ODE

Dit is haas onmoontlik om die ode (Gr.: odein: om te sing) as LIRIESE digsoort met ‘n enkele definisie behoorlik te dek, aangesien dit sowel in die klassieke as in die moderne tye verskillende gedaantes vertoon. ‘n Taamlik omvattende beskrywing sou wees dat die ode ‘n statige, ernstige LIED is waarin ‘n verhewe onderwerp, ‘n belangrike gebeurtenis, ‘n bewonderde persoon of ‘n abstrakte gegewenheid soos skoonheid, vreugde, ouderdom, liefde, waarheid, vriendskap, arbeidsaamheid of ander deugde op verhewe toon besing word.

Soos die naam aandui, is die ode oorspronklik bedoel om (met musiekbegeleiding) soms as liriese lied, ander kere in koorsang en -dans gesing (of geneurie) te word, maar in moderne tye het dit ‘n (gewoonlik) rymende liriese gedig van redelike lengte geword wat hom pertinent sprekend, lerend, besinnend of kommentariërend tot sy onderwerp rig, soos dit al blyk uit die vorm van baie titels: “Ode to the memory of …”, “Ode to the west wind” (Shelley), “Ode to a Grecian urn” (Keats), “Aan die skoonheid” (Van Wyk Louw), ens.

Die wortels van die ode lê in die Grieks-Romeinse wêreld, hoewel sommige Bybelse psalms ook as odes beskou kan word.

In die Griekse literatuur word gewoonlik drie odebronne onderskei: eerstens is daar die werk van Sapfo en Alkaios, albei uit die 7e eeu v.C. Van lg. het fragmente bewaar gebly van oorlogsliedere, liefdesliedere en drinkliedere. Onder die fragmente van Sapfo is daar ook ‘n ode (wat deur Boutens vertaal is onder die titel “Gebed aan Afrodita”). Vandaar die sg. Sapfiese ode. Tweedens is daar die sg. Pindariese ode, wat meer vir openbare kooroptredes bedoel is en wat blykbaar deur Xenophanes (6e eeu v.C.) ontwerp is, deur ander soos bv. Bacchulides (568—450 v.C.) beoefen is en deur Pindaros (522-442 v.C.) tot ‘n hoogtepunt gevoer is. Derdens is daar die sg. Anakreontiese odes, ‘n groep lughartige gedigte wat in die 16e eeu ontdek is en (verkeerdelik?) aan die een digter Anakreon (6e eeu v.C.) toegeskryf is. (Van hierdie odes is in 1800 deur Thomas Moore in Engels vertaal onder die titel Odes ofAnacreon.) (Vgl. KLASSIEKE LITERATUURSTUDIE: GRIEKS-ROMEINSE LITERATUUR.)

Die Pindariese ode is gekenmerk deur ‘n ingewikkelde struktuur en ‘n triadiese patroon van strofe, antistrofe en epode, onderdele wat deur koordans begelei is en wat van gedig na gedig in lengte kon varieer. Die strofe en antistrofe was gewoonlik van dieselfde lengte, terwyl die epode in lengte en METRUM van die ander twee verskil het. Hierdie ode is ontwerp vir openbare voordrag, in die Griekse teater, bv., ter verering van olimpiese oorwinnaars. Vandaar: olimpiese odes. Gedigte dus met ‘n sterk seremoniële, statige karakter.

Die Sapfiese ode, daarenteen, is veel persoonliker van aard en word gekenmerk deur ‘n vierreëlige strofiese opset wat soos volg kon lyk:

/ ˉ ˘/ ˉ ˜ / ˉ ˘ ˘ / ˉ ˘ / ˉ ˜

 / ˘ ˘ / ˉ ˜ / (drie maal)

In die Romeinse literatuur het veral die odes van Horatius (60—8 v.C.) beroemd geword, hoewel die digter sy skeppinge nie odes nie, maar carmina (liedere) genoem het. Die Horatiaanse ode is sterk persoonlik, besonne, dikwels gerig aan ‘n persoon met daarby meermale ‘n didaktiese inslag. Hy sluit dus sterker by Sapfo aan as by Pindaros. Sy odes is ook strofies van opset en die metriese organisasie is soms Alkaïes op die voorbeeld van Alkaios (d.w.s. twee reëls in die strofe bevat elk elf, een nege, en een tien lettergrepe), ander kere weer Sapfies, hoewel hy meermale ‘n eie variasie aangebring het in die skema wat hy van die Grieke geërf het. As voorbeeld van ‘n Sapfiese toepassing by Horatius volg hier die slotstrofe van ‘n 24-reëlige gedig (11,10) waarin ene Licinius (wat later vanweë sameswering teen Augustus om die lewe gebring is) met die oog op ‘n goeie lewe tot ewewig en matigheid gemaan word:

Rebus angustis animosus atque

Fortis adpare, sapienter idem

Contraries vento nimium secundo

Turgida vela.

(Betoon jouself moedig en dapper in armoed; net so sal jy wyslik by ‘n gunstige wind die swellende seile inhaal.)

