(Gepubliseer Januarie 2022)
Dierestudies (Animal Studies) daag implisiet die basis van die geesteswetenskappe uit, nl. die mensgesentreerdheid en die fokus op menslike prestasies. Hierdie uitdaging, saam met die ontluikende teenwoordigheid van niemenslike diere in die geesteswetenskappe sedert ongeveer 2000, staan bekend as “die dierewending”. Soos feministiese literatuurstudies en ekokritiek, open dierestudies nuwe maniere van kyk en interpreteer, om alternatiewe vrae oor tekste te vra, en om etiese kwessies in te raam. Dierestudies staan ook bekend as mens-dierstudies – ten einde kulturele aspekte van hierdie vakkundige projek aan te dui. Vir kritiese dierestudies (critical animal studies) is voorspraak vir diere (animal advocacy) die basis vir alle transdissiplinêre navorsing in dierestudies.
In inheemse lewenswyses was diere tradisioneel meer geïntegreer, selfs aanbid, maar in Westerse perspektiewe, ondersteun deur die Bybel, veral Genesis, is diere as minder as mense beskou op grond van taal, bewussyn, intelligensie en emosionele sensitiwiteit. Etologie en ander wetenskappe het nou hierdie antroposentriese vooroordele weerlê, terwyl die algemene bewustheid van niemenslike diere se vermoëns toeneem. In Animal Liberation (1975) betoog Peter Singer, ‘n utilitaris, teen wreedheid teenoor diere, omdat hulle ook kan ly. Hy argumenteer teen “spesiesisme” wat mense bo niemenslike diere stel, en dring daarop aan dat hierdie “etiese gaping” reggestel moet word. Nog ‘n invloedryke teks vir diere-advokate is Tom Regan se The Case for Animal Rights (1983). Diere-voorspraak sluit welsynsgesindes in (wat argumenteer vir die “menslike” beskerming van diere terwyl hulle die regte van mense oor diere erken) en ook afskaffers (wat alle vorme van wreedheid teenoor diere verwerp en wat spesiesisme gelykstel aan rassisme en seksisme). In kontinentale filosofie het Jacques Derrida in sy invloedryke opstel “The Animal that Therefore I am (More to Follow)” (2008) die Cartesiaanse dualistiese denke oor diere en selfs die kategorisering van talle spesies as ‘diere’ gekritiseer, maar ook die skaamte wat ons voel in reaksie op die blik van ‘n dier (diereblik) voorop gestel. Richard Murphy (2000) ontgin inheemse kulture en die ontologiese wending wat hulle maak as hulle dualistiese self/ander-konsepte vervang deur begrippe van ‘ons’ en ‘andere.’ Hierdie interverbondenheid van menslike en niemenslike wesens vervang konvensionele hiërargieë deur heterargiese wêreldbeskouings.
Literêre dierestudies is ‘n vrugbare transdissiplinêre projek wat verder gaan as regtediskoers in die ontleding van tekste waarin diere as subjekte optree en nie bloot as simbole nie. Literêre dierestudies ondersoek hoe diere voorgestel word, die tekstuur van trans-spesieverbindings, hoe diere narratiewe strategieë kan beïnvloed asook die etiek agter die uitbeelding van diere. Literêre dierestudies, soos Marion Copeland en Ken Shapiro voorstel in “Towards a Critical Theory of Animal Issues in Fiction” (2005), moet diere in fiksie (en veral in poësie) ondersoek op ‘n wyse wat die deurdringbaarheid van spesiegrense na vore bring. Literêre dierestudies moet dus, betoog hulle, negatiewe maniere om niemenslike diere voor te stel “dekonstrueer”, ten einde te “evalueer” hoe ‘n dier as ‘n individu en as ‘n lid van ‘n spesie voorgestel word. Die doel is verder ook om die mens-dier-verhoudings (wat kan wissel van die dier as ‘n ongeagte afwesigheid tot ‘n “vennoot” in ‘n “gedeelde wêreld”) te “ontleed”.
Verbeelding is die sentrale vermoë wat ons, as lesers, in ‘n nuwe terrein kan inlei; wat ons empatie kan laat ontwikkel met ‘n medeskepsel wat, nes mense, sowel beliggaam as sterflik is. In JM Coetzee se The Lives of Animals (1999) bepleit Elizabeth Costello ‘n grenslose “simpatieke verbeelding” (Coetzee, 1999:35). In hierdie ikoniese teks, wat sentraal in vroeë literêre dierestudies gestaan het, lewer die fiktiewe Elizabeth Costello twee lesings, “The Philosophers and the Animals” en “The Poets and the Animals.” Soos Costello opmerk, sal ‘n gedig oor ‘n dier daardie dier volkome koud laat (51). Die netelige kwessie dat diere nie hulle eie voorstellings van hulleself kan maak nie, is onvermydelik. Om die reduktiewe etiket van “antropomorfisme” toe te pas op enige voorstelling van niemenslike diere, is egter ‘n beperkte siening.
In What is Posthumanism? voer Cary Wolfe (2010: 116-126) aan dat, om revolusionêr binne die geesteswetenskappe te wees, mens-dierstudies sy eie kenteoretiese strukture moet ondersoek: die vraag, byvoorbeeld, wat maak ‘n “persoon” uit? So ‘n bevraagtekening sal die gesedimenteerde opvatting uitskakel dat taal en bewussyn uitsluitlik menslike eienskappe is. Slegs op hierdie wyse kan die dissiplines van mens-dierstudies die antroposentriese denke verskuif. In Creaturely Poetics: Animality and Vulnerability in Literature and Film (2011), hou Anat Pick vol dat die aanwending van mortaliteit en kwesbaarheid as algemene kriteria vir sowel menslike as niemenslike dierebeliggaming ‘n nuwe etiek tot stand sal bring.
