Die terme mikrostruktuur en makrostruktuur word gebruik om die verskillende vorme van samehang in ‘n TEKS of DISKOERS aan te dui. Hoewel die idee van makrostrukturele samehang in ’n teks reeds vroeg in hierdie eeu aangevoor is, word die term makrostruktuur as ‘n formele term vir die eerste keer gebruik deur Manfred Bierwisch ongeveer in 1965. T.A. van Dijk het baie navorsing gedoen oor die konsep makrostruktuur, maar wat Bierwisch makrostruktuur noem, noem Van Dijk superstruktuur (Van Dijk, 1980: vi, voetnoot 2).
Die struktuur van ‘n taalteks (mondeling of skriftelik van aard) kan nie bevredigend beskryf word deur slegs na die verhoudinge tussen woorde binne sinne en na die verhoudinge tussen sinne te kyk nie. ‘n Teks vertoon sekere semantiese eienskappe wat vir die teks as geheel geld en hierdie oorkoepelende semantiese verhoudinge vorm ‘n makrostruktuur. Die verhoudinge tussen woorde, tussen woorde en sinne en tussen sinne word die mikrostruktuur genoem en die superstruktuur is die algemene teksvorme (bv. soorte tekste, genres, soorte diskoers soos ‘n gesprek, ‘n vertelling, ‘n toespraak, ens.) wat as algemene skemas, eienskappe van bepaalde soorte tekste of diskoerse beskryf: “Macrostructures are higher-level semantic or conceptual structures that organize the ‘local’ microstructures of discourse, interaction, and their cognitive processing. They are distinguished from other global structures of a more schematic nature, which we call superstructures. These are, so to speak, the ‘global form’ of the macrostructural ‘content'” (Van Dijk, 1980: v).
Die begrip makrostruktuur het ‘n wye agtergrond wat interdissiplinêr is. Die konsep word gebruik in die linguistiek, antropologie, sielkunde en literatuurwetenskap. Die aanvanklike stimulus vir die ontwikkeling van die konsep lê waarskynlik in die antropologiese ondersoek na die nie-veranderlike strukture onderliggend aan MITES en VOLKSVERHALE. In die linguistiek het die begrip meegewerk tot die ontwikkeling van sekere grondliggende aannames van teksgrammatikas. Waar die teksgrammatika primêr gemoeid is met die sintaktiese en semantiese beperkinge op reekse sinne, is daar toenemend gevoel dat ‘n teksgrammatika ook kennis moet neem van die globale semantiese strukture wat ‘n diskoers of ‘n teks bepaal en beperk.
Die makrostrukturele eienskappe van ‘n teks hou verband met sowel die sintese en analise van ‘n diskoers of teks as met die produksie en begrip daarvan.
Wat die sintese en analise van ‘n diskoers betref, is globale eienskappe van bv. verhalende tekste ondersoek deur mense soos Propp (1971), wat die funksionele aspekte van SPROKIES ondersoek het, Bremond (1977), wat die logiese handelingsmoontlikhede in verhale ondersoek het en Greimas (1971), wat ‘n vaste AKTANSÏELE MODEL beskryf as die algemene semantiese basis van alle verhalende tekste. Doležel (1972) ondersoek die globale eienskappe van verhalende tekste op grond van komposisionele aspekte, en Van Dijk (1976a en 1976b) gebruik die logika en die filosofie van handeling om die makrostruktuur van verhalende tekste te kan ontleed.
Begrippe soos PLOT, skema, tema en plan is almal in die literêre tradisie gebruik om globale verhalende strukture in tekste aan te dui. Doležel (1976: 142 e.v.) stel ‘n studie van globale beperkinge of makrostrukture voor wat op modaliteit berus. Hy baseer sy teorie op die basiese uitgangspunt dat volgens die modale logika menslike handeling deur modale stelsels beïnvloed en gereguleer word.
