PLAGIAAT

Literêre PLAGIAAT behels vorme van herhaling van gedeeltes teks, treffende formulerings, storieplanne en idees uit bestaande bronne, soos ’n aantal ander literêre tegnieke of strategieë ook waarmee dit soms verwar of lukraak saamgebondel word of waarvoor dit selfs as ’n soort sambreelterm ingespan word. Dit sluit tegnieke in soos appropriasie of toe-eiening, ontlening en aanpassing, toespeling en aanhaling, transposisie, vertaling, en nabootsing/imitasie, collage, montage, pastiche en parodie. Navorsing toon dat plagiaat ’n tipies Westerse konsep is, wat veral sedert die Verligting en die uitvinding van die drukpers op die voorgrond getree het (hoewel die vroegste gebruik van die term na die eerste eeu terugdateer) en dat die opkoms van die gebruik van die term verband hou met die saamvloei van diskoerse oor die skrywer, oorspronklikheid en eiendomsreg in Duitsland en Engeland in die agtiende eeu. (Vgl. hiervoor Woodmansee, 1984.)

Herhalings (of oornames) in literêre en ander werke wat as plagiaat uitgewys word, word as morele oortredings hanteer (oorskrydings van bepaalde etiese kodes), in teenstelling met kopieregoortredings wat wetlike oortredings is. Die geskiedenis van die moderne literêre gebruik van die term wys dat dit sedert die agtiende eeu selektief in die kritiek aangewend word om groot skrywers se kreatiwiteit en oorspronklikheid aan te prys en mindere skrywers tot die vergetelheid te relegeer. Die volgende opmerking van Margaret Randall (2001: 4) is ter sake: Plagiaat, sê sy,

is not an immanent feature of texts, but rather the result of judgments involving, first of all, the presence of some kind of textual repetition, but also, and perhaps more important, a conjunction of social, political, aesthetic, and cultural norms and presuppositions that motivate accusations or disculpations, elevating some potential plagiarisms to the level of great works of art, while censuring others and condemning the perpetrators to ignominy.

Margaret Randall (2001: 4) gaan van die standpunt uit dat plagiaat nie op ’n objektiewe manier in ’n teks bestaan nie en derhalwe is daar ook geen positiewe kriteria wat die teenwoordigheid van plagiaat in ’n teks verraai nie: plagiaat kom pas in die leesproses tot stand. Die stelling kan selfs gemaak word dat dit juis ’n afwesigheid is wat ’n leser herhalings/oornames/ontlenings in ’n teks as plagiaat laat kwalifiseer: die afwesigheid van die naam van die oorspronklike outeur in kontekste of situasies waar die naam verwag sou kon word.

Die vraag is of literêre situasies so ’n konteks is en of wanopvattings oor die idee van oorspronklikheid in die kunste onrealistiese verwagtinge wek. Navorsing oor die geskiedenis van die plagiaat toon dat skrywers deur die eeue heen hipersensitief was en is oor die houvas van tradisie op die totstandbringing/skepping (inventio/creatio) van ’n nuwe werk. Hoewel daar sedert die agtiende eeu ’n onderskeid getref is tussen inventio (die tot stand bring van iets nuuts uit die reeds bestaande) en creatio (as oorspronklike skepping uit niks), en hoewel die aandrang op oorspronklike skepping as kenmerk van genialiteit die Romantiek oorheers het, het die pendulum met die opkoms van die Modernisme reeds weer begin wegswaai, met James Joyce se Ulysses en T S Eliot se Waste land (1922) en talle modernistiese werke wat wemel van die soort oornames en herhalings wat gereeld as plagiaat uitgemaak word. (Vgl. hieroor o.m. Leo Bersani, in Attridge, 2004 ).

Oor Eliot word gesê dat hy as’t ware sy lesers deur sy akademiese opstelle opgevoed het om die toespelings in sy werk te kan ‘lees’, byvoorbeeld in die 1919-opstel, “Tradition and the individual talent”, wat net voor die Waste land verskyn het en in die aantekeninge by die Waste land waarin die digter self bepaalde toespelings uitwys. Die analitiese metodes van die teksgerigte kritiese benaderings en die debatte oor die literêre verwysingstegniek het ook ’n belangrike rol gespeel om literêre lesers toespelings in modernistiese tekste te leer aanvaar.

