LITERATUURTEORIE EN KOMPARATISME

Vanweë die eise wat die wetenskapsfilosofie aan wetenskaplike kommunikasie stel, is dit noodsaaklik dat die studiedomein en die soort kennis wat die literatuurwetenskap beoog, vooraf eksplisiet onderskei word in ʼn teoretiese raamwerk. Die literatuurwetenskap kan slegs ontwikkel as dit nie gedefinieer word as álle uitsprake oor die literatuur nie, maar as ʼn ondersoeksisteem wat bepaal watter waarnemings en uitsprake en benaderingswyses literatuurwetenskaplik relevant is. Want die norm wat die relevansie bepaal, bemoontlik ook die groepering van logies samehangende uitsprake, en dit is juis danksy die sistematisering van die ondersoekverslag dat lg. kan ontwikkel en ʼn hoë mate van spesialisasie kan bereik.

Die doel van die Literatuurwetenskap is om ʼn toetsbare beskrywing en verklaring te gee van die ervaring wat as literêr beskou word.

Teen die agtergrond van wat redelik gangbaar in die navorsingsgemeenskap is, kan die ondersoekterrein van die literatuurwetenskap afgebaken word as die literêre kommunikasiesituasie in al sy aspekte, soos voorgestel aan die hand van die volgende, heel eenvoudige skema wat die minimum-komponente van die literêre kommunikasiesituasie verreken, nl. die as literêr geresipieerde teks wat gedekodeer word m.b.v. die *kodes gehanteer in die produksie- en resepsiekontekste: S-B-O (Sender-Boodskap-Ontvanger).

Enkele implikasies van die definisie: dit gee te kenne dat domeinafbakening bepaal word deur doelformulering, en nie omgekeerd nie. Die model laat ruimte vir die feit dat “literatuur” ʼn histo­ries en maatskaplik/kultureel bepaalde konsep is, en nie ʼn empiriese kategorie wat in terme van gemeenskaplike eienskappe van “nie-literatuur” te onderskei is nie. Dit hou rekening met die veelsoortigheid van die literatuurwetenskaplike bedryf deur enersyds ruimte te laat vir interpolasies tussen S en B en tussen B en O, en andersyds in ag te neem dat elk van die komponente ook verteenwoordigend kán wees van ʼn kompleks of ʼn kollektief. Deur betekenis voor te hou as ʼn relasionele konsep, gekonstitueer deur die relasies S-B, B-B en B-O, veronderstel die model ʼn navorsingsmetodologie waarvolgens kennisname nie bloot lineêr verloop nie, want dit sou impliseer dat betekenis enkelvoudig en vás is. Dit veronderstel ʼn metodologie waarvolgens kennisname siklies verloop, ʼn perspektief wat ter wille van voortdurende toetsing en aanvulling heen en weer verskuif tussen waarneming en INTERPRETASIE, tussen nuwe waarnemings en meer ontwikkelde interpretasies. So ʼn ondersoekproses hou rekening met beteke­nis as ʼn perspektief- en konteksbepaalde konsep.

Op dié ondersoekdomein, voorgestel in die skema S-B-O, open die algemeen literatuurwetenskaplike praktyk basies twee perspektiewe, t.w. dié van die literatuurteorie of filosofie van die literatuurwetenskap, en die van die komparatisme of vergelykende literatuurondersoek. Die literatuurteorie se taak is om die hele literatuurwetenskaplike bedryf te organiseer en te koördineer deur begripskaders en metodologieë uit te werk vir álle vorme van lite­ratuurwetenskaplike ondersoek, dus ook vir die komparatisme. Daarom ekspliseer die literatuurteorie sy eie benadering tot die skema – hy motiveer bv. die keuse om verskillend te werk te gaan in verskillende ondersoeksituasies – en daarom spekuleer hy oor die logiese moontlikhede vir die onderskeie verhoudings voorgestel in die skema, m.a.w. hy onderwerp dié verhoudings aan logiese analise ten einde hulle te kan formaliseer as sistematiese konstantes. Juis omdat die struktuur van die argument deurgaans suiwer teoreties, suiwer logies is, geniet die literatuur­teorie ʼn metodologiese suiwerheid wat geen ander literatuur­wetenskaplike dissipline of subdissipline beskore is nie. Daarteenoor fokus die komparatisme op die historisiteit van die ver­houdings voorgestel in die skema, m.a.w. op die historiese manifestasies van die literêre kommunikasiesituasie. Op basis van veldwerk beskryf hy sy gevolgtrekkings oor dié verhoudings as histories, d.w.s. as empiriese veranderlikes.

Die doel van die literatuurteorie is om gestandaardiseerde ondersoekstrategieë te ontwikkel wat resultate kontroleerbaar maak; die doel van die komparatisme is om die geskiedenis van die literêre kommunikasie wêreldwyd te sistematiseer as ʼn integrale proses.

