(Hersien September 2019)
Die Parnassiërs was ‘n groep hoofsaaklik Franse digters wie se werk in 1866, 1871 en 1876 versamel en uitgegee is deur Alphonse Lemerre onder die titel Le parnasse contemporain. Charles-Marie-René Leconte de Lisle word as die leier van die Parnassiërs beskou. Ander prominente Parnassiërs was Villiers de l’Isle Adam, Sully Prudhomme, Théodore de Banville, François Coppée, José-Maria de Hérédia en Catulle Mendès. Ander digters soos Nina de Callias, Louis Siéfert, Louise de Laprade, Anatole France, Léon Cladel en Georges Lafenestre het hulle ook by die Parnassiërs aangesluit. Ouer digters soos Sainte-Beuve en Auguste Barbier is later ook genooi om in Le Pamasse contemporain te publiseer.
Na aanleiding van die tydskrifnaam is die groep digters die Parnassiërs genoem, wat sinspeel op die berg Parnassus in Griekeland wat in die Griekse mitologie beskou is as gewy aan Apollo en as die setel van die Muse.
Die Parnassiërs was in reaksie teen die subjektiewe en sentimentele werk van die Franse Romantiek. Hulle is grootliks geïnspireer deur Théophile Gautier se doktrine van l’art pour l’art soos uiteengesit in sy voorwoord tot Mademoiselle de Maupin. Hulle verwyt was dat die Romantici soos Victor Hugo, Alfred de Vigny en Alphonse de Lamartine die inhoud (gevoel en sosiale en politieke betrokkenheid) bo die vorm (die skoonheid en die volmaaktheid van die taal) gestel het. Die Parnassiërs het die poësie as ‘n outonome entiteit beskou en onpersoonlike, geleerde en tegnies virtuose poësie nagestreef. Hulle het met die formele aspekte van die poësie soos metrum en die versvorm geëksperimenteer en die sonnet laat herleef. Gautier se bundel met die titel Émaux et camées [Mosaïeke en kamees] (1852) kan as ‘n tipiese voorbeeld van hulle werk beskou word. Die Parnassiërs was geweldig toegewy aan die digkuns – dit was vir hulle ‘n religie. Die digters van die Pléiade (16de eeu) het as hulle model gedien en hulle het veral ‘n groot bewondering vir Ronsard gekoester.
Die Parnassiërs kry hulle temas aanvanklik uit hulle kontemporêre samelewing, maar later verskuif hulle fokus na die mitologie, eposse en die sagas van eksotiese lande en vergange beskawings (veral Indië en Antieke Griekeland).
“La perfection de la forme, le retour à l’Antiquité, la promotion du lyrisme impersonnel, la volonté d’impassibilité, l’érudition scientifique et l’intérêt porté à la réalité extérieure plutôt qu’au moi intérieur distinguent nettement le Parnasse du romantisme” [Perfekte vorm, die terugkeer na die Antieke, die bevordering van ‘n onpersoonlike liriek, die gewilde onberoerdheid, wetenskaplike geletterdheid en die belangstelling in die eksterne werklikheid eerder as in die innerlike ek onderskei die Parnassiërs van die romantiek.] (Yann Mortelette).
Die Parnassiërs het in hulle werk klem gelê op presisie van vorm, objektiwiteit, tegniese perfeksie en akkurate beskrywing van die eksterne wêreld, maar emosie het geen rol hierin gespeel nie. Hulle was voorstanders van ‘n materialistiese siening van die werklikheid. Hierdie kil benadering tot die omringende wêreld het baie mense nie aangestaan nie. Hulle siening het tot die ontstaan van die Simbolisme aanleiding gegee. Die ontstaan van lg. is hoofsaaklik aan Verlaine en Mallarmé te danke.
Die volgende aanhaling van Leconte de Lisle gee mens ‘n idee van die opvattings van die Parnassiërs:
Le monde du Beau, l’unique domaine de l’Art, est, en soi, un infini sans contact possible avec toute autre conception inférieure que ce soit.
Le Beau n’est pas le serviteur du Vrai, car il contient la vérité divine et humaine. Il est le sommet commun où aboutissent les voies de l’esprit. Le reste se meut dans le tourbillon illusoire des apparences.
