(Gepubliseer Februarie 2020)
Sedert die laat 1980’s is daar ‘n groeiende gevoel dat postmodernisme tot ‘n einde gekom het, wat lei tot pogings om die nuwe epog te definieer en te benoem. Timotheus Vermeulen en Robin van den Akker (2010) stel die term “metamodernisme” voor, wat toenemend in gebruik geneem word. Die voorsetsel “meta-” dra nuanses van “met”, “tussen” en “verder as”, soos hulle dit stel:
metamodernism should be situated epistemologically with post (modernism), ontologically between (post) modernism, and historically beyond (post) modernism. (Vermeulen & Van den Akker, 2010:2)
Metamodernisme is ‘n reaksie op die siening dat postmodernisme misluk het: postmodernistiese idees (wat ontwikkel is om te getuig van die kultuur van die 1970’s en 1980’s) het irrelevant ten opsigte van die kontemporêre oomblik geword, en het boonop tot so ‘n mate die “norm” binne populêre kultuur geword dat dit nie meer in staat is om krities met die huidige tydsgees om te gaan nie. Metamodernisme is terselfdertyd die doelbewuste verwerping van postmodernistiese idees, wat beskou word as sinies, abstrak, ongevoelig, en moreel gebrekkig. Daar word al hoe meer ‘n behoefte gevoel aan ‘n etiese (affektiewe en relasionele) raamwerk om die uitdagings van ‘n geglobaliseerde wêreld aan te spreek.
Vermeulen en Van den Akker (2010:5-6) wys op die geopolitieke onstabiliteit, die dringendheid van omgewings- en klimaatbewustheid, die opkoms van Oosterse ekonomieë, en die polarisasie van plekke, etnisiteite en klasse wat die Westerse politieke sentrum rondom die draai van die millennium ontwrig het. Fjellestad en Watson (2015:3) noem die terreuroorlog, toename in migrasie, nuwe media, digitale kulture, en radikale veranderings in die wyse waarop die gesin, seksualiteit, gender, die menslike ras en dierelewe gesien word. In die lig hiervan stel Crockett (2007:264) voor dat postmodernisme nie ‘n adekwate raamwerk kan bied om die realiteit van die laat 20ste en vroeg 21ste eeu te betrek nie. Metamodernisme is gevolglik ‘n doelbewuste poging om ‘n meer sosiaal bewuste kritiese paradigma tot stand te bring (vgl. Vermeulen & Van den Akker, 2010:2). Die toenemende belangstelling in etiese, politieke kwessies en toegewydheid aan die omgewing dui op ‘n epistemologiese skuif, weg van postmodernisme se ironiese “oppervlakkigheid” (Gibbons, 2015:29-30).
Die verhouding tussen metamodernisme en postmodernisme bly egter verwikkeld. Metamodernisme word soms beskou as ‘n terugkeer na modernistiese waardes soos waarheid, betekenis en egtheid, ‘n nostalgiese verlange na die moontlikheid van transendensie, en ‘n soeke na egtheid en sekerheid (sien byvoorbeeld Visagie, 2010:105,105,109). Die herlewing van modernistiese ideale is egter nie ongekompliseerd nie, aangesien metamodernisme binne ‘n kulturele konteks werk wat deur postmodernisme gevorm is, en wat voortdurend die hernude modernistiese ideale temper (vgl. Kirby, 2009:24). Metamodernisme word dus gekenmerk deur die uitdaging om die beperkinge van postmodernisme te oorskry sonder om goedsmoeds terug te val op die uitgediende waardes van die modernisme. Toth (2010:133) stel voor dat metamodernisme bloot ‘n geloof in die waardes van modernisme laat herleef, maar terselfdertyd daardie geloof uitstel en ondermyn deur die gewaarwordinge van postmodernisme.
