RETORIKA

(Gepubliseer November 2021)

Die woord retorika sluit etimologies aan by woorde en taal: Die Griekse woord rhéma (‘n woord) en rhétor (onderwyser van welsprekendheid), stam naamlik af van die Griekse werkwoord eiró, wat “ek sê” beteken (Corbett 1971:31-32). Die retorika is egter uit die staanspoor en regdeur die geskiedenis geassosieer met oorreding. Die terme retorika en retoriek word soms as wisselvorme beskou, maar retoriek het dikwels ‘n pejoratiewe konnotasie, gekoppel met hoogdrawende taal, bombasme en mooiskrywery (Engbersen, Jansen en Witteveen 1991:4).

Rhetorica, die gelatiniseerde weergawe van die Griekse rhétoriké, dui op beide die teorie én praktyk van welsprekendheid (Leeman en Braet 1987:46). Van Gorp (1993:344) definieer die retorika as die teorie van en opleiding tot versorgde en oortuigende redevoering.  Dit verskaf aan die spreker die tegniese vaardigheid om die inhoud, styl en aanbieding van ‘n toespraak so strategies moontlik uit te bou in funksie van ’n bepaalde doelstelling. Die retoriese analise gaan in op wat die outeur bedoel en op die tegniese middele wat gebruik word om die leser of toehoorder te oortuig. Die term retorisiteit hou verband met die werking van die retorika in ‘n teks.

Die begin van die retorika word tradisioneel teruggevoer na Corax en Tisias, wat ongeveer 460 v.C. in Sirakuse, Sicilië aan grondbesitters die tegniek van die regsretorika geleer het. Dit is dus eerstens geassosieer met oorreding in regsake oor grondbesit. Leeman en Braet (1987:2) wys egter daarop dat algemene reëls en norme vir openbare redevoering in vele tydperke en kulture ooreenkomste vertoon het met die klassieke retorika, en volgens Kennedy (1963:35) was die 5de-eeuse retoriese studie hoofsaaklik ‘n teoretisering van die konvensionele praktyk. Die aandag aan die techné rhétoriké in die 5de eeu v.C. in Griekeland was wel die eerste poging om die invloed wat ‘n rede/boodskap op ‘n ontvanger kan uitoefen, te formuleer as ‘n sisteem van tegnieke. Dit is aanvanklik deskriptief, maar spoedig preskriptief aangewend.

Die bloeiperiode van die retorika het nagenoeg 800 jaar geduur, tot by die val van die Romeinse Ryk. Gedurende dié tyd het dit die sentrale dissipline in die opvoedkunde geword, met ’n groot invloed op openbare uitinge en intellektuele aktiwiteit (Vickers 1990:11). Een van die invloedrykste baanbrekers vir ‘n meer praktiese, wetenskaplike aanpak van die retorika was Aristoteles (384-322 v.C.), hoewel sy belangrike werk hieroor, die Retorika, soms onsistematies, onduidelik, vol herhalings en teenstrydighede is. Sy geniale insigte en analises, wat veral sedert die Renaissance bekendheid verwerf het, dra egter steeds gewig. Sy naam word algemeen aangetref in eietydse Amerikaanse studies oor die (nuwe) retorika, waarskynlik vanweë die intrigerende aard, relevansie en wye toepassingsmoontlikhede van sy benadering.

