(Gepubliseer Maart 2019)
Vraisemblance word gedefinieer as “verisimilitude; appearance of truth”; likelihood”. Vrai is waarheid; semblance is ooreenkoms in Frans.
Hierdie aspek van teksanalise is veral in die Strukturalisme deur teoretici as ‘n onaanvaarbare roete beskou waar tekste semiologies en volgens kodes ín die teks benader is. In “The Reality Effect” verwys Barthes na konkrete realiteit as ‘n “having-been-there of things”.
Vraisemblable is imitasie. ‘n “Effet de réel” word geskep wat die basis vorm vir alle realistiese of pre-modernistiese tekste. Die term word verbind aan die Franse klassieke teater van die sewentiende eeu met die sterk fokus op die ‘geloofwaardigheid’ van aksies en karakters. Die tekste van Racine – waaroor Barthes teoretiseer – is hier ter sake.
Die teks is in die Strukturalisme gelees as artefak; as ‘n onafhanklike entiteit. Die “well wrought urn”, soos Cleanth Brooks dit defineer in 1947.
Post-Strukturalisme fokus egter op ál die aspekte wat ‘n teks vir die leser kan oopmaak.
Barthes se “The reality effect” word later in S/Z (1970/ 1974) gedekonstrueer. Die Strukturalisme in Frankryk het onder andere die tekste van Alain Robbe-Grillet, die skrywer en filmmaker, as uitgangspunt geneem om hul beginsels te staaf. Die filmweergawe van Robbe-Grillet se L’Année dernière à Marienbad (Last year at Marienbad) van 1961 is volgens die aangewese kodes in die teks geanaliseer. Die teken as teiken – aldus Merwe Scholtz.
In die werk van Barthes word daar beweeg van die Strukturalisme tot die Post-Strukturalisme waar ander kodes in die spel kom. Barthes formuleer dit in S/Z as volg: die hermeneutiese kode; proaieritiese kode of empiriese stem – ook die plot of vooruitgang; die semiese kode of die stem van die persoon; die simboliese kode en die sogenaamde referensiële kode of die stem van die wetenskap.
Strukturaliste fokus op die reële in die teks; Post-Strukturaliste trek die grense wyer weens postmodernistiese tekste wat referensies maak na die werklikheid of werklike mense. Dit problematiseer eweneens wat werklikheid mag wees.
Orhan Pamuk is ‘n skrywer wat vraisemblance tot die uiterste dimensie voer.
By Orhan Pamuk in The museum of innocence (2010) word die werklikheid ‘n troop.
‘n Roman speel in op films, ‘n museum, die geskiedenis en lewer kommentaar op al die verskillende vlakke van die werklikheid. Boonop vertel die werklike skrywer vir ons in ‘n regte museum hoe alles inmekaar pas.
Dit gebeur in The museum of innocence van Orhan Pamuk, die Turkse skrywer en wenner van die Nobelprys vir letterkunde in 2006. Die roman van 734 bladsye bevat ‘n naamregister. Die leser kan dus elke karakter opsoek asof jy ‘n historiese dokument lees en boonop is daar ‘n werklike museum in Istanbul wat die komplekse verhouding tussen fiksie en ‘n strewe om die werklikheid te herhaal, vérder uitbou. Die museum is in April 2012 geopen in die historiese Çukurcuma-area.
Die roman handel op die eerste vlak oor onbeantwoorde liefde. Kemal (‘n ryk besigheidsman) se liefde of eerder dalk, obsessie met Füsun (uit ‘n meer beskeie familie) word in besonderheid vertel. Objekte (soos koeldrankbottels en sigaretstompies) word vinjette vir die ervaring van die geobsedeerde verteller wat vir ons meedeel presies hoeveel keer hy haar ouers se huis besoek het net sodat hy naby aan haar kan wees. Daar was 1,593 besoeke aan die Keskin-huishouding waar hy omstreeks seweuur opgedaag het en televisie met die gesin gekyk het. 4, 213 sigaretstompies van sy geliefde het hy bewaar.
En objekte word gegaps sodat hy iets van haar kon behou. Soos hondjies bo-op die televisie of ‘n botteltjie parfuum. Hiervoor vergoed hy later deur geld agter te laat.
Op ‘n dieper vlak word dit ‘n analise van die geskiedenis van Istanbul en soos die verteller ons dan inlig, beleef ons Istanbul as ‘n “mental map”. Geboue, bakens, restaurante, die Bosporus, moskees is alles daar. Besoekers aan die stad herken die roetes wat gevolg word. Die geskiedenis van Turkye en die invloed van Atatürk word ontleed. Ons beleef die stormagtige noodtoestand van die sewentigerjare.
Die roman is eweneens ‘n analise van die liefde en hoé seksualiteit in hierdie tyd ervaar is. Die jong vrou wat voorhuwelikse seks toestaan, “verloor” iets. Hierom moet die man met haar trou of sy word as ‘n Westerse vrou gesien. Daar word kommentaar gelewer op skoonheidskompetisies waaraan jong Turkse meisies deelneem. ‘n Mens sou die hele roman ook kon lees as ‘n analise van die verskille tussen Westerse en Turkse siening van skoonheid. Hoe mense lyk, word in besonderheid beskryf.
