VERTALING VAN LITERêRE TEKSTE

(Bygewerk September 2019)

Die vertaalkunde as volwaardige dissipline is relatief jonk. Holmes se referaat in 1972 word algemeen aanvaar as die ontstaansmoment van die moderne vertaalkunde (Munday, 2016). Hiermee stel hy voor dat die dissipline “translation studies” genoem word en poog hy om die veld sistematies af te baken en om spesifiek binne die vakgebied ruimte te skep vir teorievorming. Vertaling as menslike aktiwiteit is egter so oud soos taal self. Vertalers het deur die eeue kommentaar neergeskryf oor hul eie werk en ook die vertaalwerk van ander en hierdie kommentaar kan as die voorlopers van vertaalteorie gesien word (Venuti, 2012:13). So tref Hieronimus byvoorbeeld in ongeveer 395 n.C. reeds ‘n onderskeid tussen “woord-vir-woord”- en “sin-vir-sin”-vertaling. (Venuti, 2012:15). Die mate waartoe die vertaler mag of moet afwyk van die woorde van die bronteks en of sy/haar lojaliteit by die bronteksouteur of by die doeltaalleser lê, is dominante kwessies in vertaalkommentaar deur die eeue en kom steeds ter sprake in kontemporêre (literêre) vertaalteorie. Deur die geskiedenis is hierdie trou-gebaseerde benaderingsonderskeide hoofsaaklik toegepas op die vertaling van geskrewe tekste vanuit een taal (byvoorbeeld Latyn) na ‘n ander taal (byvoorbeeld Engels). Die bespreking hieronder is grootliks beperk tot hierdie enger definisie van vertaling, wat Jakobson (2012) intertalige vertaling noem. Jakobson onderskei ook nog intratalige vertaling (herbewoording in dieselfde taal) en intersemiotiese vertaling (vertaling tussen twee tekensisteme, bv. tussen die verbale en die visuele, vgl. semiotiek). Filmverwerkings van romans of dramas en verhoogverwerkings van volksverhale is voorbeelde van intersemiotiese vertaling. Wanneer dit gaan om intertalige vertaling is die begrippe bronteks en brontaal met verwysing na die oorspronklike teks en doelteks en doeltaal met verwysing na die vertaalde werk nuttig, ofskoon dit nie deur alle vertaalkommentators en -teoretici gebruik word nie. Waar hierdie terme geriefshalwe hier gebruik word, moet dit dus nie die indruk skep dat die teoretici wie se werk hieronder bespreek word, ook hierdie terme gebruik nie.

Die status van die vertaalde teks en daarmee saam die vraag tot welke mate vertaling as ‘n oorspronklike, kreatiewe aktiwiteit of as ‘n afgeleide, mimetiese aktiwiteit gesien kan word, staan sentraal in die diskoers oor literêre vertaling. Daar is tot baie onlangs algemeen aanvaar dat die vertaalhandeling minder kreatief as die skryfhandeling, en afgeleid eerder as oorspronklik is (Chamberlain, 2012:255; Holman & Boase-Beier, 1999:2). Vanaf die laat twintigste eeu word die ondergeskikte rol van die vertaler heroorweeg met Lefevere (1992) wat vertaling as herskrywing voorhou en Venuti (2008) wat die tradisionele onsigbaarheid van die vertaler, veral in Engelstalige doeltekste, problematiseer. Holman en Boase-Beier (1999:2) bevraagteken die konsep van ‘n oorspronklike (bron)teks deur aan te voer dat alle skryfwerk, nie slegs vertaling nie, herskrywing is in die sin dat alle tekste materiaal assimileer, leen, naboots of herskryf. Hulle doen aan die hand dat kuns in wese afgeleid is en dat enige aktiwiteit wat ‘n soeke na betekenis behels ‘n vertaalhandeling is, sodat ‘n mens byvoorbeeld ‘n skildery kan beskou as ‘n vertaling van ‘n mentale idee na ‘n konkrete beeld. Beide skrywers en vertalers omvorm op soortgelyke wyse bestaande materiaal in die gedaante van taal (Holman & Boase-Beier, 1999:4). Die destabilisering van die konsep van ‘n oorspronklike noop volgens Holman en Boase-Beier (1999:4) ‘n ondersoek na die praktyke van skrywers en vertalers.

