MOTTO

Die term hou etimologies verband met Lat.: mutire: om te mompel of te fluister; Fr.: mot: ‘n woord, gesegde of spreuk; It.: motto: uitdrukking of leuse. Dus: ‘n kort, kernagtige frase (soms ‘n enkele woord) of spreuk. Dikwels (maar lank nie altyd nie) t.w.v. die beknoptheid in Latyn.

Die motto is allereers ‘n essensiële element van die heraldiese wapen waar die (slag-)spreuk of devies onder die wapenskild (van ‘n ridder, bv.) ook as ‘n motto bekend staan.

Hierdie betekenis van die woord het in baie lande tot in ons tyd wye toepassing gevind in die motto’s onder die wapens van state, provinsies, stede, dorpe, families, universiteite en skole — vgl. bv. Ex unitate vires — eendrag maak mag.

Verwant hieraan is die lyfspreuk van ‘n individu wat as motto ‘n gevleuelde woord kies om as ‘n soort beginsel of riglyn in sy lewe te dien. In die geval van Marnix van Sint Aldegonde was dit bv. “Repos ailleurs”.

In die literatuur is veral twee gebruike van die woord motto van belang. Eerstens in die EMBLEMATAKUNS wat veral in die 16e en 17e eeu in Nederland tot modekuns ontwikkel het en deur talle kunstenaars (onder wie Heinsius, Roemer Visscher, Hooft, De Brune en Cats) beoefen is. In die embleem, wat ‘n godsdienstige, lerende of amoreuse strekking kan hê, word dan normaalweg drie elemente onderskei, drie onderdele wat saam funksioneer om die boodskap te bring: die opskrif of motto, die prentjie en die onderskrif wat in prosa of vers gegee word en wat van variërende lengte kan wees. ‘n Voorbeeld uit Hooft se Emblemata amatoria is die volgende: ‘n prentjie (pictura) wat Kupido voorstel waar hy besig is om ‘n vuur m.b.v. ‘n brandglas te ontsteek, dra ‘n motto in drie tale, o.a. Nederlands wat soos volg lui: “Des eenes glans des anders brandt”, terwyl die onderskrif of byskrif lui “Het glinstren van het glas een heeten brandt verweckt: Mijns Vrouwen glans aldus met Minne ‘t hart ontsteckt”. Enkele goeie voorbeelde van motto’s uit Johan de Brune se Emblemata of Zinnewerck lui so:

Maet hout staet.

De mensch is blind, in ‘t geen’ hy mint.

Gheen vast gheloof wert duyvels roof.

Des mensches aerd hanght naer der aerd.

Tweedens doen die motto in die literatuur hom voor in die gedaante van ‘n kort passasie of frase (gewoonlik ‘n aanhaling) wat voor in ‘n boek of bo-aan ‘n hoofstuk, gedig of opstel as teks geplaas word om in beknopte vorm iets te suggereer van wat die leser te wagte kan wees. Dit het tydens die ROMANTIEK veral dikwels voorgekom, bv. by skrywers soos Van Lennep, Bosboom-Toussaint, Drost, Walter Scott. Ook in Afrikaans sien ons soms hoe ‘n roman, verhaal of opstel voorafgegaan word deur ‘n aanhaling wat as motto dien. Totius het meermale ‘n Bybelteks bo ‘n gedig aangebring, en enkele kere vind ons ook motto’s bo gedigte van Leipoldt, Elisabeth Eybers, Pretorius, Opperman, Van Wyk Louw, Blum, Cloete e.a. So ‘n motto kan miskien iets sê van die inhoud of strekking van die gedig, maar ander kere kan dit ‘n wegwyser wees tot die simboliese implikasies van die werk. Soms kan daarmee ook ‘n INTERTEKSTUELE spanning opgewek word, soos wat dit bv. met die Totiusaanhaling boaan Opperman se “Ballade van die Grysland” die geval is.

Die motto kan dus ‘n integrale deel van die teks wees en dit in sy diepste aard beïnvloed.

Die uitvoerigste gebruik van die motto in Afrikaans in die poësie kom voor in M.M. Walters se Apocrypha, waaroor T.T. Cloete skryf in Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig.

Die kwessie van die motto word gedeeltelik aangeraak deur die ondergenoemde skrywer in sy artikel “Die towenaar in die fles” (in Fyn net van die woord. 1965. Kaapstad: Nasou).

 

A.P. Grové