Postmodernistiese, postkoloniale en feministiese tekspraktyke, met die poststrukturalistiese teoretisering oor die ‘dood van die skrywer’ en intertekstualiteit as dryfvere, neem die idee van beïnvloeding, onoorspronklikheid en plagiaat nog ’n stap verder. Kevin Dettmar (in Buranen en Roy, 1999) bestempel die toespelings in Joyce en Eliot as modernistiese voorlopers van die appropriasies in Kathy Acker se postmodernistiese tekste wat sy as plagiaat toeëien juis vanweë die geassosieerde oorskrydende aard van die praktyk en die moontlikhede wat dit vir ’n kontemporêre kritiese standpuntinname teen kopiereg open. Susan Hunter (2001: 459) stel dit in ’n bespreking van Perspectives on Plagiarism and Intellectual Property in a Postmodern World soos volg: “Feminists and postmodernists alike engage in appropriation or plagiarism as a means of commentary on copyrighted texts. Such appropriation emphasizes ‘the relational aspect’ of all learning and creation and the ‘intellectual debts’ one owes…”

Hoewel debatte oor plagiaat binne die instelling van die literêre kritiek deel uitmaak van die groter literêre diskoers waar wigte en teenwigte in die spel gebring kan word, is aantygings van plagiaat daarbuite egter as ’n reël ’n rede om die oortreder (die plagiaris) by implikasie as moreel korrup te veroordeel. Dit is nuttig om te weet dat plagiaat nie ’n regsbegrip is nie: kopie-, outeurs- en intellektuele eiendomsreg is die konsepte wat gebruik word om outeurs en uitgewers se regte op ’n inkomste uit kreatiewe skeppings te beskerm. Binne die akademiese konteks word uitgewysde plagiaat (die afwesigheid van verwysings na die outeur as bron) feitlik sonder uitsondering as ’n oortreding van die institusionele kodes vir akademiese integriteit gestraf. Oortreders kan geskors of afgedank word, afhangende daarvan of hulle studente of akademici is.

Algemene definisies speel ’n belangrike rol in die mate waarin plagiaat gestigmatiseer word. Van die vroegste gebruik van die term af is plagiaat met diefstal geassosieer. In die oorspronklike Latynse betekenis was plagiarus ’n benaming vir ontvoerders van kinders of slawe. In die eerste eeu het die digter Martialis die woord oordragtelik gebruik om die optrede te benoem van ’n ene Fidentius (soms ook Fidentinus) wat sy (Martialis) se gedigte onregmatig gekopieer en voor gehore voorgedra het terwyl hy voorgegee het dat hulle sy eie was. Die term het mettertyd ook die Bybelse verbod begin oproep: “Jy mag nie steel nie” (Thou shalt not steal). Die inskrywing onder “Ten Commandments” oor die diefstalgebod in Wikipedia verwys byvoorbeeld na die standpunt van die Duitse geleerde Albrecht Alt in sy Das Verbot des Diebstahls im Dekalog (1953) dat die agtste gebod oorspronklik teen ontvoering en slawerny gerig was –  ’n standpunt wat ooreenstem met die Talmoediese interpretasie van die betrokke teksgedeelte.

Tegnies is plagiaat egter nie diefstal nie, soos Christopher Ricks (1998) in ’n lesing voor die Britse Akademie uitgewys het (en voor hom, in 1909, Christopher Walsch). Die argument téén plagiaat as ’n vorm van diefstal berus daarop dat die slagoffer van plagiaat, naamlik die oorspronklike skrywer, veral in die moderne era van gedrukte en elektroniese boeke, selde as gevolg van die plagiaat besitreg van of die krediet vir sy/haar skepping ontneem word. Die geval is eerder dat die plagiaris onregmatig krediet of erkenning op grond van die vals voorstelling ontvang, wat neerkom op ’n verbreking van die implisiete kontrak tussen skrywer en leser oor die eienaarskap en outentisiteit van ’n teks, tensy anders aangedui. Plagiaat is m.a.w. ’n misleiding van die leser oftewel ’n vertrouenswendel. Definisies en besprekings van plagiaat fokus egter merendeels op plagiaat as ’n oortreding gemik teen die oorspronklike skrywer. In albei gevalle bly die vraag: indien deur plagiaat ’n mis-daad gepleeg word, wat presies word die oorspronklike skrywer en die leser ontneem?

