QUEER TEORIE

Queer teorie is weens verskeie redes ’n komplekse en ontglippende term om te definieer. Eerstens bestaan daar nie ’n enkelvoudige en allesomvattende queer teorie nie. Queer teorie is grootliks ’n oorvleueling van uiteenlopende perspektiewe wat liefs breedweg in die meervoudsvorm as queer teorieë benoem moet word (Hall, 2003; Sullivan, 2003). Tweedens druis dit tot ’n groot mate teen die praktyk van queer teorie in om afgebakende en streng voorskriftelike definisies voor te hou weens sterk weerstand teen enige vorm van begrensing en normalisering. Die evoluerende en elastiese aard van queer teorie skep voortdurend nuwe toepassingsmoontlikhede wat ’n bykomende rede is waarom dit onmoontlik om die konsep op ’n eendimensionele wyse te omskryf.

Queer teorieë spruit voort uit ’n aantal sosiologiese, psigoanalitiese, feministiese, postmodernistiese en post-strukturalistiese benaderings wat die sosiaal-gekonstrueerde aard van die seksuele subjek beklemtoon. Volgens Watson (2005:68) is dit belangrik om queer as ’n teoretiese benadering te sien wat aansluit by die algemene bevraagtekening van die historiese en kulturele posisionering van die “self” as ’n koherente identiteit.

Dit is veral Foucault (1978) se insigte oor identiteit as ’n konsep wat histories en kultureel gekonstrueer is wat ’n beduidende invloed uitoefen op die vaslegging van die belangrikste queer-teoretiese uitgangspunte sedert die middel 1980’s. In dié opsig kan die seminale werk van Rubin (1984), Bersani (1987), Butler (1990, 1993a, 1993b, 2004), Edelman (1994), Fuss (1989, 1991), Halberstam (1998), Halperin (1995), Namaste (1994), Sedgwick (1985, 1990, 1993) en Warner (1993, 1999) as grondleggend beskou word.

Queer teorie is interdissiplinêr van aard en word in verskeie dissiplines soos onder meer sosiologie, sielkunde, mediastuies, regte en literatuurstudie as ’n teoretiese raamwerk gebruik. Volgens Meeks (2007) val kulturele produkte (byvoorbeeld boeke en films), sosiale praktyke (byvoorbeeld huweliksbevestiging) en institusies (byvoorbeeld die kerk, reg en staat) binne die visier van queer teorie.

Die laat 1980’s tot die vroeë 1990’s is die aanvangsperiode van queer teorie as ’n spesifiek benoemde intellektuele benadering in die akademie. Die konsep ontstaan egter nie in die akademie nie, maar spruit voort uit Amerikaanse weerstandsbewegings soos ACT UP (Aids Coalition to Unleash Power) en Queer Nation. Hierdie bewegings bied gedurende die laat 1980’s en die vroeë 1990’s radikale weerstand teen die Amerikaanse regering se diskriminerende en homofobiese hantering van die vigskrisis. Tydens hierdie periode herapproprieer aktiviste die skeldwoord queer en word dit ’n oorkoepelende term om afwykings van die heersende norm aan te dui.

Hierdie vorm van politieke aktivisme word vroeg in 1990’s oorgedra na die akademie. In 1990 munt Teresa de Lauretis die term queer teorie as deel van die titel vir ’n akademiese konferensie wat sy reël is by die Universiteit van Kalifornië, Santa Cruz. In dié spesifieke konteks is De Lauretis se gebruik van die adjektief “queer” voor die selfstandige naamwoord “teorie” ’n doelbewuste ondermyning van gay en lesbiese studies waarin gevestigde identiteite lank sonder bevraagtekening aanvaar is (Halperin, 2003:340). Dit is egter belangrik om te onthou dat gevestigde identiteitskategorieë reeds ’n geruime tyd voor die aanvang van queer teorie deur sosioloë bevraagteken is (Meeks, 2007:1).