Die verteller is aanvanklik verloof – Sibel verlaat hom en gaan studeer in Parys, omdat sy bewus is van sy verskeurdheid. Tant Nesibe, die liefdesobsessie, Füsun se moeder, vertel dat haar dogter moes trou om van die klad (“stain”) van die verhouding met Kelam weg te kom (385).
Sy trou dan met Feridun ‘n jong man, onbewus van Kemal se liefdesobsessie, wat graag ‘n kunsfilm wil maak. Hy hoop dat ons ryk verteller hom sal borg. Daar word ook kommentaar gelewer op Turkse films en die impak daarvan op ‘n gemeenskap. Turkse films wat dikwels melodramaties is, word geanaliseer. Hoofstuk 59 wys weer op die sterk sensuurstelsel in hierdie gemeenskap waar die filmmaker se vryheid van spraak aan bande gelê was. Fotoboekies was eweneens in die sewentigerjare ‘n ruimte waar vroue buite die patriargale orde kon beweeg.
Grace Kelly is ‘n ikoon in hierdie roman. Hulle kyk na haar films op TV na haar dood en Kemal analiseer hoe sy geliefde reageer op hierdie skoonheid. Hierdie kragtige toneel verduidelik die verskille tussen die Westerse en Turkse vrou.
Die objek-van-begeerte – soos in Lolita van Nabokov – se lot word in jukstaposisie geplaas met ‘n voëltjie in ‘n kou in haar ouerhuis.
Die filmverwysings word ‘n “counter-plot” wat die komplekse spanning tussen fiksie/werklikheid (die museum)/films vérder bevestig. Op die koop toe is daar werklike verwysings na ‘n Pamuk-familie by ‘n troue en ene Pamuk blyk uiteindelik die ouktoriële outeur te wees van hierdie verhaal.
Vir iemand wat al verskeie kere in Istanbul was, word die roman nog komplekser. Jy herken bakens en gewoontes. Die leser word getransporteer deur die komplekse lae van hierdie samelewing: Bisantium, Konstantinopel tot moderne Istanbul.
Diegene met ‘n eksemplaar van die boek, mag die museum gratis besoek. In ‘n stad wat al in 657 VC begin is. Aspekte van die komplekse geskiedenis van Istanbul word in The museum of innocence geberg.
En die leser word ook kyker wanneer jy na die BBC-program kyk oor die museum met Pamuk as begeleier.
Die roman dwing ons na verdere werklikhede.
In Istanbul is daar ook kritiek op die feit dat Pamuk tekste oorneem uit ander tekste – kennelik onkunde oor die postmodernistiese speletjies wat hy met die ingeligte leser speel waarvan die wérklike museum ‘n markante voorbeeld is.
As skrywer is hy in 2005 krimineel aangekla oor sy siening van die vervolging van Armeniërs deur die Turke. Die klag is ‘n jaar later laat vaar, ofskoon hy steeds aangekla word van die feit dat hy “Turksheid” beledig het.
In 2012 vind ons ‘n boek oor die museum: The innocence of objects.
Die leser kan ook ‘n toer deur die museum via die internet onderneem. Hierdie roman – en ook ‘n besoek aan die museum – bewys dat vraisemblance in wese altyd ‘n onvolledige en gekodeerde weergawe van die werklikheid bly.
Joan Hambidge
Bibliografie
Barthes, Roland. 1982. The Reality Effect. In: Todorov, Tzvetan (ed.). French Literary Theory Today: A Reader. Cambridge : Cambridge University Press. Vertaler R. Carter.
______________ 1974. S/Z. New York: Hill and Wang. Vertaler Richard Miller.
______________1988. The death of the author. In: Lodge, David (ed.) 1988. Modern Criticism and Theory – A Reader. Londen: Longman.
Binet, Laurent. 2015 / 2017. The Seventh Function of Language. Londen: Harvill Secker. (Vertaler: Sam Taylor).
Brooks, Cleanth. 1947. The language op paradox (uit: The well wrought urn, opgeneem in Robert Con Davis. (red.). 1986. Contemporary Literary Criticism. New York: Longman.
Burger, Willie. 2018. Die wêreld van die storie. Pretoria: Van Schaik.
Foucault, Michel. 1979. What is an author? In: Lodge, David (ed.). 1988. Modern Criticism and Theory. London: Longman.
Hambidge, Joan. 2018. Vraisemblance: werklikheid of illusie? ’n Teoretiese en kreatiewe besinning. http://joanhambidge.blogspot.com/2018/09/lesing-vraisemblance-werklikheid-of.html. Besoek 22 Februarie 2019.
Pamuk, Orhan. 2010. The museum of innocence. Londen:Faber & Faber.
Hambidge, Joan. 2013. Orhan Pamuk – The museum of innocence (2010).
http://joanhambidge.blogspot.com/2013/06/orhan-pamuk-museum-of-innocence-2010.html Besoek 5 Augustus 2018.