Ricks (1998: 168) rig ’n waarskuwing teen die verleidelikheid van vals metafore in die diskoers oor plagiaat:

There is no chance of our ever giving up the vivid figure of speech which thought in terms of theft, but we should be aware that the very terms in which we speak (we are all guilty … – how delicious) play a part in contributing to the disingenuous  discourse through which plagiarism steals.

’n Onpresiese omgaan met die konsep plagiaat-as-diefstal is skadelik vir die literêre diskoers. Op ’n informele vlak blyk dit byvoorbeeld uit die berig oor die Franse skrywer, Michel Houellebecq, se reaksie op beskuldigings deur Slate.fr. dat hy verskeie tegniese beskrywings uit Wikipedia.fr in sy roman La Carte et le Territoire (Kaart en grondgebied, 2010) oorgeneem het sonder die nodige erkenning. Jare ná die gebeure kondig die opskrif van die Britse Independent-webblad steeds aan dat die skrywer erken dat hy van Wikipedia gesteel het, maar ontken dat dit plagiaat is: “I stole from Wikipedia but it’s not plagiarism, says Houellebecq”. Steeds weerspreek die slotparagraaf die opskrif met die verslaggewer wat skryf die skrywer ontken dat sy werkwyse op diefstal neerkom: “Houellebecq told a radio interviewer that taking passages word for word was not stealing so long as the motives were to recycle them for artistic purposes.” Die bron van die inkonsekwentheid daargelaat (is dit die beriggewer se onkunde of ‘n kwessie dat iets in die vertaling verlore geraak het of is dit die skrywer?), lesers wat hulle teen ’n sensasionele, maar ontoereikende metafoor blind staar, loop die gevaar om ’n belangrike sleutel vir die beoordeling van oornames in werke van literêre meriete mis te lees.

Houellebecq se reaksie, wat in die Engelse vertaling in aanhalings gegee word, maak ook die punt oor die emosionele skade wat  oningeligte beskuldigings van plagiaat kan aanrig: “Using a big word like plagiarism … always causes some damage. It will always do lasting damage, like accusations of racism.” Individue wat hulle doelbewus vir eie gewin aan plagiaat skuldig maak, blyk meestal voorbereid te wees teen beskuldigings en gereed te staan met verskonings. Beskuldigdes wat dit nie verwag nie en waarskynlik onskuldig is, word geskaad, dikwels gedryf om op te hou skryf en in uiterste gevalle na hulle dood — soos die Roemeens-gebore Duitstalige digter, Paul Celan, na bewering ná beskuldigings dat hy die grootste deel van sy bekende gedig oor die verskriklikhede van die Nazi-konsentrasiekampe, “Todesfuge” van verskillende bronne gesteel het, onder meer een van die bekendste frases in sy oeuvre, “Schwarze Milch…”.

Die Franse digter, Yves Bonnefoy (2010), wys ter verdediging van Celan in ’n “klein essay”, wat tegelykertyd ook ’n verdediging van die poësie en digterskap is, op die onlosmaaklike band tussen digter en gedig en toon aan hoe die aantasting van die integriteit van die gedig vir die digter ’n doodskoot as digter kan wees en hom vertroue in die krag en vermoë van die poësie laat verloor. In die geval van Celan is die situasie vererger deur ’n besef dat selfs welmenende lesers wat hom verdedig het, nie begryp het hoe (sy) poësie werk nie, anders as wat die geval was met Eliot se literêre lesers wat die apparaat van die teksgerigte kritiek, die stilistiek en Practical Criticism tot hulle beskikking gehad het: “… they failed to question the pertinence of this kind of thought – borrowing, plagiarism – in reflecting on poetry. They should have said … such a criterion ought not to distract us. Demonstrably, then, many Celan defenders did not know or know well what poetry is” (Bonnefoy, 2010: 210) – raad wat lesers van die Afrikaanse digters soos D.P.M. Botes en Antjie Krog, wat albei van plagiaat verdink is, ter harte behoort te neem. (Vgl. hieroor Philip John, 2010 en Helize van Vuuren, 2008.)

