NEW CRITICISM

Die skool van die New Criticism ontleen sy naam aan John Crowe Ransom se boek getitel The New Criticism (1941). In die boek skryf hy oor die kritiese studies van I.A. Richards (The Principles of Literary Criticism, 1924), T.S. Eliot (The Sacred Wood, 1920), William Empson (Seven Types of Ambiguity, 1930) en Yvor Winters. Hy kom tot die gevolgtrekking dat die tyd ryp is vir ‘n “nuwe kritiek”. Mense wat invloed op die New Criticism se ontwikkeling uitgeoefen het was Ford Madox Ford, T.E. Hulme, Ezra Pound, T.S. Eliot, I.A. Richards, William Empson en in ‘n mate ook Joel Elias Springarn, Irving Babbitt, Paul Elmer e.a. Die New Criticism het ‘n invloed op die literatuurstudie in Engeland gehad, maar dit het veral in die VSA ‘n afsonderlike skool van literatuurkritiek gevorm.

Die skool van die New Criticism is begin deur die sg. Southern Critics. Belangrike lede was Ransom, Robert Penn Warren, Allen Tate, Kenneth Burke, Richard Palmer Blackmur, Yvor Winters, Cleanth Brooks en W.K. Wimsatt (The Verbal Icon). In Nederland was die belangrikste New Critics die figure random die tydskrif Merlijn, nl. Jessuran d’Oliveira, J.J. Oversteegen en Kees Fens. (Vgl. ERGOSENTRIESE BENADERING.)

Die New Criticism het van 1930—1940 begin vorm aanneem. Teorieë is uiteengesit in The Kenyon Review en The Sewanee Review asook Cleanth Brooks en Robert Penn Warren se handboek Understanding Poetry (1938).

Die New Criticism konsentreer op ‘n analise van die literêre werk self, of op die woord op die bladsy soos hulle uitgedruk het. Die skrywer se bronne, sy geestestoestand, politieke en sosiale faktore, of wat ook al, is geheel en al van minder belang: “They are protesting against a view of life and knowledge that rests on feet and inference from fact alone; and their protest takes the form of an insistence on literature as a valid form of knowledge and as a communication not of the truths of other languages but of the truths incommunicable in other terms than those of the language of literature itself , aldus C.H. Holman in A Handbook to Literature. Nogtans impliseer hulle norme ‘n politieke, filosofiese en religieuse standpunt. Met sy konsentrasie op die literêre werk self (veral die gedig — hulle beginsels kon nie so suksesvol op die drama en prosa toegepas word nie), is die New Criticism een van die OUTONOMISTIESE benaderingswyses in die literatuurkritiek. Om die literêre werk te ontrafel, moet close reading beoefen word. Die New Criticism lê daarom veral klem op die literêre taalgebruik: “In order to deal with ‘the work itself’ — intrinsically, in its own terms — they emphasised the verbal artifice of poetry, viewing poetic discourse as a distinctive instance of nonscientific use of language” (Rabinowitz, 1982: 28). Hulle konsentreer verder op stylaspekte soos IRONIE, PARADOKS, die METAFOOR, dubbelsinnigheid, spanning, “tekstuur”, strukturele eenheid, die SIMBOOL, die BEELD, ens. Hulle heg ook meer waarde aan komplekse werke as minder komplekse werke. Hulle het in hulle ondersoeke gebruik gemaak van wetenskaplike instrumente soos grafieke en statistiek. Daar is bv. gekyk na die frekwensie van bepaalde fonetiese simbole, bepaalde denkpatrone of beeldspraak. Dit is dan noukeurig opgeteken. Later het die New Critics veral ‘n belangstelling in die semantiek getoon.

