1978) beklemtoon bv. die groot invloed wat die New York Times Book Review het op die kanonisering van literatuur in Amerika. Die invloed van die boekdrukkuns op die literatuur en die menslike denke word beklemtoon deur o.a. Ong (1982). Die elektroniese media sal waar­skynlik ʼn nog groter uitwerking op die menslike denke en kultuur hê. Dit dui al die talle literatuursosiologieë aan: daar is ʼn sosiologie van die outeur, van die leser, van die uitgewersbedryf en die verspreidingskanale, van die teks en van die evalueerders en gatekeepers.

Volgens Hall (1979) word daar in die literatuursosiologie binne veral ses teoretiese tradisies gewerk, nl. MARXISME, die sg. Engelse Skool, die studie van populêre kultuur, STRUKTURALISMEHERMENEUTIEK en die studie van die massamedia.

Marxisme in sy verskillende vorme was tot dusver die belangrikste impuls agter die literatuursosiologie. Marx het self nooit ʼn sistematiese teorie oor die verhouding tussen literatuur en die sa­melewing ontwikkel nie. Sy opvatting dat die materiële basis of onderbou die bobou bepaal, was egter baie invloedryk, al sweem sy siening van die verhouding tussen bo- en onderbou na ʼn meganistiese weerspieëling. (Materieel moet hier verstaan word as die ekonomiese produksiemiddele of -faktore – vgl. byvoorbeeld die uittreksel uit The German Ideology.) Marx se streng deterministiese siening van die geskiedenis waarvolgens die geskiedenis onafwendbaar op pad is na die klaslose maatskappy veroorsaak ook dat hy sukkel om te verklaar waarom mens vandag nog die kuns van vroeër tydperke kan waardeer. Dit het immers op ʼn primitiewe onderbou berus wat nouliks vir die laat-kapitalistiese fase van die geskiedenis nog relevant kan wees. Marx se verklaring vir die waarde van die Griekse kuns vir vandag is egter besonder naïef: hy skryf dit toe aan ʼn soort nostalgiese verlange van die mens na sy kinderjare (Marx, 1947/1959).

Marx raak dus twee belangrike literatuursosiologiese probleme aan, nl. die aard van die verhouding tussen literatuur en samelewing en die probleem van HISTORISME. (Vgl. ook MARXISME EN DIE LITERATUUR en IDEOLOGIEKRITIEK.) Hulle historisme is juis die groot gebrek van Marxistiese opvattings, omdat hulle neig om die literatuur in historistiese skemas in te dwing wat die inherente eienskappe daarvan misken en om ʼn simplistiese kousale verband tussen literatuur en samelewing te aanvaar.

Desondanks toon sleutelbegrippe waarmee daar in die literatuursosiologie gewerk word, soos vervreemding, die mark, klassestryd, IDEOLOGIE, ruilwaarde, ʼn sterk invloed van die Marxisme. Ander begrippe, soos kollektiewe bewussyn, anomie, waardevryheid, stam weer uit die POSITIVISME.

Waar die Marxiste die literêre “wegredeneer”, beklemtoon die sg. Engelse Skool, verteenwoordig deur Matthew Arnold en F.R. Leavis, die “close reading” van tekste in hulle siening van die literêre spieël. Hulle waardeer veral die waarheid van literatuur baie hoog en ag die komplekse struktuur van ʼn werk baie hoër as enige sosiologiese teorie. Deels daarom trek hulle die saak na die teenoorgestelde kant skeef: hulle ignoreer sosiologiese getuienis of redeneer dit weg.

Daarmee hang saam die hoë waarde wat hulle aan die kreatiwiteit van die OUTEUR heg. Raymond Williams (deels ʼn navolger van hierdie skool) meen bv. dat die taal nie net ʼn samelewing weerspieël nie, maar plooibaar is, kreatiwiteit toelaat en self ook bydra tot die skep van nuwe sosiale betekenisse.

Oor die algemeen is die sosiale waarheid wat die Engelse Skool in die literatuur ontdek, egter te vaag. Soms lyk dit ook of hulle opvattings alle skakels tussen literatuur en gemeenskap wil ontken. Tog is hulle werk ʼn korrektief op die kru, tradisionele Marxisme, maar nie een van die twee tradisies kan die juiste span­ning handhaaf tussen sosiale en literêre modusse nie.

Die verhouding tussen literatuur en gemeenskap word verder gekompliseer deur die bestaan van populêre literatuur en veral deur die uiteenlopende waardering daarvan.

