(Gepubliseer November 2022)
Die stadsage (Eng. urban legend) is ‘n (aanvanklik) mondeling oorgedraagde volksvertelling in moderne vorm. Daar bestaan verskeie ander benamings vir hierdie moderne vorm, o.a. “stadsmite”, “stadsvertelling” of “kontemporêre legende”. Die stadsage vorm deel van die moderne folklore. Dit verskil van ‘n legende wat gewoonlik fokus op die lewe en dade van ‘n heilige en, by uitbreiding, op ‘n prominente figuur rondom wie allerlei niehistoriese elemente aangegroei het.
Die term “urban legend” word reeds geruime tyd deur folkloriste gebruik, maar het eers teen ongeveer 1968 in publikasies begin verskyn. Jan Harold Brunvand, hoogleraar in Engels aan die Universiteit van Utah, het die term die gangbaar gemaak in die reeks gewilde boeke wat hy in 1981 begin publiseer het. Hierdie versameling stadsages staan bekend as The Vanishing Hitchhiker: American Urban Legends & Their Meanings.1 In hierdie boeke verduidelik Brunvan twee beginsels: legendes en folklore behoort nie eksklusief tot die sg. primitiewe of tradisionele gemeenskappe nie, en ‘n mens kan baie wys word oor stedelike en moderne kulture deur stadsages te bestudeer.
Tangherlini (1990) noem hierdie soort narratiewe “kontemporêre legendes” of “moderne legendes”. Die term “modern” impliseer dat daar ‘n skeiding tussen hierdie sages en die vroeër tradisionele sages of legendes is. Die term “stad” beteken dat hierdie sages verwyderd is van hulle plattelandse eweknieë. Daar is selfs ‘n denkrigting wat sê dat die moderne stadsage ‘n afsonderlike genre is, want elemente soos die karakters (die skelms, die helde en die slagoffers) verskil hemelsbreed van dié van die tradisionele legende of sage. Verder meen voorstanders van hierdie denkrigting dat “stad” nie na ‘n spesifieke geografiese gebied verwys nie, maar dat dit eerder ‘n sosio-psigologiese ingesteldheid verwys. Hulle meen ook dat die moderne sage ‘n narratiewe vorm is wat dikwels met ‘n mate van vertellersafstand vertel word — hierdie snaakse, nare, vreesaanjaende voorval het met iemand anders gebeur, maar nooit met jou nie. Stadsages is dikwels pogings om die eietydse angs vir rampe, bisarre ongelukke, misdaad, die wetenskap, moderne tegnologie en buiteaardse wesens te besweer.
Patrick Mullen (1972: 95) se benadering stem hiermee ooreen, want hy redeneer ook dat moderne industriële gebiede stadsgeoriënteerd is, al is hulle fisies op die platteland geleë. Nogtans, sê hy, moet ‘n mens in gedagte hou dat sommige sages beslis op ‘n stedelike gebied van toepassings is terwyl ander in die algemeen op ‘n ander gebied betrekking het: “Thus, only some modern legends are urban; others are rural, collegiate, or regional.” Mullen beskou “modern” as ‘n generiese term wat op al die gebiede van toepassing is waarin ‘n mens stadsages aantref omdat hulle almal in “contemporary oral circulation” (p. 95) is. (Mullen laat buite rekening dat die stadsage nie uitsluitlik tot die orale tradisie behoort nie.)
Volgens ander is die term “moderne stadsage” ‘n lomp en onvanpaste benaming, omdat die terrein van volksverhale reeds oorlaai is met terme soos legende, mite, sage, historiese sage en sprokie. Hierdie groep verkies die term “kontemporêre sage”. Die voordeel van lg. term is dat dit die sage benoem volgens die plek wat dit in ‘n gegewe stadium in ‘n tradisie inneem.
In Nederland word stadsages “broodjeaapverhalen” genoem, na aanleiding van Ethel Portnoy se bundel stadsages, getitel Broodje Aap: de folklore van de post-industriële samenleving (1978). Die titel is ontleen aan die verhaal dat ‘n mens by ‘n sekere restaurant ‘n aapvleistoebroodjie kan bestel (Wikipedia).
Stadsages word oraal sowel as skriftelik versprei. Mense vertel bv. rondom die teetafel so ‘n sage vir mekaar. Terug op kantoor vind jy die verhaal in jou e-pos, of jy kry dit op papiertjies geskryf en op die kennisgewingbord vasgesteek — heel waarskynlik in die kerk se voorportaal. Stadsages kan met ander woorde deur enige medium versprei word, insluitend koerante, tydskrifte, e-pos, die sosiale media en die Internet.