Geen studie van diere kan die menslike konteks ignoreer nie, en ook nie die geografiese, historiese en kulturele situering van niemenslike diere nie. In Suid-Afrikaanse debatte in literêre dierestudies staan sulke sensitiwiteite sentraal. Literêre aspekte moet saam met ons verrinneweerde geskiedenisse en verhoudings oorweeg word. ‘n Sleutelteks in hierdie verband is “‘The Year of the Dog: A Journey of the Imagination” (2007) waarin Njabulo Ndebele nie net wreedheid teenoor beliggaamde honde ondersoek nie, maar ook hoe die metafoor van “honde”, wat as ‘n beledigende term deur koloniale en apartheidsregimes gebruik is, hierdie wreedheid kan versterk. Suid-Afrikaanse literêre dierestudies moet noodwendig die kwessies van dekolonisering, inheemshede, grond, dierereservate, wildernis, trofee- en geblikte jag in ag neem – kwessies wat almal in Michele Pickover se tydige Animal Rights in South Africa (2005) ter sprake kom.
Nog ‘n sleutelteks vir Suid-Afrikaanse literêre dierestudies is JM Coetzee se Disgrace (2000), waarskynlik die mees gedebatteerde literêre teks in literêre dierestudies nasionaal en internasionaal. Die roman speel af in die Oos-Kaap, en vertel onder andere van konflik oor oënskynlik oortollige honde in die ‘township’, hoe hulle uitgesit en van hulle liggame ontslae geraak word. Reaksies op die ander diereliggame, hetsy waghonde of skape wat geslag gaan word, word ook as rasgebonde voorgestel.
‘n Verdere draad van literêre dierestudies in Suid-Afrika erken die beeld van niemenslike diere in inheemse animisme en totemisme – beginnende by die sjamanisme van San-kulture waarin vormverskuiwing of dierwording ‘n noodsaaklike deel van genesing was.
Sleutelterme
Dier (dier /niemenslike dier): Die term dier self het onder verdenking gekom. Hoe kan een woord verwys na wesens so verskillend soos ‘n olifant of ‘n miniatuurpoedel? Inderdaad, ons as mense is ook diere. Navorsers in mens-dierstudies het alternatiewe terme voorgestel: as ons menslike diere is, dan word daardie wesens wat ons normaalweg ‘diere’ noem, as ‘niemenslike diere’ beskou. (Tog word hulle steeds in verhouding tot mense gedefinieer.)
Diereblik: Die antwoord van ‘n dier, eerder as ‘n reaksie, op die blik van ‘n mens.
Antropomorfisme: Die term word betwis. Aanvanklik het dit verwys na gode wat in menslike vorms verander. Om oor niemenslike diere te skryf is ‘n mate van antropomorfisme onvermydelik, maar dit kan ook strategies wees as die skrywer empatie vir die dieresubjek probeer ontlok. Die etiket word meestal gebruik wanneer enige voorstelling van dieresensitiwiteite as antropomorfies beoordeel word uit die vooroordeel dat slegs mense sekere eienskappe het soos gevoelens, bewustheid of intelligensie.
Antroposentrisme: Die aanname dat slegs mense die sentrum van alle betekenis uitmaak. Dit is die idee wat humanisme en, tot onlangs, die geesteswetenskappe onderlê.
Agentskap (handelingsbevoegdheid): Daar word aanvaar dat niemenslike diere agentskap of handelingsbevoegdheid besit – die vermoë om ‘n besluit te neem, te kies, of om op te tree.
Animisme: ‘n Inheemse geloof dat alle wesens, plekke, plante beklee is met ‘n geestelike essensie.
Empatie: Om die gevoelens of persepsies van ‘n niemenslike dier aan te neem.
Verstrengeling (verweefdheid / interverbondenheid): die onlosmaaklikheid van menslike en niemenslike dierepraktyke en lewens met niemenslike diere wat net soveel soos mense bydra tot sulke verhoudings.
Uitsterwingstudies (studies oor uitsterwing): Dit het baie ooreenkomste met mens-dierstudies waar die verweefde ekologiese en sosiale aspekte van uitsterwing bestudeer word, veral die besondere uitwerking daarvan op menslike en niemenslike diere.
Instrumentalisme: wanneer niemenslike diere wat vir kommersiële doeleindes aangehou word, beskou word bloot vir wat hulle aan die mens kan bied: vleis, pels, leer.
Verwantskap: ‘n viering van menslike en niemenslike diere as verwant.
Troeteldiere: ‘n sambreelterm wat die dier minimaliseer. ‘Geselskapsdier’ (pasmaatspesie/s) is ‘n voorgestelde alternatief, maar hierdie term definieer diere steeds in verhouding tot mense.
Posthumanisme: In mens-dierstudies bevraagteken posthumanisme die mens epistemologies en ontologies en as die sentrum van analise, geskiedenis en kultuur.
Gevoelsvermoë (sintuiglikheid): Die erkenning dat diere bewus is, gevoelens het en kan ly.
Subjektiwiteit (dieresubjektiwiteit): Diere se subjektiwiteit word erken wanneer hulle die subjekte van hulle eie lewens is. Konvensioneel is diere geobjektiveer.