Leavis en Williams is geneig om populêre literatuur as ʼn vulgarisering en brutalisering van die kuns te beskou. Die massasamelewing lei tot ʼn vervreemding tussen kunstenaar en volk. Die kunstenaar skryf hoë literatuur net vir die klein klompie lesers wat hom verstaan. Hierdie sg. “high-brow literature” lê buite die bereik van die gewone man. Dit is so, omdat die algemene kultuurpeil a.g.v. die industriële revolusie gedaal het. As bewys hiervoor word die lae gehalte van die huidige BLITSVERKOPER (LITERêRE) of sepies aangevoer. Hulle kritiseer dus eintlik die massasamelewing; kritiek op die populêre literatuur is maar ʼn onderdeel daarvan.

Ook die sg. Frankfurtse Skool (Adorno, Horkheimer) takel populêre literatuur af. Hulle beskou dit as deel van ʼn “culture industry” wat ten doel het om ontvlugting te verskaf en die bevolking in ʼn aangename staat van bedwelming te hou en sodoende die establishment in stand te hou.

Die besondere bydrae van die Strukturalisme was dat dit ʼn fyn sin geskep het van die literatuur as komplekse totaliteit of web van tekens op sy eie, met sy eie kodes en konvensies, wat nie direk of simplisties met die samelewing verbind kan word nie. Roland Barthes en ander POST-STRUKTURALISTE het egter ook die onvolledigheid van enige reël of konvensie beklemtoon, die oortolligheid en moedswilligheid van die literatuur, die vermoë van die stelsel van SIGNIFIANTS om die stelsel van SIGNIFIÉS te oorskry. Sodoende problematiseer hulle die verhouding tussen teks en sosiale werklikheid weer, omdat dit soveel klem lê op die in­terne samehang van strukture wat nie MIMETIES na die eksterne werklikheid uitwys nie, maar diakrities berus op leegtes of verskille.

Die studie van die massamedia het ook resultate opgelewer wat vir die literatuursosiologie van groot belang is. Navorsing oor gehoorgedrag het een populêre mite die nek ingeslaan, nl. Dat die gehoor passief is en maklik deur die massamedia gemanipuleer kan word. Die gehoor gaan aktief met die medium om en is lank nie bereid om alles wat vir hulle opgedis word vir soetkoek op te eet nie. Dit dui egter ook duidelik aan hoe belangrik empiriese werk vir die literatuursosiologie is (Hall, 1979: 22).

In die breë kan daar twee belangrike rigtings in die literatuur­sosiologie onderskei word, nl. die empiriese tradisie, wat veral teruggaan op die idees van Max Weber en die positivistiese opvatting van waardevrye wetenskap, en die dialektiese tradisie, wat steun op Hegel se Vorlesungen über die Ästhetik.

Die dialektiese teorieë van Lukács, Adorno of Goldmann kan net teen die agtergrond van Hegel se estetika verstaan word. Volgens Hegel kan die werklikheid slegs as ʼn samehangende, sinvolle geheel begryp word. Hy onderskei tussen ʼn abstrakte verstaan van die werklikheid wat die werklikheid nie as ʼn totaliteit begryp nie, en ʼn konkrete verstaan van die werklikheid wat elke verskynsel juis in verband bring met die geheel en met ander verskynsels. Alleen hierdie konkrete verstaan is rasioneel en realisties. Om die verskynsels te verstaan, is derhalwe om die totaliteit daaragter te begryp.

Vir Hegel het die kuns ook ʼn kognitiewe funksie, nl. om die mens die werklikheid beter te laat verstaan deur die wese of totaliteit agter die verskynsels op te spoor. Die kuns dring dus (nes die ware filosofie) deur tot die ware werklikheid deur ʼn algemene wet (vir die filosofiese denke vatbaar) in besondere ver­skynsels na vore te bring. Die algemene kry dus ʼn besondere gestalte en word vir die sinne vatbaar. So laat die kuns dus die wese of die totaliteit verskyn. Daarom plaas Hegel die kuns op die voorlaaste trap in die evolusie van die kreatiewe gees – net onder die finale hoogtepunt verteenwoordig deur sy eie filosofie.

In teenstelling met Hegel wil Lukács op grond van die tipiese onderskei tussen abstrakte, naturalistiese literatuur en konkrete weerspieëlende REALISME. Volgens hom gee die NATURALISME geïsoleerde gebeurtenisse, taaluitinge of handelinge weer sonder om hulle in die totaliteit te integreer. Die verskynsel word in isolasie weergegee en nie met die totaliteit in verband gebring nie. Derhalwe kan die Naturalisme nie tot die wese deurdring nie. Met stylmiddele soos COLLAGE, BEWUSSYNSTROOM, reportage word dinge, tonele los van mekaar gesien. Dit maak die weergawe van die wêreld as samehangende en sinvolle geheel onmoontlik. (Vgl. Lukács, 1971.)

