(Gepubliseer Julie 2021)
Die postkolonialisme (ook soms geskryf post-kolonialisme) is ’n term wat ’n verskeidenheid benaderings tot die literatuurstudie omvat. Die begrip kan temporeel begryp word – m.a.w. ’n era wat volg op ’n koloniale tydperk – maar so ’n benadering kan berus op ’n oorvereenvoudiging van die oorvleuelings tussen prekoloniale, koloniale en postkoloniale kontinuums. Die postkolonialisme is daarom nie net gemoeid met temas en ervaringe ná kolonialisme nie, maar met die voortdurende politiese, linguistiese en kulturele impak van die kolonialisme en imperialisme tot op hede – dus as ’n historiese kondisie. Hierdie temporele en ruimtelike kompleksiteit word kernagtig deur Mbembe verwoord in sy verduideliking van die “postcolony” (oftwel postkolonie): “As an age, the postcolony encloses multiple durées made up of discontinuities, re-versals, inertias, and swings that overlay one another, interpenetrate one another, and envelope one another: an entanglement” (Mbembe, 2001:14) Hoewel vurige debatte al gevoer is oor die gebruik van die deelteken in post-/postkoloniaal, word daar nie hier daarop ingegaan nie. Eerder bied hierdie opsomming ’n uitgebreide en oorsigtelike vertrekpunt vir verdere lees oor die verskeidenheid begrippe wat ontwikkel is om tekste binne ’n postkoloniale raamwerk te plaas.
Hoewel ons nou terugskouend die term postkoloniaal gebruik om ’n reeks tekste en beskouings te beskryf wat deur die loop van ’n aantal dekades tot stand gekom het, is dit eers teen die vroeë negentigerjare dat dié term erken is as ’n standaardbegrip. Daar kan geargumenteer word dat die teoretiese basis van postkolonialisme as ’n beweging reeds in die sestigerjare van die 20ste eeu begin vorm aanneem het, met name met die publikasie van Fanon se Les Damnés de la Terre (in Engels vertaal as The Wretched of the Earth) in 1961. Hierin verken hy die gevolge van kolonisasie, en argumenteer teen die problematiese koloniale konstruksies van inheemse bevolkings, tale en kulture. Alhoewel hy in hierdie teks fokus op die indertydse kolonies (en voormalige kolonies) van Europese moondhede in Afrika, het heelwat van Fanon se argumente ’n groter reikwydte, en word hulle dus ook aangewend in besinnings oor koloniale magstrukture op ander kontinente.
’n Verdere belangwekkende teks wat bygedra het tot die teoretiese ontwikkeling van die postkolonialisme is Said se Orientalism (1978). In dié seminale werk fokus die skrywer op die Eurosentriese sienswyses en diskoerse van die Weste oor die Ooste (d.i. die sogenaamde Orient). Terwyl Said hom juis toespits op die uitbeelding van die Ooste in Westerse kultuurgoedere, is die kritiese vertrekpunte van sy benadering hoogs aanpasbaar en is dit later ook gebruik om ander Westerse opvattings oor die sogenaamde Nuwe wêreld (d.i. Oseanië en Amerika) en die sogenaamde Donker kontinent (d.i. Afrika) te bevraagteken. In navolging van Said is dit dan veral die Eurosentriese en stereotipiese voorstellings van die mense en kulture van hierdie postkoloniale streke wat in baie studies onder die loep geneem word. Uiteindelik poog hierdie soort analises om die veronderstelde oppermagtigheid van Westerse sosiale, kulturele en ekonomiese waardes te ondermyn, en ook om lig te werp op die negatiewe gevolge van die verromantisering van veronderstelde nie-Westerse waardes, kulturele en sosiale praktyke – en die neerslag in die letterkunde.
