New Journalism en die sg. nie-fiksionele teks (faksie) is benaminge vir ‘n kontemporêre stroming waarin joernalistieke materiaal in die wydste sin weergegee word in die vorm van FIKSIE. Foley (1986: 25) noem die dokumentêre roman iets kenmerkends hiervan: “It locates itself near the border between factual discourse and fictive discourse, but it does not propose an eradication of that border. Rather, it purports to represent reality by means of agreed-upon conventions of fictionality, while grafting onto its fictive pact some kind of additional claim to empirical validation.”
Die verhouding tussen LITERATUUR en werklikheid is ‘n belangrike topos in die LITERATUURWETENSKAP. Dit staan nie alleen sentraal in die diskussie rondom die ontologiese status van die literêre werk nie, maar speel ook ‘n belangrike rol in die markering van (opponerende) literêre SISTEME soos bv. die ROMANTIEK en die REALISME.
Terwyl die creatio-idee met sy klem op nuutskepping sentraal staan in strominge/sisteme/periodes soos bv. die Romantiek, vorm MIMESIS met die klem op nabootsing en dokumentering die kernbestanddeel van bv. die KLASSISISME, Realisme en NATURALISME. ‘n Radikale polarisering van hierdie begrippe berus eintlik op ‘n foutiewe siening van die literêre skeppingsproses: daar is geen herskepping moontlik sonder ‘n (implisiete) verwysing na die empiriese werklikheid en sy samehange en hiërargieë nie. Net so min kan nabootsing geskied sonder ‘n mate van kreatiewe herskepping (seleksie en kombinasie).
Foley (1986) toon in haar oorsig van die historiese en teoretiese verskuiwings wat die begrip mimesis ondergaan het duidelik aan dat dit inderdaad nog altyd ‘n sentrale posisie in die literatuurwetenskaplike DISKOERS ingeneem het. Die betekenisverskuiwing wat dit ondergaan het, is daarom ook tekenend van die paradigmatiese wisselinge op die gebied van die literêre teorie (vgl. ook Foley, 1986: 44-63).
Soos creatio en mimesis keersye van dieselfde munt is, so kan feite en FIKSIE ook as onlosmaaklik verbonde beskou word. André P. Brink se roman Houd-den-Bek kan dien as illustrasie. Dit is die fiktiewe weergawe van feite, maar uit ‘n vergelyking van die roman met die historiese weergawe van dieselfde gegewe, blyk dat Brink se roman niks minder “waar” is as die geboekstaafde geskiedenis nie (Van Coller, 1988). Dit is miskien so omdat skrywer en historikus albei vertellers is van dit wat afwesig is en waarvan slegs spore nog sigbaar is. “Zelfs tot de meeste echte en dramatische handelingen en gebeurtenissen van de geschiedenis, veldslagen, opstanden, revoluties, heeft de historicus toegang via teksten, terwijl trouwens ook heel wat handelingen, oorlogsverklaringen, wetgeving, vredesverdragen teksten zijn, althans de vorm hebben van taalhandelingen in teksten” (De Meijer, 1986/7: 21). Pugh (1986: 123) stel dit ook sonder meer dat geskiedenis homself definieer as skryfpraktyk. Wat dikwels sentraal staan (bv. in La route des Flandres) is die probleem om die PARADOKS van ‘n verlede wat verby is te versoen met die spore wat dit in die VERTELLER gelaat het. Volgens hom is daar ‘n paar moontlike benaderings van ‘n werk wat gebaseer is op ware gebeurtenisse
- So ‘n werk se betekenis is nie beslote in die teks self nie, maar die betekenis word as ‘t ware geskep deur die interaksie van die teks en sy lesers. Die epiteton “dit het gebeur” word derhalwe feitlik latent gehou.
- Ander wat daarvan oortuig is dat geskiedenis die werklike wêreld naboots of kopieer, sal die teks van ‘n historiese roman gelykstel met wat hulle beskou as “werklike geskiedenis”.