Simpatiese verbeelding (simpatieke verbeelding): ‘n Kognitiewe begrip van die beliggaming en wese van ‘n ander mens of niemenslike dier.
Trans-spesie: Wanneer gevoelens of persepsies spesieverskille kan oorskry.
Kwesbaarheid: As beliggaamde wesens deel menslike diere kwesbaarheid en mortaliteit met niemenslike diere.
Soömorfisme: Wanneer eienskappe van ‘n niemenslike dier aan ‘n mens toegeskryf word.
Vakkundige publikasies oor dierestudies in Suid-Afrika
Vanaf die vroeë 2000’s is referate by ekokritiese en literêre konferensies en by mens-dierstudies-seminare aangebied. Vanaf 2004 het Literature and Ecology-seminare hoofsaaklik deur Dan Wylie van Rhodes Universiteit georganiseer, gelei tot ‘n aantal spesiale uitgawes en publikasies: Current Writing (2006); Alternation (2013) en Tydskrif vir Letterkunde (2018). Die titel van laasgenoemde spesiale uitgawe as Dogs in Southern African Literatures.
Erika Lemmer het ‘n spesiale uitgawe van Tydskrif vir Literatuurwetenskap (2007) oor ekokritiek geredigeer wat opstelle in mens-dierstudies ingesluit het. Wendy Woodward en Erika Lemmer het ‘n ander spesiale uitgawe van Journal of Literary Studies/Tydskrif vir literatuurwetenskap saamgestel onder die titel “Figuring the Animal in Post-Apartheid South Africa” (2014). Dit is gebaseer op dierestudies-seminare aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Wendy Woodward en Susan McHugh het saam die boek Indigenous Creatures, Native Knowledges, and the Arts: Animal Studies in Modern Worlds (2017) geredigeer. Dit is eweneens op seminare aan die Universiteit van Wes-Kaapland gebaseer. In Natures of Africa: Ecocriticism and Animal Studies in Contemporary Cultural Forms (2016) geredigeer deur F. Fiona Moolla is ‘n Afrika-ekokritiek ontwikkel. Dit bevat ook opstelle in mens-dierstudies.
Verskeie monografieë het ook verskyn: Wendy Woodward se The Animal Gaze: Animal Subjectivities in southern African Narratives (2008), Jason D. Price se Animals and Desire in South African Fiction: Biopolitics and the Resistance to Colonization (2017) en Dan Wylie se Death and Compassion: The Elephant in South African literature (2018).
Vakkundige publikasies oor die Afrikaanse letterkunde
Ten spyte van die groot korpus Afrikaanse literêre tekste wat niemenslike diere op die een of ander wyse betrek, is spesifieke navorsing oor dierestudies met verwysing na die Afrikaanse letterkunde tans oorwegend beperk tot geakkrediteerde artikels in vakwetenskaplike tydskrifte. P.J. en G.S. Nienaber ondersoek egter wel die dier-tema met verwysing na die Afrikaanse prosa in Die Afrikaanse dierverhaal (1962). Viljoen (2019) vermeld in haar bespreking oor verskyningsvorme van die hond in Breytenbach se latere poësie vanuit ‘n dierestudies-perspektief die volgende resente navorsingsbydraes oor dierestudies en/in die Afrikaanse letterkunde: Barendse (2016, 2017) se bydrae oor insekwording in Samsa-masjien asook ‘n kulturele entomologiese ondersoek na insekte in Siegfried (Willem Anker); Crous (2015) se bestudering van “Huiskat” deur Eybers asook sy studie oor die hadeda as liminale dier in Van Niekerk se Kaar (Crous, 2016); Meyer (2012) se publikasie oor Dwaalpoort en die rol van die wit hartbees, Mhlope; Smith (2014) se ondersoek na die nuwe materialisme met verwysing na In die bloute van Johann Lodewyk Marais; en Visagie en Van Heerden (2013) se analise van dieregestaltes in Van Wyk Louw se Raka en “Die swart luiperd”.
Die bovermelde spesiale uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde (Dogs in Southern African Literatures) bevat bydraes deur Gerda Taljaard oor die simboliese waarde van honde in die Afrikaanse letterkunde, Wemar Strydom oor kaniede trope in Eben Venter se Wolf-Wolf en Jacomien van Niekerk oor Jakkals-en-Wolfstories. Adéle Nel (2018) besin oor die mens-hondverhoudings in Op ‘n dag, ‘n hond (2016) van John Miles.
Johann Lodewyk Marais lewer veral ‘n waardevolle bydrae tot die studieterrein op akademiese én kreatiewe vlak. Sy proefskrif handel oor die wetenskaplike prosa van Eugène Marais en in die inleiding tot Ons klein en silwerige planeet (Marais & Zuiderent, 1998) getiteld “Natuur, omgewing en letterkunde” verskaf hy ‘n bruikbare oorsig oor Afrikaanse literêre tekste waarin die natuurlewe aan bod kom. In ‘n artikel oor NP van Wyk Louw se epos Raka (1941) en Gestaltes en diere (1942) argumenteer hy dat die tersaaklike gedigtekste ook as spesieverse deur ‘n dierestudielens gelees behoort te word, benewens die standaardvertolking van die spesie/s as blote simbole. Johann Lodewyk Marais se poësie-oeuvre, waar hy die Suid-Afrikaanse fauna en flora katalogiseer met talle spesieverse, is die onderwerp van Maree (2014) se verhandeling, Taksonomie, taksidermie en diorama: bewaring in die poësie van Johann Lodewyk Marais.