Die produksie en begrip van tekste en diskoerse word ondersoek en ontleed deur linguiste en sosiolinguiste en ook deur sielkundiges wat hulle met die kognitiewe sielkunde en die analise van leerprosesse en leesprosesse besig hou (Van Dijk, 1980: vi, voetnoot 2; 2, voetnoot 3; 3, voetnoot 4; 203, voetnoot 2).
Van Dijk (1976b) verduidelik dat ‘n diskoers vanselfsprekend lineêr samehangend gekonstrueer word, d.w.s. die korrekte grammatikale verhoudinge tussen woorde, woordsoorte en opeenvolgende sinne en selfs fonologiese eienskappe van woorde en sinne word veronderstel. Hierdie verhoudinge word as die mikrostruktuur van die diskoers of teks beskou. Dit is egter so dat ‘n diskoers of teks slegs globaal samehangend en verstaanbaar kan wees indien dit ook ‘n makrostruktuur het, sodat elke woord of sin semanties ‘n funksie vervul in die geheel. Dit impliseer dat ‘n diskoers met ‘n makrostruktuur opgesom kan word of dat die inhoud daarvan samevattend weergegee kan word omdat sekere semantiese eienskappe vir die diskoers as geheel geld. Die mikrostruktuur en makrostruktuur het dus respektiewelik met die lokale en globale strukture in die diskoers te make en staan in ‘n verhouding van deel — geheel tot mekaar (Van Dijk, 1980: 3—5).
Die makrostruktuur vervul dus ‘n baie belangrike funksie in die kognitiewe produksie en begrip van taaluitinge.
Daar bestaan bv. vir ‘n verhalende teks ‘n semantiese DIEPTESTRUKTUUR wat deur transformasie in ‘n ander vorm in die teks verskyn. Verskillende tekselemente het dieselfde betekenis t.o.v. die makrostruktuur, d.w.s. verskillende tekselemente verwys na dieselfde element van die makrostruktuur. In die makrostruktuur streef die held bv. na ‘n bepaalde doelstelling en hierdie doelstelling geld vir die teks as geheel. Op die mikrostrukturele vlak word daar meermale na die held en sy strewe verwys en dieselfde strewe kan op verskillende maniere tot uiting kom.
Vir die makrostruktuur is uitvoerige beskrywings, die rangskikking van elemente in ‘n teks, die manier van beskrywing en vertelling t.w.v. spanning of artistieke kwaliteit nie belangrik nie, hoewel hierdie eienskappe die mikrostrukturele voorkoms van die teks bepaal en die teks ook tipeer as ‘n soort teks volgens die tipologie van bepaalde superstrukture, bv. ‘n kunsverhaal, ‘n speurverhaal, ens.
Samevattend kan gesê word dat die tekssamehang in ‘n bepaalde teks bewerkstellig word deur twee stelle beperkinge, nl. lokale en globale beperkinge. Die lokale beperkinge bepaal die lineêre samehang van opeenvolgende woorde en sinne en die globale beperkinge bewerkstellig die samehang van langer teksgedeeltes of die teks as geheel. ‘n Teksgrammatika of -analise sal dus ‘n mikrostrukturele sowel as ‘n makrostrukturele komponent bevat terwyl die verhouding met bepaalde superstrukture ook betrek sal moet word. Die lokale beperkinge bepaal die tekssamehang op die mikrostrukturele vlak en die globale beperkinge bepaal die samehang op die makrostrukturele vlak (Doležel, 1976). Die lokale beperkinge in ‘n verhalende teks is ondergeskik aan die globale beperkinge, terwyl sowel die mikrostruktuur en die makrostruktuur bepaal word deur die tipologiese eienskappe van die superstruktuur.
Om die komplekse struktuur van literêre verhale te verantwoord, vind Van Dijk (1976b) dit noodsaaklik om interdissiplinêr te werk en hy gebruik resultate uit die leersielkunde in ‘n poging om die literêre en sielkundige sieninge van verhale en die makrostrukture onderliggend aan verhale tot ‘n sinvolle versoening te bring. Met hierdie doel word die leesproses gerekonstrueer, maar die resultate geld ook vir die kognitiewe prosesse van waarneming en begrip van taaluitinge (Ryan & Van Zyl, 1982: 197).