- Ander weer sal fiksie en geskiedenis generies onderskei. Binne die formalistiese raamwerk is dit bykans epitemologiese breuk (Pugh, 1986: 124).
Daarteenoor bestaan daar by verskeie persone die gevoel dat fiksie dikwels meer waarheid bevat as die amptelike geskiedenis. In die weergawe van die gevegte aan die Oosfront gedurende die Tweede Wêreldoorlog “fiction could be accepted as authentic history, in the absence of historical correctives” (Bance, 1986: 98). Ook Copeland (1978: v) is hierdie mening toegedaan: “Critics of the novel sometimes point to various types of nonfiction or ‘fact’ writing as more capable of recording and analyzing contemporary or historical reality. James Agee in his famous Depression-era documentary Let Us Now Praise Famous Men was one of the first to voice this notion. Agee suggested that works like his, a detailed factual record of everyday life and environment of three tenant farmer families, could mirror the ‘actuality’ of existence much better than imaginative fiction.” Volgens Copeland was dit later ook die visie van die sg. New Journalists wat egter primêr met feite gewerk het. Hy bevraagteken hierdie aanspraak en beweer dat juis ‘n romanskrywer met sy groter vryheid t.o.v. feitlikheid, aspekte soos KARAKTER en gebeure kan versoen in ‘n narratiewe struktuur. Sy slotsom is dat “the fact writer will always be limited in some way by his facts, no matter how significant or meaningful they may be. The novelist who transforms the same facts into a fictional narrative can manipulate and alter the facts for maximum impact and significance and create characters with greater depth, all without any necessary loss of verisimilitude. Less bound by an ideal of factual accuracy, the novelist thus has an important, far-ranging advantage over the fact writer” (Copeland, 1978: vii). Uit hierdie redenering blyk iets tipies: werklikheid (feite) word gekontrasteer met verbeelding (fiksie) en op digotomiese wyse gesien as teenoorstaande pole.
Binne die denke van Derrida en Foucault is ‘n strak onderskeiding tussen feite en fiksie ondenkbaar; trouens Derrida het hom by herhaling uitgespreek teen digotomieë en polariteite binne die Westerse denkpatroon. Foley (1986: 14—15), wat binne die kader van ‘n MARXISTIESE literatuurbeskouing werk, is daarenteen veel pragmatieser en aanvaar die bestaan van fiksionele en nie-fiksionele afsprake as ‘n gegewe in (kontemporêre) literatuur. Tom Wolfe het in hierdie verband opgemerk: “I’m not denying the existence of a subjective reality. Far from it. I’m just saying that there is also an objective reality that everyone in the world has to deal with” (aangehaal deur Hellman, 1981: 102). Op die spoor van Hellman en talle ander literatore wat werk binne ‘n pragmatiese raamwerk, gee Foley etlike voorbeelde van lesersreaksies op tekste waarin hierdie kontraktuele afspraak verbreek is.
Dit word onderskryf deur De Koven Ezrabi (1980: 25): “The aesthetic and moral implications of what amounts to the author’s abdication of creative responsibility rest not in the verifiability of individual facts but rather in the premises which underlie an ostensibly undoctored reconstruction of historical events. The very claim to historicity lends such works a certain authority.” Dit is derhalwe nie waarheid waarom dit gaan nie, maar ‘n bepaalde “lojaliteit” teenoor die afgestorwenes en ‘n keuse van geheue bo verbeelding. Miskien juis daarom is Kingsley Widmer (aangehaal deur De Koven Ezrahi, 1980: 24) reg wanneer hy beweer dat juis die samesmelting van fiksie en joernalistiek as ‘t ware handgemaak voorkom vir die weergawe van uitsonderlike gebeure soos tegnologiese prestasies, invalle, moorde en ander katastrofes waarvoor die mens pa moet staan.