In teenstelling met die naturalis gee die realis tipiese karakters, handelinge en situasies weer. Daarmee bedoel Lukács dat hulle die vlak van die individuele oorskry, op die totaliteit begin wys en dus die vlak van die besondere of die tipiese bereik. Die besondere (of tipiese) slaan dus ʼn brug tussen die individuele ver­skynsel en die algemene filosofiese stelreël. Slegs kuns wat in staat is om die individuele en die algemene te sintetiseer tot die besondere is dus vir Lukács realisties.

Hieruit is die preskriptiewe aard van Lukács se teorie ook duidelik. Die digotomie naturalisme/realisme (abstrak/konkreet; onwesenlik/wesenlik) is die uitgangspunt van ʼn teorie wat sy partydigheid nie verloën nie en die kant van “progressiewe kragte” (die proletariaat) kies. Hoewel die kuns by Hegel nie ʼn revolusionêre funksie het nie, is die kognitiewe funksie van kuns vir Lukács onlosmaaklik verbonde aan die bewuswording van die volk. Die realistiese kuns is vir Lukács ook “volkseie, demokraties”.

Besware teen Lukács se realisme-begrip is eerstens dat dit op ʼn eng estetiese *kanon berus: die sg. kritiese realisme uit die burgerlike tydperk, nl. Balzac, Scott en Thomas Mann in die moderne tyd, wat onbewus die waarheid oor die Kapitalisme in hulle werk openbaar. Tereg is hy daarom deur Brecht en Bloch verwyt dat hy stylvorms uit die verlede eensydig kanoniseer en sy oë sluit vir nuwer ontwikkelings, veral vir die eksperimente van die EKSPRESSIONISME of SURREALISME. Tweedens is mens se begrip van “die besondere” afhanklik van jou persoonlike siening van die werklikheid. Wat vir Lukács tipies is, is nie noodwendig vir almal tipies nie.

Net soos Lukács gaan Goldmann van die idee uit dat individuele verskynsels slegs in die kader van ʼn totaliteit begryplik is. Vir hom begryp ʼn mens iets as jy die koherensie van ʼn struktuur insien, maar kan jy dit eers verklaar wanneer jy die relasies tussen deel en geheel (die totaliteit) ondersoek. Dit bring mee dat hy literêre tekste ook met die kollektiewe bewussyn van sosiale groepe wil verbind en dus bv. ʼn verband wil lê tussen Racine se dramas en die kollektiewe bewussyn van die ampsadel (noblesse de robe), die groep waartoe Racine behoort het.

Die sinvolle totaliteite wat Goldmann in sy genetiese strukturalisme met mekaar wil verbind, is enersyds die totaliteit van die teks. Hier gee die betekenisstruktuur die deurslag. Goldmann meen dat ʼn eenduidig definieerbare konsepsuele sisteem (ongeveer gelyk aan die begrip tema) uit ʼn teks gehaal kan word. Dit organiseer enersyds die eenheid van die teks, maar druk andersyds die kollek­tiewe bewussyn of wêreldvisie van ʼn sosiale groep uit. Dit is so omdat daar vir Goldmann ʼn strukturele homologie bestaan tus­sen die wêreldvisie en die konsepsuele sisteem van ʼn teks. Die vraag is natuurlik of so ʼn konsepsuele sisteem wel eenduidig vasgestel kan word in ʼn teks en of dit inderdaad waar is dat daar homologie tussen hierdie sisteem en die wêreldvisie bestaan. Dit smaak na ʼn naïewe weerspieëlingsteorie van die literatuur.

Hoewel die liriese teks kort is en dus waarskynlik in isolasie nie genoeg ruimte bied vir ʼn sosiologiese analise nie (dit word verkieslik van groepe gedigte gemaak) en bowendien oor privaat emosies handel wat universeel aangebied word, as “great commonplaces”, het ʼn aantal teoretici wel die verband tussen die liriek en samelewing probeer lê.

Die eerste raakpunt is waarskynlik die aanname dat genres sosiale feite is. Dit is, volgens Zima (1981), veral geponeer deur Medvedev (ʼn lid van die sg. Bakhtin-skool). Sy grondgedagte is dat genres net in hulle kommunikatiewe konteks begryplik is, om­dat elke genre ʼn sosiale funksie het en sosiale belange dien. Permanente konflik en die dialogiese interaksie van IDEOLOGIEë kenmerk die kommunikatiewe konteks. Romans, gedigte of dra­mas is vir hom dus vorme van sosiale interaksie.