Teen omstreeks 330 v.C., na die hoogtepunt van die Griekse redenaarskuns in die dispuut tussen die beroemde redenaar Demosthenes en Aeschines, was die Griekse hoogbloei verby. Die invloedryke Hermagoras van Temnos (2de eeu v.C.) se statusleer gerig op regsake sou ‘n vaste onderdeel van die retoriese sisteem word (Leeman en Braet 1987:17,76-89). In die 2de eeu v.C. het ‘n soortgelyke vorm van openbare lewe in Rome ontwikkel as die Atheense demokrasie van die 4de en 5de eeue v.C., met sterk aandag aan die gesproke woord. Die Romeinse retorici het die Aristoteliaanse retoriese sisteem sterk uitgebrei, verwerk en gewysig, veral met betrekking tot die topika en ontwikkeling van stylfigure. Veral Cicero se De inventione en die Rhetorica ad Herennium (teenswoordig dikwels toegeskryf aan Cornificius – Leeman en Braet 1987:18), het eeue lank ‘n geweldige invloed uitgeoefen deurdat dit onder meer opgeneem is in die trivium (hoof-drietal vakke) van die sewe Middeleeuse vakke, die artes liberales.

Gedurende die 25-26 eeue sedert die retorika in Griekeland geformaliseer is, is ‘n tydperk van hoogbloei, gekenmerk deur ‘n aktiewe (her)benutting van retoriese begrippe, telkens (oënskynlik) gevolg word deur ‘n insinking van wisselende lengte waartydens die retorika as sodanig as ‘t ware ondergronds gegaan het, terwyl retorisiteit onvermydelik ‘n faktor gebly het. Drie groot impulse kan hierby onderskei word: die Grieks/Romeinse tydperk; die Renaissance, en die 20ste/21ste eeu. Dit het etlike eeue geduur voordat die kategorieë binne die retoriese sisteem duidelik onderskei is (Leeman en Braet 1987:48). In die volgende kort samevatting word hoofsaaklik uitgegaan van hulle indeling:

Die onderwerp

Die retoriese redevoering handel altyd oor debatteerbare vraagstukke, dikwels van maatskaplike aard. ‘n Algemene vraagstelling (tese) kan eerstens geformuleer word, soos: Moet moedermoordenaars gestraf word? of: Moet mense trou? Tweedens kan ‘n spesifieke/bepaalde vraagstelling (hipotese) geformuleer word, soos: Moet Orestes gestraf word vir die moord op sy moeder? Behoort X te trou? In ’n roman het die hipotese in die algemeen te doen met die spesifieke saak onder bespreking en die tese met die universele boodskap wat uiteindelik oorgedra word.

Volgens Hermagoras hang veral sewe topiese vrae saam met ‘n bepaalde vraagstuk, naamlik wie, wat, wanneer, waar, waarom, hoe en waarmee? Die besondere vraagstellinge tree volgens Aristoteles op by die volgende drie soorte redevoerings:

  1. Die geregtelike rede het te doen met die vraagstelling of ‘n daad wat in die verlede gepleeg is wettig of onwettig was. Bewyslewering staan sentraal.
  2. Die politieke redevoering hang saam met die toekoms en het te doen met die voor- of nadele van ‘n bepaalde beleid.
  3. Die geleentheidsrede of epideiktiese rede (Leeman en Braet 1987:2,11) word veral met die hede verbind. Prys of blaam, goed of sleg, mooi of lelik word in verband gebring met ‘n persoon of ‘n saak. Dit word gelewer by seremonies soos huwelike en begrafnisse. Ook Christelike preke en die letterkunde (Bryant 1974:201) is later hieronder tuisgebring.

Die spreker se take

Hoewel Aristoteles reeds heelwat aandag aan die ontvanger se reaksies gee in sy Retorika het die retorika tradisioneel veral van die sender uitgegaan. Veral vyf take is onderskei. Die volgorde word nie noodwendig beskou as opeenvolgend of die dele as ondergeskik aan mekaar nie – daar is eerder sprake van ‘n wisselwerking tussen die kategorieë.

Inventio: die vind van argumente om die publiek te oorreed. Dit is gevind by bewyse, by die spesifieke tope (bewysplekke of gesigspunte) en by algemene tope of waarhede.

Nietegniese bewyse dui op materiaal wat van buite ingewin is, oorspronklik vroeëre verordeninge, publieke getuienis, bekentenisse verkry onder marteling, ooreenkomste, wetstekste of transaksies. Die spreker hoef dié ondersteunende nietegniese middele nie te bedink nie, maar moet dit wel vind. Volgens Corbett (1971:167) het dié soort vinding destyds ‘n “broad liberal education” vereis, maar later veral die gebruik van verwysingsbronne.