In die tweede helfte van die 1980’s begin postkolonialisme ’n meer standvastige vorm aanneem in Spivak se In Other Worlds (1987) en die hoogs invloedryke The Empire Writes Back deur Ashcroft, Griffiths en Tiffin (1989). Hierop volg ook Bhabha se Nation and Narration (1990), Young se White Mythologies: Writing History and the West (1990), Said se Culture and Imperialism (1993), Gilroy se The Black Atlantic (1993), Boehmer se Colonial and Postcolonial Literature (1995), en McClintock se Imperial Leather (1995). Teen die middel van die negentigerjare brei tekste onder die vaandel van die postkolonialisme aansienlik uit, en dit is ook in hierdie tydperk dat hierdie benadering die Afrikaanse literatuurstudie (en die groter literatuurstudie in Suid-Afrika) met mening binnetree – ten minste in soverre kritici direk begin gebruik maak van wat eksplisiet ’n postkoloniale benadering genoem kan word.
Sedert die publikasie van Fanon se Les Damnés de la Terre ontwikkel teoretici ’n aantal konsepte wat steeds grootliks die argumentatiewe onderbou van die postkolonialisme verteenwoordig. Ofskoon sommige van hierdie begrippe nuutskeppings is wat geformuleer word binne die konteks van koloniale en postkoloniale leefwêrelde, is daar sommiges wat oorgeneem word uit ander kritiese diskoerse of wat beïnvloed, uitgebrei, aangepas en gekritiseer word binne en deur postkoloniale benaderings (bv., beskawing/beskaafd, diaspora, “Empire”, gender, hegemonie, imperialisme, klas, nasie, nasionalisme, négritude, oraliteit, ras, risoom, ruimte, subjek). Hierdie uiteenlopendheid wys daarop dat ondersoeke met ’n postkoloniale inslag ook interdissiplinêr van aard kan wees.
’n Grondbeginsel van die postkoloniale teorie is deurgaans die ondermyning en die ontkenning van die universalisme – d.i. dat die letterkunde oor ’n soort tydlose en algeheel omvattende waarde beskik wat eintlik onafhanklik staan van uiteenlopende wêreldlike bemoeienisse soos taal, kultuur, samelewing, en plek, en dus ewe geldig en toepaslik is óór hierdie grense heen. Die postkolonialisme bevraagteken juis hierdie konseptuele vertrekpunt as ’n gevaarlike meesternarratief, omdat dit tekenend is van ’n valse binêre opposisie tussen die Europese sentrum (en alles wat daarmee gepaardgaan) en die koloniale marge, wat duidelik ’n problematiese hiërargie impliseer. Sodoende sluit die postkolonialisme in baie opsigte aan by die benaderingswyses van die dekonstruksie en poststrukturalisme, en sekere subgenres leen hulle dus ook by uitstek tot postkoloniale en postmoderne leesbenaderings (sien in hierdie verband byvoorbeeld die magiese realisme).
Benewens die bogenoemde begrippe wat binne die kader van die postkolonialisme verdere diskursiewe ontwikkeling ondergaan het, is van die bekendste terme wat met dié beweging geassosieer word dié van sentrum en periferie (of marge) en die ander (of Ander). Hierdie begrippe het veral in die vroeë jare van dekolonisasie in Afrika op belangwekkende wyse die aandag gevestig op die sosio-ekonomiese en kulturele ongelykhede wat teweeggebring is deur kolonisasie. Latere begrippe, wat dikwels meer direk gemik is op die ontleding van literatuur (en ander kultuurartefakte), sluit onder andere in Bhabha se begrippe “mimicry” en “hybridity” (oftewel nabootsing en hibriditeit), Spivak se voortborduring op Antonio Gramsci se begrip van die “subaltern” (oftewel die subalterne), McClintock se “colonial desire”, en Mbembe se postkolonie. Dit is nodig om in gedagte te hou dat hierdie begrippe dikwels hul oorsprong in sekere hoogs spesifieke postkoloniale kontekste het en navorsers moet omsigtig te werk gaan om nie te aanvaar dat hierdie begrippe as kritiese lense noodwendig eenvormig en onveranderd aangewend kan word wanneer dit ook van pas gemaak word in ander kontekste en op ander letterkundes nie.