Verder meen Medvedev dat genres kollektiewe wêreldvisies uitdruk. Die vorm self is m.a.w. maatskaplik sinvol en kan in verskillende tydperke verskillende belange uitdruk. Dit beteken dat genres ʼn kollektiewe waardeoordeel en kollektiewe oriëntasiepoging van ʼn groep mense teenoor die werklikheid inhou. Genres is daarom vorme van kollektiewe werklikheidsbesef. Een van Medvedev se voorbeelde is die Middeleeuse epos. Vir hom is dit ʼn verwesenliking van die waardes en ideale van die feodale adel, nes die roman ʼn uitdrukking is van die burgerlike individualisme. Dit beteken uiteraard ook dat die verhouding tussen maatskappy en genre ingewikkelder as ʼn eenvoudige weerspieëling is.

Hierdie gedagte sluit vir Zima (1981: 30–33) aan by Köhler (1977) se poging om genres met maatskaplike strukture te verbind. Binne ʼn SISTEEMRAAMWERK trag Köhler om verbande te trek tussen die sisteem van literêre genres en die maatskaplike sisteem waarvan dit deel is. Hy stel veral belang in die funksie van die genresisteem en die verandering wat dit ondergaan in reaksie op maatskaplike verandering. As sisteem is die genres ʼn model van die werklik­heid en het dit ʼn modellerende funksie waardeur die werklik­heid begryplik en beheersbaar gemaak word deur die voile kompleksiteit daarvan te reduseer. Genres is daarom pogings van groepe om hulle te oriënteer t.o.v. die werklikheid en om bepaalde handelinge en houdinge ideologies te regverdig.

Wanneer die maatskappy egter verander, oefen dit ʼn aanpassingsdruk op die genresisteem uit waardeur dit reageer deur die kapasiteit van genres te vergroot sodat dit die funksies van ouer vorms kan oorneem, nuwe genres te ontwikkel om te voorsien in die behoeftes van nuwe groepe, mengvorme van genres te ont­wikkel (bv. tragikomedies) of deur ʼn hele nuwe plaasvervangende sisteem daar te stel, soos in die Renaissance gebeur het.

Benjamin se sosiologie van die liriek vertrek van die opposisie tussen auratiese en demokratiese kuns, tussen kuns vir die individu en kuns vir die massa. Volgens hom was die tradisionele kuns gekoppel aan spesifieke plekke, soos tempels, waar die in­dividuele waarnemer dit eenmalig kon geniet, wat trouens ook tipies was van die literêre resepsie in die 19e eeu. Die teks is ver van die menigte deur die enkeling in sy privaatheid geniet as ʼn eenmalige gebeurtenis. Die kuns het dus ʼn kultiese karakter, dit dra ʼn onverbiddelike aura van “ver” en “ongenaakbaar”. Benjamin (1963: 18) beskryf dit as “die eenmalige verskyning van ʼn verre, hoe naby dit ook mag wees”. Hierdie auratiese of kultiese waarde van kuns wil Benjamin vervang hê deur ʼn Ausstellungswert (tentoonstellingswaarde), waarmee hy die kritiese BETROKKENHEID van die kuns in die massamedia bedoel.

Die moderne reproduksiemiddele verbreek die afstand en die eenmaligheid, meen Benjamin, veral wanneer ʼn teks bv. vir die TV verwerk word, soos Thomas Mann se Der Tod in Venedig. Dit maak alles vergelykbaar. Alles verskyn onder die aspek van ʼn gemeenskaplike noemer. Die tentoonstellingswaarde word dan die eintlike waarde. Die kuns moet hom op die massa rig en die private kontemplasie van die auratiese werk oorwin as ʼn kritiese daad.

In sy sosiologiese analises van die werk van Baudelaire demonstreer Benjamin hierdie dinge. Die digter self verloor deur die demokratiseringsproses sy oureool of aura. Deur ʼn stilistiese skok verloor die gedig sy aura ook. Dit word in die werk van Baudelaire op verskillende maniere bereik. Baudelaire vermeng realistiese, simbolistiese en romantiese stylvorme. Hy voer temas in wat nie tradisioneel in die liriek tuishoort nie. Die liefde word bv. nie meer met die natuur of die klassieke godsdiens verbind nie, maar in die stadslewe geprojekteer. Sy leksikon bevat nie meer net poëtiese woorde nie, maar ook prosaïese en stedelike woorde soos wagon, omnibus, voirie, bilan. Hy keer hom af van die natuur en die auratiese verte en skryf stadsliriek, liriek van die massamaatskappy. Al hierdie dinge kan, volgens Benjamin, verklaar word uit die heterogeniteit van die markkultuur.