By getuienis praat Barthes (1988:54) ook van rumores (publieke getuienis gekoppel met konsensus). Naas relatief vasstaande ‘feite’ soos statistiek en datums, word gewaande feite, of ‘waarhede’ dus ter oorreding ingespan, asook konvensies en algemene persepsies. ‘n Fokus op buitebewyse kan, vanuit ons tyd gesien, nuttige insigte oplewer by die retoriese analise van die geskiedskrywing en historiese romans. Die getuies is dikwels outoriteite soos skrywers of bekende persone.

Die eerste Afrikaanse historiese roman, Di koningin fan Skeba (vanaf 1896 gepubliseer as vervolgverhaal in Ons Klyntji, as boek in 1898) deur S.J. du Toit is ’n uitstekende voorbeeld van hoe ’n outeur retoriese strategieë kan inspan om lesers te probeer oorreed deur middel van sogenaamde feite. Die roman is deels geskoei op ’n werklike reis waaroor Du Toit in Sambesia (1895) verslag doen en deels op skynfeite.’n Foto word selfs gebruik om te bevestig dat geskrifte gevind is by die Zimbabwe-ruïnes (’n fiktiewe gegewe). Ook romans deur André P. Brink soos Houd-den-bek (1982) maak ter oorreding as ’t ware met allerlei strategieë van nietegniese bewysmiddele tegniese bewysmiddele deur ‘ware’ feite te kombineer met fiktiewe gegewens (sien Van Zyl 1996 en 1997).

By tegniese middele, wat met die tegniek van die redenaar saamhang, word die materiaal veral oortuigend gemaak op drie maniere:

  1.    Logos (logiese bewys), wat Aristoteles as die belangrikste oorredingsmiddel beskou, sluit die logiese opbou van argumente en chronologie (logies in die tyd) in. Die spreker kan verder ‘n verkorte redeneringsvorm soos die entimeem (enthymema) gebruik, soos in die bekende voorbeeld: Sokrates is ‘n mens. Alle mense is sterflik. Dus Sokrates is sterflik. (Sokrates is sterflik, want hy is ‘n mens, word weggelaat.) Die gebruik en herkenning van entimeme is na eeue steeds relevant. So berus alle advertensies inderwaarheid op ’n drogredenasie, met die volgende kenmerke: Die beste X (byvoorbeeld tandepasta) beskik oor eienskappe 1,2,3 (deur marknavorsing oor verbruikersvoorkeure vasgestel). Y beskik oor hierdie eienskappe. Dus is Y die beste X.
    Die spreker kan ook ‘n ware of fiktiewe voorbeeldverhaal (exemplum) vertel, soos Christus se gelykenisse, of ‘n slagspreuk (sententia) gebruik. Spreekwoorde kan beskou word as gefossileerde volkswyshede wat logies oorredend werk.
  2.    Etos het te doen met die beginsel van movere (om die gehoor te beweeg). Dit hou verband met ‘n oordeel oor reg of verkeerd, ook ten opsigte van die eienskappe wat die gehoor aan die spreker se karakter toeskryf (soos eerlik en innemend). Auctoritas (wat onder etos ressorteer), die gebruik van ’n vooraanstaande figuur as outoriteit om gravitas aan uitsprake te verleen, is tot vandag algemeen in politieke en handelskampanjes.
  3.    Patos hou verband met emosies (soos hartseer, verontwaardiging en lag) wat ’n spreker met goeie mensekennis by die gehoor kan uitlok om hul houding te beïnvloed – hy speel op hul gevoel. Aristoteles gee riglyne (patetiese topika) oor hoe en aan wie medelye getoon kan word. Dit is die mees primitiewe, maar steeds baie effektiewe tegniese oorredingsmiddel, wat reeds deur babas bemeester word.