Metamodernisme word ook beskou as ‘n voorsetting van postmodernisme, op dieselfde wyse waarop postmodernisme self modernisme voortsit (sien Kirby, 2009; Toth en Brooks, 2007; en Toth, 2010). Hiervolgens is metamodernisme die erfgenaam van die modernistiese projek, ‘n idee wat aanleiding gee tot die teorie dat metamodernisme ‘n vermenging is van modernisme en postmodernisme, en dus as’t ware ideologies tussen hierdie twee staan.
Die verskillende aspekte van metamodernisme se ontluikende estetika word verbind deur die algemene idee van herlewing. Affek, outentisiteit en egtheid, etiese besorgdheid, realisme, subjektiwiteit, optimisme, en mite het in gemeen dat hulle almal in ‘n mindere of meerder mate aansluit by (pre-)modernistiese beginsels, soos dié van betekenis, waarheid, en die akkuraatheid van representasie. Amian (2008:188) beskryf dit as
a contemporary desire to have it both ways: to embrace the liberating potential of a radical postmodernist uncertainty on the one hand, and to reclaim meaningful (inter)subjectivies on the other and to explore new ways of conceptualizing “agency”, “meaning”, and “truth” in a post-postmodern age.
Dit gee aanleiding tot Vermeulen en Van den Akker (2010:5;6) se stelling: “[I]nspired by a modern naïveté yet informed by postmodern skepticism, the metamodern discourse consciously commits itself to an impossible possibility…[Metamodernism is] at once modern and postmodern and neither of them.”
Gibbons (2015:32) sluit hierby aan en onderskei tussen modernistiese entoesiasme, ‘n geloof in utopie, en ‘n fokus op die geïdealiseerde rede aan die een kant, en postmodernisme se “nihilistiese ironie en wantroue” aan die ander kant, Hy karakteriseer metamodernisme derhalwe as gedrewe deur die “gelyktydige en paradoksale gevoel van hoop en toekomstige mislukking”.
Metamodernisme word dus daardeur gekenmerk dat dit doelbewus en doelgerig die paradokse verwelkom en bevorder wat die gevolg is van die ideologiese posisie tússen modernisme en postmodernisme. Dit bevestig nie die teleologiese en humanistiese ideale van modernisme, maar verwerp ook nie hierdie ideale soos wat postmodernisme gedoen het nie. Dit fokus eerder op die belofte van en geloof in hierdie ideale — selfs terwyl dit tegelykertyd die moontlikheid en onmoontlikheid, die teenwoordigheid en aanwesigheid, van hierdie ideale aanvaar.
‘n Hernude fokus op affek in metamodernisme weerspieël die sosiale betrokkenheid van hierdie epog. In kontras met wat beskou word as postmodernisme se solipsisme, afwesigheid, oppervlakkigheid, en ironie, laat metamodernisme ‘n fokus op emosie en sentimentaliteit herleef wat herinner aan die Romantiek (Vermeulen & Van den Akker, 2010:7). Dit sluit temas soos liefde, sorg, en self-vervulling in (Kirby, 2009:34), en vind neerslag in liriese stylkenmerke (James, 2012:865).
Affek kan egter nie onproblematies herleef ná dekades van postmodernistiese ironie nie. Timmer (2010:45) beskryf die affektiewe skuif as ‘n “melancholiese struktuur van affek” wat gesentreer is rondom ‘n gevoel van “verlies” wat terselfdertyd ‘n “traumatiese teenwoordigheid” is. Dit lei tot die paradoksale behoefte aan en verlange na betekenisvolle intersubjektiewe verhoudinge en ‘n sin vir gemeenskap, ten spyte van ‘n besef dat hierdie verhoudinge altyd alreeds geproblematiseer is. In die letterkunde word hierdie tendens gesien in ‘n herwaardering van skrywer-teks- en teks-leser- verhoudings: metamodernistiese literatuur erken dat fiksie ‘n emosionele impak op lesers kan hê, en dring daarop aan dat dit inderdaad sodanige impak móét hê.