Die New Criticism het verder met ‘n paar digotomieë gewerk. Richards het met die “wat” en die “hoe” van die poësie gewerk; hy onderskei ook tussen die emotiewe en die referensiële gebruik van taal. Ransom het ‘n onderskeid getref tussen die “tekstuur” (dit staan i.v.m. die *beeldspraak) en die struktuur van die literêre werk. Wimsatt en Beardsley was verantwoordelik vir die formulering van die intentional fallacy-argument.Hiervolgens voer die literêre werk ‘n onafhanklike bestaan waarby die intensie van die skrywer geen rol speel by die evaluering nie. Vir hulle was die waarde van die literêre werk ‘n inherente kwaliteit: “Their leading assumption — that the literary work is, by definition, a totality of values which constitutes its very essence — had the effect of shifting the evaluative focus away from the author to the work itself as a made object, a principle which made it almost mandatory for future exponents of New Criticism to distrust assertions about the author’s creative process and the psychological conditions of his work” (Rabinowitz, 1982: 30). Die intensie van die werk word so uit die werk self afgelei. Op hierdie manier word objektiewe kritiek moontlik gemaak. (Vgl. EVALUERING (LITERêRE).)

Aangesien die New Critics die klem op die literêre werk self geplaas het, het hulle vanaf die vyftiger- en sestigerjare begin om die taal te sien as ‘n “closed and self-contained objectification of experience” (Rabinowitz, 1982: 31). Daarom het Ransom geargumenteer dat “*vorm” en “*inhoud” met mekaar vervleg is. Hy sê verder dat enige literêre werk geïnterpreteer kan word in terme van sy plek binne die totale poëtiese konteks.

Samevattend gesien propageer die New Criticism ‘n organiese literatuurteorie: slegs die literêre werk as eenheid is die studie-objek.

F.R. Leavis se tydskrif Scrutiny het ‘n belangrike plek binne die New Criticism ingeneem. Die tydskrif het van 1932—1953 bestaan. Baie van die New Critics het hierin gedebuteer. Leavis self word egter nie as ‘n New Critic gereken nie. Ook essaybundels soos Revaluation (1936) het ‘n belangrike rol gespeel.

Die New Criticism het baie min aandag geskenk aan die GENREPLOT of vorm van die literêre werk en hulle so die kritiek op die hals gehaal van mense wat wel daarin belang gestel het. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle die studie van die literêre werk reduseer tot ‘n “linguistic or symbolic monism that makes the significant discrimination among types impossible” (aangehaal uit A Handbook to Literature).

Die New Criticism verwerp die MARXISTIESE literatuurkritiek omdat lg. se benadering nie suiwer intrinsiek is nie. Soos reeds genoem, het die New Critics se eie benadering egter politieke en sosiale implikasies gehad, wat nie altyd baie maklik van die Marxistiese propagandistiese kritiek onderskei kan word nie. Verder is dit waar dat politieke en sosiale aangeleenthede intrinsieke teksaangeleenthede kan wees.

Die New Criticism word deur sommige kritici as ‘n skool beskou, maar daar was onderlinge verskille; min van hulle het ook werklik persoonlike kontak met mekaar gehad. Ten spyte hiervan is daar wel kritici wat hulle as ‘n skool beskou.

Die New Criticism het sy hoogtepunt in die VSA in die veertiger- en vyftigerjare van die 20e eeu bereik en het daarna tot ‘n einde gekom. Dit het egter ‘n groot invloed op die huidige literatuurkritiek gehad.

 

Bibliografie

Bawer, B., 1989. I. A. Richards: Critic as scientist. The New Criterion, 7(7).

Blackmur, R.P. 1975. New Criticism in the United States, s.l.: Folcroft Editions.

Hyman, S.E. 1948. The Armed Vision: A Study in the Methods of Modern Literary Criticism. New York: Knopf.

Rabinowitz, I. 1982. New Criticism: beloved infidel. In: Ryan, R. & Van Zyl, S. (eds). An Introduction to Contemporary Literary Theory. Johannesburg: Ad. Donker.

Szili, J. 1979. The New Criticism. In: Nyíró, L. (ed.). Literature and its Interpretation. The Hague: Mouton.

Weimann, R. 1962. “New Criticism” und die Entwicklung bürgerlicher Literaturwissenschaft. Halle: Niemeyer.

Willingham, J.R. 1989. The New Criticism: Then and now. In: Atkins, D.G. & Morrow, L. (eds). Contemporary Literary Theory. Amherst: University of Massachusetts Press. .

 
Anna-Marie Bisschoff