MISTERIESPEL

Die misteriespel (Lat.: mysterium: kerkdiens, seremonie, verwar met ministerium: diens; Fr.: mystère) is ‘n MIDDELEEUSE DRAMAVORM. Die mense in die Middeleeue het egter nie self daarna as misteriespele verwys nie; hulle het dit Corpus Christispele genoem. Die term misteriespel is eers in die 18e eeu deur Robert Dodsley vir hierdie dramas gebruik, na analogie van die mystère, ‘n Bybelse drama.

Die stof vir die misteriespel is gewoonlik geput uit die Bybel en volkslegendes. Dit beeld gewoonlik die lewe van Jesus uit; die inhoud is gebaseer op die Evangelies, die apokriewe boeke of kommentare. Dit het ook ‘n sterk moraliserende inslag.

Die misteriespel is opgevoer tydens kerklike feeste of tydens heiliges se feesdae. Dit is oorspronklik in Latyn opgevoer en later in die volkstaal. Die voorspel is geneem uit die Ou Testament. Die drama self het gewoonlik om Maria en Christus gesentreer. Drie aspekte van die heilsgeskiedenis is beklemtoon, nl. die sondeval, die mens as sondige wese en die verlossing. Afhangende van die inhoud is die misteriespel verdeel in Kersspele, Opstandingspele, Passiespele, ens. Die drama is gewoonlik in die buitelug voor die kerk op ‘n beweegbare verhoog opgevoer.

Die misteriespel het uit die Paas- en Kersdrama en gewone kerklike rituele ontwikkel. Dit kom sedert die 14e eeu voor en was gewild tot in die 16e eeu — dus tot in die RENAISSANCE. Die Passion du Palatinus word as die eerste werklike misteriespel beskou. ‘n Ander voorbeeld van ‘n misteriespel is Het spel van de V vroede en van de V dwaeze maeghden; dit dateer uit die einde van die 15e eeu. De eerste blisscap van Maria is die enigste misteriespel wat in sy geheel bewaar gebly het.

In Duitsland word die misteriespel ‘n Passionspiel genoem. Die Passiespele in Oberammergau is ‘n voorbeeld hiervan.

Die Engelse miracle plays word in vier kategorieë ingedeel n.a.v. die plekke waar hulle opgevoer is, nl. die spele van Chester, York, Townsley of Wakefield en Coventry.

Die misteriespel was in sy tyd geweldig gewild, “with many of the characteristics of the pageant and the circus, formless and often grotesque, an incoherent mixture of crude drama with low comedy” (aldus Shipley (1964: 275) in die Dictionary of World Literature), ten spyte daarvan dat dit om ‘n Bybelse tema gesentreer het. Gedurende die 16e eeu is allerlei illusies op die verhoog geskep.

Die misteriespel het geleidelik gesekulariseer geraak en is toe deur gildes opgevoer, soms op beweegbare verhoë en soms op permanente verhoë.

Raadpleeg ook:

Emmerson, R.K. 1988. Dramatic developments: Some recent Scholarship on Medieval drama. Envoi: A Review Journal of Medieval Literature, vi(1).

Stevens, M. 1987. Four Middle English Mystery Cycles: Textual, Contextual, and Critical Interpretations. Princeton: Princeton University Press.

 
Anna-Marie Bisschoff