Spesifieke topoi verwys na plekke waar na argumente gesoek kan word, na beproefde maniere om ‘n saak aan te pak, ’n arsenaal van temas en kategorieë van argumente om die gehoor te oortuig. Topoi verbind met lofprysing verwys byvoorbeeld na iemand se afkoms, sy geboorteplek of sy diens aan sy land. Ander hang saam met nederigheid en beskeidenheid wat aanbeveel word, met die aanvanklike aanroep van die gode, en veel meer. Algemene topoi is stereotipes wat bruikbaar is by alle onderwerpe, soos moontlik/onmoontlik, eg/oneg, meer/minder, groot/klein.

Dispositio (teksdele)

Die spreker selekteer verskillende teksdele vir verskillende soorte redevoeringe en plooi dit om sy saak te bevorder. Die aanwesigheid en volgorde van die volgende onderdele staan dus, met uitsondering van die inleiding en slot, nie vas nie.

  1. Exordium (inleiding)

Dit wil, soos die slot, die gehoor emosioneel beweeg, en het drie funksies: om die luisteraar se aandag te trek, hom bereid te maak om te luister en hom welwillend te stem. Dit is volgens Barthes (1988:78) en Nash (1989:9) deur die eeue een van die standhoudendste en mees relevante dele van die retoriese rede.

  1. Narratio (verhaal)

Die narratio kom veral by die geregtelike redevoering voor. Die dade, motiewe, plekke, tye en middele van die saak moet so bondig, duidelik en aanneemlik moontlik uiteengesit word. Die informasie moet so geloofwaardig oorgedra word dat dit die saak bevorder. Dit lyk dus objektief, maar werk subtiel beïnvloedend.

  1. Propositio en Partitio

Die spreker sê waaroor sy saak gaan, stel sy probleem en definieer die terme wat hy gebruik in sy aanvanklike uiteensetting (propositio), dikwels in kombinasie met die indeling (partitio), waar hy die hoofde noem waaronder die saak behandel word. Meer as drie hoofde is as verwarrend beskou. Die hoofpunte is gewoonlik ten slotte herhaal.

  1. Argumentatio

Die argumentasie is die belangrikste oorredingsmiddel, met ‘n baie uitgebreide topiek. Dit was gebruiklik om met sterk argumente te begin, dit op te volg met die swakker argumente en te eindig met die kragtigste argumente. Na die bekragtiging van jou eie stelling (confirmatio) kan jy die betoog van jou teenstander weerlê (refutatio).

  1. Slot (Peroratio):

Soos die Inleiding, anders as die saakgerigte narratio en argumentatio, is die slot op die publiek gerig. Die hoofpunte word gewoonlik weer saamgevat, met gebruik van patos en versterking (amplificatio) om die gehoor verontwaardig, entoesiasties of medelydend te maak. Die belang van die saak word na gelang van omstandighede vergroot of verklein.

In Di koningin fan Skeba (1898:38-39) word een van die beste voorbeelde in die Afrikaanse romankuns aangetref van hoe die dispositio ter oorreding aangewend kan word (Sien Van Zyl 1996:200-204). Die genoemde onderdele van die dispositio kan naamlik almal pertinent onderskei word in die ek-spreker se uitleg van ’n stuk uit die gedenkskrifte wat hy kwansuis by die Zimbabwe-ruïnes gevind en vervolgens vertaal het, met die doel om sy hoorders te oorreed dat die Bybelse Paradys in Afrika geleë was en nie in Asië nie.