Navorsing wat oor die afgelope twee of drie dekades in Westerse lande oor die verskynsel onderneem is, toon dat plagiaat op verskillende terreine van die samelewing waar navorsingsuitsette, verslagdoening (bv. in die akademie en joernalistiek) en kreatiewe uitdrukking (bv. in argitektuur en ontwerp, musiek, visuele kuns en die letterkunde) ter sprake is, al hoe wydverspreider voorkom. Dit word aangehelp deur die digitale tegnologie van die inligtingsera en deur globalisering, maar word ook toenemend makliker ‘opgespoor’ met die hulp van die geglobaliseerde gemeenskap en dieselfde tegnologie. Die groter bewustheid van die voorkoms van plagiaat beteken egter nie dat daar eenstemmigheid is oor presies watter herhalings/oornames/ontlenings in die praktyk as plagiaat moet geld of nie (meestal ’n kwessie van interpretasie, wat binne  bepaalde kontekste geskied). Daar is ook nie eenstemmigheid oor of plagiaat ’n morele of regskwessie of albei of dalk eerder ’n kulturele of politiek-ekonomiese kwessie is nie  en selfs nie oor of en hoe teen plagiaat (en die plagiaris) opgetree moet word nie.

Uit navorsing oor plagiaat by tersiêre instellings (vgl. Haviland en Mullin, 2009), blyk dit dat teorie en praktyk waar dit oorspronklikheid en eienaarskap/outeurskap in verskillende dissiplines betref, meermale nie versoenbaar is nie. Daarby stem generiese definisies (van oorspronklikheid, onafhanklikheid van denke en vormgewing en die produksie van nuwe kennis en intellektuele eienaarskap) en sulke definisies in die afsonderlike dissiplines en tradisies nie met mekaar ooreen nie. Verder huldig verskillende dissiplines en tradisies uiteenlopende opvattings oor hierdie aangeleenthede het, en verander  opvattings binne dieselfde tradisie self oor tyd en na gelang van omstandighede. Dit blyk ook dat insig oor dié aangeleenthede wat by studente en praktisyns veronderstel word, in baie gevalle ontbreek, en dat die praktyk van mentors en rolmodelle dikwels teen die teoretiese voorskrifte indruis. Morele en etiese voorskriftelikheid is nie ’n sterk genoeg bindende krag, en selfs strafmaatreëls dien nie as ’n doeltreffende afskrikmiddel om studente en praktisyns/navorsers te verhoed om neergelegde reëls rondom en rakende plagiaat te oortree nie.

Plagiaat in die 21ste eeu het ’n dilemma geword wat deur ego en gewin gedryf word, en vergemaklik word deur tegnologie, maar die werklike gevaar is die gevaar wat ’n onbegrip inhou van hóé kreatiwiteit en die maak van nuwe kennis tot die voordeel van almal werklik werk. Die skrywer Jonathan Lethem (2007: 68), in ’n passievolle stukkie plagiaat uit ’n verskeidenheid bronne, gee die volgende ter nadenke:

Any text is woven entirely with citations, references, echoes, cultural languages, which cut across it through and through in a vast stereophony. The citations that go to make up a text are anonymous, untraceable, and yet already read; they are quotations without inverted commas. … For substantially all ideas are second-hand … used by the garnerer with a pride and satisfaction born of the superstition that he originated them; whereas there is not a rag of originality about them anywhere except the little discoloration they get from his mental and moral calibre and his temperament, and which is revealed in characteristics of phrasing. Old and new make the warp and woof of every moment. There is no thread that is not a twist of these two strands.

 

Literatuur

Attridge, Derek (red.). 2004. James Joyce’s Ulysses: A casebook. Oxford: Oxford University Press.

Bersani, Leo. 2004. “Against Ulysses”. In: Attridge, Derek (red.). 2004. pp. 201-230.

Biagioli, Mario, Peter Jaszi, Martha Woodmansee. 2015. Making and Unmaking Intellectual Property: Creative Production in Legal and Cultural Perspective. Chicago: University of Chicago Press.

Bonnefoy, Y., & J. Felstiner. 2010. “Why Paul Celan Took Alarm”. PMLA, 125 (1): 204-212. http://0-www.jstor.org.ujlink.uj.ac.za/stable/25614451.