Friedrich Schleiermacher het  in 1813 ‘n referaat gelewer waarin hy besin oor die taak van die vertaler en sleutelonderskeide tref wat steeds relevant is vir hedendaagse benaderings tot literêre vertaling en die beoordeling van vertaalde werke. Die eerste onderskeid wat Schleiermacher tref, naamlik die terrein van saketransaksies teenoor dié van kuns en wetenskap, stel hy parallel aan die onderskeid tussen tolking, wat tipies mondeling is, en vertaling wat tipies skriftelik is, omdat saketransaksies hul oorsprong in gesproke onderhandeling het (ofskoon dit later neergeskryf word) terwyl die geskrewe vorm juis dien om werke van kuns en wetenskap te verewig. Volgens Schleiermacher neig die vertaling van koerantartikels en gewone reisbeskrywings eerder na “tolking” in die sin van mondelinge vertaling, omdat dit neerkom op ‘n weergawe van feite en gebeure in ‘n ander taal sonder dat ‘n besondere outeur se teenwoordigheid daarin gevoel hoef te word. Hierteenoor is die vertaler se eintlike terrein volgens Schleiermacher “those works of art and science in which the author’s free individual combinatory faculties, on the one hand, and the spirit of the language along with the entire system of views and sentiments in all their shadings represented in it, on the other, count for everything”. In literêre en wetenskaplike tekste speel die outeur se taalbesluite en taalvernuf ‘n sleutelrol in die geheelindruk van die teks. Die vertaler moet die outeur se meesterlike beheersing van die brontaal om ‘n (kuns)werk tot stand te bring sowel as die moontlikhede wat die betrokke brontaal gebied het, iets van die gees van die brontaal, aan die lesers tuisbring: “They must grasp the genius of the language that was native to the writer, they must be able to observe his characteristic manner of thinking and sensibility”, aldus Schleiermacher (2012:47).

Binne die terrein van vertaling onderskei Schleiermacher verder twee moontlike metodes, naamlik parafrasering en nabootsing. Parafrase is ‘n poging om die leksikale en morfologiese verskille tussen tale te oorbrug deur bewoording wat die boodskap akkuraat oordra, maar dan ten koste van die gevoelsindruk van die teks. By nabootsing word aanvaar dat tale verskil tot die mate dat die vertaling in sy geheel ‘n nuwe werk is wat die gevoelsindruk van die oorspronklike naboots sonder dat daar ooreenstemming tussen die onderdele van die bronteks en doelteks is (Schleiermacher, 2012: 48). Schleiermacher stel dan die parafrasering/nabootsing-onderskeid parallel aan die kuns/wetenskap-onderskeid en voer aan dat parafrasering by wetenskapstekste gevind word, terwyl nabootsing gereeld in die kunste voorkom. Beide parafrasering en nabootsing is egter ontoereikend vir die vertaler wat die uitnemendheid van ‘n meesterstuk in ‘n vreemde taal aan sy (doel)taalgenote wil tuisbring. Volgens Schleiermacher is daar een van twee (wedersyds uitsluitende) maniere waarop ‘n vertaler die oorspronklike outeur (insluitend sy unieke aanwending van die unieke moontlikhede van die brontaal) by die doeltaalleser kan uitbring: óf die (doeltaal)leser word nader aan die (brontaal)outeur gebring, of die (brontaal)outeur word nader aan die (doeltaal)leser gebring. Venuti (2008:15) noem eersgenoemde vervreemdende vertaling, “a foreignizing practice”, oftewel veruitheemsing en laasgenoemde “a domesticating practice” (in Afrikaans: domestikering, oftewel verinheemsing. (Verplaasliking kan as ‘n sinoniem van lokalisering gesien word.  Dit is ‘n kommersiële praktyk wat baie breër as vertaling is en ook gebruikskoppelvlakaanpassings behels.) Schleiermacher (2012:62) verkies eersgenoemde omdat dit volgens hom die werklike doel van vertaling verwesenlik, naamlik dat almal die voortreflikste kultuurgoedere uit die verskillende  eras so suiwer en perfek kan geniet as wat dit moontlik is vir iemand vir wie dit vreemd is.