Tom Wolfe skryf reeds in 1975: “… the most important literature being written in America today is in nonfiction, in the form that has been tagged, however ungracefully, the New Journalism.”
Op haas → profetiese wyse voorspel hy toe ook die opkoms van die dokumentêre roman.
In die afgelope twee dekades het die term New Journalism helaas ingeburger geraak as een van die beskrywings (naas autofiction, faction, ens.) van ‘n revolusionêre verskuiwing in die verhalende prosa sedert die jare Sestig. Johnson (1971) se oorsig van die New Journalism was een van die vroegstes. Daarnaas verskyn die invloedryke versameling van Wolfe en Johnson (1975). Benewens Zavarzadeh (1976) bied Hellman (1981) die bruikbaarste teoretiese invalshoek. Sy benadering is in wese pragmaties en verreken die belangrike “kontraktuele” verhouding tussen skrywer en leser wat in marginale tekssoorte van die grootste belang is en wat Foley (1986) uit ‘n totaal ander paradigma ook bepleit.
Hellman (1981: x) se uitgangspunt is om te wys dat werke wat tuishoort onder die noemer New Journalism “far from being → realistically dramatized documentaries or even absurdist transcriptions of fact, are profoundly transforming literary experiments embodying confrontations between the worlds of journalism and fiction”. Eintlik is dit ‘n kombinasie van “the unique credibility of journalism with the self-reflexive patternmaking of fabulist fiction … it deals with fact through fable, discovering, constructing, and self-consciously exploring meaning beyond our media-constructed ‘reality’, our ‘news'”.
1965 word allerweë aanvaar as die beginjaar van New Journalism — die jaar waarin Wolfe debuteer met sy Kandy-kolored tangerine-flake streamline baby en Truman Capote se In cold blood gepubliseer word. Hoewel hulle albei op onafhanklike wyse ontwikkel het — soos ook verskeie ander joernaliste wat tot hierdie groepering behoort — is daar sekere gemeenskaplike elemente: hulle kom in opstand teen die keurslyf van tradisionele joernalistiek met sy voorgestelde struktuur, sy sg. “objektiwiteit” en die sterk aanleuning by amptelike bronne. Daar word nou sterk gesoek na ‘n eie persoonlike perspektief. Wat belangrik is, is dat dit nie bloot vermenging van feit en fiksie is nie: dit is ‘n poging om die sofistikasie en vryheid van fiksie te versoen met die feite van joernalistiek. Daarom word daar dikwels gepraat van die sg. “groter waarheid” waarna hulle soek. Daar word altyd gestreef na betroubaarheid. Een van die kenmerke is die beweging van onskuld na ervaring: die skrywer speur na die misterie wat agter die oppervlak skuil. Dit is derhalwe ook ‘n poging om ‘n uiters persoonlike perspektief te kry op gebeure wat haas reeds geïnterpreteer is deur bv. die televisie (Hellman, 1981: 3).
Soos die DEKONSTRUKSIE ‘n opstand verteenwoordig teen logosentrisme, verpersoonlik New Journalism ‘n individuele verset teen hegemonie, derhalwe ook teen die homogene ervaring en monolitiese weergawes van waarheid. Hellman (1981: 6) wys daarop dat die moderne kwantumfisika (wat dikwels reeds as verwant aan dekonstruksie beskou is) bewys het dat selfs die mees delikate instrument die fenomeen wat dit betrag, verander. Dit is trouens waar van enige poging tot verslaggewing. New Journalism is daarom doelbewuste ondermyning van die sg. joernalistieke objektiwiteit. Die tipiese New Journalists neem die gestalte aan van getuies of speurders en hulle kruip dikwels in die vel van hul onderwerpe.