Die interaksie tussen koloniale mag en inheemse groepe impliseer ’n soort magsongelykheid wat dikwels onderskeidelik maar ook gelyktydig kan neerkom op aspekte van ras, etnisiteit, klas en gender. Hierdie magsongelykheid kan dan begryp word op grond van ’n logika van normatiwiteit, waardeur die kolonis of setlaar (en dié se gepaardgaande kultuur, waardes, norme, geskiedenis, ens.) die norm verteenwoordig, en alle ander (inheemse) groepe (en alle aspekte van hierdie groepe) as ander beskou word. Hierdie soort spanning word deurgaans in die Afrikaanse letterkunde aangetref. So kan daar byvoorbeeld verwys word na Marlene van Niekerk se roman Agaat, waarin die spanning tussen twee Suid-Afrikaanse vroue binne ’n postkoloniale konteks uitgebeeld word. Die verhaal word meestal aangebied uit die verteloogpunt van die wit hoofkarakter, Milla de Wet, gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu af op die plaas Grootmoedersdrift in die Overberg-distrik. Die leser kom deur die loop van die narratief stelselmatig meer te wete oor Milla se verhouding met haar huiswerker, ’n bruin vrou genaamd Agaat. Die romangebeure is speel af tussen die 1948-verkiesing waarin die Nasionale Party aan bewind kom en Suid-Afrika se apartheidsbeleid begin versterk en uitbrei tot kort ná die eerste demokratiese verkiesings in 1994. Onder andere kan daar deur ’n postkoloniale benadering in hierdie roman ag geslaan word op die wisselende magsverhouding tussen Milla en Agaat. Agaat word aanvanklik as jong kind onderwerp aan Milla se gesag. Milla behandel Agaat aanvanklik as haar kind (al is sy soms ’n wrede moeder), maar ná die geboorte van Milla se eie kind word Agaat ’n dienskneg in die De Wet-huishouding. In hierdie opsig kan sy beskou word as ’n soort postkoloniale ander (sien hieroor Prinsloo & Visagie, 2007 en 2009; en Fourie, 2011).
Die roman leen hom sterk tot allegoriese interpretasies – veral betreffende die groei en taan van die Afrikaner se politieke mag tydens die apartheidsera. Die karakter Milla verteenwoordig aanvanklik die mag- en kultuursentrum, maar word stelselmatig afhanklik van Agaat, wat mettertyd die bestuur van die plaas by Milla oorneem, en ook uiteindelik die plaas van haar erf. Gevolglik word Milla aan Agaat se toenemende gesag onderwerp. In navolging van Spivak is die karakter Agaat al dikwels as ’n subalterne figuur ondersoek, met die klem op haar vermoë om te kan praat – oftewel, haarself in verskeie opsigte binne die bogenoemde magsverhouding te laat geld (sien Carvalho en Van Vuuren, 2009; Prinsloo & Visagie, 2007 en 2009; en Fourie, 2011 en 2016). Ondersoeke binne hierdie kader steun op Bhabha se nosies hibriditeit en nabootsing om aan te dui hoe Agaat as postkoloniale ander die koloniale magshebber se gesag ondermyn. Dit is juis die ontoeganklik van Agaat – vir die ander karakters binne die narratief, maar ook vir die leser, wat meestal slegs vir Agaat leer ken deur Milla se fokalisering in haar (Milla se) vertelling – wat hier opvallend is. Die roman kan dus met behulp van die postkolonialisme ontleed word, maar is ook in sy oorsprong duidelik beïnvloed deur baie van die konsepte van deel uitmaak van postkoloniale diskoerse. (’n Lys van ander studies met ’n postkoloniale vertrekpunt, ook oor die werk van ander skrywers, verskyn in die bibliografie. Dit bevat ’n goeie aantal voorbeelde van die verskeie ander toepassingsmoontlikhede van die postkolonialisme op die letterkunde.)
