(Hersien Januarie 2018)
Die term conte (Fr.: conter: om te vertel = vertelling) verwys na ‘n kort fiksionele verhaal waarin dikwels van ‘n avontuur vertel word. Die conte was oorspronklik nierealisties, in ‘n mate fantasties, snaaks en gevat. Hulle was dikwels allegories en moralisties van aard. Voorbeelde hiervan is La Fotaine se Amours de Psyché et Cupidon (1667), die filosoof Voltaire (François-Marie Arouet) se satiriese Candide, ou l’Optimisme (1759), Jonathan Swift se Gulliver’s Travels (1726) en Samuel Johnson se Rasselas (1759; oorspronklike titel: The Prince of Abissinia: A Tale).
Die term conte word dikwels in verskeie en botsende betekenisse gebruik. Die term kan op tweërlei wyse verstaan word. In die wydste sin van die woord verwys conte na enige vertelling; in ‘n enger sin verwys dit na ‘n kort vertelling in prosa- of poësievorm. Die algemeen aanvaarde siening is dat die conte ‘n narratief is wat korter as die gemiddelde roman is, maar langer as ‘n kortverhaal of novelle, bv. Jean de la Fontaine se Contes et nouvelles en vers (Verhale en novelles in versvorm; 1665), Charles Perrault se Contes de ma Mère l’Oye (1697; Verhale van Moeder Gans). Die mees aanvaarbare siening is dat die conte verwant is aan die novelle, maar dat dit daarvan verskil in dié opsig dat die eis van werklikheid by die conte verval. Daarom word die term gewoonlik gebruik om te verwys na vertellings waarin die fantasie ‘n rol speel. Hulle word contes merveillieux (letterlik: wonderbaarlike verhale) genoem en sluit die sprokie in (contes de fées; feeverhale); in Afrikaans word albei tipes feëverhale genoem, bv. Perrault se Contes de ma Mère l’Oye; hulle word contes philosophiques (filosofiese verhale) genoem. Dit is verhale met ‘n didaktiese inslag wat veral in die 18de eeu gewild was), bv. Voltaire se Candide; en contes fantastiques, bv. die contes van Guy de Maupassant (bv. Contes du jour et de la nuit, 1885) en Edgar Allan Poe, bv. Tales of the Grotesque and the Arabesque, 1839).
In Frans verwys die term hoofsaaklik na ‘n kort verhaal of ‘n avontuur. Die conte was gewild in die 18de eeu; dit is hoofsaaklik geskryf deur die Ier Anthony Hamilton wat in Frans as Antoine Hamilton geskryf het, bv. Le Bélier, Fleur d’Epine, Zeneyde en Les quatre Facardins (1730, 10 jaar na die outeur se dood); Crébillon fils, bv. Le Sopha (1766); dit is ‘n conte moral (‘n erotiese en politieke satire), asook Claude-Henri de Fusée, Voisenon (die ab van Voisenon), bv. Contes de l’abbé Voisenon (1878).
Gedurende die 19e eeu was die conte in Frankryk ‘n kort verhaal met ‘n hegte plot. ‘n Voorbeeld hiervan is die werk van Guy de Maupassant wat sy verhale self contes genoem het. So ook Auguste, comte de Villiers de L’isle-Adam (Contes cruelles; Wrede vertellings; 1883) en Flaubert se Trois contes (1877). Die conte was in die 19de eeu dus ‘n verhaal met ‘n hegter konstruksie as ‘n novelle. In Engeland word die term dikwels gebruik om te verwys na enige verhaal wat langer is as ‘n kortverhaal, maar korter as ‘n novelle. Sedert die 19e eeu word conte gebruik om na enige kort verhaal te verwys, bv. Flaubert se Trois contes (1870).
Literatuur
Castex, P-G. 1951. Le conte fantastique en France de Nordier à Maupassant. Paris: Corti.
Garner, A. 1984. Alan Garner’s Book of British Fairy Tales. Collins UK.
Joasson-de Villiers, E. 1985. Metamorphoses du conte, du conteur et du conte dans ‘La fleur sacrée’ de George Sand. In: Glasgow, J. (ed.). George Sand: Collected Essays. Troy, N.Y.: Whitson.
Propp, V. 1968/1979. Morphology of the Folktale (revised and edited by Louis A. Wagner and a new introduction by Alan Dundes). Austin: University of Texas Press.
Anna-Marie le Roux