Fallosentrisme plaas die fallus (die manlike geslagsorgaan) sentraal, en daarmee saam word die manlike geslag as superieur beskou. Fallologosentrisme is ’n nuutskepping van Jacques Derrida en is ’n kombinasie van fallosentriese en logosentriese denke en is krities teenoor die bevoorregting van manlike oorheersing in die filosofie en die letterkunde. Ons konseptuele wêreld is grotendeels logosentries, aangesien spraak bevoorreg word bo skrif, omdat spraak nader is aan die sprekende subjek. Klages (2012: 50) meen dat die gesproke woord dien as “guarantor of presence and identity”. Vir Derrida is die logos as gesproke woord die basis van die Westerse filosofie. Die fallus figureer as meesterbetekenaar binne hierdie tradisie.
Die term fallosentries is vir die eerste keer deur Ernest Jones (1933) gebruik in reaksie op Freud se opvattinge oor vroulike seksualiteit, en spesifiek die sentrale rol wat die gebrek aan ’n fallus speel. Jones is veral krities oor Freud se siening dat vroue ’n weersin ontwikkel in hulle eie geslagsorgane. Oorspronklik is die fallus hoofsaaklik gebruik om na die manlike geslagsorgaan te verwys, maar Lacan (2005) koppel dit simbolies aan manlike mag en beskou dit as verteenwoordigend van die Wet van die Vader. Laasgenoemde verwys volgens Lacan na die wyse waarop die kind die patriargale kultuur betree en besef hy is nie meer die falliese objek van begeerte vir die moeder nie:
The phallus is a signifier, a signifier whose function, in the intrasubjective economy of analysis, may lift the veil from the function it served in the mysteries. For it is the signifier that is destined to designate meaning effects as a whole, insofar as the signifier conditions them by its presence as signifier (Lacan, 2005: 579).
Volgens Freud is daar die vyf fases van seksuele ontwikkeling by jong kinders, onder meer die falliese fase. Terwyl seuns gekonfronteer word met die Oidipuskompleks, word die falliese fase vir meisies gekenmerk deur penisnyd. Hy gaan selfs so ver om van “organic inferiority” te praat (Freud, 1965:232). Tydens hierdie fase is seuns die draers van die fallus en meisies ervaar intense gemis.
Jones (1933) se kritiek op die falliese fase berus op die volgende: net een seksorgaan word as primêr vir albei geslagte beskou, naamlik die manlike; die samelewing word dus verdeel in ‘n “penis-possessing class and the castrated class” (1933:2). Hierdie aanname vorm die grondslag van verdere kritiek op fallosentrisme deur veral eietydse feministiese teoretici.
Naas Jones het Karen Homey (1933, 1973) en Melanie Klein (1945) ook die fallosentriese aard van die Oedipuskompleks gekritiseer.
Alhoewel Lacan falliese manlike gesag ondermyn deur krities te wees oor falliese identiteit, neem hy, nes Freud, nie vroulike seksualiteit in ag nie. Rine (2020) meen dat sommige feministiese teoretici Lacaniaanse psigoanalise as vertrekpunt neem vir die lokalisering van en kritiseer van manlike bevoorregting, terwyl andere weer sy opvattings as fallosentries beskou. Luce Irigaray praat van “this phallologo-patricentric logic,” om die fallosentriese blik op vroulike seksualiteit te verwoord Sy meen vroue word ontneem van hul eie begeerte, of soos Irigaray dit verwoord, “the girl is shunned or is cast out of a primary metaphorization of her desire as a woman, and she becomes inscribed into the phallic metaphors of the small male,” (Irigaray, 1991: 351-352). (Kyk ook Post-Freudiaanse psigoanalise en literatuur.)
Alhoewel Judith Butler (1993) meen dat die fallus ‘n versinsel is, vind sy dit ’n nuttige teoretiese konsep. Volgens haar moet die misogiene aanspraak op betekenis deur die man ondermyn word en daar moet aangedring word op “the transferability of the phallus”. Butler (1999) reapproprieer die fallus en in ‘n poging om die bevoorregte posisie van die fallus as betekenaar te bevraagteken, kom sy met die lesbiese fallus vorendag. Nie net word die mangesentreerde basis van die fallus ondermyn nie, maar ook die heteronormatiewe assosiasie met die fallus.
