Die magiese realisme is ʼn verskynsel in die literêre werk (prosa, poësie of drama) waar die konkreet-reële aspekte soos KARAKTERS, RUIMTE en gebeure geplaas word teen die agtergrond van die magiese of ook die metafisiese. Die Italiaanse romanskrywer Massimo Bontempelli (1878–1960) het hierdie rigting in die kuns so benoem. Die magiese realisme is gebaseer op die gedagte dat die mens (en so die karakter of persoon in die literêre werk) bande het met ʼn bosinlike bestaan, selfs met ʼn oerbestaan. Dit kan verband hou met Plato se sg. ideëleer waarin hy die mening huldig dat die aardse reële dinge volmaakte en ewige pendante in ʼn boaardse bestaan het. Die literêre verskynsel van die magiese realisme kan die beste toegelig word met die titel van die Vlaamse outeur Johan Daisne se roman De trap van steen en wolken, waarin die twee pole van die magiese realisme eksplisiet verwoord word in “steen” (realisties-konkrete) en “wolken” wat duidelik verband hou met die magiese en boaardse.
Die magiese realisme hou ook verband met en is ontleen aan die Jungiaanse gedagte dat in die mens twee vlakke van die onbewuste onderskei kan word: die persoonlike onbewuste en die kollektiewe onbewuste.
Eersgenoemde bevat al die mens se onderdrukte denke, vergete ondervindings en onontwikkelde idees. Die kollektiewe onbewuste sou dan bestaan uit die herinnerings en gedagtepatrone wat van vorige geslagte geërf is. In die diepste lae van die mens se onbewuste is ervarings en herinneringe opgesluit wat op belewenisse van die hele mensdom dui, selfs van die begin van die aarde af. Dit hou dus in dat in die gees van die mens herinnerings opgesluit is wat verby die grense van die dood strek. Die uitwerking hiervan is dat in die magies-realistiese werke die grense van tyd en ruimte oorskry word. Die hooffiguur in die Vlaamse outeur Hubert Lampo se werk De komst van Joachim Stiller word bv. vanuit sy konkreet-historiese tyd en ruimte verbind aan ʼn eweknie uit die Middeleeue. Van die ouer skrywers in wie se werk magies-realistiese trekke na vore kom, is E.A. Poe (Tales of Mystery and Imagination), R.L. Stevenson (The Strange Case of Dr. Jekyll and Mr. Hyde). Van lg. is bekend dat Stevenson die verhaal een nag gedroom het en dit die volgende dag opgeteken het. Verder is daar nog H.G. Wells met The.Time Machine en Alain Fournier met sy werk Le grand Meaulnes (1913).
Baie werke uit die Middeleeue kan as magies-realisties bestempel word: die graalromans (Britse RIDDERROMANS), die ABELE en MIRAKELSPELE is voorbeelde daarvan.
In die Nederlandse literatuur is dit veral die reeds genoemde outeurs, Daisne en Lampo, in wie se werk sterk magies-realistiese trekke na vore kom. Daisne onderskei tussen ʼn sg. romantiese magiese realisme en ʼn klassieke magiese realisme. Laasgenoemde kom daarop neer dat die polarisasie werklikheid en droom verminder en versag word. Die roman met die klassieke magies-realistiese trekke beeld gewoonlik ʼn onherroeplike (noodlots-?) gebondenheid van die mens (die literêre karakter) aan sy werklikheid uit: “Het probeert het te vinden liever in de wereld der moleculen dan in die der sterren” (Daisne, 1973: 21). Die romantiese magiese realisme beweeg na die ander uiterste waar die neiging tot die boaardse sterker is as die gebondenheid aan die werklikheid. Literêre werke hoef gewoonlik nie volledig magies-realisties te wees nie en is dit dikwels nie – hulle kan slegs magies-realistiese trekke vertoon. So vertoon M. Nijhoff se bekende gedig “Het veer” magies-realistiese trekke, maar dit kan nie in die geheel as ʼn magies-realistiese gedig beskou word nie.
Die Europese vorm van die magiese realisme kom nie as sodanig in die Afrikaanse literatuur na vore nie. Daar is raakpunte in Duiwel-in-die-bos van Chris Barnard en miskien selfs in Uitdraai van Wilma Stockenstrom. In ʼn Kaapstadse ongepubliseerde M.A.-verhandeling van N.J. van der Westhuizen getitel ” ʼn Ondersoek van die vergestalting van die magie-element in enkele verse uit Nuwe verse (N.P. van Wyk Louw) en Blom en baaierd (D.J. Opperman)” word implisiet magies-realistiese elemente in die genoemde digters se werk aangetoon. “Klipwerk” en “Kroniek van Kristien” word o.a. as gedigte met magies-realistiese elemente behandel.
Bibliografie
Daisne, J. 1958. Letterkunde en magie. Antwerpen: Ontwikkeling.
Daisne, J. 1973. Wat is magisch-realisme?: een kort essay over letterkunde en magie. Parys: Manteau.
Engelbrecht, H. 1974. Poort na Atlantis. Bloemfontein: P.J. de Villiers.
Lampo, H. 1975. De neus van Cleopatra. Amsterdam: Meulenhoff.
Raadpleeg ook:
Bronzwaer, W.J.M. 1981. Brodewijk’s Noorderlicht. Tirade, 25 (268).
Lampo, H. 1983. De zwanen van Stonehenge: een leesboek over magisch-realisme en fantastische literatuur. Amsterdam: Meulenhoff.
J. van der EIst