Waar daar heelwat voorbeelde te vinde is van literêre, klassieke en religieuse tekste wat in die 19de eeu in Engels vertaal is volgens die vervreemdende strategie, soos byvoorbeeld deur Schleiermacher verwoord, is daar sedert die middel van die 20ste eeu ‘n verskuiwing na verinheemsing. Jones (2009:155) noem as voorbeeld die verskuiwing van algemene aanvaarding van argaïsmes in Engelstalige litêrere vertaling na grootskaalse afkeur daarvan sedert die middel van die 20ste eeu. Nida (1964), wat veral in Bybelvertaling gewerk het, beveel aan dat die doelteks natuurlik klink in die doeltaal en dat ‘n ekwivalent vir konsepte wat vreemd is aan die doeltaalkultuur gevind word sodat die dinamiese ekwivalensie bewerkstellig kan word. Dinamiese ekwivalensie gaan nie soseer oor die reproduksie van die bronteksboodskap in die doeltaal nie, maar dat die dinamiese verhouding wat daar tussen die doelteks en doeltaalleser ontstaan, dieselfde is as die verhouding tussen bronteks en brontaalleser. By ‘n dinamies ekwivalente vertaling hoef die leser nie iets van die brontaalkultuur te verstaan om die doelteks te verstaan nie.

Venuti (2008) se werk sedert die 1990’s is ‘n reaksie teen die doeltaal-georiënteerde tendense in die vertaling van tekste na Engels vanuit ander tale. Soos Schleiermacher staan hy ‘n vervreemdende vertaalstrategie voor. Venuti (2008:1) is veral gekant teen die vlotheidskriterium waarvolgens ‘n Engelse vertaling van ‘n teks, hetsy prosa of poësie, fiksie of nie-fiksie, as aanvaarbaar beoordeel word deur uitgewers, resensente en lesers. Hiervolgens lees ‘n vertaling vlot as daar geen talige of stilistiese eienaardighede is wat daarop dui dat dit ‘n vertaling is nie, d.w.s. as die doelteks verplaaslik is vir die doeltaallesers. Venuti (2008:1) verwys hierna as die “regime of fluency”, die illusie dat die vertaling nie ‘n vertaling is nie, maar die “oorspronklike” teks. ‘n Vertaling wat só vlot lees, verbloem die vertaler se intervensie en maak as’t ware die vertaler onsigbaar — vandaar die titel van Venuti se monografie The translator’s invisibility. Venuti (2008:2) verwys na verskeie resensies van Engelstalige vertalings van werke deur Latyns-Amerikaanse en Europese skrywers om aan te toon dat vlotheid aangeprys word en dat dit die dominante beoordelingskriterium is. Op grond van hierdie ontleding van vertalingsresensies identifiseer Venuti (2008:4-5) ‘n aantal kenmerke van ‘n sogenaamde vlot Engelstalige vertaling. So ‘n vlot vertaling se woordkeuse is naamlik modern, algemeen gebruiklik en standaard, en argaïese uitdrukkings, spesialisterme (jargon) en groepstaal (“slang”) word so ver moontlik vermy. Voorts is ‘n vlot vertaling maklik verstaanbaar en is die sinskonstruksie daarvan nie só getrou aan die bronteks dat dit effens onidiomaties in Engels klink nie. Volgens Venuti is so ‘n vlot vertaling verplaaslik (“domesticated”) eerder as vreemd (“foreign”). Hy (2008:16) neem sterk standpunt in teen die praktyk in die Engelssprekende (Britse en Amerikaanse) uitgewersbedryf wat gekenmerk word deur verinheemsing en vlot vertaling, en staan ‘n benadering voor waar vertalings as vertalings, en as tekste in eie reg gelees word (Venuti, 2008:13).