Hélène Cixous meen dat die fallus berus op die binêre opposisie: hy het/ sy het ‘n gebrek aan. Fallosentrisme impliseer volgens Cixous dat die man weet hy is die belangrikste/ oppermagtigste in die geskiedenis, samelewing en die produksie van kennis. Cixous (1986) sluit aan by Derrida (1976), wat die konsepte fallus en logos kombineer in fallogosentrisme. Dekonstruksie staan krities teenoor die bevoorregting van logos of die rede. Derrida (in Rine, 2010) verwerp die nosie van ‘n enkele oorsprong of betekenis van die fallus en beskryf fallogosentrisme as ‘n reeks van interverbonde binêre oppossies wat die manlike term bo die vroulike term bevorder.
Die fallus word altyd vooropgestel in die produksie van betekenis en fallogosentrisme is die wyse waarop logosentrisme gemerk word deur ‘n patriargale gesteldheid op gender. Omdat die man nader staan aan die fallus, kan hy makliker daarmee identifiseer en in die taal word hy bestempel as die self, en die vrou as die objek of gemarginaliseerde ander. In Johann de Lange se gay gedigte word die fallus vooropgestel om die skakel tussen begeerte, seksualiteit en die digkuns te ver-taal. Hambidge (2009: 30) beskryf die fallogosentriese inslag van De Lange se werk soos volg:
Die verse in Nagsweet skryf teen die gevestigde norme van die Afrikaanse digkuns in. Dit onthul ‘n bepaalde genderdiskoers wat buite die ervaringsfeer van die meeste lesers lê. Juis hierom kan dit aandag trek gewoon net om die skokwaarde. De Lange aktiveer egter ook ‘n sterk digterlike diskoers wat gender-polities werk. Dit is egter die genderdiskoers wat eerste die aandag trek: die gebruik van kru, manlike taal; seksuele aksies in toilette, en so meer. Dit is gedigte wat dus die genderpolitiek voorop wil stel, soos wat pornografie in die eerste instansie die liggaam as seksuele objek wil beklemtoon. (my kursivering).
In teenstelling ondermyn verskeie gedigte uit Antjie Krog se Verweerskrif (2006) fallogosentrisme. ‘n Sprekende voorbeeld is die gedig “Man ek lus ‘n twakkie”. In hierdie gedig word genoem dat “als fokken draai om die maintenance van piel”, wat pertinent die maskuliene verheerliking van die fallus as meesterbetekenaar beskryf.
Alhoewel Gayatri Chakravorty Spivak (1997) bekend is vir haar gebruik van dekonstruksie, is sy krities teenoor wat sy Derrida se fallosentriese inslag noem. Derrida se eie kritiek op fallosentrisme som sy soos volg op: “the patronymic, in spite of all the empirical details of the generation gap, keeps the transcendental ego of the dynasty identical in the eye of the law.” (Spivak, 1997: 169). Die gevolg is dat die fallus steeds voorkeur geniet as die vernaamste bron van produksie en betekenis. Spivak is egter van mening dat Derrida se kommentaar op Nietzsche en Freud, veral met betrekking tot “woman”, neerkom op ‘n marginalisering van die vroulike. Derrida se fallosentrisme kom neer op dubbele verplasing (“double displacement”) wanneer hy oënskynlik vroulike voorstellings met tradisioneel manlikes vervang. Derrida herskryf ook die skryfdaad metafories in terme van seksualiteit, soos Spivak illustreer aan die hand van Derrida se gebruik van die himen as metafoor in sy lesing van Mallarmé, alhoewel die begeerte van die vrou nie ingeskryf word in die diskoers nie (Spivak, 1997:174).
Ook Derrida se gebruik van dissemination illustreer sy fallosentriese perspektief, veral aangesien die woord ’n verwantskap toon tussen die verspilling van semantiese betekenis en semen. Dit impliseer ’n verspreiding van semen. Derrida wys selfs op die nabye verwantskap tussen seem en semen.