Alhoewel spesialisasie dit steeds moeiliker maak vir een persoon om beide dissiplines deskundig te kan hanteer, lyk dit prinsipieel onvermydelik dat die literatuurwetenskaplike hom in elke onder­soek literatuurteoreties én komparatisties moet laat geld. Die verhouding tussen die twee komponente kan nl. as wedersyds aanvullend, as komplementêr beskryf word.

Logieserwys is dit nie problematies om dié dialektiek te verklaar nie. Prinsipieel staan die literatuurteorie bv.

teenoor die komparatisme as teorievorming teenoor toetsing en toepassing, as abstrak teenoor konkreet, as logies teenoor histories. Dié onderskeid is ʼn teoretiese onderskeid en dus betreklik, want in die praktyk is geen wetenskap sonder teorievorming nie, ook nie die kom­paratisme nie, en is geen wetenskap sonder toetsing nie, ook nie die literatuurteorie nie.

Die literatuurteorie stagneer, hy raak onproduktief en irrelevant as hy nie voortdurend vergelykingsmateriaal onder oë kry om te problematiseer nie, net soos die vergelykende ondersoek nie kan ontwikkel as die vergelyking van empiriese materiaal nie geskied in die terme van ʼn spesifieke teoretiese raam nie, m.a.w. as die relevansie, die sistematisering en metodologie nie bepaal word deur die begripskader en begripsapparaat wat die literatuur­teorie vir dié doel ontwikkel het nie.

Die subjektiewe leserservaring wat dit moeilik maak vir die kom­paratisme om objektiewe kennis te produseer, word in dié dialektiek versoen met die literatuurteorie se metodologiese sui­werheid, terwyl die logiese basis van die literatuurteorie, wat dit moeilik maak om histories verantwoorde kennis te produseer, ver­soen word met die komparatisme se taalafsprake oor waarnemings.

Dit is nie voorspelbaar dat die literatuurwetenskaplike ondersoeker, sónder die empiriese kennis van die komparatistiese verkennings, die konkrete manifestasies van daardie teoretiese konsepte sal kan herken en beskryf wanneer hy hulle in die praktyk teenkom nie. Net so is dit ook nie voorspelbaar dat hy empiriese verskynsels sal kan verklaar as hy hulle nie kan herlei tot die relevante logiese modelle van die literatuurteorie nie.

Omdat empiriese verifikasie ʼn logiese onmoontlikheid is, beperk die vergelykende literatuurondersoek sy uitsprake in terme van tyd en ruimte in ʼn poging om hulle wel voorspelbaar te maak, kontroleerbaar ook op logiese gronde; daarteenoor ekspliseer die literatuurteorie die voorwaardes waaronder sy uitsprake geldig is ten einde sy uitsprake ook empiries toetsbaar te maak.

Omdat die teorie ook die waarneming bepaal, moet die kompa­ratisme, enersyds, voortdurend kontroleer of literatuurteoretiese voorbegrip, pre-konsepsie, nie die waarneming, die persepsie, dermate kondisioneer dat die objek geskend word nie, want om te kry wat jy soek, kan nie sonder meer as empiriese toets vir jou argument beskou word nie. Andersyds moet die literatuurteorie voortdurend toets of die komparatisme sy spesifieke benaderingswyse tot die sg. feite ekspliseer, wat o.m. filosofiese uitgangspunte, metodologiese norme en/of doelwitte behels, want deur observasies en observasie-voorwaardes uitdruklik te onderskei, word die sistematiek, en dus ook die moontlikheid vir kontrole op logiese gronde vergroot.

Juis die – prinsipieel onvermydelike – komplementering van teoretiese uitgangspunte en waarnemingsresultate, van deduktiewe en induktiewe werkwyses, van voorspelbaarheid en verifieerbaarheid, van METATAAL en observasietaal bevestig enersyds opnuut die betreklikheid van sowel die observasionele vermoë as die logiese vermoë. Andersyds openbaar dit weer eens dat die dinamiese wetenskapsbeskouing en navorsingsmetodologie waarvolgens kennisname siklies verloop, meer produktief is as die statiese Cartesiaanse wetenskapsbeskouing wat kennisverruiming bloot additief voorstel. Die sikliese prinsipe veronderstel tereg dat toetsing en teorievorming mekaar voortdurend kan verbeter.

(Vgl. KOMPARATISME: SY TERREIN.)

 

Bibliografie

Aldridge, A.O. (ed.). 1969. Comparative Literature: Matter and Method. Urbana, 111.: University of Illinois Press.

Brandt, C.J. 1968. Introduction to the Comparative Study of Liter­ature. New York: Random House.

Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. 1977. Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Ambo.

Clements, R.J. 1978. Comparative Literature as Academic Dis­cipline: A Statement of Principles, Praxis, Standards. New York: The Modern Language Association of America.

De Deugd, C. 1962. De eenheid van het comparatisme. Utrecht: U.P.A.L.

Durisin, D. 1972. Vergleichende Literaturforschung: Versuch eines methodisch-theoretischen Grundrisses. Berlin: Akademie-Verlag.

Durisin, D. 1974. Sources and Systematics of Comparative Liter­ature. Bratislava: Slovart.

Durisin, D. 1984. Theory of Literary Comparatistics. Bratislava: Veda.

Dyserinck, H. & Fischer, M.S. 1985. Internationale Bibliographie zur Geschichte und Theorie der Komparatistik. BRD: Hiersemann.

Etiemble, R. 1975. Essais de littérature ‘vraiment’ générale. Paris: Gallimard.

Even-Zohar, I. 1978. Papers in Historical Poetics. Tel Aviv: University Press.

Even-Zohar, I. 1979. Polysystem theory. Poetics Today, 1.

Fokkema, D.W. 1981. Vergelijkende literatuurwetenschap en het nieuwe paradigma. Forum der letteren, 23(2).

Friederich, W.P. 1954. Outline of Comparative Literature: From Dante Alighieri to Eugene O’Neill. Chapel Hill: University of North Carolina Press.

Fügen, H.N. 1973. Vergleichende Literaturwissenschaft. Düsseldorf: Econ.

Gifford, H. 1969. Comparative Literature: Concepts of Litera­ture. London: Routledge & Kegan Paul.

Guillén, C. 1970. Literature as System: Essays Toward the Theory of Literary History. Princeton: Princeton University Press.

Jost, F.S. 1974. Introduction to Comparative Literature. New York: Pegasus.

Kaiser, G. 1980. Einführung in die vergleichende Litera­turwissenschaft: Forschungsstand, Kritik, Aufgaben. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.

Levin, H. 1966. Refractions: Essays in Comparative Literature. New York: Oxford University Press.

Levin, H. 1972. Grounds for Comparison. Cambridge: Harvard University Press.

Mayo, R.S. 1969. Herder and the Beginnings of Comparative Literature. Chapel Hill: University of North Carolina Press.

Nichols, S. & Vowles, R. (eds). 1968. Comparatists at Work. Waltham, Mass.: Blaisdell.

Pichois, C. & Rousseau, A.M. 1967. Vergelijkende literatuur­wetenschap. Antwerpen: Het Spectrum.

Prawer, S.S. 1973. Comparative Literary Studies: An Introduc­tion. London: Duckworth.

Rüdiger, H. (Hrsg.). 1973. Komparatistik: Aufgaben und Methoden. Stuttgart: Kohlhammer.

Schutz, H.J. & Rhein, PH. (eds). 1973. Comparative Literature the Early Years: An Anthology of Essays. Chapel Hill: Universi­ty of North Carolina Press.

Sokel, W., Kipa, A. & Ternes, H. (Hrsg.). 1978. Probleme der Komparatistik und Interpretation. Bonn: Bouvier.

Stallknecht, N.P. & Frenz, H. (eds). 1971. Comparative Litera­ture: Method and Perspective. Carbondale: University of Southern Illinois Press.

Strelka, J. 1970. Vergleichende Literaturkritik: drei Aufsätze. Berne: Francke.

Striedter, J. 1978. The Russian Formalist theory of literary evo­lution. PTL, 3.

Strydom, L. 1985. ʼn Kreatiewer literatuurwetenskap? Tydskrif vir Literatuurwetenskap, 1(1).

Swiggers, P. 1982. Methodological innovation in the compara­tive study of literature. Canadian Review of Comparative Litera­ture, 9(1).

Teesing, H.P.H. 1948. Das Problem der Perioden in der Literaturgeschichte. Groningen: Wolters.

Van Luxemburg, J., Bal, M. & Weststeijn, W. 1981. Inleiding in de literatuurwetenschap. Muiderberg: Coutinho.

Van Tieghem, P. 1931. La littérature comparée. Paris: Colin.

Vodička, F. 1976. Die Struktuur der literarischen Entwicklung. München: Fink.

Weisstein, U. 1973. Comparative Literature and Literary Theory: Survey and Introduction. Bloomington: Indiana University Press.

Wellek, R. 1963. Concepts of Criticism. London: Yale Universi­ty Press.

Wellek, R. 1970. Discriminations: Further Concepts of Criticism. London: Yale University Press.

Wrenn, C.L. 1968. The Idea of Comparative Literature. London: Modern Humanities Research Association.

 
L. Strydom