Die mikrostrukturele voorkoms van ‘n teks vertoon ‘n bepaalde samehang (lokaal), wat op die kort termyn in die geheue geberg word. Die mikrostruktuur kan gereduseer word tot ‘n eenvoudiger oorkoepelende makrostruktuur wat globale samehang vertoon, ‘n semantiese dieptestruktuur wat die kern van die teks bevat. In die makrostruktuur funksioneer makroproposisies, wat op die duur in die geheue geberg word. Dit kan gebeur omdat die makroproposisies terselfdertyd aan narratiewe superstrukture en aan kennisstrukture in die werklikheid gekoppel is.
Dit beteken “there are three levels of reading organisation: the first is the local level of propositional relations; the second is the global macrolevel of propositions ordered and ranked in terms of the story gist; the third is the super-level of gist-propositions fitted to the slots of the narrative grammar” (Ryan & Van Zyl, 1982: 198). Die teorie van mikro- en makrostruktuur is dus uiteindelik ‘n interdissiplinêre teoretiese besinning wat gebaseer is op die resultaat van navorsing op die terreine van die linguistiek, die literêre teorie, die tekswetenskap, die algemene diskoersteorie, die PRAGMATIEK, die kognitiewe sosiologie en die kognitief-sielkundige ondersoek van diskoersprosessering.
Hierdie teorie beskryf en ontwikkel terme en insigte wat daartoe lei dat ‘n verhalende teks op verskillende vlakke ondersoek kan word. Die verhalende teks kan beskryf en ontleed word sowel op die vlak van die mikrostruktuur (die vlak van die teksoppervlak of tekstekstuur) as op die vlak van die makrostruktuur (die semantiese dieptestruktuur), sowel as op die vlak van die superstruktuur (die vlak waarop die literêre tipologie en kennisstrukture uit die werklikheid funksioneer, d.w.s. die vlak waarop o.m. tipes tekste onderskei kan word en waarop allerlei tipologiese onderskeidinge gemaak kan word).
Bibliografie
Bremond, C. 1977. De logika van de narratieve mogelijkheden. In: Bronzwaer, W.J.M.,.Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Amboboeken.
Dolezel, L. 1972. From motifemes to motifs. Poetics, 4.
Dolezel, L. 1976. Narrative semantics. PTL, 1.
Greimas, A.J. 1971. Strukturale Semantik. Braunschweig: Vieweg.
Propp, V. 1968/1971. Morphology of the Folktale. Austin: University of Texas Press.
Ryan, R. & Van Zyl, S. (eds). 1982. An Introduction to Contemporary Literary Theory. Johannesburg: Ad. Donker.
Van Dijk, T.A. 1972. Foundations for typologies of texts. Semiotics, 6.
Van Dijk, T.A. 1976a. Philosophy of action and theory of narrative. Poetics, 5.
Van Dijk, T.A. 1976b. Narrative macrostructures. PTL, 1.
Van Dijk, T.A. 1980. Macrostructures. Hillsdale, N.J.: Erlbaum.
Raadpleeg ook:
Garcia-Berrio, A. & Albaladejo, M.T. 1988. Compositional structure: Macrostructures. In: Petofi, J.S. (ed.). Text and Discourse Constitution: Empirical Aspects, Theoretical Approaches. Berlin: De Gruyter.
Guindon, R. & Kintsch, W. 1984. Priming macropropositions: Evidence for the primacy of macropropositions in the memory for text. Journal of Verbal Learning & Verbal Behavior, 23(4).
Whalley, P. 1982. Argument in text and reading process In: Hammer, A. & Kintsch, W. (eds). Discourse Processing. Amsterdam: North-Holland.
Heilna du Plooy