Alhoewel dit onmoontlik is om ’n volledige omskrywing van queer teorie te gee, is dit wel moontlik om op ’n paar fundamentele uitgangspunte te wys. Eenvoudig gestel, berus queer teorie op die volgende vier beginsels. Ter aanvulling kan die leser ook kennis neem van Stein & Plummer (1994) se vier sleutelkenmerke (“hallmarks”) van queer teorie.

Eerstens word enige beskouing van identiteit as ’n eendimensionele, stabiele of normatiewe gegewe bevraagteken. Die opposisionele en weerstandige aard van identiteit word beklemtoon en binêre opposisies soos heteroseksueel/homoseksueel en manlike/vroulik word ondermyn. Halperin (1995:62) wys daarop dat queer nie na enige bestaande tipe of voorafbepaalde objek verwys nie, maar slegs betekenis verkry via ’n opposisionele verhouding tot die norm. Die antinormatiewe ingesteldheid van queer verduidelik Halperin (1995:2) as volg: “Queer is by definition whatever is at odds with the normal, the legitimate, the dominant. There is nothing in particular to which it necessarily refers. It is an identity without an essence.”

Tweedens word seksualiteit as ’n reeks betekenisse gesien wat gekoppel is aan multidimensionele materiële liggame, begeertes en praktyke. Dié veelvoudige aard van queer word goed deur Sedgwick (1993:8) beskryf as “[…] the open mesh of possibilities, gaps, overlaps, dissonances and resonances, lapses and excesses of meaning when the constituent elements of anyone’s gender, of anyone’s sexuality aren’t made (or can’t be made) to signify monolithically.”

Derdens word seksuele identiteit as vloeibaar, veranderlik en herdefinieerbaar beskou. Dié uitgangspunt word deur Halperin (1995:122) omskryf as: “an on-going process of self-constitution and self-transformation – a queer politics anchored in the perilous and shifting sands of non-identity, positionality, discursive reversibility and collective self-invention.”

In die vierde plek speel posisionering en herrangskikking ’n strategiese rol in queer teorie. In dié verband is dit belangrik om kennis te neem van twee verbandhoudende konsepte wat Halperin (1995:62) vermeld, naamlik die horison van moontlikheid en die eksentriese posisionering van die queer subjek.

Halperin (1995:62) beskou die eksentriese posisie van die queer subjek (en per implikasie queer teorie as ’n benadering) as ’n kernvoorwaarde vir die herrangskikking van die volgende onderlinge relasies: “[…] sexual behaviours, erotic identities, constructions of gender, forms of knowledge, regimes of enunciation, logics of representation, modes of self-constitution, and practices of community […].” In haar breë omskrywing van queer sluit Jagose hierby aan. Sy beskou die identifisering van teenstrydighede in die verhoudings tussen biologiese geslag, gender en seksuele begeerte (Jagose, 1996:3) as ’n kernaspek van queer teorie.

Soos reeds vermeld, is queer teorie ’n evoluerende en dinamiese veld waarin konstante herbesinning en ontwikkeling plaasvind. Dit is een van die belangrikste uitgangspunte van queer teorie wat Butler (1993b) in haar seminale essay “Critically queer” as volg opsom: “If the term queer is to be a site of collective contestation, the point of departure for a set of historical reflections and future imaginings, it will have to remain that which is, in the present, never fully owned, but always and only redeployed, twisted, queered from a prior usage and in the direction of urgent and expanding political purposes, and perhaps also yielded in favor of terms that do that political work more effectively. Such a yielding may well become necessary in order to accommodate–without domesticating–democratizing contestations that have and will redraw the contours of the movement in ways that can never be fully anticipated.”