Baie ouer studies oor die Afrikaanse letterkunde beskik oor ’n postkoloniale inslag, al word dit dalk nog nie eksplisiet in hierdie tekste so genoem nie. Hier staan as goeie voorbeeld uit die werk van Gerwel (1987 en 1988). Sedert die middel van die 1990’s word wat bekendstaan as die postkoloniale teorie in die Afrikaanse literatuurstudie gebruik. Louise Viljoen poog in ’n aantal artikels om tersaaklike begrippe binne die konteks van die Afrikaanse letterkunde (en die Suid-Afrikaanse koloniale en apartheidsgeskiedenis) te verfyn. In ’n artikel oor die postkolonialisme en indertydse tekste deur vroueskrywers (Viljoen, 1996a) kritiseer Viljoen byvoorbeeld die Anglosentriese aard van die seminale The Empire Writes Back van Ashcroft, Griffiths en Tiffin (1987). Viljoen dui oortuigend aan dat nie-Engelstalige letterkundes (soos dié van Afrikaans) gerieflikheidshalwe dikwels deur internasionale teoretici en literatore oorgesien word. In navolging van Mishra en Hodge (1993) wys Viljoen dan ook op die gevare van homogeniserende opvattings van die postkolonialisme. Hiermee word bedoel dat die kompleksiteite van koloniale interaksie, en, soortgelyk, die gevolglike spesifisiteite van onderskeidelike postkoloniale ruimtes maklik agterweë gelaat kan word, omdat ’n hegemoniese kritiese benadering van toepassing gemaak word op ongelyksoortige kontekste. Hoewel daar dus oorvleuelings en parallelle sal bestaan, sal die koloniale en postkoloniale geskiedenis van Suider-Afrika dus ander eise aan die literator stel as dié van ander streke. Hierin word duidelik dat die postkolonialisme die vermoë het om sy kritiese blik ook op homself te draai. Die hegemonie van Engels berus immers op die fondamente van die Britse Ryk se grootskaalse kolonisering van groot dele van Afrika, Amerika, Asië en Oseanië tussen die 16de en 19de eeu, en selfs binne die postkolonialisme kan ’n soort koloniale taal- en kultuurhegemonie voortgesit word indien benaderings essensialisties en klakkeloos eenvormig op diverse tale en hulle letterkundes afgedwing word.
Die lakune wat deur so ’n Anglosentriese perspektief teweeg gebring kan word, blyk byvoorbeeld duidelik wanneer Viljoen die ingewikkelde postkoloniale aard van die Afrikaanse literatuur uitlig as aandadig in die onderdrukking van Suid-Afrika se inheemse bevolking (veral gedurende apartheid), dog hierdie literatuur terselfdertyd ook tipeer as ’n vorm van verset teen hierdie onderdrukking (1996b). Afrikaans as kultuurtaal beklee volgens Viljoen dus ’n soort liminale posisie omdat dit onderskeidelik ’n onderdrukte taal (en kultuur) was ná die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899-1902), maar ook die taal van die onderdrukker was – veral sedert die Nasionale Party se oorwinning in die 1948-verkiesing en die intensivering van die apartheidsbeleid onder hierdie bewind (1948-1994). Tog is dit steeds nie ’n eenvoudige binêre opposisie nie. Ook tussen 1948 en die formele demokratisering van Suid-Afrika in 1994 is daar sekere skrywers wat hulle in en met Afrikaans teen apartheid en ander vorms van diskriminasie verset – nou weer ’n ander vorm van onderdrukking as voorheen – en dus van binne die Afrikaanse leefwêreld weerstand bied teen politieke onderdrukking. ’n Besondere belangrike aspek wat nie hier buite rekening gelaat moet word nie, is dat sowel bruin as wit sprekers van Afrikaans hierby betrokke was.
