(Bygewerk Augustus 2019)
Die term pikareske roman (of skelmroman) verwys na ’n romansoort (vgl. genre) wat fokus op die lewensgebeure van die pikaro, ’n skelmfiguur wat in uiters onstabiele omstandighede opgroei. Die moeilike grootwordjare van die pikaro dwing hom om na beter vooruitsigte te soek, alhoewel hy telkens ontnugter word deur ’n ongenaakbare en chaotiese wêreld waarin sy sosiale posisie nooit permanent verbeter nie. Skelmstreke, sosiale aanpasbaarheid en die vertolking van uiteenlopende sosiale rolle vorm deel van die pikaro se oorlewingstrategie. Hy beweeg van een sosiale rol en meester na die volgende, sonder om enige verhouding met enigiets of enigiemand in stand te hou. Die pikaro is ’n karakter wat konstant sy waardestelsel ontdek en herontdek. In ’n pikareske roman vertel die pikaro oor sy ervaringe in die vorm van ’n skynoutobiografie waarin ’n sterk episodiese struktuur en beperkte vertellersperspektief oorheers. Die pikaro beweeg horiontaal deur sy fisiese omgewing, maar vertikaal deur die sosiale gemeenskap.
Hierdie sintetiserende definisie dien slegs as ’n aanknopingspunt, omdat verskeie variasies in individuele pikareske romans bestaan. Die term pikareske roman bly weens literêr-historiese redes moeilik om te definieer. Dit word eers gedurende die 1890’s as ’n gestandaardiseerde term gebruik (Dunn, 1993:25), alhoewel pikareske romans reeds vanaf 1554 in Spanje verskyn het. Verskeie literatuurhistorici plaas die bloeitydperk van die pikareske roman in Wes-Europa tussen 1550 en 1750.
Voorgangers van dié genre is egter lank vóór die 16de eeu in die literatuur aanwesig. Goeie voorbeelde is die Satirikon (55-65 n.C) van Petronius en Die goue esel (ongeveer 165 n.C.) van Apuleius. Gedurende die Middeleeue is pikareske elemente aanwesig in diereverhale soos Gallus et vulpes (eerste helfte van die 11de eeu) en die Reinaertfabels (12de eeu). Pikareske elemente kom ook voor in die sogenaamde grapboeke (“jest books”) en in die bedelaarsliteratuur (“books of beggars”). Vir oorsigte van pikareske voorgangers vóór die sestiende eeu kan Chandler (1907), Guillén (1953), Monteser (1975), Pleij (1985) en Van Gorp (1978) geraadpleeg word.
Die pikareske roman ontstaan en floreer in Spanje vanaf die middel 16de tot die vroeë 17de eeu. Literatore beskou La vida de Lazarillo de Tormes y de sus fortunas y adversidades (Die lewe van Lazarillo de Tormes, 1554) deur ’n anonieme skrywer as die eerste pikareske roman. Hierna beleef die pikareske roman ’n oplewing met die verskyning van ’n aantal pikareske romans vanaf 1555 tot 1646 (Dunn, 1993). Die belangrikste pikareske romans tydens die sogenaamde Spaanse Goue Periode is: La vida del pícaro Guzmán de Alfarache (Die lewe van Guzmán de Alfarache, 1599-1604) deur Mateo Alemán, La pícara Justina (Die pikara Justina, 1605) van Francisco López de Ubeda, La hija de Celestina (Die dogter van Celestina, 1612) deur Alonso Jerónimo de Salas Barbadillos, Marcos de Obregón (1618) deur Vicente Martínez Espinel en La vida del Buscón (Die lewe en avonture van Buscon, 1626) van Francisco de Quevedo y Villegas.
Vanaf die laat 17de tot die middel 18de eeu versprei die pikareske roman na ander Europese lande, veral Engeland, Frankryk en Duitsland. Tydens hierdie tydperk ondergaan die Spaanse pikareske roman verskeie transformasies wat afwyk van die Spaanse model. Om hierdie rede stel Yadav (2010:1) voor dat die term pikareske modus liefs gebruik word in stede van pikareske roman as ’n afsonderlike genre.