Dikwels word besonderhede bygevoeg, uitgelaat of aangepas namate elke verteller die narratief in sy vriendekring of kring van kennisse vertel. Die gevolg is dat die oorspronklike vertelling gelyktydig in ‘n paar vorme kan bestaan met besonderhede wat van verteller tot verteller verander. Party van hierdie vertellings is geneig om te lokaliseer: ‘n paar besonderhede word verander sodat die verhaal wat aanvanklik bv. in Mariental plaasgevind het, skielik na Windhoek toe ‘verhuis’ het. Dink net wat met so ‘n sage kan gebeur as hy die landsgrense verlaat! Talle humoristiese stadsages of grappe begin as vertellings oor ‘n spesifieke persoon, maar teen die tyd dat dié sage ‘n paar duisend kilometer ‘gereis’ het, bv. van Windhoek na Potchefstroom, word die oorspronklike vertelling ‘n algemene (skaamtelose) grap oor ‘n anonieme persoon.
In die Algemeen letterkundig lexicon (2012-) word die stadsage dikwels as ‘n gruwelike vertelling beskryf wat vertel word asof dit histories waar is. Die stadsage word aanvanklik oorgedra in die vorm van ‘n gerug. Gevolglik is hierdie narratiewe nie volwaardige verhale met ‘n begin en ‘n einde nie. Verder is die stadsage sporadies van aard, omdat dit nie ‘n lang lewe het nie. Maar: “Merkwaardig is de hardnekkigheid waarmee bepaalde van deze hedendaagse lugubere verhalen de ronde blijven doen; bijv. het verhaal van de zoekgeraakte lijk, de baby die door een rat doodgebeten is, …”
‘n Stadsage bevat geen waarheidsmoment nie, maar word aangebied asof dit die reine waarheid is. Stadsages bevat makabere of humoristiese elemente en het hulle wortels in die plaaslike en populêre kultuur. Stadsages kan as vermaaklikheidsmiddele gebruik word asook as semi-ernstige verduidelikings vir lukrake voorvalle, bv. waarom eienaardige voorwerpe verdwyn het. Talle stadsages — wanneer hulle by die gerugstadium verby is — is volledige verhale met ‘n begin en einde, ‘n plot en karakters. Hierdie narratiewe is aantreklik, omdat hulle elemente van misterie, gruwel, vrees en humor bevat. Sommige van die besonderhede in stadsages dateer sover as ‘n eeu terug, maar dit word aangepas om by kontemporêre omstandighede te pas: die perd van lank gelede word ‘n moderne BMW.
‘n Mens is in die algemeen geneig om taamlik skepties te wees oor die nuus wat in koerante verskyn. Stadsages glo ons egter sonder moeite, want die bron van die sage is feitlik sonder uitsondering ‘n baie goeie vriend of iemand wat ‘n belangrike rol in ons lewe speel. Boonop raak die verteller waarskynlik iets soos die volgende kwyt: “Ek verseker jou ‘n kosbare vriendin van my ken die persoon waarmee dit gebeur het verskriklik goed!” Dit is dus nie ‘n blote oorvertelling nie; dit is eerstehandse nuus: iemand wat ‘n mens sonder voorbehoud vertrou, vertel dit vir jou en daarmee word jou gewone skeptisisme uitgewis.
Omdat stadsages oorgedra deur mense wat ons onvoorwaardelik vertrou, beskou ‘n mens hulle nooit as leuens nie. Die omgekeerde is egter ook waar: nie alles wat oor-en-weer vertel word, is waar nie — al word dit nie doelbewus as leuens vertel nie. Mense kan hulle vergis of op verkeerde inligting reageer.
Die doel agter ‘n stadsage is dikwels om ‘n waarskuwing te rig. Sommiges is weer moralistiese verhale wat iemand, gewoonlik ‘n kind, uitbeeld wie se gedrag onaangenaam is en wat as gevolg daarvan in die moeilikheid beland, seerkry of sterf.
‘n Voorbeeld van ‘n stadsage, is “Die ryloper: ‘n Namibiese stadsage”. Dit lui soos volg:
Festus Kanyemba het in sy dag des lewens nie ‘n enkele sigaret gerook nie. Dit was vir hom te smartlik om te aanskou hoe sy pa, wat aan longkanker dood is, se gesig al beneriger geword het en hoe hy later al roggelend in die Katutura Hospitaal dood is. Festus kou dus liewer kougom.