Venuti (2008:16) maak die kontroversiële stelling dat vervreemdende vertaling vandag wenslik is as teenvoeter vir die hegemoniese vertaalpraktyke van die Engelstalige wêreld: “Foreignizing translation in English can be a form of resistance against ethnocentrism and racism, cultural narcissism and imperialism, in the interests of democratic geopolitical relations.”

Hierdie stelling illustreer enersyds hoe gepolitiseerd vertaalteorie is, maar andersyds kan dit ook gesien word as kritiek op die uitgewerswese en die werkskonteks van die literêre vertaler. Pragmatiese kwessies soos die roem van die bronteksskrywer, die bekendheid van die vertaler, kopiereg, redigering, die markaanvraag en so voorts kom ook ter sprake by besluite oor wat vertaal word, na watter taal en deur wie, en dit is waar die keuse van watter tekste vertaal word, asook styl- en benaderingsvoorkeure van redakteurs en uitgewers ‘n groot rol speel in die vestiging van literêre konvensies en norme binne ‘n spesifieke tydvak en plek. Filmverwerkings van romans gee byvoorbeeld dikwels aanleiding tot die vertaling van daardie romans (Jones, 2008:156). Hierdie kontekstuele kwessies word oorweeg in die polisisteemteorie (Even-Zohar, 1990) (vgl. Sisteem (literêre) wat daarvoor voorsiening maak dat ‘n spesifieke vertaling as teks gesien kan word binne ‘n sisteem van tekste in die doeltaal, of binne ‘n groter sisteem van vertaalde tekste (Jones, 2008: 156). ‘n Interessante pragmatiese verskynsel teen die agtergrond van die polisisteemteorie is abba-vertaling, dit wil sê ‘n vertaling van ‘n vertaling, wat volgens Steyn (2015:107) gewoonlik ongewens is, maar tog vertalings moontlik maak tussen tale waar daar nie noodwendig ‘n vertaler met daardie werkstaalkombinasie bestaan nie, byvoorbeeld ‘n vertaling uit Xhosa na Frans via Engels.

Teenoor die argument dat vertalers doelbewus hulself sigbaar moet maak in die doelteks, is daar ook die standpunt dat vertalers in elk geval onbewus hul stilistiese stempel op hul vertalings afdruk (Jones, 2008:154). In dié verband poog Baker (2000) om ‘n raamwerk vir die ondersoek van die styl van individuele literêre vertalers daar te stel. Dieselfde tipe stilometriese metodes wat vir outeursidentifikasie gebruik word, is byvoorbeeld deur Rybicki en Heydel (2013) gebruik om in ‘n gevallestudie korrek te bepaal op watter punt in die teks die tweede vertaler oorgeneem het.