Verder kan genoem word die ongepubliseerde MA-verhandelings van Franzsen (2013) oor die omvang en funksionaliteit van voëlverwysings in die digkuns van D. J. Opperman; Roothman (2015) oor transkorporealiteit, kriptosoölogie en dieresiele in Kikoejoe, Die olifantjagters en Dwaalpoort; en Marx (2018) oor uiteenlopende visies op die diere in Kaar (Van Niekerk, 2013).
Tersaaklike Suid-Afrikaanse Engelse literêre tekste
Die verhale en gedigte hieronder het niemenslike diere, van walvisse tot insekte, as hooffigure:
Beukes, Lauren. 2010. Zoo City.
Cartwright, John. 2002. White Lightning.
Dixon, Isobel. 2011. The Tempest Prognosticator.
Duiker, K. Sello. 2006. The Hidden Star.
Fitzpatrick, Sir Percy. 1907 (1957). Jock of the Bushveld.
Heyns, Michiel. 2003. The Reluctant Passenger.
Landsman, Anne. 1998. The Devil’s Chimney.
Livingstone, Douglas. 1984. Selected Poems.
1991. A Littoral Zone.
Marais, Eugene M. 1969 (1974). The Soul of the Ape.
1939 (1956). My Friends the Baboons.
Mda, Zakes, 2000. The Heart of Redness.
2005. The Whale Caller.
Miller, Ruth. 1990. Poems Prose Plays.
Moffett, Helen and Diane Awerbuck. (eds.). 2015. Stray: An Anthology of Animal Stories and Poems.
Owen, Harry. 2013. (ed). For Rhino in a Shrinking World: An Anthology.
2017. The Cull: New and Resurrected Poems.
Poland, Marguerite. 2003. Recessional for Grace.
Rose-Innes, Henrietta 2011. Ninevah.
2015. Green Lion.
Mphalele, Es’kia. 1967 (1981). “Mrs Plum” in The Unbroken Song: Selected Writings, 216-261.
Mutwa, Credo. 1996. Isilwane The Animal: Tales and Fables of Africa.
Pinnock, Don. 2010. Rainmaker.
Van Niekerk, Marlene. 1999. Triomf. Vertaal deur Leon de Kock.
Woodward, Wendy. 2008. Love, Hades and Other Animals.
2015. A Saving Bannister.
Wylie, Dan. 2013. Slow Fires. With Roxandra Dardagan.
Tersaaklike Afrikaanse literêre tekste
Soos in die afdeling oor Suid-Afrikaanse Engelse tekste, sal hier oorwegend gekonsentreer word op tekste waarin die niemenslike dier uitgebeeld word as subjek met agentskap en gevoelsvermoë. Marais (1997:1-11) identifiseer in sy oorsig oor Afrikaanse literêre tekste waarin die natuur en dierelewe van Suid-Afrika voorkom, ‘n eerste fase met die opgetekende weergawes van verhale uit die orale tradisie van die Khoi-Khoi en Khoi-San deur Afrikaanse skrywers soos G. R. von Wielligh (Dierestories) en Eugène Marais (Dwaalstories). Laasgenoemde is veral bekend vir sy etologiese studies oor termiete (Die siel van die mier, 1934) en bobbejane (Burgers van die berge, 1938) asook The Soul of the Ape (wat postuum in 1969 verskyn het).
‘n Volgende fase dateer uit die era toe Afrikaans reeds as skryftaal gevestig is en sluit talle avontuur- en jagverhale in waarin die dier nie noodwendig altyd sentraal staan nie. In Schoonees se Die prosa van die Tweede Afrikaanse Beweging word daar in Hoofstuk VII (Die dierverhaal) ‘n oorsig verskaf oor die werk van Sangiro (skuilnaam van A.A. Pienaar), G.C. en S.B. Hobson, P. J. Schoeman en Eugène Marais. Kannemeyer (2005:92) sonder Sangiro uit vir sy “inlewing in die wêreld van die dier” waar laasgenoemde nie slegs as voorwerp vir die jag gesien word nie, maar as “persoonlikheid”. Schoonees (1939:430) verwys na Sangiro se “innige aanvoelingsgawe” vir diere en bestempel Uit oerwoud en vlakte (1921) – met sketse uit die Oos-Afrikaanse dierewêreld – as welsprekende aanklag teen menslike wreedheid waarin “die dier hoofsaak is en die mens bysaak”. Die jagters tree in ‘n teks soos Op safari (1924) weer op die voorgrond, maar ook hier praat Schoonees van Sangiro se verdieping in die “innerlike roersels van die viervoeters.”(1936:433). Uit sy pen verskyn ook Simba (1944) en Trekvoëls (1938; oor die gewoontes van migrerende voëls). Diereverhale deur die Hobson-broers (G.C. en S.B. Hobson) sluit onder meer in Kalahari-kaskenades (1929), Kees van die Kalahari (1929, oor bobbejane), Kloes (1929, jakkalse), Buks (1933, ratels), Vlam van die Bantomberge (1945; wildehonde) en Grys (1945, muishonde). Ook hier gebruik Schoonees die woord “aparte persoonlikheid” met verwysing na die Hobsons se uitbeelding van diere (1939:440). Die jagverhale van P.J. Schoeman, en veral sy jeugverhale soos byvoorbeeld die Fanie-reeks het betrekking: Fanie se veldskooldae (1948), Fanie word grootwildjagter (1950) en Fanie se vuurdoop (1961). Van sy bekendste jagverhale is Op die groot spore (1942), Op ver paaie (1949) en Waar ver winde waai (1957). Schoeman – etnoloog aan US en later hoofwildbewaarder in die destydse Suidwes-Afrika – verreken sy jagervarings en waarnemings van wilde diere in die outobiografiese tekste Uit die dagboek van ‘n wildbewaarder (1967), Van jagter tot wildliefhebber (1969) en Geliefde ou Afrika-vriende (twee dele in 1975 en 1976). Die kleinvolk van Afrika (1983) vestig veral die aandag op miere, visse en voëls (Kannemeyer, 1988:75).