Met hierdie uitgangspunt van Butler in gedagte kan die volgende ontwikkelinge in queer teorie vanaf die laat 1990’s ter sprake: psigoanalitiese perspektiewe op queer seksualiteit (Bersani & Phillips, 2008; Dean, 2000), transgenderbelewing en -beliggaming (Halberstam, 2005; Namaste, 2000; Stryker, 2004) die antisosiale tesis in queer teorie (Bersani, 1995; Edelman, 2004), die interverwantskappe tussen seksualiteit, ras en gender in transnasionale en postkoloniale kontekste (Ferguson, 2003; Goldie, 1999; Hawley, 2001; Muñoz, 1999; Somerville, 2000; Spurlin, 2006, Stockton, 2006), gay skaamte (Halperin & Traub, 2009; Munt, 2007), seksuele subkulture (Dean, 2009), gay subjektiwiteit en die abjekte (Halperin, 2007 ), queer utopie (Muñoz, 2009), queer diaspora (Eng, 2003; Patton & Sánchez-Eppler, 2000), queer familieverbintenisse (Eng, 2010; Freeman, 2007), queer fenomenologie (Ahmed, 2006) en queer temporaliteit (Freeman, 2010).

Queer teorie lewer’n aantal belangrike analitiese en teoretiese bydraes tot genderstudies asook gay en lesbiese studies (Halperin, 2003: 341). Dit is egter nie sonder gebreke nie. Een van die kwessies wat dikwels geopper word, is dat queer teorie nie spesifiek genoeg die belange van LGBTI-gemeenskappe bevorder nie, omdat queer ’n algemene sambreelterm vir subversie geword het of anders gestel: “… a more trendy version of ‘liberal’: if it’s queer, it’s politically oppositional, so everyone who claims to be progressive has a vested interest in owning a share of it” (Halperin, 2003:341-342). Vir indringender kritiek op queer teorie kan Green (2002) en Penny (2014) geraadpleeg word.

Die term queer literêre kritiek verwys volgens Spargo (2016:1) primêr na werk wat spesifiek vanuit ’n queer perspektief benader word. In die algemeen kan dit werk insluit wat afgestem is op LGBTI (lesbies, gay, biseksueel, transgender en interseks), alhoewel Spargo (2016:1) ’n duidelike onderskeid tref: “Queer, understood as either an adjective or as a verb denotes a troubling or challenging of normal, and normative, definitions of sexuality, gender, sexual identities, and practices, and it is this, rather than any identification with currently understood identities, that defines queer literary criticism.”

Verder is dit is die onder meer die taak van die queer literêre kritikus om onstabiele heteronormatiwiteit te ontmasker en die spanninge in literêre representasies van seksualiteit asook heteronormatiewe konstruksies van gender oor tyd of binne ’n spesifieke periode te verken (Spargo, 2016:2).

Vervolgens noem ek enkele voorbeelde van Afrikaanse literêre werke waarin ’n queer sensibiliteit sterk figureer. In die Afrikaanse kortverhaalkuns is goeie voorbeelde “Steven en Fay”, “La Divina en die cowboy”, “Georgie” en “Vir vier stemme” van Hennie Aucamp, “Mamy blue en ek onthou” van Welma Odendaal, “Aan die einde van die reënboog” van Jeanne Goosen, “Die opsigter” van Marianne de Jong en ”Klara se klokkies”, “And our fathers that begat us”, “Die affair”, “Die wond”, “Die poort van hemelse vrede” en “Die storie van my pa” van Koos Prinsloo.

In die romankuns is die volgende illustratief van ’n queer ingesteldheid: Die huis wat Joop gebou het (1996) van Johnny Roodt, Ek stamel ek sterwe (1996), Wolf, wolf (2013) en Groen is die hemel daarbo (2017) van Eben Venter, Die Judaskus (1998) en Palindroom (2008) van Joan Hambidge, Die derde spoel (2017) van S.J. Naudé en Die dao van Daan van der Walt (2018) van L.G. du Plessis.

In die Afrikaanse poësie is Nagsweet (1991) van Johann se Lange ’n goeie voorbeeld van ’n queer bundel. In dié bundel val die klem sterk op antinormatiewe seksuele praktyke en die destabilsering van konvensionele genderrolle (sien Hambidge, 2009a). ’n Ander voorbeeld van ’n definitiewe queer inslag in De Lange se werk is die opposisionele verhouding tussen konvensionele godsdiensrituele en gay seks in Vleiswond (1993). In ’n aantal gedigte word religieuse sakramente verplaas via en self vervang deur gay seks: “voor die klein gode / wat deur ’n loergat seën / en wywaters van die doop / op ons tonge laat reën” (“Kommunie I”).