[Die wêreld van Skoonheid, die unieke domein van die Kuns, is op sigself ‘n oneindigheid sonder enige moontlike kontak met watter ander minderwaardige opvatting ook al.
Die Skoonheid is nie die dienaar van die Waarheid nie, want dit bevat die goddelike en menslike waarheid. Dit is die algemene hoogtepunt waarop die weë van die gees uitloop. Die res bots in die denkbeeldige orkaan van verskynsels. (Eie vertaling.)] (Leconte de Lisle, 1899: 240).
Die Parnassiërs het wye reaksie uitgelok, meestal negatief van aard. Soms word Charles Baudelaire, Stephan Mallermé en Verlaine ook as Parnassiërs beskou, maar hulle werk sluit nouer aan by die Simbolisme. Die Parnassiërbeweging het in Frankryk ontstaan, maar nie al die Parnassiërs was Frans nie.
Navolging in ander lande
Die mees idiosinkratiese Parnassiër was ‘n skrywer uit Brasilië, Olavo Brás Martins dos Guimarães Bilac (dikwels bloot Olavo Bilac genoem). Saam met Alberto de Oliveira en Raimundo Correia, het hy die “Parnassianse Triade” uitgemaak. In 1907 is hy aangewys as die “Prins van die Brasiliaanse Digters”. Olavo Bras het op Parnassiaanse wyse aandag geskenk aan die tegniese aspekte van die poësie, maar hy het nie die emosionele aspekte verwaarloos nie.
Die Parnassiërs is ook in ander lande nagevolg. Poolse Parnassiërs was bv. Antoni Lange, Felicjan Faleński, Cyprian Kamil Norwid en Leopold Staff. Alexandru Macedonski was ‘n Romeense digter wat deur die Parnassiërs se werk beïnvloed is. Die Portugese digteres Florbela Espanca word soms ook as deel van die Parnassiër-groep beskou.
Deur middel van De Banville se alombekende Petit traité de poésie francaise het die Parnassiërs ‘n invloed uitgeoefen op ‘n paar Engelse kunstenaars soos Austin Dobson, Swinburne, Edmund Gosse en Andrew Lang, wat soms die “Engelse Parnasssiërs” genoem word. Hulle het graag met ou literêre vorme (dikwels oorspronklik Franse vorme) geëksperimenteer, bv. die ballade, die villanelle en die rondeau. Gerard Manley Hopkins het die Parnassiërs se werk negatief beoordeel en vergelyk met dié van Alfred Lord Tennyson. Hy het hulle werk, soos “Enoch Arden” deur Tennyson, as “competent but uninspiring” beskou.
In Rusland is die Parnassiërs nagevolg deur die Russiese Acmeïsme.
Anna-Marie le Roux
BIBLIOGRAFIE
Babuts Nicolae. 2014. Baudelaire and the Identity of the Self. Interdisciplinary Critical Journal, 47(3):159-173.
Editors of the Encyclopædia Britannica (the). 2010. Parnassian. Encyclopædia Britannica, inc.
Enet, L. 2003. Series Litteraires: Histoire littéraire: Le Parnasse.
Brereton, G. 1954. A Short History of French Literature. Harmondsworth: Penguin.
Hughes, G. 1972. Imagism & the Imagists: a Study in Modern Poetry. New York: Biblo and Tannen Publishers.
Mortelette, Yann. 2005. Histoire du Parnasse. Paris, France: Fayard.
Leconte de Lisle, Charles-Marie. 2015 [1899] Préfaces. — Les Poètes contemporains. — Discours sur Victor Hugo », in Derniers poèmes; publié par José Maria de Hérédia et le Vte de Guerne, Paris, A. Lemerre, p. 215-309. Elektroniese edisie: [Geraadpleeg 7 Sept 2019]
Murphy, Steve. 2008. Versifications “parnassiennes”. Romantisme, 140(2): 67-84.
Robinson, J.K. 1953. A Neglected Phase of the Aesthetic Movement: English Parnassianism. PMLA, 68(4):733-754
Van Bork, G.J. et al. (reds.) 2012–. Parnassiers. In: Algemeen letterkundig lexicon.