Die omvang van die postkolonialisme is van so ’n aard dat dit dus moeilik eenvoudig opgesom kan word. Nie net is daar talle genuanseerde begrippe wat met hierdie beweging gepaardgaan nie, maar wat die postkolonialisme mag voorstel, is ook grootliks afhanklik van die konteks – en dus die letterkunde – waarin dit aangewend word. Die gebruik van postkoloniale teorie, of die nuansering van spesifieke begrippe deur die verkenning van die postkoloniale teorie binne die kader van die Afrikaanse literatuur, het dus al ’n hele aantal studies opgelewer, wat dikwels veelsoortige ontledings onderneem. Hierdie ondersoeke is toegespits op die werk van ’n reeks skrywers en digters, onder andere: André P. Brink, P.G. du Plessis, Elsa Joubert, Ronelda S. Kamfer, Antjie Krog, Dalene Matthee, Jolyn Phillips, Dan Sleigh, N.P. Van Wyk Louw, D.J. Opperman, Shirmoney Rhode, Etienne van Heerden, Marlene van Niekerk, Piet van Rooyen, Eben Venter, en Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen), om maar ’n paar te noem.
Benewens bogenoemde bronne sal navorsers die volgende naslaanwerke oor die postkolonialisme bruikbaar vind: Achebe (1988; 1989); Ashcroft, Griffiths & Tiffin (2000; 2006); Bhabha (1994); Spivak (1993, 1999); Ngũgĩ (1981); en Young (2001, 2003).
Reinhardt Fourie
Bibliografie
Achebe, C. 1988. Colonialist Criticism. In: Ashcroft, B., Griffiths, G. & Tiffin, H. (eds.). The Post-Colonial Studies Reader. 2nd ed. London: Routledge, pp. 73-76.
Achebe, C. 1989. The Politics of Language. In: Ashcroft, B., Griffiths, G. & Tiffin, H. (eds.). The Post-Colonial Studies Reader. 2nd ed. Londen: Routledge, pp. 268-271.
Ashcroft, B., Griffiths, G. & Tiffin, H. 1989. The Empire Writes Back. Londen: Routledge.
Ashcroft, B., Griffiths, G. & Tiffin, H. 2000 [2013]. Postcolonial Studies: The Key Concepts. 3rd ed. Londen: Routledge.
Ashcroft, B., Griffiths, G. & Tiffin, H. (eds.). 2006. The Post-Colonial Studies Reader. 2nd ed. Londen: Routledge.
Anker, J. 2009. Aspekte van postkoloniale verset in Eilande deur Dan Sleigh. LitNet Akademies, 6(3):33-54.
Bhabha, H.K. 1990. Nation and Narration. Londen: Routledge.
Bhabha, H. K. 1994. The Location of Culture. Londen: Routledge.
Boehmer, E. 1995 [2005]. Colonial and Postcolonial Literature. 2nd ed. Oxford: Oxford University Press.
Bonthuys, M. 2020. Postkoloniale feminisme in die Afrikaanse poësie: Die debute van Ronelda S. Kamfer, Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips. LitNet Akademies, 17(1):241-261.
Bothma, M.C. 2009. Postkoloniale perspektiewe in enkele romans van André P. Brink. Ongepubliseerde D.Litt. et Phil.-verhandeling. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.
Breytenbach, C.H. 2001. Die Olifantjagters van Piet van Rooyen en die Afrika-ruimte: postkolonialisme, ekologie en identiteit. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Potchefstroom: Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. https://repository.nwu.ac.za/handle/10394/14642
Carusi, A. 1989. Post, Post and Post. Or, Where is South African Literature in All This? Ariel, 20(4):79-95.
Carvalho, A. & Van Vuuren, H. 2009. Examining the Servant’s Subversive Verbal and Non-Verbal Expression in Marlene van Niekerk’s Agaat. Journal of Literary Studies, 25(3): 39-56.
De Jager, S. 2012. Die gemarginaliseerde “Ander” in P.G. du Plessis se Fees van die ongenooides. Stilet, 24(1):19-34.
Fanon, F. 1961. Les Damnés de la Terre. Parys: François Maspero.
Fanon, F. 1963. The Wretched of the Earth. Vertaal deur Constance Ferrington. New York: Grove Press.
Fourie, R. 2011. A Postcolonial and Ecocritical Reading of Marlene van Niekerk’s Modern Plaasroman Agaat. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Gent: Universiteit Gent.