Die voortgesette verskuiwing van gay na queer belewing is aantoonbaar in Hittegolf: wulpse sonette met ’n nawoord (2002) van Hennie Aucamp, Aan ’n beentjie sit en kluif (2006) van Marius Crous en Koesnaatjies vir die proe (2008) van Joan Hambidge. Die ontwikkeling van gay na queer bereik ’n hoogtepunt met die verskyning van Staan in die algemeen nader aan vensters (2008) en Kry my by die gewone plek aguur (2012) van Loftus Marais.

In Marais se poësie val die fokus nie op die bevestiging van gay identiteit of konvensionele representasies van manlike gay seksualiteit nie. Gekonstrueerde identiteitskategorieë in ’n heteronormatiewe samelewing word deurlopend uitgedaag asook die aanvaarde belyning van biologiese geslag, gender en seksuele begeerte. Laasgenoemde word veral versteur deur die Kaapse fopdosser, Fabulisha de la Queillerie, wat ’n prominente rol speel in Marais se tweede bundel.

Hambidge (2009b:4) beskou Marais as “een van die nuwe stemme wat werklik nuut is, wat die gevormde kuns ontvorm en uitmekaar ruk.” Marais se antinormatiewe en opposisionele posisie teenoor die norm word as volg deur Hambidge (2009b:4) beklemtoon: “Hy tipeer homself as die Ander: as draadtrekker, dief, voyeur, loerhoer, ontluisteraar, koppesneller.”

Die volgende bronne bied goeie inleidende en oorsigtelike perspektiewe op queer teorie: Hall (2003), Huffner (2010), Jagose (1996), Spargo (1999), Sullivan (2003) en Wilchins (2004).

Vir goeie insigte oor die huidige relevansie en mees resente toepassingsmoontlikhede van queer teorie kan die volgende bronne geraadpleeg word: Amin (2016), Halley & Parker (2011) en Traub (2013).

Die volgende samestellings is essensieel vir die bestudering van queer teorie en queer studies: LGBT Studies and Queer Theory: New Conflicts, Collaborations, and Contested Terrain (2006), A Companion to Lesbian, Gay, Bisexual, Transgender, and Queer Studies (2007), The Ashgate Research Companion to Queer Theory (2009) en The Routledge Queer Studies Reader (2012).

Noemenswaardige bydraes tot queer literêre kritiek binne die Suid-Afrikaanse literatuursisteem sluit in: Boehmer (2005), Botes & Cochrane (2007), Bristow-Bovey (1995), Carolin & Frenkel (2013), Carolin (2015, 2018), Cochrane (2013), Crous (2010), Damm (2002), De Waal (2005), Hambidge (1996, 1997, 2000, 2009a ), Haupt (2014), Murray (2013), Murray (2018), Olivier (1996), Stander (1996,1998), Stobie (2003, 2007, 2009 en 2011), Strydom (2018), Van der Merwe (2012), Van Zyl (2014) en Visagie (2004).

Vir insiggewende essays oor swart queer studies kan Black Queer Studies: A Critical Anthology (2005) geraadpleeg word.

Goeie inleidende oorsigte op die web is Queer Theory deur Noha Fikry en J Michael Ryan (Wiley Online Library) en Queer Theory van Oxford Reference

 

Neil Cochrane

Bibliografie

Ahmed, S. 2006. Queer Phenomenology: Orientations, Objects, Others. Durham: Duke University Press.

Amin, K. 2016. Haunted by the 1990s: queer theory’s affective histories. Women’s Studies Quarterly, 44(3/4).

Bersani, L. 1987. Is the rectum a grave? Aids: Cultural analysis/Cultural activism, 43.

Bersani, L. 1995. Homos. Cambridge: Harvard University Press.

Bersani, L. & Phillips, A. 2008. Intimacies. Chicago: The University of Chicago Press.