Fallosentrisme figureer in verskeie Afrikaanse ondersoeke wat die relevansie van die term beklemtoon. Jordaan (1992: 58) verduidelik sy gebruik van die term soos volg in ‘n bespreking van ‘n reeks Afrikaanse gedigte: “Die term fallosentrisme word in hierdie artikel inklusief gebruik om ’n perspektief te beskryf wat manlike seksualiteit as ideologiese oriënteringskern het. Manlik word inklusief geïnterpreteer en sluit nie gay mans uit nie.” Vermeulen (1992) wys hoe die verlies aan falliese mag en viriliteit ‘n rol speel in die manlike hoofkarakter van Die koggelaar (Pieter Fourie) se lewe. Die seun en erfgenaam word egter geassosieer met falliese potensie en is derhalwe ‘n bedreiging vir beide Boet en Ben in die toneelstuk.
Viljoen (1998) dui in sy bespreking van een van De Waal Venter se verhale aan in watter mate daar sprake is van ’n “fallogosentriese diskoers van karre” in die verhaal, waarvolgens sekere luukse sportmotors as voorbeelde van fallusse beskou word. Die fallologosentriese diskoers oor indringing en penetrering (gekoppel aan die lans) word ook blootgestel aan die korrektief van die Bakthiniaanse gelag.
Botes (1998) ondersoek fallosentrisme in Suid-Afrikaanse fotoverhale en fokus op die dominansie van die wit patriarg as heldfiguur. Die held kom te staan teenoor die ander, in die vorm van verleidelike vroue, vroue in gevaar en swart mans wat sy bestaan bedreig. In Visagie (1999) se bespreking van die representasie van die vroulike liggaam by Riana Scheepers en Antjie Krog dui hy byvoorbeeld aan dat daar by Krog sprake is van ‘n falliese diskoers, wat hy interpreteer as “’n voorlopige onselfstandigheid van die vroulike.”
Stander (2013) ondersoek die “tekstuele konstruksie van vroulikheid” in Brink se romans en toon aan dat alhoewel Brink ten gunste is van post-strukturalistiese teorie hy steeds vrouekarakters vanuit ’n fallogosentriese invalshoek skep. Manlike karakters word fallies gemerk, terwyl die vrou beskryf word as spontaan en nie so ingestel op verowering soos die man nie.
Bibi Burger (2014:453) se analise van Lettie Viljoen / Ingrid Winterbach se vroeëre werk illustreer hoe die outeur teen logo- en fallosentriese norme inskryf, ten gunste van ‘n feministiese narratiewe struktuur. Kotzé (2019:105) ondersoek die selfondermynende aard van Deleuze en Guattari se teorie en voer aan dat hulle deurentyd die fallosentriese tradisie probeer verwerp, maar nie daarin slaag nie: “Ten spyte van noemenswaardige teoretiese pogings om van hul biologiese gegewe af weg te skram en die manlike saam met ander ongewenstes hoofsaaklik op die periferie te plaas, bly hul wordende-vrouteorie en hul beslaglegging van die vroueliggaam problematies.”
Relevant met die oog op manlikheidsstudies in die Afrikaanse letterkunde is Macleod (2007) se sienswyse dat manlikheidsstudies as fallosentries beskou kan word, veral indien die konsep manlikheid nooit werklik bevraagteken word nie, maar aanspraak gemaak word op manlikhede of veelvuldige voorstellings van manlikheid.
Marius Crous
BIBLIOGRAFIE
Botes, C. 1998. Fallosentrisme in Suid-Afrikaanse Fotoverhale: ‘n Ondersoek in geslag en ras as stelsels van dominansie. MA-verhandeling. Universiteit van Stellenbosch.
Braidotti, R. 1991. The becoming-woman of philosophy. In: Patterns of dissonance. Cambridge: Polity Press, pp 98-146.
Burger, B. 2014. Die problematiek en potensiaal van die huishoudelike ruimte in Klaaglied vir Koos (1984) deur Lettie Viljoen. Litnet Akademies 11(3):430-458.
Butler, J. 1993. Bodies that Matter: On the Discursive Limits of “Sex.” Abingdon: Routledge.