Vir Th. W. Adorno is die aura egter ʼn veel ambivalenter gegewe as wat Benjamin meen. Vir hom bevat die eenmaligheid en afstand ook kritiese elemente waardeur die werk hom verset teen opname in die massamedia. Adorno wil nie konsessies maak aan ruilwaarde en ideologie nie.

Volgens hom word die kuns gekenmerk deur negatiwiteit, d.w.s. die verset teen ideologie en ideologiese clichés. Slegs deur hom te distansieer van die alledaagse kan die kuns ʼn kritiese funksie hê. Die kuns moet hom dus teen kommunikasie of die sinvolle verset, want “kommunikasie is ʼn aanpassing van die gees aan die nuttigheid, waardeur dit ʼn produkkarakter kry, en wat tans sin genoem word, het deel aan hierdie onwesenheid” (Adorno, 1970: 115). Dit gee aan die teks die vermoë om te openbaar wat die ideologie verberg. Die liriese teks is ʼn negatiwiteit wat hom verset teen sinvolheid. Dit bly ʼn eenmalige, onverwisselbare teken wat nie vertaal kan word in filosofie, ideologie of wetenskaplike taal nie. Die negatiwiteit het egter ʼn maatskappykritiese funk­sie. Die kuns het daarom ʼn dubbelkarakter: dit is tegelyk sosiale feit en outonoom. Mörike se werk ontsnap bv. deur die kombinasie van twee verslete en misbruikte stylvorme aan stereotiepe, onware taalgebruik. Georg se werk stel ʼn taalgebruik in die vooruitsig wat hom onttrek aan clichés en semantiese reduksie en daardeur nog steeds ʼn waarheidsgehalte het. Sy beste gedigte is vir Adorno hermetiese tekste wat deur veelduidigheid sinvolle ideologiese interpretasie uitsluit.

Bakhtin beskou die historiese verskynsel van die karnaval in die laat-Middeleeue as ʼn kritiese subkultuur waarin die volk hulle rig teen die heersende moraal of norme. Dit is dus ʼn soort uitlaatklep, binne ʼn streng omskrewe tyd en ruimte, vir impulse wat normaalweg deur die adel en die kerk onderdruk is. Die amptelike kultuur word daarin uitgelag. Drie kerntrekke daarvan is belangrik: ambivalensie, polifonie en die lag.

Die karnaval is by uitstek ambivalent. Dit is bly en vol vreugde, laggend, maar ook sarkasties. Dit negeer, maar bevestig ook deels die norme wat tydelik omgekeer word. Teenoor die tradisie stel dit die toekoms, teenoor askese en die gees die lewe en die liggaam en veral sy seksuele en ontlastingsfunksies. Die amptelike erns word vervang deur die lag. Lewe en dood moet plek maak vir ʼn siklus van dood en geboorte. Hiervan is die ou vrou met die boep een van die beste vignette, aldus Bakhtin.

Die ambivalensie van die karnaval laat dus geen absolute waardes toe nie. Dit vernietig die absolute, die ideale van deug, geloof. Dit hef die teenstellings op en maak dit ongeloofwaardig. Hierin kom dit ooreen met die uitwerking van die kapitalistiese mark, veral omdat dit waardes problematiseer en kritiseer.

Die ambivalensie van die karnaval vind sy neerslag in die polifonie van tekste, veral van die roman. Bakhtin wil op die manier ʼn brug slaan tussen maatskaplike probleme en taalkonflikte en -probleme. Die ambivalensie van die karnaval vind sy tekstuele neerslag in taalstrukture wat met mekaar wedywer. Die roman toon bv. ʼn dubbele diskoers: die diskoers van die held (objektaal) en die diskoers van die verteller (*metataal). Verskillende diskoerse tree dus in die roman in botsing of in dialoog met mekaar. By Dostojevski word verskillende karakters bv. deur ver­skillende dubbelgangers en hulle diskoerse geparodieer. Verdubbeling van die held beteken ʼn negasie van sy waarde en wêreldvisie. Op hierdie manier open Bakhtin ʼn weg waardeur ʼn mens taalstrukture en maatskaplike strukture met mekaar kan verbind: maatskaplike strukture word as diskoerse gedefinieer wat met mekaar dialoog voer en mekaar relativeer.

Dit is ook die vertrekpunt van Zima (1981) se tekssosiologie, omdat dit, volgens hom, die enigste manier is waarop die relasie tussen die teks en sy konteks beskryf kan word. Die maatskappy word voorgestel as ʼn samespel van taalstrukture, ʼn opponering van diskoerse. Daarby kom natuurlik dat tekstuele en narratiewe struk­ture as sosiale (of sosiaal bemiddelde) strukture beskou moet word. Sodoende hoop Zima om die wisselwerking tussen sintaktiese en semantiese elemente sosiologies te kan verklaar. Sowel die teks as sy konteks word dus as diskoerse voorgestel.