Boehmer, E. 2005. Coetzee’s queer body. Journal of Literary Studies, 21(3-4).

Botes, N. & Cochrane, N. 2007. Van drag king tot lipstick lesbian: ’n Voorlopige kontinuum van lesbiese genderidentiteit met spesifieke toepassing op die Afrikaanse kortverhaal. Stilet, XIX(2).

Bristow-Bovey, D. 1995. Not all camps have camouflage: gay writing and the great South African dream. M.A.-verhandeling, Universiteit van Kaapstad, Kaapstad.

Butler, J. 1990. Gender Trouble: Feminism and the Subversion of Identity. New York: Routledge.

Butler, J. 1993a. Bodies that Matter: On the Discursive Limits of “Sex”. New York: Routledge.

Butler, J. 1993b. Critically queer. GLQ: A Journal of Lesbian and Gay Studies, 1.

Butler, J. 2004. Undoing Gender. New York: Routledge.

Carolin, A. & Frenkel, R. 2013. Sex in the text: representations of same-sex male intimacies in K. Sello Duiker’s The Quiet Violence of Dreams. English Studies in Africa, 56(2).

Carolin, A. 2015. A novel archive of intimacy: sex and the struggle in Gerald Kraak’s Ice in the Lungs. Journal of Literary Studies, 31(3).

Carolin, A. 2018. Appropriating Herman Charles Bosman: same-sex desire and the unmaking of otherness. Journal of Literary Studies, 34(2).

Cochrane, N. 2013. Ondermyning van normatiwiteitsdimensies in die poësie van Loftus Marais: ’n Queer-teoretiese beskouing. Tydskrif vir Letterkunde, 50(3).

Crous, M. 2010. Tussen mans: ’n Perspektief op homososiale begeerte in Karel Schoeman se ’n Ander land. LitnetAkademies, 7(2).

Damm, P. 2002. Revisiting the queer: theory, literature and gay male studies. M.A.-verhandeling, Universiteit van Kaapstad, Kaapstad.

Dean, T. 2000. Beyond Sexuality. Chicago: The University of Chicago Press.

Dean, T. 2009. Unlimited Intimacy: Reflections on the Subculture of Barebacking. Chicago: The University of Chicago Press.

De Waal, S.A. 2005. Queer reading, queer writing. M.A.-verhandeling, Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg.

Edelman, L. 1994. Homographesis: Essays in Gay Literary and Cultural Theory. New York: Routledge.

Edelman, L. 2004. No Future: Queer Theory and the Death Drive. Durham: Duke University Press.

Eng, D.L. 2003. Transnational adoption and queer diasporas. Social Text, 21(3).

Eng, D.L, 2010. The Feeling of Kinship: Queer Liberalism and the Racialization of Intimacy. Durham: Duke University Press.

Ferguson, R.A. 2003. Aberrations in Black: Toward a Queer of Color Critique. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Foucault, M. 1978. The History of Sexuality: 1 – The Will to Knowledge (uit Frans vertaal deur Robert Hurley). Londen: Penguin Books.

Freeman, E. 2007. Queer belongings: kinship theory and queer theory. In: Haggerty, G.E. & McGarry, M. (eds.). A Companion to Lesbian, Gay, Bisexual, Transgender, and Queer Studies. Malden: Blackwell.

Freeman, E. 2010. Time Binds: Queer Temporalities, Queer Histories. Durham: Duke University Press.

Fuss, D. 1989. Essentially Speaking: Feminism, Nature and Difference. New York: Routledge.

Fuss, D. (ed.). 1991. Inside/out: Lesbian Theories, Gay Theories. New York: Routledge.

Giffney, N. & O’Rourke, M. (eds.). 2009. The Ashgate Research Companion to Queer Theory. London: Routledge.

Goldie, T. 1999. Introduction: queerly postcolonial. ARIEL: A Review of International English Literature, 30(2).

Green, A.I. 2002. Gay but not queer: Toward a post-queer study of sexuality. Theory and Society, 31.

Haggerty, G.E. & McGarry, M. (eds.). 2007. A Companion to Lesbian, Gay, Bisexual, Transgender, and Queer Studies. Malden: Blackwell.