Dié dag was Festus op pad tussen Walvisbaai en Swakopmund om gebak by ‘n bakkery te gaan aflewer. Soos gewoonlik het hy ‘n leë pakkie van sy pa se gunstelingsigarette in sy hempsak gedra om hom te herinner wat ‘n gesonde lewe waarborg. Dit was nog vroeg in die oggend toe hy haar sien. Sy was alleen en het ‘n swart baadjie met ‘n kappie gedra. Die baadjie was swarter as pikswart. Sy het langs die pad geloop terwyl sy met haar duim wys dat sy wil hê iemand moet haar oplaai.
Festus het nie daarvan gehou om rylopers op te laai nie, maar om die meisie so alleen te sien aanstap langs die pad tussen die dorre woestyn en die onstuimige see vul hom met jammerte. Hy ry baie stadig met sy vragmotor tot langs haar en vra of hy haar kan oplaai.
Sy hou haar gesig agter haar baadjie se kappie verskuil, knik dankbaar en gaan sit so lig soos ‘n veertjie langs hom op die vragmotor se sitplek.
Sy praat egter glad nie. Die stilte het naderhand te erg geword sodat Festus vir die meisie vra waarvandaan sy kom en waarheen sy op pad is, maar sy bly steeds doodstil. Later neurie sy wel ‘n lied wat vir Festus vaagweg bekend klink. Die meisie trek ‘n onsigbare vorm op die ruit langs haar met haar vingers wat so dun en wit is soos die wolke wat in die vroeë oggendlug begin vorm.
Ongeveer 10 minute later ry hulle verby ‘n gedenkteken met blomme waar ‘n motorongeluk op die B2 plaasgevind het. Festus se armhare staan regop en hy voel iets soos yswater teen sy rug afdrup
“Het jy ‘n sigaret?” vra die vrou toe met ‘n sieklik-soet stem terwyl sy haar gesig na hom toe oplig. Hy draai sy gesig in haar rigting, en terwyl hy “nee” sê, verstik hy aan die woord toe hy na haar kyk. Sy is wasbleek en daar is ‘n diep sny oor haar kop waardeur ‘n groot stuk van haar grys brein uitpeul.
Die vrou vra weer vir Festus of hy ‘n sigaret het. Haar oë vernou tot robynrooi skrefies…”Nee!”, gil hy, net toe sy na die leë pakkie sigarette gryp wat by sy hempsak uitloer.
Festus sterf voordat sy verdwyn.
Anna-Marie le Roux
Hein Viljoen
Bibliografie
Broodjeaapverhaal. 2022. Wikipedia. Geraadpleeg: 7 November 2022.
Brunvand, J.H. 2001. Encyclopedia of Urban Legends. New York: Norton.
DiFonzo, N. 2011. Urban Legends: Strange, Funny & Horrible, with a Moral. https://www.psychologytoday.com/us/…/urban-legends-strange-funny-horrible-moral
Mikkelson, D. 2011. Urban Legend: Definition. Snopes.com. Geraadpleeg: 8 November 2022.
Mukaiwa, Martha. 2014. A Terrible Two. The Namibian, 31 Oct. p. 9. Geraadpleeg: 8 November 2022.
Mullen, P.B. 1972. Modern Legend and Rumor Theory. Journal of the Folklore Institute, 9(2/3):95-109. www.jstor.org/stable/3814160
Portnoy, E. 1978. Broodje aap: de folklore van de post-industriële samenleving. Amsterdam: Harmonie.
Robson, D. 2015. Future: What Makes an Urban Legend? BBC.com. Geraadpleeg: 8 November 2022.
Tangherlini, T.R. 1990. ’It Happened not too far from here…’: A Survey of Legend Theory and Characterization. Western Folklore, 49(4):371-390. https://www.jstor.org/stable/1499751
Van Bork, G.J. et al. 2012-. Urban Legend. In Algemeen letterkundig lexicon. Geraadpleeg: 8 November 2022.
____________________________________________
1. Die verdwynende ryloper is ‘n stadsage waarin mense per motor reis. Hulle ontmoet ‘n ryloper of word deur een vergesel. Later verdwyn hy sonder ‘n verduideliking, dikwels uit die bewegende voertuig. In die Namibiese stadsage speel ‘n ryloper óók ‘n belangrike rol.