In hierdie lig is semantiek en sintaksis vir Zima allermins neutrale taalkundige gegewens, maar eerder sterk ideologies bepaal. Hy wys bv. daarop dat die pogings van avant-garde-stromings soos die SURREALISTE en FUTURISTE om die band van die sintaksis te breek, as ʼn verset teen ʼn bepaalde sosiale en kulturele orde beskou kan word. Hy meen egter dat die SEMIOTIEK in staat is om verbande tussen semantiek en sintaksis bloot te lê terwyl dit rekening hou met die sosiale en ideologiese dimensies daarvan. Hier sluit hy o.a. aan by A.J. Greimas, wat meen dat die seman­tiese basis van taal glad nie waardevry is nie, maar juis sosiale belange artikuleer deur relevansie te bepaal, m.a.w. deur te bepaal watter klasse gebruik word, hoe onderskei en geklassifiseer word, hoe begrippe gedefinieer word en watter teenstellings vasgelê word. Die relevansie van die teks en die samehang daarvan met vertelstrukture moet dus ondersoek word.

Zima meen dat Greimas aangetoon het dat die relevansie (die stelsel van opposisies) die keuse van karakters en die verhoudings tussen hulle bepaal. Daar is dus ʼn direkte skakel tussen die relevansie en die verhouding tussen aktante in ʼn bepaalde teks. Sommige tekste toon star stelsels van digotomieë (bv. die James Bond-verhale), maar in die werk van bv. Joyce of Musil word die digotomieë problematies en die duidelike onderskeid tussen held en skurk opgehef. Karakters en karaktertrekke word daarin voortdurend geproblematiseer en geanaliseer.

Dit sou egter nie houdbaar wees om te beweer dat taal in talle groeps- en streektale uiteenval wat tewens ook ideologiese strukture is nie. Daarom kies Zima die minder radikale opvatting van Bakhtin, nl. dat sommige groepspesifieke tale tewens ook ideologiese strukture is. Volgens Bakhtin is die taalteken sosiaal en individueel tegelyk en die individuele gebruik daarvan ook ʼn sosiale handeling met kollektiewe betekenis. Geen skeiding is vir hom moontlik tussen taalhandeling en sosiale konvensie nie. Skrywers hanteer taaltekens in ʼn sosiale, kommunikatiewe situasie en nie as leksikale eenhede in ʼn abstrakte taalsisteem nie. Daar is dus nie “klassetale” nie, maar wel sosiolekte waar­in subkulture tot uiting kom, soos die mondaine gesprekke van die Paryse salonne of die sg. flaaitaal van Soweto, wat dikwels botsende sosiale belange uitdruk.

So ʼn sosiolek is gewoonlik uitkenbaar aan ʼn bepaalde woordeskat. Woorde soos “volk”, “eie” en “identiteit” behoort tot ʼn ander sosiolek as woorde soos “liefde”, “sonde” en “verlossing” of “demokrasie”, “individu” en “menseregte”. “Vryemarkstelsel” hoort in ʼn ander diskoers as “monopoliekapitalisme”. Sosiolekte voer egter nie net nuwe woorde in nie, maar ook ander teenstellings en verskille, ander klassifikasies en kriteria van relevansie, wat verskillende visies op die maatskappy geartikuleer. So ʼn sisteem van semantiese teenstellings en verskille kan ʼn kode genoem word (Zima, 1981: 85).

Sosiolekte en kodes is staties. Sprekers van sosiolekte konstrueer egter sinne en sodoende diskoerse – strukture wat bo die sin uitgaan. Op die voetspoor van Greimas meen Zima dat diskoerse as verhale of narratiewe strukture beskou en dus m.b.v. die aktansiële model ontleed kan word, mits ʼn mens die verband met die semantiese teenstellings (kodes) in gedagte hou (vgl. AKTANT EN AKTANSÏELE MODEL). Daarom omskryf Zima (1981: 87) ʼn diskoers as die dramatisering en personifiëring van die seman­tiese teenstellings en verskille van ʼn kode. Zima verwys in dié verband na Eco se analises wat aantoon dat teenstellings soos wes/oos, blank/swart, Angelsaksies/nie-Angelsaksies in Fleming se Bond-romans gedramatiseer word.