Ongeag die benadering (vervreemding of domestikering) wat gevolg word, word daar kreatiwiteit van die vertaler vereis. Holman en Boase-Beier (1999:7) wys daarop dat die verhouding tussen die kreatiewe prestasie van (bronteks)skrywer en die vertaler se kreatiwiteit van kernbelang is vir die literêre vertaalkunde. Kreatiwiteit kom veral ter sprake by die hantering van die beperkings (“constraints”) wat inherent is aan vertaling en aan die skryfhandeling (Holman en Boase-Beier, 1999:4). Die beperkinge waaraan skrywers onderhewig is, sluit byvoorbeeld in die mate waartoe daar by die werklikheid gehou moet word in fiktiewe wêrelde, die verbeelde leser se agtergrondkennis, en die lesersmark (Shuttleworth, 2008:199; Holman & Boase-Beier, 1999:5). Die vertaler as skrywer is ook aan die genoemde beperkinge onderhewig, maar ook die bronteks self is vir die vertaler ‘n beperking. Holman en Boase-Beier (1999:4) merk op dat die vertaler in verhouding tot ‘n bestaande werk moet skryf. Verder bied die bron- en doeltale beperkinge waarbinne die vertaler moet werk. Holman en Boase-Beier sê hieroor: “the translator is subject both to the ever present model of the source language and also to the additional limitations imposed by the medium with which and the context within which the target language, in turn, has to operate” (1999:7). Hulle (Holman & Boase-Beier, 1999:7) noem as bykomende beperkinge kulturele oorwegings soos die geskiedenis en genre- en taalkonvensies (wat vir sowel die bronteks as die doelteks geld). Daar is ook die spanning tussen die doel van die vertaling en die mate waartoe die vertaler die bronteksouteur se intensie wil of kan realiseer in die doelteks, gegewe die vertaler se eie persoonlike voorkeure, ideologie en omstandighede (Holman & Boase-Beier, 1999:10-13). Die kreatiwiteit van die vertaler spruit egter juis uit die addisionele beperkinge van die vertaalproses. Holman en Boase-Beier (1999:13) verduidelik die verhouding tussen beperkinge en kreatiwiteit as volg: “Yet just as constraint moulded and gave rise to the creative impulse in the original writing, so in translation this added burden of constraint can force a translator into new ways of overcoming it and thus into new creativity.”

Dit is moontlik dat ‘n vertaling ‘n verbetering kan wees op die bronteks en dat die vertaling as herskrywing beperkinge kan oorkom waaronder die bronteks gebuk gegaan het, en sodoende die betekenis van die oorspronklike kan herbepaal (Holman & Boase-Beier, 1999:14). Die vertaler as leser is kreatief betrokke by die interpretasie van die bronteks, byvoorbeeld in die ontsluiting van die verskillende betekenisse van meerduidige uitinge en in die trek van verbande wat aangedui word deur onder andere intertekstuele verwysing, rympatrone, woordspel en stylfigure. Hierdie interpretasie vorm die grondslag van die doelteks waarin die vertaler as skrywer dan besluite moet neem oor watter aspekte van die betekenis en vorm van die bronteks in die doelteks bewaar sal word en hoe dit bewerkstellig kan word.

Weens die kreatiewe eise wat aan literêre vertalers gestel word, kan ‘n mens aanvaar dat nie alle vertalers literêre vertalers is nie. Daar bestaan ook die opvatting dat die vertaler van gedigte liefs selfs ‘n digter moet wees (Boase-Beier, 2008:195) en dat die vertaler van dramas liefs self ‘n dramaturg moet wees. Ten spyte hiervan is daar wel opleidingsgidse vir aspirerende literêre vertalers soos dié van Landers (2001).

Die beperkings op literêre vertaling kan verstaan word deur die literatuur as ‘n kunsvorm as ‘n sekondêre modelvormende sisteem of kode te beskou waaraan taal as die primêre sisteem onderwerp word: “Poetic speech is a structure of great complexity. It is considerably more complicated than natural language. And if the volume of information in poetic speech (verse or prose – here the distinction is unimportant) and in ordinary speech were identical, artistic speech would lose its right to exist and, indisputably, would die out. But the case is somewhat different. A complicated artistic structure, created from material of language, allows us to transmit a volume of information too great to be transmitted by an elementary, strictly linguistic structure. It follows that the information (content) given can neither exist nor be transmitted outside this artistic structure. (Lotman, 1977: 10-11).