___. 1999. Gender Trouble: Feminism and the Subversion of Identity. Abingdon: Routledge.
Cixous, H. 1986. (1975). Sorties. In Cixous, H. and Clément, C. The Newly Born Woman (trans. Wing, B. ). University of Minnesota Press Minneapolis.
Creed, Barbara. 1990. Phallic panic: male hysteria and Dead Ringers. Screen, 31:125-147.
Derrida, J. 1976. Of Grammatology. Maryland: The Johns Hopkins University Press.
___. 1978. Writing and Difference. Chicago: The University of Chicago Press.
___.1981. Dissemination. Chicago: The University of Chicago Press.
Freud, S. (1965)(1932). Femininity. In New Introductory Lectures on Psycho-Analysis (ed. Strachey, J. ). Norton New York.
Hambidge, J. 2009. Die digkuns van Johann de Lange met spesifieke verwysing na Nagsweet. Litnet-Akademies 6(1):21-41.
Horney, K. 1933. The denial of the vagina. International journal of psycho-analysis 14(3):57-70.
___. 1973. Feminine psychology. New York: Norton.
Irigaray, L. 1991. From Speculum of the Other Women. trans. Gillian C. Gill, Literary Debate: Texts and contexts: Postwar French Thought Volume II, Series editor, Romana Naddaff, the New Press, New York.
Jones, E. 1933. The phallic phase. International journal of psycho-analysis 14(1):1-33.
Jordaan, D. 1992. Fallosentrisme, feminisme en die lesbiese paradoks: Chauvinisties-getinte aantekeninge oor die erotiek in die jongere Afrikaanse poësie, Literator 13(2):55-68.
Klages, M. 2012. Key terms in literary theory. London: Continuum.
Klein, M. 1975. The Oedipus complex in the light of early anxieties. Writings of Melanie Klein 1921-1945. Volume 1, Deel 21. Londen: Hogarth, pp. 370-419.
Kotzé, E. 2019. ‘n Skisoanalitiese studie van Willem Anker en Samsa-masjien (2015). MA-verhandeling. Universiteit van Kaapstad.
Lacan, J. 2005. Écrits: the first complete edition in English. New York: W W Norton & Company.
Macleod, C. 2007. The risk of phallocentrism in masculinities studies: how a revision of the concept of patriarchy might help. Psychology in society 35:4-14
Ogunyemi, C.B. 2019. Phallocentrism versus Feminism A (Re)-Conceptualisation of Afrocentrism in African Subjectivity. Africa Insight 49(1):112-121.
Oh, J.S. 2005. A Study of Kristeva and Irigaray’s Critiques on Phallogocentrism: An Interdisciplinary Research of Theology and Psychoanalysis. Cerebration.
Rine, A. 2010.“Phallus/Phallocentrism“. Faculty Publications – Department of English. 76. https://digitalcommons.georgefox.edu/eng_fac/76. Geraadpleeg: 19 Augustus 2021.
Spivak, G. C. 1997. Displacement and the discourse of woman. In Holland, N. (ed.), Feminist Interpretations of Jacques Derrida. Pennsylvania State University Press University Park, pp. 43-71.
Stander C. 1998. Perversie as betekenisskandaal: ’n literêre ondersoek na die inskrywing van lesbiese subjektiwiteit as metafoor van kontestasie in fallogosentriese tekensisteme. D.Phil.-proefskrif, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville.
Stander, C. 2013. Fallogosentriese konstruksie van vroulikheid in die pre-postmodernistiese Brink-oeuvre. In: Burger, W.D. en Szczurek, K.M. (eds.) Contrary: Critical Responses to the Novels of André Brink. Pretoria: Protea.
Vermeulen, H.J. 1992. Die spel van die falliese, konstratiewe en farmakoniese in Pieter Fourie se “Die Koggelaar”. Tydskrif vir literatuurwetenskap 8(1/2):22-32.
Viljoen, H. 1998. Membraan, dialoog, lans – Bakhtin/Venter. Literator 19(3):139-150.
Visagie, A. 1999. Subjektiwiteit en vroulike liggaamlikheid in enkele tekste van Riana Scheepers en Antjie Krog. Literator 20(2):107-121.