KULTUURSTUDIE

(Gepubliseer Augustus 2023)

Inleiding

Daar nie ‘n enkelvoudige omskrywing vir kultuurstudie nie. Verskeie vroeëre ontwikkelings in die bestudering van populêre, volks- of massakultuur in verskeie streke kan geïdentifiseer word (kyk onder meer Wright 1998). Die studie van populêre kulturele vorme of verbande met die omringende sosiopolitieke omgewing is voorheen dikwels nie as ‘n volwaardige akademiese onderneming beskou nie. Vandag word allerweë aanvaar dat “kultuurstudie” as ‘n interdissiplinêre studierigting ‘n voortvloeisel van die moderne tegnologiese ontwikkeling van kultuurproduksie is. ‘n Verskeidenheid van teoretiese, antropologiese, kulturele en politiek-ekonomiese ingesteldhede word met die begrip ondervang. Kultuurstudie, staan volgens Stuart Hall (1990:11), krities teenoor sowel die teoretiese paradigmas waaruit dit ontstaan het as die praktyke wat dit wou omvorm: “[K]ultuurstudies is nie een ding nie; dit was nooit net een ding nie”.

Van die belangrikste vroeë aanlope is dié van die Frankfurt-skool wat omstreeks die eerste helfte van die 20ste eeu pertinent met kultuurstudie verbind word. Dit is egter veral die werksaamhede van die Centre for Contemporary Cultural Studies (CCCS, opgerig in 1964) aan die Universiteit van Birmingham in Brittanje, wat die impetus vir kultuurstudie in Europa, die Amerikas en elders verskaf het (kyk Hall, 1990, 2006b, 2013). Vandag verwys die interdissiplinêre aard van kultuurstudie na die uiteenlopende teoretiese vertrekpunte, metodologieë en wyses van analises wat ontspring, maar dikwels ook “gedesentraliseer en gedestabiliseer is” uit verskeie sosiaalwetenskaplike vakterreine soos antropologie, filosofie, ekonomie, kommunikasiekunde, literatuurteorie, die skone kunste, sielkunde en sosiologie (vgl. Hall, 1990:16; 1997).

In hierdie opsig geniet die verbande tussen onder meer die antropologiese, wysgerige, tekstuele, estetiese en politiek-ekonomiese dimensies van kultuurproduksie en -reproduksie voorrang. Sulke studies sluit die vorming van aspekte soos klas, ras, geslagtelikheid en seksualiteit te midde van die handhawing van en verset teen politieke, ekonomiese en kulturele mag in. Ondersoeke na die verhoudings tussen die produsente, bemarkers, verspreiders en verbruikers van kulturele produkte kenmerk die terrein sedert die ontstaansjare van die dissipline. In ‘n onderhoud omskryf Hall (1997c) die aard van die ondersoekterrein soos volg: “Kultuurstudie het nog altyd gekyk na die konteks van die sosiale verhoudings waarin [kultuur as die dimensie van betekenis en die simboliese] voorkom en vrae gevra oor die organisasie van mag”. Syns insiens is dit die bestudering van “kulturele mag” wat kultuurstudie van ander deeldissiplines onderskei. Wat presies die term “kultuur” óf “mag” óf die verbande óf historiese verbintenisse behels, is gewoonlik die beginpunt van kultuurstudie-ondersoeke.

Wat is kultuur?

Raymond Williams (1985:87-93) in Keywords: A Vocabulary of Culture and Society (1976) beskou “kultuur” as een van die mees komplekse woorde. Hy verwys na die gebruik daarvan in Engels, maar sy opmerking sou ook kon geld vir ander tale. Die begrip het sy oorsprong in die Latynse werkwoord colere met onder meer die betekenisse “bewoon”, “kultiveer”, “beskerm” en “ter ere van verheerliking of aanbidding”. Uit die betekenisonderskeid “bewoon” ontwikkel colonus wat herkenbaar is in “kolonie”; uit “ter ere van verheerliking of aanbidding” ontwikkel cultus wat in Afrikaans “kultus” geword het. In die selfstandige naamwoord cultura is “kultiveer” as die verbouing van gewasse of boerdery herkenbaar, maar ook die begrippe “kultuur” en “gekultiveerd” met die verwysing na vergeestelikte handelinge. In Duits het die begrip Kultur ook die onderskeid “gekultiveerd” aangeneem as sinoniem vir “beskawing” of “beskaafdheid”. ‘n Tweede onderskeid van Kultur hou verband met die sekulêre proses van menslike ontwikkeling. In dié sin word verskillende kulture opgeroep, in verwysing na ‘n bepaalde tydvak, plek of groepe mense. Sedertdien verwys “kultuur” in Duits na materiële of stoflike verskynsels en “beskawing” na geestes- of nie-stoflike goedere.

Die lemma “kultuur” in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal verwys soos in hierdie tale na “die veredeling, of verfyning deur die mens van sy omgewing of homself”; die “totale gemeenskaplike uitdrukkingswyse” van “‘n volk, of ‘n tydperk of gebied” vergestalt in hul stoflike en nie-stoflike skeppings; die gebruike, leefwyses, opvattings eie aan ‘n bepaalde “gebruiksvoorwerp, aktiwiteit, bedryf, bestaansektor of sosiale toestand” en die “intellektuele en estetiese inhoud van beskawing”. In Afrikaans word “kultuur” en “kultiveer” ook gebruik met verwysing na die bewerking van grond, as voedingsmedium en die verbouing van gewasse. Betekeniskombinasies met die begrip “kultuur” brei voortdurend uit. In die WAT is daar byna 300 woordkombinasies waarin die woord voorkom.