Wolfe oordryf, volgens Hellman (1981: 108) in sy eie weergawe van hul werk, die invloed van die Realisme op New Journalism. In werklikheid was hulle veel meer vernuwend. Realisme is volgens hom te tipies — die weergawe van ‘n sg. objektiewe realiteit. Die opvatting (ook van Wolfe) dat ‘n fragmentariese samelewing slegs weerspieël kan word in ‘n gefragmenteerde struktuur is ‘n handboekvoorbeeld van die sg. “fallacy of imitative form”. Tog was dit bykans ‘n obsessie by hulle om iets van ‘n ‘tydsgees’ vas te pen want in die jare Sestig was dit haas onmoontlik om nog ‘n groot greep te kon kry op die snel veranderende werklikheid.
Wat die fiksieskrywers betref, het hulle volgens Hellman die probleem probeer oorkom deur te skryf in ‘n soort parabelstyl (fabulation), deur ALLEGORIE en HUMOR. Dieselfde tendens is ook sigbaar in baie van die werk van Suid-Afrikaanse outeurs. David Lodge het daarop gewys dat die nie-fiksionele roman en “fabulation” verwant is omdat onderliggend aan albei vorme die aanname was dat die realiteit wat ons omring so verskriklik/absurd/ vreemd is dat die metodes van konvensionele realistiese imitasie nie meer voldoende was nie (Hellman, 1981: 10). (Vgl. METAROMAN en POSTMODERNISME.)
Die verskil tussen New Journalism en kontemporêre “fabulist” fiksie lê in die kontraktering, die gespreksvoorwaardes daarvan: “… in both forms the writer contracts an agreement with the reader which frees the former from the need to establish the illusion of reality” (Hellman, 1981: 11). Die fiksieskrywer maak aanspraak op die gespreksvoorwaarde van suiwer FANTASIE; die New Journalist belowe weer die leser dat hy hom bemoei met suiwer feite. Daarom sê Natalie Sarraute: “The ‘true’ fact has indeed an indubitable advantage over the invented tale. To begin with, that of being true” (aangehaal deur Hellman, 1981: 11). Waar die realis sê “dit kon gebeur” en die fiksieskrywer impliseer “dit kon nooit gebeur nie”, sê die New Journalist “dit alles HET gebeur; moet my derhalwe nie kwalik neem as dit onwerklik voorkom nie”. André le Roux doen dit baie duidelik in Sleep vir jou ‘n stoel nader — dit word ook ‘n manier waarop die leser met afgryse te staan kom teenoor ‘n wêreld wat vir hom half vreemd en wreed voorkom. (Vgl. PRAGMATIEK (LITERÊRE).)
Ten spyte van die totaal verskillende stel gespreksvoorwaardes, deel die New Journalists, vervolg Hellman, iets met kontemporêre fiksieskrywers, nl. die klem op die beskouende bewussyn as ‘n transformerende mag en die begeerte om die distorsie te vermy wat veroorsaak word wanneer daardie mag verbloem word. Daarom is daar ooreenkomste tussen beide vorme t.o.v. tegniek en tema. Albei organiseer bv. hulle materiaal in narratiewe gehele wat omraam word deur voorwoorde, nawoorde of deur ander tegnieke. Hulle vertellers is dikwels selfbewus en opdringerig. Daar bestaan groot vryheid t.o.v. bv. punktuasie en grafiese aanbod. Albei soorte gebruik allegoriese en mitiese patrone wat uit klassieke en populêre bronne voortkom en die style is gekunsteld en vol PARODIE en SATIRE. Heel dikwels spreek daaruit ook ‘n groot belangstelling in filosofiese en sosiale kwessies. Die ontdekking dat jy in New Journalism haas enige tegniek kon gebruik, was bv. vir Wolfe ‘n groot bevryding en bron vir verdere eksperimentering met o.a. die konvensies van die (joernalistieke) verteller wat vroeër nooit ‘n dialek sou gebruik het nie.