Die volgende is die belangrikste pikareske romans wat gedurende die 17de en 18de eeu in onderskeidelik Frankryk, Duitsland en Engeland verskyn het: L’Histoire de Gil Blas de Santillane (Die avonture van Gil Blas, 1715-1735) deur René Lesage, Simplicius Simplicissimus (Die avontuurlike Simplicissimus, 1668) deur Hans Jakob von Grimmelshausen, The Fortunes and Misfortunes of the Famous Moll Flanders (1722) deur Daniel Defoe en The Adventures of Roderick Random (1748) van Tobias Smollett.
Gedurende die 20ste eeu vind ’n oplewing van die neopikareske roman in veral Europese literatuursisteme plaas. Toonaangewende voorbeelde hiervan is onder meer Die Bekenntnisse des Hochstaplers Felix Krull (Die bekentenisse van die swendelaar Felix Krull, 1911-1954) deur Thomas Mann, La vida inútil de Pito Pére (Die futiele lewe van Pito Pérez, 1938) deur José Rubén Romero en Die Blechtrommel (Die bliktrom, 1959) deur Günter Grass.
Soos reeds vermeld, is pikareske roman ’n kontroversiële term waaroor dikwels min konsensus bestaan. Uiteenlopende idees bestaan onder meer oor watter literêre werke dit benoem en die spesifieke genrekenmerke van pikareske romans. Dunn (1993:6) is van mening dat die probleem begin het met die verspreiding van die Spaanse pikareske roman na ander Wes-Europese lande vanaf die laat 17de eeu. Voortgesette appropriasie en aanpassing veroorsaak dat die term pikareske roman in resente literatuurkritiek baie lukraak en oppervlakkig gebruik word: “In the last few decades reviewers have applied epithet ‘picaresque’ so indiscrimately to any somewhat unscrupulous adventurer that it has little definition” (Dunn, 1993:6). Dieselfde dilemma word deur Wicks (1974:240) beklemtoon in sy verwysing na “the problem of the picaresque.”
Volgens Wicks (1974:240) is die belangrikste rede vir hierdie probleem die teenstrydigheid tussen twee hoofbenaderings tot die pikareske roman. Voorstanders van die historiese benadering beskou die pikareske as ’n eenmalige verskynsel in die Spaanse fiksie van die 16de en die 17de eeu, terwyl ondersteuners van die ahistoriese benadering dit beskou as ’n oop tradisie (Wicks, 1974:240). As ’n oplossing stel Wicks (1974:243) ’n modus-genrespesifieke benadering voor wat die wyer idee van ’n pikareske modus kombineer met ’n reeks genrespesifieke kenmerke om uiteindelik die “total picaresque fictional situation” te vorm.
Wicks (1974) se modus-genrespesifieke benadering is ’n bruikbare en sinvolle hulpmiddel om pikareske romans literêr-krities mee te benader. Enersyds bied dit ’n perspektief wat wyd genoeg is om groter fiksionele mutasies in ’n spesifieke werk te herken, andersyds is dit spesifiek genoeg is om ’n spesifieke groep werke te benader wat ’n aantal attribute deel, sodat hulle aan die pikareske genre verbind kan word.
Alvorens die onderskeie elemente van Wicks (1974:243) se benadering benoem word, is dit belangrik om eers sy omskrywing van die pikareske modus te vermeld: “… the fictional world posited by the picaresque mode is that of an unherioc protagonist, worse than we, caught up in a chaotic world, worse than ours, in which he is on an eternal journey of encounters that allow him to be alternately both victim of the world and its exploiter” (Wicks, 1974:242).
Naas die pikareske modus bestaan Wicks (1974) se raamwerk uit die volgende elemente: narratiewe ritme, vertellerperspektief, die karakter van die pikaro, die verhouding tussen die pikaro en sy landskap/fisiese ruimte, die galery of kaleidokoop van sosiale tipes en die werking van parodie. Die temas wat Wicks (1974) identifiseer is: ontnugtering (“disillusionment”), vryheid (“freedom”), honger (“hunger”), eensaamheid (“solitude”) en wondbaarheid (“gullibility”). Verder identifiseer Wicks (1974) die volgende motiewe: die ongewone geboorte of kinderjare van die pikaro, die skelmstreek, rolspel, die groteske en sosiale verwerping.