 Styl

Stylkwaliteite het te doen met die wyse waarop die stof verwoord word. Hoewel nie sterk deur Aristoteles beklemtoon nie, is die elocutio-aspek van die retorika toenemend in antieke Griekeland uitgelig, met groter klem op literêre komposisie en styl as op bewyse. Isokrates (436-338 v.C.) se strewe om verhewe gedagtes so gevarieerd en sierlik moontlik te verwoord, het Cicero later sterk beïnvloed, maar die nadruk op welsprekendheid in filosowe- en retoreskole het veral ná Quintilianus die algemene spreek- en skryfstyl eeue lank beïnvloed en die verdere geskiedenis van onderwys in die retorika grotendeels oorheers (Krol 1980:10) en tot ‘n waansinnige aantal klassifikasies van versierde taalgebruik (ornatus) gelei – byna 200 soorte is in 1577 deur Henry Peacham onderskei (Dixon 1977:35). Dié oordaad was mede daarvoor verantwoordelik dat die retorika gedurende die 19de eeu by die Romantiese digters en kritici in diskrediet geraak het. Dit is met oordadigheid en afgesaagdheid geassosieer, en retoriese taalgebruik of retoriek het sinoniem geword met cliché’s. Dié tipe retoriese beginsels ontvang steeds aandag in taalbeheersingsvakke, maar sedert die 1950’s is die ander aspekte van die retorika herontdek en na waarde geskat.

Stylsoorte:

  1.   By die verhewe styl word indrukwekkende woorde en versierings, met baie patos en ornatus, gebruik om die gehoor aan te gryp (movere). Oordrywing daarvan lei tot ‘n geswolle styl.
  2.   Die middelstyl is meer gematig, met minder ornatus, maar is nog nie gelyk aan omgangstaal nie. Die gevoelsgraad is etos. Dit is die geskikste om mense mee te oortuig. Oordrywing hiervan lei tot ’n slap styl.
  3.   By die eenvoudige styl word eietydse taal gebruik, met klem op korrektheid en helderheid. Dit is die geskikste vir dosering, maar oordrywing daarvan lei tot dorheid.

Die retorika ontvang die afgelope dekades weer heelwat aandag in sowel Amerika as Europa. Die retorika is reeds vroeg in die geskiedenis met die letterkunde gekoppel en sluit op uiteenlopende maniere aan by literêr-teoretiese rigtings soos die semiotiek en resepsie-estetika, die literatuursosiologie, ideologiekritiek, postmodernisme en werkimmanente rigtings soos die dekonstruksie (sien Van Luxemburg, Bal en Weststeijn 1983 se indeling). Volgens Abrams (1953/1978:3-29) is die retories-pragmatiese benadering die vernaamste estetiese houding in die Westerse wêreld, wat die kritiek sedert Horatius tot in die 18de eeu bepaal het. Na die oorheersing van die ekspressiewe Romantiese teorieë in die 19de eeu en die objektiewe (outonomistiese) teorieë se aandag aan die literêre werk ten koste van die konteks, outeur en leser in die vroeë 20ste eeu, het die pragmatiek die afgelope dekades opnuut veld begin wen (Zeeman 1991:97-99) en ontwikkel tot ‘n interdissiplinêre wetenskap, met raakvlakke met die filosofie, linguistiek, antropologie, psigologie en sosiologie.

Hesling (1985:62-63) onderskei by die sogenaamde “New rhetorics” of Neo-Aristoteliese retorika van die Verenigde State ‘n verdere konglomeraat van teorievorming, maar veral ook van eksperimentele, sosiaal-psigologiese ondersoek binne die veld van die oorredende kommunikasie. Die analitiese tak van die nuwe retorika kombineer die klassieke retorika met empiriese wetenskaplike navorsing op sosiologiese en psigologiese gebied om die effekte van onder meer oorredende vorme van kommunikasie (veral waardes en waardeveranderinge) statisties-eksperimenteel te ondersoek.