Voorwoorde/nawoorde het ten doel om die leser te oortuig van die waarheid van die vertelling. Tog is dit uiters dubbelsinnig, vgl. bv. die outentifiserende tegnieke wat André le Roux in Sleep vir jou ‘n stoel nader gebruik: die agterblad, die foto’s waarna verwys word, sy lewensbeskrywing op die blakerskrif, ens. “However much it may serve as evidence or fact, its position outside the work also reinforces the reader’s perception of the fictional form, and thus the STRUCTURING of an experience by the author, that the work embodies” (Hellman, 1981: 14). Derhalwe word die feitelike aard van die werk beklemtoon (die joernalistieke gespreksvoorwaardes), terwyl terselfdertyd die fiksionele vorm daarvan beklemtoon word (‘n totale ander stel gespreksvoorwaardes). Volgens sy benadering kan die joernalistieke kontrak op ‘n paar maniere bekend gestel word. Die outeur kan sy boek nie-fiksioneel noem, hy kan voor- en nawoorde, ens. gebruik, hy kan dokumente (en foto’s) in die teks plaas of hy kan dit op ander maniere doen, bv. met self-verklarings.
Zavarzadeh se stelling dat tradisionele narratiewe modelle om fiksie te beskryf nie bruikbaar is vir die beskrywing van nie-fiksie nie, is volgens Hellman foutief: alle werklike persone bestaan in ‘n teks as verbale konstruksie — selfs in die outobiografie. Daar is uiteraard altyd seleksie — en kombinasieprinsipes werksaam in so ‘n teks. Die New Journalism is ‘n genre wat stilisties vryblywend is omdat dit surrealisties, parodiërend, ironies, ens. kan wees.
Hellman sê duidelik dat die New Journalism as beweging beslis nie verklaar kan word met Wolfe se stelling dat dit die toepassing van tegnieke uit realistiese prosa is nie. Volgens Zavarzadeh (1976: 64) is gewone fiksionele en feitlike literatuur monoreferensieel, overgeset synde, fiksie = egtheid; feite = waarheid. Hierdie definisie word ook later deur Pearce geëggo. Die nie-fiksionele roman is, daarenteen, bireferensieel omdat dit verwys na die interne en eksterne wêreld. Vir hom is die kenmerk van hierdie tipe roman sy klem op absurditeit. Hellman sê dat alle literatuur bireferensieel is — wat belangrik is, is watter tipe referensie oorheers. Dit gaan derhalwe in terme van Jakobson se model oor watter funksie oorheers. New Journalism is duidelik intern gerig, m.a.w. die estetiese funksie oorheers die pragmatiese/referensiële funksie.
Hellman plaas alle literatuur op twee verskillende spektrums: die wat na buite gerig is (referensieel) en literatuur wat fiksioneel is. Dit gebruik hy vervolgens as klassifikasiesisteem. Om te ontsnap van ‘n te strakke digotomie fiksie/faksie kan daar m.i. eerder gebruik gemaak word van ‘n driedeling. Daar sou bv. onderskei kon word tussen referensiële tekste (joernalistieke en ander feitlike geskrifte), selfreferensiële tekste (outobiografïeë en outobiografiese romans) en fiksionele tekste (romans, ens.). So ‘n model kan in groot besonderhede aantoon welke beslissings ‘n leser neem in sy KONKRETISERING van ‘n teks ten einde dit onder ‘n sekere tekssoort te pas. Wat veral belangrik is, is dat die gespreksvoorwaardes die leser se konkretisering van die teks rig — dit is bepalend vir die wyse waarop die teks gelees word. Hier is Grice se koöperatiewe beginsel en Pratt se toevoeging relevant: die leser bepaal uiteindelik hoe die teks gelees gaan word. Wat egter duidelik behoort te wees, is dat die leser hom darem ook aan die kontrak moet hou wat op hom afgedwing word.