Johann Botha se Groot vyf: spoor van ‘n dekade (1997) oorweeg eweneens teen ‘n ekologiese agtergrond diere en mense se plek binne die ekosisteem en verken kwessies soos natuurbewaring in vyf dele (getiteld Leeu, Luiperd, Renoster, Buffel en Olifant). Die eietydse wildernisskrywer, Christiaan Bakkes, se veldwagterstekste oor Stoffel – soos onder andere Stoffel in Afrika (2010), Krokodil aan my skouer: Stoffel toe en nou (2014) en Stoffel: die beste stories (2015) betrek bewaringsaspekte in die Krugerwildtuin en Namibië.
Jeugromans wat deur die prisma van dierestudies gelees kan word, sluit in verhale deur H.S. van Blerk soos Roman en Robyn: die verhaal van twee speurhonde (1968), Die tier van Ruigberg (1973) en Die edelvalk van Donkerkruin (1985). Ben Venter lewer ook ‘n bydrae tot die Afrikaanse dierverhaal met jeugtekste soos Waterbobbejaan: ‘n legende uit die bosveld van Marico (1968), Pels (1969, ‘n otter), Bubo (1970, ‘n gevlekte ooruil), Poana en sy ratel (1979), Malgas: oorlogsperd (1979) en Merzak: rebellieperd (1980). Ander bekende jeugverhale sluit in die Danda-tweeluik van Chris Barnard; Dolf van Niekerk se Skrik kom huis toe (1968) asook Pieter Pieterse se Silwer, jakkals van die Namib (1990), om maar enkeles te noem (vir ‘n volledige oorsig van Afrikaanse jeugtekste, sien Van der Westhuizen, 2015: 377-428).
Eitemal (W.J. du Preez Erlank) se Jaffie: ‘n eselsromannetjie (1953) en W.A. Hickey se Twee vir ‘n stuiwer (1965; oor ‘n mossiegesin) is emblematiese voorbeelde van ouer tekste waar niemenslike diere as personasies optree. Soos in die breë Afrikaanse jagliteratuur, word diere in die ouer Afrikaanse plaasromans eweneens op instrumentalistiese en perifere wyse uitgebeeld (byvoorbeeld ‘n perd wat getem moet word in Laat vrugte). Dis eers in ‘n latere plaasroman soos Dwaalpoort (Strachan, 2010) dat diere op die voorgrond tree en die wit hartbees, Mhlope, byvoorbeeld ‘n sentrale posisie as verteller beklee. Dié roman verruim die konvensies van die tradisionele plaasroman met verwysing na diere en bevat verwysings na jaghonde, beeste, poue, rotte, hoenderhane en duiwe.
Die oeuvre van Jeanne Goosen (‘n selferkende diereregte-aktivis) bevat meermale verwysings na die mens-dierverhouding en in ‘n Paw-paw vir my darling (Goosen, 2002) word die verhaal vertel vanuit die perspektief van Tsjaka, die hond van die Beeslaer-gesin. Haar novelle, Wie is Jan Hoender? (2001), is ‘n sleutelteks (met hoenders en hulle oppasser as hoofkarakters) vanuit ‘n dierestudiesperspektief. Die kortverhaal “Hoenders is tronkvoëls” (uit Straataf, 2001) handel spesifiek oor die lot van batteryhoenders en word deur Cochrane (2015a:804) beskou as voorstudie vir dié novelle. Wie is Jan Hoender? staan ook in die tradisie van die klassieke diereverhaal soos Watership down (Richard Adams, 1972), waarin die uitbeelding van diere onder andere kommentaar lewer op aspekte van die menslike kondisie. Cochrane (2015a:802-804) verwys na die volgende fasette wat in dié novelle tereg kom: die miskenning van diereregte, die komplekse verband tussen mens en dier asook die beperkinge van die menslike intellek om die diereryk volkome te verstaan.
Daar is reeds hierbo verwys na die navorsing van Woodward oor die honde Gerty en Toby in Marlene van Niekerk se Triomf (1994), asook Crous se publikasie oor Kaar (2013). Van Niekerk se titelverhaal “Die vrou wat haar verkyker vergeet het” (1992) in die gelyknamige bundel vertel op satiriese wyse die verhaal van ‘n vrou wat so obsessief raak om die tuinvoëls te voer dat sy haarself uiteindelik op die voertafel offer in ‘n poging om spesiegrense te oorskry ten einde sélf voël te word. Die interaksie met voëls bly ‘n belangrike troop in Van Niekerk se oeuvre (Van Vuuren 2015c: 922) en is ook die fokus van Marx (2018) se studie oor Kaar (2013). Van Vuuren (2015c: 946) verwys ook na die openingsverhaal in Die sneeuslaper; Verhale (2010) wat ‘n direkte toespeling bevat op die Elizabeth Costello-karakter van J.M. Coetzee.