Die vertaling van poësie vereis waarskynlik die meeste kreatiwiteit van die vertaler. Hoewel poësie al eeue lank suksesvol vertaal word, word die vertaalbaarheid van poësie steeds in twyfel getrek. Dante, een van die wêreld se grootste digters, was reeds in die 13e eeu van mening dat dit onmoontlik is om poësie te vertaal “(without) destroying all its sweetness and harmony” (Erbe, 1964: 5). ‘n Soortgelyke standpunt word deur meer onlangse digters soos Valéry en Nabokov gehuldig. In lg. se “On translating Eugene Onegin” staan die volgende: “What is translating? On a platter / A poet’s pale and glaring head / A parrot’s screech, a monkey’s chatter / A profanation of the dead” (Steiner, 1975: 329).

Dit is volgens Boase-Beier (2008:194) as gevolg van die opvatting dat vertaalde gedigte poësie in eie reg moet wees asook die spesiale verhouding tussen vorm en inhoud wat poësie kenmerk. Formeel is poësie in die eerste plek ouditief en moet die rol wat klank, metrum en rym speel in die effek wat die oorspronklike gedig op die leser het ook neerslag vind in die vertaling. Visuele aspekte soos strofe-indeling en reëllengte is ook van belang, veral waar die gedigte saam uitgegee word. Breyten Breytenbach se tweetalige versameling van twaalf gedigte Oorblyfsel/Voice Over is ‘n Suid-Afrikaanse voorbeeld hiervan (Kirsten, 2014; Odendaal, 2011). Om Lotman (1977: 29) se uitdrukking te gebruik: daar vind “semantisering” van die nie-semantiese elemente van die natuurlike taal (bv. die klank, die sintaksis, ens.) plaas wat ‘n dinamiese verhouding tussen die verskillende elemente binne die georganiseerde struktuur bewerkstellig en bydra tot die ryk betekenis van die teks. Die vertaling van kinderliteratuur stel insgelyks unieke uitdagings aan die vertaler. In die eerste plek is die vertaler, soos die bronteksskrywer, se taalgebruik (woordkeuse en sinskonstruksie) onderhewig aan die beperkinge wat die lesers se ouderdomsgroep en veronderstelde agtergrondkennis daar stel. Lathey (2008:32) noem verdere formele kwessies wat ter sprake kom by literatuur vir jong kinders, soos ritme, rym, klanknabootsing en (hardop)leesbaarheid. Sy verwys hierna as die “aural texture of a story”. Lathey (2008:32) noem ook woordspel, neologismes en “nonsense” as eienskappe van kinderliteratuur wat besondere linguistieke kreatiwiteit van die vertaler verg. Hier dink ‘n mens byna vanselfsprekend aan die vertalings van Lewis Carroll se Alice’s Adventures in Wonderland nie. André P. Brink (2006) vertaal in die 1960’s die woordspel en parodie van hierdie klassieke kinderboek meesterlik in Afrikaans.

Deur na die vertaler as skrywer te verwys, of na die vertaalhandeling as herskrywing te verwys, vervaag die grense tussen bron- en doelteks. Die status van die oorspronklike is by selfvertaling selfs vaer. In die afgelope drie dekades kom daar nuwe teoretiese belangstelling in die verskynsel van selfvertaling. Grutman (2008:257) wys daarop dat selfvertalers nie net meer as een taal bemeester nie, maar ook kies om in meer as een taal skeppend te werk, en  beklemtoon dat dit ‘n bewuste handeling is. Hy noem Samuel Beckett en Vladimir Nabokov as internasionaal-bekende voorbeelde van selfvertalers. Binne die Suid-Afrikaanse konteks waar tweetaligheid (en in baie gevalle meertaligheid) ‘n gegewe is vir lesers staan selfvertaling volop. By selfvertaling is die vertaler in ‘n sekere sin aan minder beperkinge onderhewig en bestaan daar natuurlik geen twyfel oor die intensie van die bronteksouteur nie (Grutman, 2008:259) en kan die skrywer/vertaler dus baie meer kreatief te werk gaan.