Buranen, Lise & Alice Myers Roy. 1999. Perspectives on Plagiarism and Intellectual Property in a Postmodern World. New York: SUNY Press.

Dettmar, Kevin J.H. 1999. “The Illusion of Modernist Allusion and the Politics of Postmodern Plagiarism”. In: Buranen, Lise & Alice Myers Roy. 1999. pp. 99–109.

Eliot, T. S. 1969. The sacred wood; Essays on poetry and criticism. Londen: Methuen.

Haitch, R. 2016. Stealing or Sharing? Cross-Cultural Issues of Plagiarism in an Open-Source Era. Teaching Theology & Religion, 19: 264–275. DOI: 10.1111/teth.12337.

Haviland, Carol Peterson, and Joan A. Mullin. 2009. Who owns this text?: Plagiarism, authorship, and disciplinary cultures. Logan, Utah: Utah State University Press.

Horn, Mirjam. 2015. Postmodern Plagiarisms: Cultural Agenda and Aesthetic Strategies of Appropriation in US-American Literature (1970-2010). http://nbn-resolving.de/urn:nbn:de:101:1-201606306805.

Hunter, Susan.  2001. Review: Perspectives on Plagiarism and Intellectual Property in a Postmodern World. A Journal of Rhetoric, Culture, and Politics: JAC Online, 21(2): 457-461.

John, Philip. 2010. “D.P.M. Botes, Marcel Duchamp, die Europese avant-garde en ‘n literêre definisie van plagiaat”. Tydskrif vir Letterkunde: ‘n Tydskrif vir Afrika-Letterkunde, 47 (2): 48-58.

Lethem, Jonathan. 2012. The Ecstasy of Influence: Nonfictions, etc. Londen: Jonathan Cape.

Lichfield, John. 2010. “I stole from Wikipedia but it’s not plagiarism, says Houellebecq”. Independent. www.independent.co.uk/arts-entertainment/books/news/i-stole-from-wikipedia-but-its-not-plagiarism-says-houellebecq-2073145.html.

Lund, James R. 2012. “Plagiarism”. Journal of Religious & Theological Information, 6 (3-4): 93-101, DOI: 10.1300/J112v06n03_08

MacFarlane, Robert. 2007. Plagiarism and Originality in Nineteenth-Century Literature. Oxford: Oxford University Press.

McCrum, Robert. 2006. “Warning: the words you are about to read may be stolen”. The Guardian. https://www.theguardian.com/books/2006/dec/03/fiction.features1

McCrum, Robert. 2010. Plagiarism: in the words of someone else… there’s little new in literature. The Guardian. https://www.theguardian.com/books/2010/jan/17/plagiarism-books-intellectual-property-mccrum.

McGill, Scott. 2013. Plagiarism in Latin literature. New York: Cambridge University Press. http://dx.doi.org/10.1017/CBO9781139088350.

Randall, Marilyn. 2001. Pragmatic plagiarism: Authorship, profit, and power. Toronto: University of Toronto Press.

Ricks, Christopher. 1998. “Plagiarism”. In: Proceedings of the British Academy, 97: 1997 Lectures and Memoirs. pp. 149-168.

Rocha, João Cezar de Castro. 2015. Machado de Assis toward a poetics of emulation. East Lansing, MI: Michigan State University Press. http://ezproxy.uniandes.edu.co:8080/login?url=https://muse.jhu.edu/book/41706/.

Terry, Richard. 2010. The plagiarism allegation in English literature from Butler to Sterne. New York: Palgrave Macmillan.

Vuuren, Helize van. 2008. “Plagiaat? Appropriasie? Kulturele oorplanting? Huldiging?: Brandende kwessies rondom mondelinge tradisies – Eugène Marais en die San opnuut bekyk”. Journal of Literary Studies, 24 (4): 85-112.

Woodmansee, M. 1984. “The Genius and the Copyright: Economic and Legal Conditions of the Emergence of the ‘Author’”. Eighteenth-Century Studies. 17(4): 425-448. DOI: 10.2307/2738129.

Woodmansee, Martha & Peter Jaszi. 1994. The Construction of Authorship: Textual Appropriation in Law and Literature. Duke University Press.

Ronél Johl

(Hersien Mei 2018)