Gorgias, Isokrates en Cicero se maksimalistiese opvatting van die retorika as superwetenskap wat die hele werklikheid tot objek het (Leeman en Braet 1987: 55-57), oorheers tans by baie ondersoekers. Interpretasies van die retorika se omvang en funksies in die kunste, wetenskappe, handel en politiek is soms verreikend. McKeon (1987: viii-xi) beskou die retorika byvoorbeeld as ‘n inventiewe, produktiewe organiseringsprinsipe wat denke oor enige onderwerpsmateriaal struktureer, en lei tot handelinge, sisteme en strukture. Dit verskaf die analitiese instrumente wat dit moontlik maak om diverse en dikwels teenstrydige filosofiese beginsels en sisteme te begryp (Van Zyl 1996:45-46). Volgens sommige eksponente van die nuwe retorika(s) kan niemand aan die retorika ontsnap nie (Gaonkar 1990) en kan dit, eerder as die wetenskap, gesien word as ‘n sentrale dissipline waardeur ander dissiplines gedefinieer, georganiseer en beoordeel word (James Boyd White, “Rhetoric and Law: The arts of cultural and communal life”, aangehaal in Simons, 1990).

Navorsers besef steeds meer dat wat tradisioneel beskou is as sake vir die wetenskap, filosofie en ander dissiplines, eerder tuishoort by die retorika. Baie aandag word in verskillende dissiplines aan retorisiteit bestee binne onder meer die “rhetoric of inquiry” (kyk Ceccarelli, 2020). Ondersoekers vind veral aansprake op objektiwiteit, hetsy in die wetenskap, geskiedskrywing, joernalistiek, regte, vrouestudies, filosofie of kunskritiek, problematies. Daar word toenemend ondersoek hoe diskoers wat ingestel is op ‘n gehoor taal- en stylmatig retories gestuur word deur die keuse van onder meer metafore, trope en diskursiewe of selfs pre-diskursiewe linguistiese vorme.

Die retorika kan dus, afhangende van die ondersoeker, gesien word as ‘n omvattende, uiteenlopende, strakke óf losse analitiese en empiriese sisteem van verbale kommunikasie. Dit het in die loop van byna 26 eeue ontwikkel en ‘n rol gespeel op talle terreine soos die regte, politiek, opvoeding, kunste en ander dissiplines. Hierdie merkwaardige en invloedryke skepping van die klassieke kultuur het ‘n onmeetbare invloed op onder meer die Westerse denke uitgeoefen, geboekstaaf in ‘n magdom tekste. Omdat die moderne Westerse wêreld in ’n sekere sin die produk is van die retorika se indringende en langdurige invloed, bied die ontwikkeling van die retorika deur die eeue heen ‘n sleutel tot die wyse waarop mense dink en stof orden, tot die manier waarop hulle andere oortuig en self oortuig word. Dit is dus te verwagte dat skrywers wat gebore en getoë is binne ‘n klassiek-Westerse tradisie, deur die eeue en tot vandag toe steeds, onbewus en bewus, dieselfde tipe strategieë sal gebruik. Die retorika skakel gevolglik steeds nóú met die gebruik van literêre stategieë, die bestudering daarvan en teoretisering daaroor.

 

Dorothea van Zyl

 

BIBLIOGRAFIE

Abrams, M.H. 1978(1953). The mirror and the lamp. Romantic theory and the critical tradition. Oxford: Oxford University Press.

Barthes, Roland. 1988(1985). The semiotic challenge. Oxford: Basil Blackwell.

Brink, André P. 1982. Houd-den-bek. Emmarentia: Taurus.

Bryant, Donald C. 1974(1953). Rhetoric: Its functions and its scope. In: Fisher, Walter R. (ed.). Rhetoric: A tradition in transition. Michigan: Michigan State University Press, 195-230.

Ceccarelli, L. 2020. ‘The Rhetoric of Rhetorical Inquiry’, Western Journal of Communication, 84(3), pp. 365–378. doi:10.1080/10570314.2019.1704049.

Corbett, E.P.J. 19712(1965). Classical rhetoric for the modern student. New York: Oxford University Press.

Dixon, P. 1977(1971). Rhetoric. The Critical Idiom 19. London: Methuen.