Alhoewel die modus-genrespesifieke benadering die bloudruk vorm vir die konstruksie van pikareske fiksie waarsku Wicks (1989:54) teen ’n eendimensionele beskouing: “… no single element should be considered proprietary over fiction P or the picaresque genre. This is not a hierarchy of decreasingly significant elements so much as it is an aggregate of characteristics that function together (my kursivering) to produce the nature of picaresque narrative.”
Binne die Afrikaanse prosatradisie is pikareske trekke in Die mugu (1959), Isis Isis Isis (1969) en Onse Hymie (1982) van Etienne Leroux bespeurbaar, alhoewel pikareske elemente reeds in vroeë werke soos Sewe duiwels en wat hulle gedoen het (1907) van Cachet, die Ampie-trilogie (1924, 1928 en 1939) van Van Bruggen, Jakob Platjie: Egte karaktersketse uit die volkslewe van Hotnots, Korannas en Boesmans (1917) van Von Wielligh en die Toiings-trilogie (1934) van Mikro aanwesig is. Dit is veral die ongunstige sosiale omstandighede en die oorlewingstryd van die swerwersfigure in hierdie werke wat by die pikareske tradisie aansluit. Verdere resente voorbeelde is Okker bestel twee toebroodjies (1973), Donderdag of Woensdag (1978) en Kroniek uit die doofpot (1991) van John Miles asook in Die dood van ’n droster (1980) en Don die Ridder (1990) van Chris Pelser.
André P. Brink vind in ’n aantal van sy romans sterk aansluiting by die pikareske modus. Die avontuurlike oorlewewingstryd van die voëlvryverklaarde Estienne Barbier in Inteendeel (1993) is ’n goeie voorbeeld. Sommige literêre kritici beskou Inteendeel selfs as die beste voorbeeld van ‘n pikareske roman in Afrikaans: “Hoewel trekke van hierdie romansoort aanwesig is in verskeie Afrikaanse romans (onder andere van Leroux, Pelser, Letoit en Miles), is André P. Brink se Inteendeel dalk die beste voorbeeld hiervan in Afrikaans” (Van Coller & Odendaal, 1999:766).
Die armoedige huisgesin waarin Estienne Barbier opgroei, bied aan hom bitter min sekuriteit. Sy uitsiglose omstandighede, onsekerheid oor sy herkoms en sy intense vryheidsdrang laat Barbier besluit om uit sy armsalige ouerhuis te verlaat. Hierop volg ’n onstuimige lewe van konstante sosiale verwerping, eensaamheid, skelmstreke, honger en ontnugtering (tipiese pikareske trekke). ’n Konkrete manifestasie van Barbier se progressiewe vereensaming is gesetel in sy mislukte liefdesverhoudings met Ghiselle, Neeltjie en talle weduwees wat hy in die binneland besoek. Die pikareske dimensie van Barbier se bestaan word goed deur die weduwee Burgert beskryf: “Daar was ’n tyd toe dit ’n avontuur was om by jou te wees, Estienne. Jy’t soos ’n warrelwind gekom en gegaan. Daar was altyd opwinding waar jy by was, jy’t die onmoontlike laat moontlik lyk. Maar nou – nou’s jy net ’n man op vlug, ’n rondloper, ’n gejagte ding. Daar is nie meer plesier in nie, net vrees, en partykeer ergenis” (275).
Deur pikarafigure (vroulike protagoniste in pikareske fiksie) soos Tessa Butler in Donkermaan (2000) en Hanna X in Anderkant die stilte (2002) bied Brink ’n noodsaaklike korrektief op die oorheersing van die manlike pikaro in die Afrikaanse pikareske romantradisie.