Halberstam, J. 1998. Female Masculinity. Durham: Duke University Press.

Halberstam, J. 2005. In a Queer Time and Place: Transgendered Bodies, Subcultural Lives. New York: New York University Press.

Hall, D.E. 2003. Queer Theories. Basingstoke: Palgrave Macmillan.

Hall, D.E. (et al.). 2012. The Routledge Queer Studies Reader. London: Routledge.

Halley, J. & Parker, A. (eds). 2011. After Sex? On Writing since Queer Theory. Durham: Duke University Press.

Halperin, D.M. 1995. Saint Foucault: Towards a Gay Hagiography. Oxford: Oxford University Press.

Halperin, D.M. 2003. The normalization of queer theory. Journal of Homosexuality, 45(2-4).

Halperin, D.M. 2007. What Do Gay Men Want? An Essay on Sex, Risk and Subjectivity. Ann Arbor: The University of Michigan Press.

Halperin, D.M. & Traub, V. (eds.). 2009. Gay Shame. Chicago: The University of Chicago Press.

Hambidge, J. 1996. Die lesbiese vrou as teken in die Afrikaanse poësie. Stilet, VIII(1).

Hambidge, J. 1997. Die Afrikaanse letterkunde: ’n Queer-obsessie oftewel: die gawe moffie op die dorp. Stilet, 35(4).

Hambidge, J. 2000. Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: ’n ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. D.Phil.-proefskrif. Universiteit van Kaapstad, Kaapstad.

Hambidge, J. 2009a. Die digkuns van Johann de Lange met spesifieke verwysing na Nagsweet. LitnetAkademies, 6(1).

Hambidge, J. 2009b. Debuut gee vreemde blik op die gewone. Volksblad, Jan. 4.

Haupt. M. 2014. Gender-ambivalensie: Aspekte van beliggaming, performatiwiteit en ondermyning in Ek stamel ek sterwe van Eben Venter. M.A.-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.

Hawley, J.C. (ed.). 2001. Postcolonial, Queer: Theoretical intersections. Albany: State University of New York Press.

Huffner, L. 2010. Mad for Foucault: Rethinking the Foundations of Queer Theory. New York: Columbia University Press.

Jagose, A. 1996. Queer Theory: An Introduction. New York: New York University Press.

Johnson, E.P. & Henderson, M.G. (eds.). 2005. Black Queer Studies: A Critical Anthology. Durham: Duke University Press.

Lovaas, K.E., Elia, J.P. & Yep, G.A. (eds.). 2006. LGBT Studies and Queer Theory: New Conflicts, Collaborations and Contested Terrain. New York: Harrington Park Press.

Meeks, C. 2007. Queer Theory. (In The Blackwell Encyclopedia of Sociology. DOI: 10.1002/9781405165518.wbeosq003 Datum van toegang 24 Mei 2019).

Muñoz, J.E. 1999. Disidentifications: Queers of Color and the Performance of Politics. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Muñoz, J.E. 2009. Cruising Utopia: The Then and There of Queer Futurity. New York: New York University Press.

Munt, S.R. 2007. Queer attachments: The Cultural Politics of Shame. Hampshire: Ashgate.

Murray, J. 2013. Stereotypes and subversions: reading queer representations in two contemporary South African novels. English in Africa, 40(1).

Murray, S.A. 2018. Queerying examples of contemporary South African short fiction. The Journal of Commonwealth Literature. DOI: 10.1177/0021989418788909.

Namaste, K. 1994. The politics of inside/out: queer theory, poststructuralism, and a sociological approach to sexuality. Sociological Theory, 12(2).

Namaste, V.K. 2000. Invisible Lives: The Erasure of Transsexual and Transgendered People. Chicago: The University of Chicago Press.

Olivier, G. 1996. Die stryd teen die vaders: variante en homoseksuele diskoers in die Afrikaanse literatuur. Stilet, VIII(1).

Patton, C. & Sánchez-Eppler, B (eds.). 2000. Queer Diasporas. Durham: Duke University Press.

