NUWE-TESTAMENTIESE LITERATUUR

Daar word normaalweg van vier soorte geskrifte in die Nuwe Testament gepraat, nl. evangelie, BRIEF, historiese monografie en apokalips. Hierdie indeling is problematies. Dit is bv. ‘n omstrede saak of die vier geskrifte wat ons vandag evangelies noem tot dieselfde genre behoort. Indien Lukas—Handelinge verder as twee dele van dieselfde tekssoort beskou word, ontstaan die vraag of Lukas—Handelinge ‘n evangelie of ‘n historiese ROMAN is. Die Openbaring van Johannes kan wel as ‘n apokalips geklassifiseer word, maar is alle sg. briewe in die Nuwe Testament wel briewe (vgl. die Hebreër-“brief”)? Dit is daarom ook nie vreemd dat die geskrifte van die Nuwe Testament anders as die literatuur van die vroeë kerkvaders (patristiese literatuur) tot die oerchristelike voorvorme van literatuur gereken is nie (F. Overbeck). Aangesien die wyses waarop materiaal in tekste georganiseer kan word (bv. vertelling, beskrywing, argumentasie, ens.) beperk is, is dit sinvoller om die geskrifte van die Nuwe Testament in twee tekstipes te verdeel, nl. verteltekste en nie-verteltekste. Die Nuwe Testament bied getuienis daarvan dat Jesus en die vroeë Palestynse Christene aan die verhaalvorm voorkeur gegee het. Dit was Paulus wat hierdie praktyk verander het en die Christelike geloof in argumentatiewe vorm (vgl. sy briewe) begin aanbied het.

Die verteltekste bestaan eerstens uit groter vorme. ‘n Baie groot deel van die Nuwe Testament bestaan uit narratiewe materiaal. Die vier Evangelies, Mattheus, Markus, Lukas en Johannes, die handelinge van die Apostels asook die Openbaring van Johannes is vertellings en vertoon narratiewe kenmerke soos plot, KARAKTERTEKENING, FOKALISASIE, vertel- en vertelde TYD, ens. Die meeste van hierdie vertellinge berus op mondelinge oorlewering wat binne ‘n vertelraamwerk gerangskik en op skrif gestel is.

Die Evangelies is vertellings oor die woorde en dade van Jesus en was bedoel om in hulle geheel voorgelees te word. Die skrywers van hierdie geskrifte het elkeen op sy eie manier en met die oog op sy eie gehoor die verhaal van Jesus oorvertel. Die Handelinge van die Apostels is die verhaal van die verspreiding van die geloof in Jesus vanaf sy hemelvaart in Jerusalem tot by Rome. In ooreenstemming met die gebruike van die antieke geskiedskrywing (vgl. Tukudides) het die skrywer die optrede (handelinge) van die apostels in ‘n “historiese” verhaal aangebied. Ten einde sy verhaal te vertel, het hy sy karakters laat handel en praat. Die Openbaring van Johannes is ‘n besondere soort VERTELLING. In die laaste twee eeue v.C. het daar tydens die hoogbloei van die apokaliptiek ‘n hele aantal pseudo-epigrafiese geskrifte in die naam van figure soos Moses, Abraham, Henog, Barug e.a. ontstaan. Die skrywers van apokalipse was afsydig teenoor die wêreld waarin hulle geleef het. Hulle het geglo dat hulle in die eindtyd leef waarna God ‘n nuwe wêreld sal skep waarin daar uitkoms sal wees vir die regverdiges wat in hierdie wêreld verdruk word. Hulle geskrifte bied ‘n kykie op die nuwe wêreld, en om daaraan gesag te gee, het hulle enersyds hulle geskrifte in die naam van ‘n gesaghebbende persoonlikheid uit die verlede geskryf, en andersyds hulle boodskap in hoogs simboliese taal aangebied. Die skrywer van die Openbaring van Johannes het by hierdie gebruik aangesluit.

Tweedens is daar die kleiner vorme. Die skrywers van die verteltekste in die Nuwe Testament het verskillende kleiner preliterêre vorme in hulle vertellings ingebed. Dit blyk reeds uit die verskillende vorme waarin die uitsprake van Jesus in die Evangelies voorkom. Daar is bv. wysheidswoorde (vgl. Mark. 9:4), profetiese en apokaliptiese uitsprake soos heiltoesegginge (bv. die saligsprekinge in Matt. 5:3 e.v.), dreigwoorde (Matt. 10:32 e.v.), vermaninge (Mark. 1:15 e.v.) en apokaliptiese vooruitsegginge (Mark. 13:2 e.v.), wetsuitsprake in apodiktiese (Matt. 7:6 e.v.) en KASUÏSTIESE vorm (Mark. 8:38 e.v.) en ek-uitsprake (Mark. 10:45 e.v.). Daarbenewens is die uitsprake van Jesus ook in uitgebreide vertellings soos GELYKENISSE en apoftegmas aangebied. Gelykenisse kan beskou word as uitgebreide METAFORE oor die koninkryk van God in vertelvorm (vgl. Matt. 13:1 e.v.). Apoftegmas is kort vertellings soos bv. strydgesprekke tussen Jesus en die Joodse leiers oor die sabbat (Mark. 2:23—28) en biografiese apoftegmas (Mark. 1:16—20) wat rondom ‘n uitspraak van Jesus opgebou is. Die skrywers van die Evangelies het hierdie kleiner vorme gebruik om Jesus aan die woord te stel deur die uitsprake in die makrovertelling in te bed. Dit maak deel uit van sy karakterisering soos blyk uit die bergrede in Mattheus 5—7 wat ‘n komposisie van Mattheus is.