Die pikasreske roman in Afrikaans bereik ’n hoogtepunt met die verskyning van Draaijakkals (1999) van George Weideman. Die roman sluit op paratekstuele, narratologiese en tematiese vlak die sterkste aan by die gevestigde pikareske tradisie. Verskeie literêre kritici soos Britz (1999), Smuts (2000), Van Coller (2000), Viljoen (1999) en Wasserman (2000) beskou die roman as eksemplaries van die pikareske genre. In dié opsig beweer Wasserman (2000:8) die volgende: “Soos in ’n teksboekvoorbeeld van die skelmroman lewer Nicolaas ook kommentaar vanuit sy posisie as gemarginaliseerde.” Ter aansluiting vermeld Smuts (2000:29): “Dit is duidelik dat Weideman sy werk baie nou laat aansluit by die tradisionele model van die pikareske roman”. Hierdie beskouing word deur Viljoen (1999) herhaal: “By die lees van Draaijakkals is dit duidelik dat hy die vorm van die skelmroman nougeset navolg, maar dat hy ook daarin slaag om aan sy weergawe van hierdie romansoort ’n heel besondere Suid-Afrikaanse tekstuur van plaaslike toepaslikheid te gee.”
Relevante navorsing oor verskeie aspekte van die pikareske roman in die Suid-Afrikaanse literatuurkritiek sluit in: Botha (1987), Brink (1990), Cochrane (2003, 2005a, 2005b, 2007), Du Plessis (1985), Lazar (1997), Minnaar (2007), Van Coller (1981) en Wenzel (1995).
Navorsing wat meer lig werp op die pikarafiguur sluit in: Daghistany (1977), Lazar (1997), Mandrell (1987), Rodriquez-Luis (1979) en Wenzel (1995).
Bruikbare essaybundels oor verskeie aspekte van die pikareske is onder meer Upstarts, Wanderers or Swindlers: Anatomy of the Picaro: A Critical Anthology (1986) met Pellon & Rodriquez-Luis as redakteurs en The Picaresque: A Symposium on the Rogue’s Tale (1994) onder redakteurskap van Benito-Vessels & Zappala.
Volledige literêr-historiese oorsigte van die ontwikkelingsgang van die pikareske roman in die Wes-Europese literatuur word gebied deur Alter (1964), Bauer (1993, 1994), Bjornson (1977), Blackburn (1979), Dunn (1993), Guillén (1953, 1971), Maier (1983), Maiorino (1996), Marckwort (1984), Miller (1967), Monteser (1975), Parker (1967), Reed (1981), Rico (1984), Sieber (1977), Van Gorp (1978), Weber (1975) en Wicks (1989).
Neil Cochrane
Bibliografie
Alter, R. 1964. Rogue’s progress: Studies in the Picaresque Novel. Cambridge: Havard University Press.
Bauer, M. 1993. Im Fuchsbau der Geschichten: Anatomie des Schelmenromans. Stuttgart: J.B. Metzler.
Bauer, M. 1994. Der Schelmenroman. Stuttgart: J.B. Metzler.
Benito-Vessels & Zappala, M. (eds.). The Picaresque: A Symposium on the Rogue’s Tale. Newark: University of Delaware Press.
Bjornson, R. 1977. The Picaresque Hero in European Fiction. Madison: The University of Wisconsin Press.
Blackburn, A. 1979. The Myth of the Picaro: Continuity and Transformation of the Picaresque Novel 1554-1954. Chapel Hill: The University of North Carolina Press.
Botha, W.M. 1987. Die pikareske grondpatroon in enkele werke van Etienne Leroux. D. Litt.-proefskrif, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein.
Brink, A.P. 1990. Mutants of the picaresque: Moll Flanders and A Sport of Nature. Journal of Literary Studies, 6(4).
Brink, A.P. 1993. Inteendeel. Kaapstad: Human & Rousseau.
Britz, E. 1999. Skelmroman! Weideman se jongste pennevrug. Die Volksblad, Mrt. 8.
Chandler, F.W. 1958 [1907]. The Literature of Roguery. New York: B. Franklin.
Cochrane, N. 2003. Draaijakkals van George Weideman as pikareske roman: ’n Voorlopige verkenning. Stilet, XV(1).
Cochrane, N. 2005a. Die pikareske tematiek in André P. Brink se Inteendeel. Tydskrif vir Letterkunde, 42(1).
Cochrane, N. 2005b. ’n Ondersoek na pikareske motiewe in Anderkant die stilte van André P. Brink. Stilet, XVII(1).
Cochrane, N. 2007. Die verhouding tussen parateks en pikareske aanspraak: Draaijakkals deur George Weideman as voorbeeld binne die moderne Afrikaanse prosa. Ensovoort, 11(1).