Dit is natuurlik moontlik dat die denke in teenstellings as te grof of te kru beskou kan word, of dat dit begin lyk asof die teenstel­lings maar fasette van dieselfde ding is. Dit gebeur bv. wanneer Kafka, Proust of Musil die relatiwiteit van alle teenstellings (waardes) ontdek. Dan maak dit nie meer saak watter verhaal mens kies om te vertel nie. Enigeen is aanvaarbaar. Die gevolg daarvan is onverskilligheid (Indifferez) – wat vir Zima bv. die kernaspek van Camus se Buitestaander uitmaak. Hierdie onver­skilligheid koppel Zima eventueel ook aan die mark, wat deur die aanbod van ʼn oorvloed dinge die ruilwaarde van dinge vooropstel ten koste van die gebruikswaarde, soos Marx al beweer het.

Voortbouend op marxistiese gedagtes ondersoek Bourdieu (1985) die mark vir simboliese ware en die dialektiek daarvan. Hy beskou simboliese ware as tweeledig: hulle is sowel kommoditeite as sim­boliese objekte. Die sisteem vir die produksie en verspreiding van hierdie ware kan in twee velde verdeel word, nl. die veld van beperkte produksie en die veld van grootskaalse kulturele produksie. In eg. word ware geproduseer hoofsaaklik vir mede-produsente en in lg. hoofsaaklik vir nie-produsente. Eersgenoemde het geleidelik outonoom geraak van politieke en godsdienstige beheer, o.a. omdat ʼn klas professionele skrywers en intellektuele ontstaan het wat in staat was om hulle eie norme vir die evaluering van hulle eie werk neer te lê. Sodoende kon simboliese ware die status van unieke kultuurprodukte kry binne ʼn alternatiewe mark waarin ook die absolute outonomie van die skepper gepostuleer word wie se werke net deur ʼn soort alter ego, ʼn ander kreatiewe gees, verstaan kan word.

Die struktuur van hierdie veld word, volgens Bourdieu (1985: 17–19), beheers deur die dialektiek van onderskeiding. Hoe sterker hierdie veld in staat is om sy eie kriteria neer te lê, hoe outonomer dit is, hoe meer moet individuele produsente hulle inspan om hulle te onderskei van die res. Die rede daarvoor is dat hulle vir ʼn publiek skryf wat tegelyk hulle gelykes en hulle mededingers is. Hulle moet dus al hoe verder soek na pertinente trekke wat waarde het binne die veld self.

ʼn Ander sentrale konsep by Bourdieu is klassehabitus. Dit word ingegee deur die gesinsmilieu en is onontkombaar bepalend vir die uiteindelike sosiale lewe van die mens, van wat as vanselfsprekend aanvaar word en wat nie. Die habitus word gevorm deur die milieu en gesinsmilieu waarin die kind grootword en die terreine en kulturele ervarings waartoe hy kragtens sy geboorte toegang het.

Hoewel Suid-Afrika ryk moontlikhede daarvoor bied, is daar nog betreklik min literatuursosiologiese navorsing in die land gedoen, en dan hoofsaaklik binne die empiriese tradisie en uit ʼn biblioteekkundige of leserkundige hoek (vgl. bv. Fouché, 1977 (wat ook ʼn bibliografie van leserkundige studies bevat) en Fouché, 1980). Glenn, (1984) bepleit ʼn omvattende literatuursosiologiese navorsingsprogram waarvolgens bykans elke terrein van die literêre lewe sosiologies ondersoek moet word, van die institusionele aanvaarding van Suid-Afrikaanse letterkunde in Engelse sillabusse en die sosiologie van intellektuele tot by ʼn sosiologie van mediasie, sensuur en resepsie. ʼn Ondersoek na die sosiologie van Suid-Afrikaanse uitgewers behoort uiters boeiend te wees.

Een van die interessantste moontlike ondersoekterreine is die neerslag van eenderse sosiale ervarings in Suid-Afrika in die verskillende letterkundes. Daar is veral twee sosiale ervarings wat gemeenskaplik is aan alle Suid-Afrikaners, nl. kolonisering en die oorgang van ʼn landelike na ʼn industriële en stedelike samelewing (wat nog aan die gang is). Sosiologiese elemente soos die vader wat sy status verloor in die proses van verstedeliking, kan in verskillende tekste nagegaan word: Cry the Beloved Coun­try, Swart pelgrim, Siener in die suburbs. Opvallende verskille in hantering en aanbieding van hierdie ervarings blyk bv. uit ʼn vergelyking tussen Totius se Trekkerswee, Opperman se “Bal­lade van die Grysland” en Schoeman se Spiraal. Waar Totius die verhaal aanbied uit die onbetrokke, wyse, Christelike perspektief van oom Gert, is die verteller in Opperman se gedig self betrokke by die desintegrasie wat die stad bewerkstellig. Van Totius se vroomheid het daar in Spiraal net enkele ironiese reste oorgebly. Sosiologies gesien, worstel baie onlangse Suid-Afrikaanse werke met ervarings van die stryd om bevryding of dekolonisering. Die koloniale self is in romans soos July’s People van Gordimer hiperbewus daarvan dat dit ʼn anachronisme geword het (al is dit dan ook ʼn baie moderne bewussyn).