Hier moet daar wel onderskei word tussen outeursintensie en die doel (“skopos”) van die vertaling (Nord, 2005). Die selfvertaling van Elsa Joubert se roman Die swerfjare van Poppie Nongena na Engels (The long journey of Poppie Nongena) is ‘n voorbeeld waar die skopos van die bronteks en doelteks verskil het. Die Afrikaanse bronteks was vir ‘n Suid-Afrikaanse leesgehoor geskryf en word gekenmerk deur streektaal en leenwoorde, terwyl die Engelse vertaling vir ‘n internasionale leesmark toeganklik moes wees (Botha, 2016:60). Botha (2016:61) se kritiek op die vertaling toon die spanning tussen outeursintensie en doelteks-skopos aan wanneer sy sê, “Alhoewel Joubert se bedoeling was om die kultuur en sogenaamde geestesklimaat van die bronteks te behou, benadeel haar gebruik van taalstandaardisering en selfs stylverheffing die tekskarakter ingrypend”. Hierdie vertaling is dan ook ‘n voorbeeld van domestikering vir die Engelssprekende doeltaalkultuur, ofskoon Joubert volgens Botha (2016:61) steeds gepoog het om elemente van die brontaalkultuur soos uitdrukkings en woorde in Afrikaans en Xhosa te bewaar.

Sulke uitdrukkings is, nes eiename, meestal onvertaalbaar, wat nie uitsluit dat eiename soms baie effektief vertaal kan word nie, getuie Uys Krige se vertaling van Shakespeare se Andrew Auguecheek as Andries Bibberbakkies. Uys Krige se Twaalfde nag is in talle opsigte snaakser en meer verstaanbaar vir ‘n Suid-Afrikaanse gehoor as Shakespeare se oorspronklike drama, omdat dit die drama herskryf vir ‘n later tyd en daardeur die afstand vanaf Shakespeare se tyd help oorbrug en die drama lewend hou (Schalkwyk 2006: 47).

Verskille in die skopos van die doelteks blyk ook die twee vertalings wat Leon de Kock van Marlene van Niekerk se Triomf moes maak: een vir die plaaslike mark en een, gesuiwer van tipies Suid-Afrikaanse elemente, vir die internasonale mark – ‘n proses wat De Kock (2009: 35) beskryf het as sowel kodewisseling as dekodering (“code breaking”).

In die Suid-Afrikaanse konteks word die grense tussen selfvertaling en tweetalig skryf ook vervaag. Voorbeelde hiervan is André P. Brink se Bidsprinkaan en Praying Mantis, wat deur De Roubaix (2014) as ‘n stereoskopiese geheel gelees word, en die werk van Antjie Krog.

Die literêre vertaler is sowel interpreterende leser as kreatiewe skrywer. As skrywer staan sy/hy onvermydelik voor ‘n keuse van benadering wat in die hedendaagse vertaalkunde neerkom op ‘n keuse tussen vervreemdende of domestikerende vertaalpraktyke.

 

Lande Botha

 

Bibliografie

Baker, M. 2000. Towards a methodology for investigating the style of a literary translator. Target, 12(2):241-266.

Baker, M. & Saldanha, G. (reds.) 2009. Routledge encyclopedia of translation studies. 2de uitgawe. London: Routledge. 697p.

Breytenbach, Breyten. 2009. Oorblyfsel/Voice over. Kaapstad: Human & Rousseau.

Boase-Beier, J. & Holman, M. (reds.). 1999. The practices of literary translation. Constraints and creativity. Manchester: St Jerome.

Boase-Beier, J. 2009. Poetry. In: Baker, M. & Saldanha, G. (reds.) Routledge encyclopedia of translation studies. 2de uitgawe. London: Routledge.

Botha, M. 2016. Opgeroepte betekenis in literêre vertaling: Die vertaling van dialek en register in Die swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert. Litnet Akademies, 13(1):56-85)

Carroll, Lewis. 2010. Die avonture van Alice in Wonderland. Vertaal deur André P. Brink. Kaapstad: Human en Rousseau.