Fourie, R. 2016. Identity, gender, and land in Marlene van Niekerk’s Agaat. English Academy Review, 33(1):38-56.
Gerwel, J. 1987. Apartheid en die voorstelling van gekleurdes in die vroeë Afrikaanse literatuur. In: Malan, C. (red.). 1987. Race and Literature / Ras en literatuur. Pinetown: Owen Burgess, pp. 89-101.
Gerwel, J. 1988. Literatuur en apartheid. Konsepsies van gekleurdes in die Afrikaanse roman tot 1948. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland.
Gilroy, P. 1993. The Black Atlantic. Londen: Verso.
Human, M.P.H. 1998. Karolina Ferreira en Landskap met vroue en slang (deur Lettie Viljoen) in ’n postkoloniale konteks. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Johannesburg: Randse Afrikaanse Universiteit.
Human, T. 2013. Anderkant die stilte (2002) deur André P. Brink as postkoloniale, Gotiese roman. Stilet, 25(1):131-148.
John, P. 1998. Afrikaans literature and (metropolitan) postcolonial theory: Interrogations from the Margin. Journal of Literary Studies/Tydskrif vir Literatuurwetenskap, 14(1-2):1-6.
Joubert, C.J.J. 2017. Die verhouding tussen ruimte en identiteit in Eben Venter se prosakuns: Ballingskapliteratuur en die postkoloniale diskoers. Ongepubliseerde D.Litt. et Phil.-verhandeling. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.
Mbembe, A. 2001. On the Postcolony. Berkeley: University of California Press.
McClintock, A. 1995. Imperial Leather. Londen: Routledge.
Meintjies, G. 1998. Postcolonial imaginings: An exploration of postcolonial tendencies in André Brink’s prose oeuvre. Journal of Literary Studies/Tydskrif vir Literatuurwetenskap, 14(1-2):166-193.
Meyer, S. 2018. Groen postkolonialisme in Etosha (Piet van Rooyen). Literator, 39(1):1-9.
Mishra, V. & Hodge, B. 1993. What is Post(-)colonialism? In: Williams, P. & Chrisman, L. (eds.). Colonial Discourse and Post-Colonial Theory. A Reader. Londen: Harvester Wheatsheaf, pp. 276-290.
Ngũgĩ wa Thiong’o. 1981 [1987]. Decolonising the Mind. Harare: Zimbabwe Publishing House.
Pakendorf, G. 1998. “Ons hele volksverhaal”: Writing Afrikaner nationalism on the periphery. Journal of Literary Studies/Tydskrif vir Literatuurwetenskap, 14(1-2):136-165.
Prinsloo, L. 2006. Marlene van Niekerk se Agaat (2004) as ’n postkoloniale plaasroman. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Durban: Universiteit van KwaZulu-Natal.
Prinsloo, L. & Visagie, A. 2007. Die representasie van die bruin werker as die ander in Marlene van Niekerk se postkoloniale plaasroman Agaat (2004). Stilet, 19(2):43-62.
Prinsloo, L. & Visagie, A. 2009. Grondbesit in ‘n postkoloniale plaasroman: Marlene van Niekerk se Agaat. Journal of Literary Studies/Tydskrif vir Literatuurwetenskap, 25(3):72-89.
Roux, M. 2007. Koloniale en postkoloniale ontmoetings: Representasie en identiteit in die romans Eilande (Dan Sleigh) en Pelican Bay (Nelleke Noordervliet). Ongepubliseerde MA-verhandeling. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.
Said, E.W. 1979 [1978]. Orientalism. New York: Vintage.
Said, E.W. 1993. Culture and Imperialism. Londen: Chatto & Windus.
Schoeman, R. 2001. Skryf as terapie by twee vertellers uit ’n postkoloniale bestel: ’n vergelykende studie van Een vlek op de rug deur J. van de Walle en Eben Venter se Foxtrot van die vleiseters. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.
Spivak, G.C. 1987 [2006]. In Other Worlds: Essays in Cultural Politics. Londen: Routledge.