Ingrid Winterbach se Darwinistiese wêreldbeskouing en natuurhistoriese ingesteldheid blyk uit haar ontginning van wetenskaplike bronmateriaal – iets wat romanmatig manifesteer in trope soos groei, metamorfose, transformasie, evolusie asook oorsprong, benoeming en uitsterwing van spesies (Lemmer, 2010). Haar karakters is dikwels wetenskaplikes: In Karolina Ferreira (1993) is die gelyknamige protagonis byvoorbeeld ‘n entomoloog wat ‘n navorsingsreis onderneem om die oorlewingstrategieë van ‘n ontwykende endemiese motspesie (Hebdomofruda crenilinea) te bestudeer. Ben Maritz – ‘n soöloog – lewer in Niggie (2002) ‘n omstrede lesing oor evolusie wat uiteindelik daartoe lei dat hy in ‘n skietvoorval sy stem verloor.
In Etienne van Heerden se oeuvre word daar oorwegend vir die “meerduidige simboliese waarde” (Rossouw, 2000) na diere verwys. ‘n Voorbeeld is die fiktiewe floubokspesie wat in Die stoetmeester (1993) spesifiek geteel word om flou te val by die geringste teken van enige bedreiging. Dié bok word aan boere verkoop om saam met hulle kuddes te loop en as “offerbok” op te tree wanneer die roofdiere toeslaan. Kikoejoe (1996) handel oor ‘n hibriede figuur of kriptied wat die plaasbewoners teister en is gebaseer op ‘n Xhosa-mite (Roothman, 2015). Die roman In stede van die liefde (2005) betrek die wedvlugduifindustrie in Matjiesfontein.
Piet van Rooyen se Akwarius (2005) is ‘n dierenarratief wat handel oor die deprogrammering van oorlogsdolfyne wat in die Koue Oorlog deur Rusland en die VSA vir sabotasieaktiwiteite gebruik is. Die empatiese houding van die dieresielkundige Anton Dreyer word gestel teenoor dié van Boris Edelweiss, wat die dolfyne bloot as verhandelbare kommoditeit beskou. Die geaardheid van elke individuele dolfyn word op antropomorfistiese wyse deur die romankarakter Sasja beskryf as onder meer melancholies, wys, koppig, speels en iesegrimmig (Van Rooyen, 2005:25-27). Die konsep “dieresiele” word verder deur Roothman (2015: 43-44; 129-136) verken met verwysing na Van Rooyen se Die olifantjagters (1997).
In die inleiding tot Loots en Van Wyk se Die nuwe Afrikaanse prosaboek (2019:13) word die opbloei in die belangstelling rondom mens-dier-verhoudings voorgehou as verduideliking vir die insluiting van ‘n afdeling met kortverhale waarin diere “teikens, klankborde of simbole raak van menslike woede en teerheid”. Die afdeling word geopen met Jan Rabie se “La promenade en chien” waarin die vrou se objektivering van haar honde blyk uit die feit dat sy telkens net die hond wat by die kleur van haar uitrusting pas, kies om mee te gaan stap.
Dit is haas onmoontlik om ‘n indeks te verskaf van die talle Afrikaanse gedigte waarin diere uitgebeeld word, maar dié uitbeeldings is dikwels metafories, eerder as om die mens te desentraliseer en die beliggaamde dier voorop te stel. J.C. Steyn (1989:809) bestempel N.P. van Wyk Louw se “Svend Foyn het die harpoenkanon bedink” uit Tristia (1952) – met die tweestemmigheid van die antroposentris en die radikale ekoloog – as een van die eerste “ekologiese gedigte” in Afrikaans. “Ballade van die bloeddorstige jagter” deur G.A. Watermeyer (Sekel en simbaal, 1948) tree egter al vroeër toe tot die omgewingsdiskoers en neem die vorm aan van ‘n verhoor waarin die jagter teregstaan op klagtes deur ‘n koor van verminkte diere.
Louw se Gestaltes en diere (1942) asook sy epos Raka (1941) is reeds in 2006 (Marais) en 2013 (Visagie en Van Heerden) in oënskou geneem. Crous (2017) fokus ook in sy Van Wyk Louw-gedenklesing op Louw se “bestiarium”. Marais (2020) lewer repliek op vorige lesings van Louw se poësie wanneer hy argumenteer dat veral die latere werk met vrug deur ‘n dierestudielens gelees kan word asof die dier as beliggaamde spesie teenwoordig is – en nie slegs as ‘n gestalte met simboliese waarde nie.
Die subgenre van die spesievers, alhoewel dit al lank in die Afrikaanse digkuns beoefen word, is relatief onlangs eers deur Lemmer (2012) benoem en verwys na verse wat die voorkoms, habitat, roepgeluide en gedrag van die betrokke spesie beskryf (baie soos wat dit op die inligtingskatalogus in ‘n museum sou voorkom), maar waar die informatiewe klassifikasiefunksie suksesvol verruim word met verrassende poëtiese ingrepe. Alhoewel spesieverse onder andere ook deur Johann de Lange, Ina Rousseau, Wilma Stockenström en Marlene van Niekerk (sien hierbo) beoefen word, staan die oeuvre van Johann Lodewyk Marais hier uit vanweë die omvangryke en volgehoue katalogisering van spesie in bundels/bundelafdelings wat in die geheel gewy word aan sekere diersoorte: Aves (voëls), In die bloute (oor seediere), Diorama (soogdiere en voëls), Insektarium (insekte), ensovoorts. Piet van Rooyen wy sy digbundel Reisiger te perd (2013) ten volle aan perde en Lina Spies, wat meerdere gedigte oor katte geskryf het, is die samesteller van ‘n bundel Majesteit, die kat en ander verhale (1989).