Verder erken metamodernisme die moontlikheid van outentisiteit en egtheid, en vereis dit. Die moontlikheid van ‘n egte uitdrukking van ‘n “ware self” of “innerlike diepte” eggo Romantiese idees omtrent kuns en self, alhoewel dit ook uit die staanspoor gekompliseer en gefrustreer word deur postmodernistiese insette, veral ironie. Dit lei tot ‘n tipe metamodernistiese angs, die gevolg van die spanning tussen die behoefte om eg of onskuldig te spreek (of te skep, of te wees), en die vermoede dat dit onmoontlik is, wat aanleiding gee tot die selfbewustheid van heelwat metamodernistiese kuns. Soos Timmer (2010:186-187) dit stel: metamodernisme bring ‘n oopheid en eerlikheid na postmodernistiese self-bewuste metafiksie, selfs al word hierdie “eerlikheid” verbaster deur self-bewustheid.
Hierdie spanning dui op die nalatenskap van die postmodernistiese subjek: ‘n dekonstruksie tot ‘n onstabiele produk van diskoers, wat selfekspressie skynbaar onmoontlik maak. Die metamodernistiese fokus is dan ook meer op die soeke na of poging tot iets wat eg is en ‘n wyse om dit op ‘n egte manier uit te druk — die geloof in die moontlikheid van kommunikasie met die ander, selfs al is dit uiteindelik onhaalbaar.
Die behoefte aan kommunikasie met (en besorgheid oor) die ander weerspieël metamodernisme se aandrang op etiese betrokkenheid. Geddes (2007:70) toon aan dat ‘n belangstelling in etiek sedert die vroeë 1990’s na vore kom in literêre en kultuurteorie. Dit word sigbaar in onderwerpe wat “taboe” sou gewees het in vroeër dekades, aangesien postmodernisme etiese belange beskou het as ‘n eienskap van ‘n binêre en universaliserende diskoers. Heelwat metamodernistiese denke rondom etiek is gegrond in die werk van denkers wat nie op sigself met metamodernisme geassosieer word nie: Jacques Derrida se latere werke, Emmanuel Levinas, Jean-Luc Nancy, Jean-Luc Marion, John D. Caputo, Slavoj Žižek, en Terry Eagleton se latere werk, soos After theory (2003). Die hernude belangstelling in etiek vind veral uitdrukking in teoretiese strominge wat met metamodernisme geassosieer word, soos posthumanisme, queer teorie, affekteorie, en traumateorie.
In metamodernistiese kuns hang die aandrang op etiese gewaarwording saam met ‘n hernude waardering vir realisme, wat gepaard gaan met ‘n toenemende bewustheid van en aanspraak op die ontologiese. Kuns word beskou as onlosmaaklik verwikkeld met die wêreld (Fjellestad & Watson, 2015:6), en daar is ‘n toenemende gevoel dat kuns die opdrag het om insig te toon in die wêreld — wat Sartwell (2015) beskryf as ‘n “recommitment to the world” — en die verantwoordelikheid het om die leser by sosiale kwessies te betrek (die affektiewe idee dat kuns ‘n emosionele of morele aanspraak moet maak). Dit neem vanselfsprekend aan dat kuns ‘n akkurate representasie van die werklikheid kan lewer — in teenstelling met postmodernisme se bewering dat die werklikheid inherent onrepresenteerbaar is.
Metamodernistiese realisme doen afstand van die realistiese ideale van die 19de eeu, en bied ‘n weergawe aan van realisme wat, deur postmodernisme beïnvloed, dikwels gestileerd en deur ironie getemper is, wat dit soms ontwykend en ontwrigtend laat voorkom (Toth & Brooks, 2007:4). Op hierdie wyse vermy metamodernisme empirisme en hiperrealisme, sowel as ‘n dualisme tussen positivisme en postmodernistiese anti-realisme.