Met die herontdekking en herwaardering van die klassieke modelle het die ode in alle Wes-Europese lande ingang gevind, sy dit dan in “onsuiwere” gedaante en telkens aangepas by die gees en styl van ‘n bepaalde era soos die RENAISSANCE, die VERLIGTING (Aufklärung) of die ROMANTIEK. In dié verband moet in Frankryk die naam genoem word van Ronsard met sy Pindariese odes van 1550; in Duitsland dié van Weckherlin met sy Oden und Gesänge (1618-1619); in Engeland dié van Abraham Cowley met sy Pindarique odes (1656), en op voorbeeld van Ronsard dié van Bernado Tasso (1544-1595) in Italië.

In die 17e en 18e eeu is meermale in Engeland daarna gestreef om die Pindariese ode op die voet te volg, soos bv. blyk uit Ben Jonson se “Ode on the death of sir H. Morison” (1629), Dryden se beroemde “Alexander’s feast” (1697), asook “Progress of poesy” (1754) en “The bard” (1757) van Thomas Gray.

Maar intussen het die Horatius-ode hom nie onbetuig gelaat nie, soos bv. blyk uit Andrew Marvell se “Horatian ode upon Cromwell’s return from Ireland” (1650). En soos ons nader aan die Romantiek beweeg, sal die Pindariese ode al meer in onbruik raak. En tog verskyn Wordsworth se “Ode on the intimations of immortality”, wat genoem is “the greatest English Pindaric ode”, nog in 1815 en Tennyson se “Ode on the death of the Duke of Wellington” in 1854. Die algemene tendens is egter in die rigting van die besinning op ‘n persoonlike problematiek, en die groot romantiese odes in Engeland met hulle persoonlike klank en ontroerde bespieëling sal eerder Horatiaans genoem kan word (Keats se “To autumn”, “Ode to a Grecian urn”, “Ode to a nightingale”, “Ode to melancholy”, en Shelley se “Ode to the west wind”, selfs die langer en in erg onreëlmatig-opgeboude strofes ‘ ‘Dejection: an ode” van Coleridge) — as dit nog sin het om in gedigte met so ‘n volkome eie stempel van Horatiaans of Pindaries te praat.

In Frankryk moet in die 18e eeu die naam van Boileau genoem word, in die 19e eeu dié van Lamartine met sy “Meditations”, “Le soir”, “Le crucifix” (hoewel mens miskien hier eerder van ELEGIEë kon praat), Victor Hugo (Odes et ballades, 1822—1824), Alfred de Musset. In Duitsland moet in die 18e eeu die naam van Christian Gellert genoem word (wie se “Die Himmel rühmen” deur Beethoven getoonset is) en veral Friedrich Klopstock, by wie die ode soms ‘n byna HIMNIESE karakter aanneem (“Oden”); ook Schiller wie se ode “An die Freude” in Beethoven se negende simfonie ‘n onvergeetlike gedaante sou aanneem. In die 19e eeu bereik die Duitse ode ‘n hoogtepunt by Hölderlin.

In Italië moet ná die vroeëre eksperimente in die 19e eeu nog die naam van D’Annunzio (“Odi navale”) genoem word; in Nederland van die 17e eeu dié van Vondel met “De Rijnstroom”. In die 19e eeu kan in Nederland Bilderdijk se “Ode aan Napoleon” genoem word. Effens later is van belang Van Looy se “Ode aan Rembrandt”, en Boutens se “Ode aan Sapfo” wat, soos te verwagte is, op die Sapfiese model geskrywe is.

In Afrikaans is besondere hoogtes bereik met ”Aan die skoonheid” en “Groot ode”, albei van Van Wyk Louw.

 

Bibliografie

Campbell, D.A. 1990. Greek Lyric I: Sappho and Alcaeus. Cambridge, Mass., London: Harvard University Press,

Campbell, D.A. 1988. Greek Lyric II: Anacreon, Anacreontea, Choral Lyric from Olympus to Alcman. Cambridge, Mass., London: Harvard University Press.

Campbell, D.A. 1991. Greek Lyric III: Stesichorus, Ibycus, Simonides, and Others. Cambridge, Mass., London: Harvard University Press.

Campbell, D.A. 1992. Greek Lyric IV: Bacchylides, Corinna, and Others. Cambridge, Mass., London: Harvard University Press.

 

Henderson, W.J. 2004. Op Griekse lier. Vroeë Griekse liriese poësie, vertaal en toegelig. Pretoria: Protea Boekhuis.

Maddison, C. 1960. Apollo and the Nine: A History of the Ode. London: Routledge & Kegan Paul.

Schuster, G.N. 1940. The English Ode from Milton to Keats. New York: Columbia University Press.

Raadpleeg ook:

Cason, R.E. 1986. Shelley, Pindar, and the ideology of the ode. Dissertation Abstracts International, 46(10).

Teich, N. 1985. The ode in English literary history: Transformations from the mid-eighteenth to the early nineteenth century. Papers on language and Literature, 21(1).

Vendler, H. 1983. The Odes of John Keats. Cambridge, Mass.: Harvard University Press.

 

 
A.P. Grové