Die wins van ‘n nuwe transdissiplinêre benadering is onder meer dat die verse van D.J. Opperman, Ernst van Heerden en Breyten Breytenbach (om maar enkeles te noem) nou ook binne die raamwerk van dierestudies heroorweeg kan word (sien Viljoen met verwysing na laasgenoemde).
Gevolgtrekking
‘n Lesing van The Story of an African Farm wat rekenskap gee van Olive Schreiner se voorstelling van Doss, die wit hond met die geel oor, as ‘n betekenisvolle karakter in die lewens van Waldo en Lyndall – asook die reaksies van Doss en die ander honde teenoor Lyndall – is ‘n veelkantiger verhaal. ‘n Lesing van Marlene van Niekerk se Triomf wat die helende teenwoordigheid van honde in die lewens van gekwelde mense (soos Mol Benade) erken, verruim die narratief.
Die fokus op niemenslike diere in die literêre teks kan ‘n interpretasie van die narratief en die narratiewe strategieë daarbinne wesenlik beïnvloed. Dierestudies daag dus die leser uit om die uitbeelding van niemenslike diere in die teks ernstig te oorweeg, eerder as om hulle bloot tot agtergrond te reduseer; om tekens van diere te léés eerder as om die niemenslike te allegoriseer; om diere-etiek en -filosofie te inkorporeer; selfs om ontvanklik te wees vir ‘n ontologiese skuif in die leser sélf.
Wendy Woodward en Erika Lemmer
Bibliografie
Barendse, Joan-Marié. 2016. Die “grense van menswees” en insekwording in Willem Anker se Samsa-masjien (2015). LitNet Akademies 13(3):1-25.https://www.litnet.co.za/wp- content/uploads/2016/12/LitNet_Akademies_13-3_Barendse_1-25.pdf.
Barendse, Joan-Marié. 2017. ‘n Kulturele entomologiese ondersoek na insekte in Willem Anker se Siegfried. Tydskrif vir Letterkunde 54 (2):74-85.
Coetzee, J.M. 1999. The Lives of Animals. Ed. and introduced by Amy Gutmann. Princeton: Princeton University Press.
2000. Disgrace. London: Vintage.
Cochrane, N. 2015a. Jeannne Goosen (oeuvre 2001 – 2010). In Van Coller, H.P (red.) 2015a. Tweede uitgawe. Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1. Pretoria: Van Schaik: 802-813.
Copeland, Marion and Ken Shapiro. 2005. Towards a Critical Theory of Animal Issues in Fiction. Society and Animals (13) 4:343-346.
Crous, Marius. 2015. “Sonder siel en anoniem”: Elisabeth Eybers se “Huiskat” in die konteks van dierestudies. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 55 (3), September: 373 – 386.
2016. Die hadeda as liminale dier in Kaar van Marlene van Niekerk. LitNet Akademies 13 (1), Mei: 209 – 231.
2017. N.P. van Wyk Louw se bestiarium. N.P. van Wyk Louw-gedenklesing gelewer op 14 September, Universiteit van Johannesburg.
Derrida, Jacques. 2008. The Animal that Therefore I Am. Ed. Marie-Louise Mallet. Trans David Will. Perspectives in Continental Philosophy. New York: Fordham University Press.
Galloway, F (red.). 2018. Breyten Breytenbach: Woordenaar, woordnar – ‘n huldiging. Pretoria: Protea Boekhuis.
Kannemeyer, J. 1988. Die Afrikaanse literatuur 1652-1987. Pretoria & Kaapstad: Academica.
Kannemeyer, J. 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652-2004. Kaapstad: Human & Rousseau.
Lemmer, Erika.2007. Ed. Special Issue. Journal of Literary Studies: Ecocriticism/Ekokritiek. (23) 3
Lemmer, Erika. 2010. Ingrid Winterbach, ‘n derde kultuur en die Neo-Victoriaanse verteltradisie (1984-2006). Ongepubliseerde proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.
Lemmer, Erika. 2012. Resensie. Diorama: gedigte (Johann Lodewyk Marais). Tydskrif vir Letterkunde 49(1). http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v49i1.20.
Maree, Linda. 2014. Taksonomie, taksidermie en diorama: bewaring in die poësie van Johann Lodewyk Marais. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika.
Marais, Johann Lodewyk. 2001. ‘n Ondersoek na die aard van en opvattings oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa. Ongepubliseerde proefskrif, Universiteit van Pretoria.
Marais, Johann Lodewyk. 2006. NP van Wyk Louw: Natuur, landskap en omgewing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 46 (3), September: 291-305.
Marais, Johann Lodewyk. 2020. NP van Wyk Louw se diere en gestaltes herbesoek. ‘n Ekokritiese lesing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 60 (2), Junie: 434 – 449.
Marx, Anelda. 2018. Uiteenlopende visies op diere in Marlene van Niekerk se Kaar (2013). Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch.
Meyer, Susan. 2012. Stemme van agter die plaashek: Die mens-natuur-“gesprek” in Dwaalooort van Alexander Strachan. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 52 (2): 290 – 306.
Moolla, F. Fiona. Ed. 2016. Natures of Africa: Ecocriticism and Animal Studies in Contemporary Cultural Forms. Johannesburg: Wits University Press.
Murphy. Patrick D. 2000. Farther Afield in the Study of Nature-Oriented Literature. Charlottesville, VA: University Press of Virginia.