‘n Geloof in die moontlikheid van akkurate representasie veronderstel die moontlikheid van ‘n gedeelde werklikheid — selfs as die enigste konsensus is dat gedeelde gewaarwording uiteindelik ontoeganklik is (Toth, 2010:70) — en vorm die grondslag vir metamodernisme se herskrywing van subjektiwiteit. Na aanleiding van die post-strukturalistiese teorieë van postmodernisme, is subjektiwiteit vir ‘n lang tyd beskou as die effek van ‘n konstante vloei van konstruksie en herkonstruksie, onderhewig aan verskillende sosiale, kulturele, en historiese magte, ‘n konstant-verskuiwende betekenaar (kyk semiotiek), vasgevang in ‘n oneindige speling van signifikasie (Timmer, 2010:36).
Metamodernisme toon aan dat die menslike subjek tóg homself ervaar as ‘n gesentreerde, samehangende self, tóg in staat is tot ‘n diep gevoelslewe en ‘n subjektief geleefde ervaring. Die metamodernistiese subjek word dan ook gebaseer op ‘n herstrukturering van affek (veral affek wat intersubjektief gedeel word), en gee gehoor aan die behoefte vir ‘n gevoel van samehorigheid, of gedeelde ervarings, wat op sy beurt die grondslag vorm vir betekenisvolle, intersubjektiewe interaksie en verhoudinge. Eerder as ‘n teruggryping na ‘n modernistiese idee van ‘n stabiele, outonome self, is die metamodernistiese subjek in voortdurende spanning tussen die behoefte aan ‘n outentieke self en die skynbare onmoontlikheid om uitdrukking te gee aan só ‘n self. Dit is inderdaad juis ómdat die subjek gefragmenteerd is (soos postmodernisme voorstel) dat hy in staat is om homself te herstruktureer in terme van ‘n empatiese en relasionele verstaan van en verhouding met ander.
Onderliggend aan hierdie siening is ‘n vorm van optimisme wat die kern vorm van metamodernistiese idees. In teenstelling met die postmodernistiese “melancholie” (Vermeulen & Van den Akker, 2010:5), gesetel in die nihilistiese gevoel dat geskiedenis tot ‘n einde gekom het — Francis Fukuyama se bekende stelling — het die idee van ‘n “nuwe” en “ongevormde” tyd posgevat in die metamodernistiese tydsgees (Boxall, 2012:681), tesame met ‘n hernude geloof in vooruitgang.
In die lig van metamodernisme se beheptheid met etiese aspekte en sosiale betrokkenheid in ‘n globale wêreld, is hierdie optimisme egter nie ‘n naïewe hoop op ‘n onmoontlike utopie nie, maar word dit gekenmerk deur twyfel, desperaatheid, en woede oor sosiale onreg. Optimisme dui egter op die geloof dat verandering wel moontlik is, en voed sodoende die etiese dryfveer van die metamodernisme: optimisme is die dryfkrag van beweging na ‘n verbeterde wêreld, selfs al word erken dat hierdie doel waarskynlik onbereikbaar is.
Optimisme weerspieël ook ‘n herlewing van die mite in metamodernisme: ‘n opkoms van helde-verhale, hoofstroom-fantasie en ‘n fassinasie met geskiedkundige verhale, ‘n hernude klem op transendentale waardes en universele waarhede, en ‘n fokus op die romantiese, sublieme, betowering, misterie, en die vreemde. Onderliggend aan hierdie idees is ‘n terugkeer na ‘n vorm van spiritualiteit en ‘n geloof in die transendentale aan die een kant, en die besef dat hierdie konsepte kommunikasie, samehorigheid, kontak, en eenheid onder mense en gemeenskappe moontlik maak.