Du Toit, S.J. 1895. Sambesia, of Salomo’s goudmijnen bezocht in 1894. Paarl: D.F.du Toit.

Du Toit, S.J. 1898. Di koningin fan Skeba, of Salomo syn oue goudfelde in Sambesia. Historise roman, met prente. Paarl: D.F. du Toit.

Engbersen, Radboud, Thijs Jansen & Willem Witteveen (reds.). 1991. Het retorische antwoord. Utrecht: Stichting Grafiet.

Gaonkar, Dilip Parameshwar. 1987. Deconstruction and rhetoric analysis: the case of Paul de Man. Quarterly Journal of Speech 73(1): 482-528.

Hesling, W. 1985. Retorica en film. Een onderzoek naar de structuur en functie van klassieke overtuigingsstrategieën in fictionele, audiovisuele teksten. Ongepubliseerde proefskrif. Katholieke Universiteit Leuven.

Kennedy, George. 1963. The art of persuasion in Greece. London: Routledge and Kegan Paul.

Krol, T.F. 1980. De geschiedenis van taalbeheersing: een zeer globale schets. In: Braet, A. (red.). Taalbeheersing als nieuwe retorica. Een historisch, programmatisch en bibliografisch overzicht. Groningen: Wolters-Noordhoff, 7-35.

Leeman, A.D. & A.C. Braet. 1987. Klassieke retorica. Haar inhoud, functie en betekenis. Groningen: Wolters-Noordhoff.

McKeon, Richard. 1987. Rhetoric. Essays in invention and discovery. Woodbridge: Ox Bow Press.

Nash, W. 1989. Rhetoric. The wit of persuasion. Oxford: Basil Blackwell.

Simons, Herbert W. (ed.) 1990. The rhetorical turn. Invention and persuasion in the conduct of inquiry. Chicago etc.: University of Chicago Press.

Van Gorp, H., R. Ghesquiere, D. Delabastita & J. Flamend. 1993(1980). Lexicon van literaire termen. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Van Luxemburg, J. van, M. Bal & W.G. Weststeijn. 19833(1981). Inleiding in de literatuurwetenschap. Muiderberg: Coutinho.

Van Zyl, D.P. 1996. Salomo syn oue goudvelde. Op die spoor van die retorika in die Afrikaanse romankuns. Proefskrif (D. Litt. et Phil.). Pretoria: Unisa.

Van Zyl, D.P. 1997. Die retorika en die Afrikaanse historiese roman. Universiteit Stellenbosch. Annale, Stellenbosch, 1997/2: 138 pp.

Vickers, Brian. 1992(1988). In defence of rhetoric. Oxford: Clarendon.

Zeeman, Peter (red.) 1991. Literatuur en context. Een inleiding in de literatuurwetenschap. Heerlen etc.: Sun/Ou.

Vir verdere studie

Gaillet, L.L.,  & Horner, W.B. (eds). 2010. The present state of scholarship in the history of rhetoric: a twenty-first century guide. Columbia: University of Missouri Press.

Knape, J. and Fortuna, A.L. 2013. Modern rhetoric in culture, arts, and media: 13 essays. Berlin ; Boston: De Gruyter.

Meyer, Michel. 2017. What Is Rhetoric? Oxford: Oxford University Press.

Murray, J. 2020. Kinematic rhetoric : non-discursive, time-affect images in motion. London: Anthem Press.

Olmsted, W. 2006. Rhetoric. [electronic resource]: an historical introduction. Oxford: Blackwell.

Plett, H.F. 2010. Literary rhetoric. [electronic resource]: concepts-structures-analyses. Boston: Brill (International studies in the history of rhetoric: v. 2).

Richards, J. 2008. Rhetoric. London: Routledge (The new critical idiom).

Selber, S.A. (2010) Rhetorics and technologies. [electronic resource]: new directions in writing and communication. Columbia: University of South Carolina Press (Studies in rhetoric/communication).