Penney, J. 2014. After Queer Theory: The Limits of Sexual Politics. London: Pluto Press.

Rubin, G.S. 1984. Thinking sex: notes for radical theory of the politics of sexuality. In: Vance, C.S. (ed.). Pleasure and Danger: Exploring Female Sexuality. Boston: Routledge.

Sedgwick, E.K. 1985. Between Men: English Literature and Male Homosocial Desire. New York: Columbia University Press.

Sedgwick, E.K. 1990. Epistemology of the Closet. Berkeley: University of California Press.

Sedgwick, E.K. 1993. Tendencies. London: Routledge.

Somerville, S.B. 2000. Queering the Color Line: Race and Invention of Homosexuality in American Culture. Durham: Duke University Press.

Spargo, T. 1999. Foucault and Queer Theory. Cambridge: Icon Books.

Spargo, T. 2016. Queer Literary Criticism. (In The Wiley Blackwell Encyclopedia of Gender and Sexuality Studies. DOI: 10.1002/9781118663219.wbegss439 Datum van toegang: 24 Mei 2019).

Spurlin, W.J. 2006. Imperialism within the Margins: Queer Representations and the Politics of Culture in Southern Africa. New York: Palgrave.

Stander, C. 1993. Die geval Brink: fallogosentriese konstruksie van vroulikheid in die oeuvre van André P. Brink met spesifieke verwysing na die roman, States of emergency. M.A.-verhandeling, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville.

Stander C. 1998. Perversie as betekenisskandaal: ’n literêre ondersoek na die inskrywing van lesbiese subjektiwiteit as metafoor van kontestasie in fallogosentriese tekensiteme. D.Phil.-proefskrif, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville.

Stein, A. & Plummer, K. 1994. “I can’t even think straight’: queer theory and the missing sexual revolution in sociology. Sociological Theory, 12(2).

Stobie, C. 2003. Reading bisexualities from a South African perspective. Journal of Bisexuality, 3(1).

Stobie, C. 2007. Somewhere in the double rainbow: representations of bisexuality in post-apartheid novels. Scottsville: University of KwaZulu-Natal Press.

Stobie, C. 2009. Postcolonial pomosexuality: Queer/alternative fiction after disgrace. Current Writing: Text and Reception in Southern Africa, 21(1-2).

Stobie, C. 2011. Reading bisexualities from a South African perspective-revisited. Journal of Bisexuality, 11(4).

Stockton, K.B. 2006. Beautiful Bottom, Beautiful Shame: Where “Black” Meets “Queer”. Durham: Duke University Press.

Strydom, W. 2018. On queerly reading canid tropes in Eben Venter’s Wolf, wolf. Tydskrif vir Letterkunde, 55(3).

Stryker, S. 2004. Transgender studies: queer theory’s evil twin. GLQ: A Journal of Lesbian and Gay Studies, 10(2).

Sullivan, N. 2013. A Critical Introduction to Queer Theory. Edinburgh: Edinburgh University Press.

Traub, V. 2013. The new unhistoricism in queer studies. PMLA, 128(1).

Van der Merwe, J. 2012. Destabilisering van heteronormatiwiteit ten opsigte van homoseksualiteit, Vigs en dood in queer narratiewe. M.A.-verhandeling, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Van Zyl, S. 2014. Die representasie van veelfasettige manlikheidsbeelde in Eben Venter se romanoeuvre. M.A.-verhandeling. Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Visagie, A.G. 2004. Manlike subjektiwiteit in die Afrikaanse prosa 1980-2000. D.Litt.-proefskrif. Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.

Warner, M. (ed.). 1993. Fear of a Queer Planet: Queer Politics and Social Theory. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Warner, Michael. 1999. The Trouble with Normal: Sex, Politics and the Ethics of Queer Life. Harvard: Harvard University Press.

Watson, K. 2005. Queer Theory. Group Analysis, 38(1).

Wilchins, R. 2004. Queer Theory, Gender Theory: An Instant Primer. New York: Magnus Books.