Daghistany, A. 1977. The picara nature. Women’s Studies, 4.
Dunn, P.N. 1993. Spanish Picaresque Fiction: A New Literary History. Ithaca: Cornell University Press.
Du Plessis, J.C.M.D. 1985. Die nie-pikareske pikaro: ’n Strukturalistiese ondersoek na die pikareske elemente in Van Bruggen se Ampie-trilogie. D.Litt.-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.
Guillén, C. 1953. The Anatomies of Roguery: A Comparative Study in the Origins and the Nature of Picaresque Literature. Ph.D.-proefskrif, Harvard University, Cambridge, MA.
Guillén, C. 1971. Literature as System: Essays toward the Theory of Literary History. Princeton: Princeton University Press.
Lazar, K. 1997. Seminar paper: Sex, the picaresque and the glamorous revolution: Nadine Gordimer’s A Sport of Nature. Johannesburg: University of the Witwatersrand.
Maier, K.E. 1983. Schelmen- und Gaunergeschichten: für die Sekundarstufe I. Stuttgart: P. Reclam.
Maiorino, G. 1996. Picaresque: Tradition and Displacement. Minneapolis: University of Minnesota Press.
Mandrell, J. 1987. Questions of genre and gender: comtemporary American versions of the feminine picaresque. NOVEL: A Forum on Fiction, 20(2).
Marckwort, U. 1984. Schelmenroman der Gegenwart: Betrachtungen zur sozialistischen Rezeption pikaresker Topoi and Motive. Köln: Pahl-Rugenstein.
Miller, S. 1967. The Picaresque Novel. Cleveland: The Press of Case Western Reserve University.
Minnaar, W.F. 2004. Koloniale skuld aan die hand van die pikareske modus in Inteendeel deur André P. Brink en De zwarte met het witte hart deur Arthur Japin. MA-verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit, Johannesburg.
Monteser, F. 1975. The Picaresque Element in Western Literature. University: University of Alabama Press.
Parker, A.A. 1967. Literature and the Delinquent: The Picaresque Novel in Spain and Europe, 1599-1753. Edinburgh: Edinburgh University Press.
Pellon, G. & Rodriquez-Luis, J. (eds.). 1986. Upstarts, Wanderers or Swindlers: Anatomy of the Picaro: A Critical Anthology. Amsterdam: Rodopi.
Reed, W.L. 1981. An Exemplary History of the Novel: The Quixotic versus the Picaresque. Chicago: University of Chicago Press.
Rico, F. 1984. The Spanish Picaresque Novel and the Point of View. Cambridge: Cambridge University Press.
Rodriquez-Luis, J. 1979. The modal approach to the picaresque. Comparative Literature, 31(1).
Sieber, H. 1977. The Picaresque. London: Methuen.
Van Coller, H.P. 1981. Etienne Leroux as siklusbouer. D. Litt-proefskrif, Randse Afrikaanse Universiteit, Johannesburg.
Van Coller, H.P. & Odendaal, B.J. 1999. George Weideman (1947-). In: Van Coller, H.P. (red.). Perspektief en profiel: ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. Pretoria: J.L. van Schaik.
Van Gorp, H. 1978. Inleiding tot de picareske verhaalkunst of de wrederwaardigheden van een anti-genre. Groningen: Wolters-Noordhoff.
Viljoen, L. 1999. George Weideman Draaijakkals. LitNet, https://oulitnet.co.za/seminaar/draaijakkals.asp Besoek 21 Mei 2019.
Wasserman, H. 2000. Enkele draad loop deur roman. Die Burger, Jan. 8.
Wenzel, M.J.W. 1995. Literary convention as a feminist strategy: The nature and function of the picaresque in selected novels by women authors from Latin America and South Africa, 1970-1990. Ph.D.-proefskrif, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, Potchefstroom.
Wicks, U. 1974. The nature of the picaresque narrative: a modal approach. PMLA, 89(2).
Wicks, U. 1989. Picaresque Narrative, Picaresque Fictions. A Theory and Research Guide. New York: Greenwood Press
Yadav, A. 2010. Picaresque Novel. (In The Encyclopedia of the Novel. DOI: 10.1002/9781444337815.wbeotnp005. Besoek 21 Mei 2019.