Dit is weereens nie ‘n ongekwalifiseerde teruggryping na modernistiese of pre-modernistiese idees nie, en die bestaan van onderliggende waarhede word ook nie goedsmoeds aanvaar nie. Die fokus is eerder op die soeke na hierdie dieperliggende waardes. Hierdie spanning word voorgestel deur, aan die een kant, die aanvaarding van ‘n onverklaarbare, onbereikbare misterie, en aan die ander kant die herbetowering of geheimsinnig-making van die alledaagse, die “sublimity within the ordinary” (James, 2012:847). In die kuns vind dit veral neerslag in die hernude geloof in kuns as die medium van ‘n spirituele waarheid (Maltby, 2007:44): kuns het weereens die vermoë om waarheid uit te druk, om te vertroos, en om gemeenskap te bevorder.
Na aanleiding hiervan kan die grondslag van metamodernisme beskou word as die aanvaarding van ‘n gedeelde werklikheid, soos gesien word in ‘n hernude bewustheid van die ontologiese en materiële. Dit gee aanleiding tot ‘n morele en etiese impuls om betekenisvol met die 21ste eeuse wêreld om te gaan. Met hierdie doel voor oë poog metamodernisme om die subjek te herstruktureer in terme van affek en relasionaliteit — wat neerslag vind in ‘n hernude bewustheid van kuns as sosiale funksie.
Kyk ook post-strukturalisme, affekteorie en posthumanisme.)
Joanette van der Merwe
Bibliografie
Amian, K. 2008. Rethinking postmodernism(s): Charles S. Peirce and the pragmatist negotiations of Thomas Pynchon, Toni Morrison, and Jonathan Safran Foer. Amsterdam: Rodopi.
Boxall, P. 2012. Late: fictional time in the twenty-first century. Contemporary Literature, 53(4):681-712.
Crockett, C. 2007. Postmodernism and the crisis of belief: neo-realism vs. the real. (In Brooks, N. & Toth, J., eds. The mourning after: attending the wake of postmodernism. Amsterdam: Rodopi. p. 263-283).
Eagleton, T. 2003. After theory. London: Penguin.
Fjellestad, D. & Watson, D. 2015. The futures of American literature. Studia Neophilologica, 87(Suppl. 1):1-7.
Geddes, J. 2007. Attending to suffering in/at the wake of postmodernism. (In Brooks, N. & Toth, J., eds. The mourning after: attending the wake of postmodernism. Amsterdam: Rodopi. p. 65-78).
Gibbons, A. 2015. “Take that you intellectuals!” and “kaPOW!”: Adam Thirlwell and the metamodernist future of style. Studia Neophilologica, 87:29-43.
James, D. 2012. A renaissance for the crystalline novel? Contemporary literature, 53(4):845-874.
Kirby, A. 2006. The death of postmodernism and beyond. Philosophy now, 58, Nov./Dec. Date of access: 16 Nov. 2012.
Kirby, A. 2009. Digimodernism: how new technologies dismantle the postmodern and reconfigure our culture. New York, N.Y.: Continuum.
Sartwell, C. 2015. Philosophy returns to the real world. The New York Times, 13 April. Date of access: 15 Aug. 2016.
Timmer, N. 2010. Do you feel it too? The post-postmodern syndrome in American fiction at the turn of the milllennium. New York: Rodopi.
Toth, J. & Brooks, N. 2007. Introduction: a wake and renewed? (In Brooks, N. & Toth, J., eds. The mourning after: attending the wake of postmodernism. Amsterdam: Rodopi. p. 1-13).
Toth, J. 2010. The passing of postmodernism: a spectroanalysis of the contemporary. Albany: State University of New York Press.
Vermeulen, T. & Van den Akker, R. 2010. Notes on metamodernism. Journal of aesthetics & culture, 2. https://www.tandfonline.com/doi/full/10.3402/jac.v2i0.5677 Date of access: 24 Feb. 2013.
Visagie, A. 2010. Globalisering, modernism en postmodernisme: In stede van die liefde (2005) van Etienne van Heerden. Tydskrif vir letterkunde, 47(2):95-112.