Carroll, Lewis. 2006 [1865] Alice’s adventures in Wonderland. London: Penguin.

Chamberlain, L. 2012 [1988] Gender and the metaphorics of translation. In: Venuti, L. (red.) The translation studies reader. 3de uitgawe. London: Routledge.

De Kock, Leon. 2009. Cracking the code: Translation as transgression in Triomf. Journal of Literary Studies/Tydskrif vir Literatuurwetenskap, 25(3): 16–38.

De Roubaix, L. 2014. The multiple possibilities of interpretation in products of bilingual writing: André Brink’s Praying Mantis and Bidsprinkaan as a total text. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, 43:43-67.

Even-Zohar, I. 1990 [1978]. The position of translated literature within the literary polysystem (Hersien). Poetics Today, 11(1):45-51.

Holman, M & Boase-Beier, J. 1999 Introduction: Writing, rewriting and translation through constraint to creativity. In: Boase-Beier, J. & Holman, M. (reds.). The practices of literary translation. Constraints and creativity. Manchester: St Jerome.

Jakobson, R. 2012 [1959]. On linguistic aspects of translation. In: Venuti, L. (red.) The translation studies reader. 3de uitgawe. London: Routledge.

Joubert, Elsa. 1978. Die swerfjare van Poppie Nongena. Kaapstad: Tafelberg.

Joubert, Elsa. 1980. The long journey of Poppie Nongena. Johannesburg: Jonathan Ball.

Jones, F.R. 2009. Literary translation. In: Baker, M. & Saldanha, G. (reds.) Routledge encyclopedia of translation studies. 2de uitgawe. London: Routledge.

Kirsten, L. 2014. Continuing the conversation among the words: Breyten Breytenbach’s translation strategy in Oorblyfsel/Voice Over. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, 45:109-123.

Landers, C.E. Literary translation. A practical guide. Clevedon: Multilingual Matters.

Lathey, G. 2009. Children’s literature. In: Baker, M. & Saldanha, G. (reds.) Routledge encyclopedia of translation studies. 2de uitgawe. London: Routledge.

Lefevere, A. 1992. Translation, rewriting and the manipulation of literary fame. London: Routledge.

Munday, J. 2016. Introducing translation studies, theories and applications. 4de uitgawe. London: Routledge.

Nida, E.A. 1964. Toward a science of translating. Leiden: E. J. Brill.

Nord, C. 2005. Text analysis in translation: theory, methodology, and didactic application of a model for translation-oriented text analysis (uit Duits vertaal deur Christiane Nord en Penelope Sparrow).  Amsterdam: Rodopi.

Odendaal, P. 2011. Oortekening as vertaalstrategie in Breytenbach se “Oorblyfsel/Voice Over”. Litnet Akademies, 8(2):286-308.

Rybicki, J. & Heydel, M. 2013. The stylistics and stylometry of collaborative translation: Woolf’s Night and Day in Polish. Literary and Linguistic Computing, 28(4): 708–717. December. https://doi-org.nwulib.nwu.ac.za/10.1093/llc/fqt027.

Schalkwyk, David. 2006. Shakespeare’s Untranslatability. Shakespeare in Southern Africa, 18 (Januarie): 37–48.

Schleiermacher, F. 2012 [1813]. On the different methods of translating (vertaal deur Susan Bernofsky). In: Venuti, L. (red.) The translation studies reader. 3de uitgawe. London: Routledge.

Shuttleworth, M. 2009. Polysystem. In: Baker, M. & Saldanha, G. (reds.) Routledge encyclopedia of translation studies. 2de uitgawe. London: Routledge.

Steyn, L. 2015. Van doekvoet na eendvoet: Die vertaling van Afrikaanse romans in Frans. Litnet Akademies, 12(1):106-130.

Venuti, L. 2008. The translator’s invisibility. A history of translation. 2de uitgawe. London: Routledge.

Venuti, L. (red.) 2012. The translation studies reader. 3de uitgawe. London: Routledge.

1