Vir die leser is die hoofverskil tussen fiksie en nie-fiksie “the way the text will be integrated into his or her understanding of the world” (Lanser, 1981: 285). Omdat sy nie hierop uitbrei nie, moet dit in verband met haar voorafgaande opmerking gelees word: ‘n fiksionele teks beteken nie noodwendig ‘n werk vol fiktiewe uitsprake nie: “The fictional text may contain a good deal of non-fictional discourse” (ibid.) wat beteken dat dit nie van toepassing is op hipotetiese dinge nie, maar referensieel is. Maar selfs al sou ‘n roman uitsprake bevat oor hipotetiese mense en sake (fictional discourse), beteken dit nie dat die uitspraak nie ook die leser se visie van die werklikheid sou kon verander nie: “Particularly in the novel, but also in other fictional forms, it is conventional for the alternative world to display arts and patterns that are meaningful in the historical world as well” (Lanser, 1981: 291).
In Pratt (1977: 158) word benadruk dat die hele lees-akt op die koöperatiewe beginsel berus, m.a.w. die basiese uitgangspunt is dat die skrywer iets wil meedeel. Oortreding van hierdie beginsel of van die gespreksvoorwaardes het altyd implikasies tot gevolg, oop plekke wat deur die leser ingevul moet word (sien egter in hierdie verband ook Pratt, 1977: 186). Tog word oortreding van die gespreksvoorwaardes in die literêre kommunikasieproses altyd as doelbewus geïnterpreteer. In terme van Pratt is dit dus nooit “opting out” nie, maar “flouting”. Daarom beweer sy die volgende: “… in the case of fictional display texts, genuine lying is out of the question. Even if it were possible for an author (as opposed to a fictional narrator) to lie about the fictional world, or about his attitude to it, he could not thereby mislead. The reader would be unable to detect the lie unless he were given clues by the author, in which case the author has flouted rather than violated the maxim of quality. This kind of flouting … does not occur in novels” (Pratt, 1977: 172). Hierby, lyk my, sou Lanser se vroeër aangehaalde onderskeid betrek kon word. Enige fiksionele teks bevat nie-fiksionele uitsprake en ten opsigte hiervan kan ‘n outeur sekerlik lieg: Johannesburg lê bv. nie by die see nie, ens. Sodanige uitsprake kan ‘n heel belangrike rol speel as onderskeidingsmiddel van sg. “marginale” tekssoorte: outobiografieë, outobiografiese romans, kronieke, joernalistieke prosa of semi-dokumentêre New Journalism. Juis die tekssoort en die gepaardgaande verwagting help om onwaarhede se (literêre) funksie te bepaal. Onwaarhede in Terug naar Oegstgeest (Jan Wolkers) mag die werk as outobiografie inperk, maar juis as roman stempel; dinge mag ook referensieel onwaar wees, maar waar binne die fiksiesisteem (die sg. innerlike waarheid van die outobiografie) soos in Rousseau se Confessions en Brink se historiese roman Houd-den-Bek.
Wat ten slotte belangrik is in New Journalism, is die sterk metafiksionele aspek daarvan. In die Afrikaanse faksie kom dit veral voor in die werk van Koos Prinsloo (“Die jonkmanskas”) en André le Roux (o.a. in “Mupeki pis mos deesdae soos ‘n gieter”). Ten spyte van die uiteenlopende stelle gespreksvoorwaardes van moderne skrywers van fiksie en faksie, is die perlokusie wat hulle voor oë het, dieselfde: die strewe na ‘n basis vir hulle hoogs oorspronklike benadering tot die problematiese aard van die kontemporêre werklikheid. Die New Journalist sê eintlik: ek hou my verbonde aan die werklike, maar ek kan dit slegs op my persoonlike manier gee, soos ek dit as mens ervaar het en onthou. Robert Scholes het reeds daarop gewys dat feit en fiksie etimologies verwant is: feit (fact) kom van facere — om te maak of te doen; fiksie kom van fingere – om te maak of te skep (Hellman, 1981: 17). Die skrywer van fiksie bewandel ‘n gevaarlike weg: hy mag waarheid inboet vir effek wat hom dan eintlik niks anders maak as ‘n skrywer vir die geel pers nie; hy kan egter ook die fiksionele oorbeklemtoon wat terselfdertyd die joernalistieke kontrak vernietig — André le Roux ontkom nie altyd aan lg. gevaar nie. Wanneer fiksie en feite egter in ‘n dialektiese spanningsverhouding geplaas word, soos in die beste werk van die New Journalists, tref ‘n mens werke aan wat die literatuur van die 20e eeu op ‘n besonderse wyse verruim het.