Spivak, G.C. 1990. The Postcolonial Critic: Interviews, Strategies, Dialogues. Saamgestel deur Sarah Harasym. Londen: Routledge.
Spivak, G.C. 1993 [2008]. Outside the Teaching Machine. Londen: Routledge.
Spivak, G.C. 1999. A Critique of Postcolonial Reason: Toward a History of the Vanishing Present. Cambridge, Massachusetts: Harvard University Press.
Strydom, G. & Van Vuuren, H. 2011. Die marginale subjekposisie van die Afrikaanse skrywer – Etienne van Heerden se Asbesmiddag. LitNet Akademies, 8(3):63-94.
Taljaard, M. 2010. Kleurvol hibried: Kleur kom nooit alleen nie en die talige ruimte van saambestaan. LitNet Akademies, 7(3):47-64.
Van den Berg, C. 2011. Postkoloniale literatuur en die representasie van trauma: ’n Verkenning van Verkenning. LitNet Akademies, 8(1):31-52.
Van der Merwe, S.P. 2003 Postkolonialiteit in die twintigste- en een-en-twintigste-eeuse Afrikaanse drama met klem op die na-Sestigers. Ongepubliseerde D.Litt. et Phil.-verhandeling. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.
Van der Spuy, A. & Van Vuuren, H. 2007. Elsa Joubert as postkoloniale skrywer: ’n herwaardering. Stilet, 19(1):115-132.
Van der Waal, M. 2015. Long distance Afrikaners: Afrikaans literature and dislocated identity in a European context. Journal of Postcolonial Writing, 51(2):196-207.
Van Zyl, D. 2003. Perspektiewe op die ‘ander’ in Pieternella van die Kaap deur Dalene Matthee en Eilande deur Dan Sleigh. Stilet, 15(2):53-67.
Vermeulen, L. 2005. Die vertelsituasie in Sandkastele (1995) deur André P. Brink. Stilet, 17(1):188-205.
Viljoen, H. 2018. Kreolisering van die wêreldletterkunde by D.J. Opperman. LitNet Akademies, 15(2):137-161.
Viljoen, H. 2020. Kreolisering en heling in Nuwe verse en Tristia van Van Wyk Louw. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(2):302-321.
Viljoen, L. 1996a. Postcolonialism and Recent Women’s Writing in Afrikaans. World Literature Today, 70(1):63-72.
Viljoen, L. 1996b. Postkolonialisme en die Afrikaanse letterkunde: ’n Verkenning van die rol van enkele gemarginaliseerde diskoerse. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 3(2).
Viljoen, L. 1998. Plek, landskap en die postkolonialisme in twee Afrikaanse romans. Stilet, 10.
Viljoen, L. 2002. Kan die slaaf praat? Die stem van die slaaf in enkele Brink-romans. Stilet, 14(2):92-116.
Viljoen, L. 2017. “’n Postkoloniale Umweltkas”: die vraag na ’n transnasionale poëtika in Afrikaans aan die hand van Marlene van Niekerk se Kaar. LitNet Akademies, 14(3):133-165.
Wasserman, H. 2000a. Postcolonial cultural identity in recent Afrikaans literary texts. Journal of Literary Studies/Tydskrif vir Literatuurwetenskap, 16(3-4):90-114.
Wasserman, H. 2000b. Re-imagining identity essentialism and hybridity in post-apartheid Afrikaans short fiction. Current Writing, 12(2):96-112.
Wasserman, H. 2000c. Postkoloniale identiteit in Afrikaanse kortverhale ná 1994. Ongepubliseerde D.Litt.-verhandeling. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.
Young, R.J.C. 1990 [2004]. White Mythologies: Writing History and the West. 2nd ed.Londen: Routledge.
Young, R.J.C. 2001. Postcolonialism: An Historical Introduction. Malden, Massachusetts: Wiley Blackwell.
Young, R.J.C. 2003. Postcolonialism: A Very Short Introduction. Oxford: Oxford University Press.