 

Bibliografie

Adorno, Th. 1958/1969. Rede über Literatur und Gesellschaft. In: Noten zur Literatur I. Frankfurt: Suhrkamp.

Adorno, Th. 1961/1970. Versuch, das Endspiel zu verstehen. In: Noten zur Literatur II. Frankfurt: Suhrkamp.

Bakhtin, M.M. 1965/1984. Rabelais and his World (transl. Helene Iswolsky). Bloomington: Indiana University Press.

Bakhtin, M.M. 1982. The Dialogic Imagination (transl. C. Emer­son & M. Holquist). Austin: University of Texas Press.

Benjamin, W. 1936/1963. Das Kunstwerk im Zeitalter seiner technischen Reproduzierbarkeit. Frankfurt: Suhrkamp.

Benjamin, W. 1939/1976. Charles Baudelaire: Ein Lyriker im Zeitalter des Hochkapitalismus. Frankfurt: Suhrkamp.

Bourdieu, P. 1979. La distinction. Paris: Minuit.

Bourdieu, P. 1985. The market for symbolic goods (transl. R. Swyer). Poetics, 14(1, 2).

Bourdieu, P. 1988. Flaubert’s point of view (transl. P.P. Fergu­son). Critical Inquiry, 14(3).

Eagleton, T. 1988. Two approaches in the sociology of literature. Critical Inquiry, 14(3).

Ferguson, P.P., Desan, P. & Griswold, W. 1988. Editors’ introduc­tion: Mirrors, frames, and demons: Reflections on the sociol­ogy of literature. Critical Inquiry, 14.

Feuer, L.S. (ed.). 1984. Karl Marx & Friedrich Engels: Basic Writings on Politics and Philosophy. Fontana/Collins.

Fouché, B. 1977. Aspekte van die leserkunde. Musaion II,A.

Fouché, B. 1980. Reading and libraries in the socio-cultural life of an urban black community. Musaion II, 10.

Glenn, I.E. 1984. The sociology of South African literature in English – research priorities. In: Malan, C. (ed.). S A Litera­ture Research/S A letterkundenavorsing: Verslag van ʼn navorsingsimposium. Pretoria: RGN. Sensal Publications no. 11.

Goldmann, L. 1977. Towards a Sociology of the Novel. London: Tavistock.

Hall, J. 1979. The Sociology of Literature. London & New York: Longman.

Hegel, G.W.F. 1951. Phanomenologie des Geistes. Stuttgart: Frommans.

Hegel, G.W.F. 1953. Vorlesungen über die Ästhetik. Stuttgart: Frommans.

Köhler, E. 1977. Gattungssystem und Gesellschaftssystem. Romanistische Zeitschrift für Literaturgeschichte I.

Lukács, G. 1936/1971. Erzählen oder beschreiben. In: Essays über Realismus. Neuwied & Berlin: Luchterhand. Werke Bd. 4.

Lukács, G. 1972. Schriften zur Literatursoziologie. Neuwied & Berlin: Luchterhand.

Marx, K. 1947/1959. from: A contribution to the critique of politi­cal economy. In: Adams, H. (ed.). 1971. Critical Theory Since Plato. New York: Harcourt Brace Jovanovich.

Medvedev, P.N. 1929/1976. Die formale Methode in der Literaturwissenschaft. Stuttgart: Metzler.

Ohmann, R. 1978. The social definition of literature. In: Hernadi, P. (ed.). What is Literature? Bloomington: Indiana Universi­ty Press.

Ong, W.J. 1982. Orality and Literacy. London & New York: Methuen.

Verdaasdonk, H. 1985. Literatuursociologie. In: Segers, R.T. Vormen van Literatuurwetenschap. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Verdaasdonk, H. & Rekvelt, K. 1981. De kunstsociologie van Pierre Bourdieu. De Revisor, 8(3).

Wellek, R. & Warren, R.P. 1949/1963. Theory of Literature. Harmondsworth: Penguin.

Zima, P.V. 1981. Literatuur en maatschappij: Inleiding in de literatuur- en tekstsociologie. Assen: Van Gorcum.

 
Hein Viljoen