Bibliografie
Bance, A.F. 1986. The brutalization of warfare on the Eastern front: history and fiction. In: Higgins, I. (ed.). The Second World War in Literature. Edinburgh: Scottish Academic Press.
Botha, R. 1989. Die mutasie van feit tot fiksie: die faksionele kode in Die jonkmanskas van Koos Prinsloo. Literator, 10(2).
Brink, A.P. 1982. Houd-den-Bek. Johannesburg: Taurus.
Copeland, M. 1978. Art and actuality: studies in the rhetoric of fact and fiction in the novel. Dissertation. University of California, Los Angeles.
De Koven Ezrahi, S. 1980. By Words Alone. The Holocaust in Literature. Chicago: The University of Chicago Press.
De Meijer, P. 1986/7. De moderne historicus als literair verteller. Spektator, 16.
Foley, B. 1986. Telling the Truth. The Theory and Practice of Documentary Fiction. Ithaca: Cornell University Press.
Hellman, J. 1981. Fables of Fact. The New Journalism as New Fiction. Urbano: University of Illinois Press.
Higgins, I. (ed.). 1986. The Second Vforld War in Literature. Edinburgh: Scottish Academic Press.
Johnson, M.L. 1971. The New Journalism: The Underground Press, the Artists of Nonfiction, and Changes in the Established Media. Lawrence: University Press of Kansas.
Lanser, S.S. 1981. The Narrative Act: Point of View in Fiction. Princeton, N.J.: Princeton University Press.
Le Roux, A. 1987. Sleep vir jou ‘n stoel nader. Kaapstad: Human & Rousseau.
Maatje, EC. 1977. Literatuurwetenschap. Grondslagen van een theorie van het literaire werk. Utrecht: Bohn, Scheltema en Holkema.
Pearce, R. 1978. The Sixties: fictions in fact. Novel, 11(2).
Pratt, M.L. 1977. Toward a Speech Act Theory of Literary Discourse. Bloomington: Indiana University Press. Prinsloo, K. 1982. Jonkmanskas. Kaapstad: Tafelberg.
Pugh, A.C. 1986. Defeat, May 1940: Claude Simon, Marc Bloch and the writing of disaster. In: Higgins, I. (ed.). The Second Warld War in Literature. Edinburgh: Scottish Academic Press.
Rockwell, J. 1974. Fact in Fiction. The Use of Literature in the Systematic Study of Society. London: Routledge & Kegan Paul.
Senekal, J.H. (samest.). 1988. Donker weerlig. Literêre opstelle oor die werk van Andre P. Brink. Kenwyn: Jutalit.
Van Coller, H.P. 1988. Die historisiteit van die literêre werk met verwysing na Houd-den-Bek. In: Senekal, J.H. (samest.). Donker weerlig. Literêre opstelle oor die werk van Andre P. Brink. Kenwyn: Jutalit.
Werkcollege autobiografie. 1981. Rijksuniversiteit Utrecht, Utrecht.
Wolfe, T. 1973/1975. The New Journalism (with an anthology by Tom Wolfe and E.W. Johnson). London: Picador.
Zavarzadeh, M. 1976. The Mythopoetic Reality: The Postwar American Nonfiction Novel. Urbano: University of Illinois Press.
H.P. van Coller