Ndebele, Njabulo S. 2007. The Year of the Dog: A Journey of the Imagination. In: Fine Lines from the Box: Further Thoughts about our Country. Roggebaai: Umuzi. 251-256.
Nel, Adéle. 2018. Die politiek van die mens-hondverhouding in Op ‘n dag, ‘n hond van John Miles. Literator 39 (1).https://doi.org/10.4102/lit.v39i1.1427.
Nienaber, P.J. & S.G. 1962. Die Afrikaanse dierverhaal. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Pick, Anat. 2011. Creaturely poetics: Animality and Vulnerability in Literature and Film. New York: Columbia University Press.
Pickover, Michele. 2005. Animal Rights in South Africa. Cape Town: Double Storey.
Roothman, Linda. 205. Transliggaamlikheid, kriptosoölogie en dieresiele in Kikoejoe (Etienne van Heerden, 1996), Die olifantjagters (Piet van Rooyen, 1997) en Dwaalpoort (Alexander Strachan, 2010). Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika.
Price, Jason D. 2017. Animals and Desire in South African Fiction: Biopolitics and the Resistance to Colonialism. Palgrave Studies in Animal and Literature. Cham, Switzerland: Palgrave Macmillan.
Regan, Tom. 1983. The Case for Animal Rights. London: Routledge and Kegan Paul.
Schoonees, P.C. 1939 (derde druk). Die prosa van die Tweede Afrikaanse beweging. https://dbnl.org/tekst/scho120pros02_01/scho120pros02_01_0015.php.
Singer, Peter. 1995. Animal Liberation. London: Pimlico.
Smith, S. 2014. Ekokritiek en die nuwe materialisme. ‘n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012). LitNet Akademies 11(2):749-774. http://litnet.co.za/assets/pdf/joernaaluitgawe_11_2/11_2_Smith.pdf.
Steyn, J.C. 2000. Van Wyk Louw: ‘n Lewensverhaal (Deel 2). Kaapstad: Tafelberg.
Strydom, W. 2018. On queerly reading canid tropes in Eben Venter’s Wolf, Wolf. Tydskrif vir Letterkunde 55 (3): 106-120.
Taljaard, G. 2018. Symbolic values of the dog in Afrikaans literature. Tydskrif vir Letterkunde 55 (3): 61-79.
Van Coller, H.P (red.) 2015a. Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. 2de uitg. Deel 1. Pretoria: Van Schaik.
Van Coller, H.P (red.) 2015b. Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. 2de uitg. Deel 2. Pretoria: Van Schaik.
Van Coller, H.P (red.) 2015c. Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. 2de uitg. Deel 3. Pretoria: Van Schaik.
Van der Westhuizen, B. 2015. Perspektief op kinder- en jeugliteratuur. In Van Coller, H.P (red.) 2015b. Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. Pretoria: Van Schaik.
Van Vuuren, H. 2015c. Marlene van Niekerk. In Van Coller, H.P (red.) 2015c. Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3. Pretoria: Van Schaik: 919- 953.
Van Vuuren, H. 2015c. Piet van Rooyen. In Van Coller, H.P (red.) 2015c. Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 3. Pretoria: Van Schaik: 954 – 975.
Viljoen, L. 2019. Hoofstuk 5. “hand my hond”: ‘n Dierestudies-perspektief op verskyningsvorme van die hond in Breyten Breytenbach se latere poësie. In Galloway, F (red.) Breyten Breytenbach: Woordenaar, woordnar – ‘n huldiging. Pretoria: Protea Boekhuis.
Visagie, Andries. 2013. Pasmaatspesies, niemenslike diere en die omgewing: gedagtes oor die postkoloniale ekokritiek in Suid-Afrika. LitNet. Webseminaar: http://www.litnet.co.za/Article/pasmaatspesies-niemenslike-diere-en-die-omgewing-gedagtes-oor-die-postkoloniale-ekokritiek. Toegang: 15 Oktober 2021.
Visagie, Andries en Van Heerden, Neil. 2013. Twee dieregestaltes by N.P. van Wyk Louw: Raka en “Die swart luiperd”. Tydskrif vir Letterkunde, 50 (3): 106-120.
Wittenberg, Hermann. 2013. Ed Special Issue. Alternation: Interdisciplinary Journal for the Study of the Arts and Humanities in Southern Africa. Coastlines and Littoral Zones in South African Ecocritical Writing. 6
Wolfe, Cary. 2010. What is Posthumanism? Posthumanities 8. Minneapolis: University of Minnesota Press.
Woodward, Wendy. 2008. The Animal Gaze: Animal Subjectivities in Southern African Narratives. Johannesburg: Wits University Press.
Woodward, Wendy and Erika Lemmer. 2014. Eds Special Issue. Journal of Literary Studies: Figuring the Animal in Post-Apartheid South Africa. (30)4.
Woodward, Wendy and Susan McHugh. 2017. Eds. Indigenous Creatures, Native Knowledges, and the Arts: Animal Studies in Modern Worlds. Palgrave Studies in Animal and Literature. Cham, Switzerland: Palgrave Macmillan.
Wylie, Dan. 2006. Ed Special Issue. 2006. Current Writing: Text and Reception in Southern Africa: Animal Presences, Animal Geographies. (18)1.
2018. Death and Compassion: The Elephant in Southern African Literature. Johannesburg: Wits University Press.
Wylie, Dan and Joan-Mari Barendse.2018. Eds Special Issue. Tydskrif vir Letterkunde: Dogs in Southern African Literatures. (55) 3.