Daar is egter ook ander klein vorme soos die wondervertellinge en LEGENDES waardeur die optrede van Jesus vertel word. Laasgenoemde sluit legendes in soos die kindheidsvertellings (vgl. Matt. 1:1 e.v. en Luk. 2:1 e.v.), die doop van Jesus (Mark. 1:9 e.v.), die intog in Jerusalem (Mark. 11:1 e.v.) en die lydensgeskiedenis (Mark. 14:1 e.v.) wat almal ‘n religieuse funksie het. Hierdie vertellings kan uiteraard ‘n historiese kern bevat maar dit is ‘n ander kwessie. In hierdie vorme is daar ook dikwels weer kleiner vorme ingebed soos blyk uit die LIEDERE wat Lukas in die kindheidsgeskiedenis van Jesus verwerk het (vgl. die Magnificat in Luk. 1:46—55; die Benedictus in Luk. 1:67—79; die Gloria in excelsis in Luk. 2:13—14 en die Nunc dimittis in Luk. 2:28—32).

Wat die nie-verteltekste (briewe) betref, is daar in die Nuwe Testament 21 geskrifte wat normaalweg as briewe beskou word, waarvan die meeste deur Paulus en sy navolgers geskryf is. Die briewe is geleentheidsgeskrifte van individue aan groepe mense, bv. ‘n gemeente (vgl. die Romeine-brief) of aan enkelinge (vgl. Filemon) in ‘n konkrete situasie. Wat die vorm betref, wyk die Nuwe Testamentiese briewe nie baie af van die antieke briewe nie. Die antieke briewe bestaan uit ‘n aanhef waarin die naam van die afsender en ontvanger (en soms ‘n groetformule) vermeld is, gevolg deur ‘n danksegging en/of voorbede voordat die hoofinhoud behandel is. Dit is met ‘n groet afgesluit. Daar bestaan ‘n geringe verskil tussen die Griekse aanhef (“A aan B groet!”; vgl. Jakobus) en die Joodse aanhef soos in die briewe van Paulus waarin daar altyd ‘n groeteformule, nl. “genade en vrede”, teenwoordig is.

Paulus se briewe het normaalweg ‘n aanhef, danksegging of seënbede, hoofdeel of inhoud, vermaning en slot. Die inhoud is meestal in die vorm van argumentasie of beskrywing georden (vgl. Galate). Hoewel die Hebreërbrief wat tekssoort betref normaalweg saam met die briewe behandel word, is dit ‘n vraag of dit ‘n brief, ‘n epistel (literêre BRIEF), ‘n rede (van vermaning) of ‘n preek is. Die briefaanhef is ‘n latere byvoeging. Ten spyte van die briefslot skep die geskrif eerder die indruk van ‘n deeglik gekonstrueerde rede of preek van vermaning aan die lesers.

Soos in die verteltekste is daar talle preliterêre vorme en formules in die briewe verwerk. Dit sluit die volgende in: geloofsformules oor die opstanding (Rom. 10:9) en dood van Jesus (Rom. 5:8); belydenisse (Fil. 2:11); liturgiese tekste soos formules van akklamasie (1 Kor. 8:6), doksologie (Rom. 16:25—27), gebed (Efes. 1:3 e.v.), nagmaal (1 Kor. 11:23—26), doop (Kol. 1:12—20) en vermaning (Gal. 5:13—6:10). Hierbenewens moet daar ook melding gemaak word van die Vroeg-Christelike liedere wat in hierdie geskrifte opgeneem is (vgl. Fil. 2:6—11; Kol. 1:15—18; Efes. 2:14—16; I Tim. 3:16; 1 Pet. 33:18—22 en Heb. 1:3).

(Vgl. BYBELLITERATUUR (AARD VAN VERHALENDE) en OU-TESTAMENTIESE LITERATUUR.)

 

Bibliografie

Aune, D.E. 1987. The New Testament in its Literary Environment. Philadelphia: Westminster.

Aune, D.E. (ed.). 1988. Greco-Roman Literature and the New Testament. Atlanta: Scholars Press.

Bultmann, R. 1970. Geschichte der synoptischen Tradition. Gottingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Dibelius, M. 1966. Die Formgeschichte des Evangeliums. Tubingen: Mohr.

Dormeyer, D. 1989. Evangelium als literarische und theologische Gattung. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.

Doty, W.G. 1973. Letters in Primitive Christianity. Philadelphia: Fortress.

Harnisch, W. 1979. Die Metaphor als heuristisches Prinzip: Neuerscheinungen zur Hermeneutik der Gleichnisreden Jesu. Verkündigung und Forschung, 24.

Overbeck, F. 1954. Über die Aufgabe derpatristischen Literatur. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.

Swetnam, J. 1969. On the literary genre of the ‘epistle’ to the Hebrews. Novum Testamentum, 11.

Tannehill, R.C. 1981. Introduction: the pronouncement story and its types. Semeia, 20.

Vielhauer, P. 1975. Geschichte der urchristlichen Literatur: Einleitung in das Neue Testament, die Apokryphen und die Apostolischen Vater. Berlin: De Gruyter.

Vorster, W.S. 1981. Wat is ‘n Evangelie? Die plek van die tekssoort evangelie in die literatuurgeskiedenis. Pretoria: N.G. Kerk-boekhandel.

 
W.S. Vorster