Ten opsigte van kultuurstudie in die breë is uitbreidings soos “kulturele reproduksie” en “kulturele kapitaal” van belang. Eersgenoemde verwys na die oordrag deur onderwys van kulturele praktyke en kulturele vorme soos etnisiteit, maatskaplike ongelykheid en bevoorregting van een geslag tot ‘n volgende (Bourdieu & Passeron, 1990:54). Kulturele kapitaal verwys na gewaardeerde kulturele gebruike en ingesteldhede wat in ‘n hoogs-gedifferensieerde maatskaplike bestel tot bevoordeling aanleiding gee en institusioneel beloon word (kyk Bourdieu 1996:13, 23, 65). “Dit lei geen twyfel dat oorgeërfde kunswerke van die verlede wat in museums en private versamelings gedeponeer is […] alles geobjektiveerde kulturele kapitaal is; die produkte van die geskiedenis word bymekaar gemaak in die vorm van boeke, artikels, dokumente, instrumente …” (Bourdieu, 1996:228). In ‘n middelklasomgewing waar sulke kulturele kapitaal, die linguistiese en kulturele vaardighede aanwesig is, sal kinders, volgens Bourdieu, skolasties meer suksesvol wees as werkersklaskinders met mindere toegang daartoe. Ten opsigte van betekenisuitbreiding vergelyk ook ander kollokasies, kombinasies met “kultuur”, soos “verkragtingskultuur”, “versetskultuur”, “ondersteunerskultuur” (fan culture), “kuberkultuur”. (Kyk Rothman, 2014, vir voorbeelde van eietydse aanpassings en betekenisuitbreiding.)

In Keywords onderskei Williams (1985:90-93) drie heersende gebruike van die begrip “kultuur” (kyk bykomend ook Williams (1961:57-58; Storey, 2006:32-33). Hy verwys na die “intellektuele, geestelike en estetiese ontwikkeling” van die mens met verwysing na die opkoms en vestiging van ontwikkelde tradisies van kunstenaars, filosowe en digters. Tweedens, word die term gebruik met verwysing na die leefwyse van ‘n bepaalde groep mense, ‘n besondere periode of selfs die mensdom as geheel. Hiermee word nie net die eerste betekenis ondervang nie, maar ook uitgebrei na onderskeidende menslike kenmerke, aktiwiteite en handelinge soos die voorkoms van geletterdheid, die beoefening van godsdiens en sport, die regulering van vakansiedae (kyk Storey, 2009:2). Laastens word die begrip kultuur gebruik met verwysing na “die werke en praktyke van intellektuele en veral artistieke handeling”. Die bedoeling hier wys heen na tekste en genres soos drama, poësie, die roman, ballet, opera, kunsmusiek en die skilderkuns wat geïnstitusionaliseer word in biblioteke, museums en opgevoer word in uitvoerende kunste-instansies.

Dit is veral die tweede en derde kategorieë wat uitgebrei kan word om beskouings van populêre kultuur te ondervang. Verskynsels soos eietydse subkulture (bv. jeug- of bendekulture), ‘n universiteits- of maatskappykultuur, moderne sportaktiweite en “ondersteunerskultuur” (fandom) sou gerieflik onder die tweede kategorie as beleefde kulturele uitdrukkings kon ressorteer. Sport word gesien as “‘n kulturele teks” te midde van ander sosiale “tekste” (Clifford Geertz in Featherstone, 2005:68). In die opsig van populêre kultuur sou ook die derde kategorie uitgebrei kon word om eietydse kultuurproduksies soos sepies, popmusiek, strokiesprente, grafiese romans, film- en videoproduksies, internetspeletjies en digitale visuele boodskapplatforms in te sluit (kyk Storey, 2009:2). Die dinamiese aard van populêre kultuur sluit ook eietydse ontwikkelings soos metaversums in. Metaversum verwys na ‘n virtuele werklikheid (ook beskou as uitgebreide werklikheid of parallelle universums) waar mense byeenkom, speel en werk (vgl. Merriam-Webster, 2021).

Wat is populêre kultuur?

Die CCCS het aanvanklik op die bestudering van “populêre kultuur” gefokus, ‘n begrip wat enersyds omvattend is, maar andersyds as vaag ervaar word. So sou dit gestel kan word teenoor “volkskultuur”, “werkersklaskultuur” of “massakultuur”, terwyl dit ook as ‘n versamelterm vir juis hierdie vorme van kulturele praktyke gebruik kan word. Vir sommige kritici is die begrip “populêre kultuur” sinledig omdat dit so ‘n verskeidenheid van betekenisse ondervang terwyl dit terselfdertyd ook die spanning met ander geïmpliseerde konseptuele kategorieë soos “dominante kultuur” of “hoë kultuur” oproep (vgl. Storey, 2009:1).

Ten opsigte van die begrip “populêre kultuur” stel Williams vier omskrywings voor, naamlik daardie kulturele uitings waarvan mense “hou” en dus gewild is; werk wat in vergelyking met hoë kultuur as minderwaardige werk beskou word; werk wat daarop gerig is om in die smaak van “die gewone mense” te val; en laastens die kultuur wat deur die mense, “die gewone volk”, gemaak word (vgl. Storey, 2009:5-11). Die eerste kategorie van hierdie omskrywing verwys na werk wat as “gewild” bestempel – iets wat selfs kwantitatief verifieerbaar is, bv. die aantal verkope van ‘n boek of ‘n musiekopname; die kykersgetalle van ‘n fliek, ‘n televisieuitsending of -program; die deelnemer- of bywoningsgetalle aan ‘n musiekkonsert, sportgeleentheid of interaktiewe internetaktiwiteit (vgl. Storey, 2009:5 e.v.).

Die tweede kategorie van hierdie omskrywing roep die hoë/lae kultuur-tweedeling op, waar eersgenoemde geassosieer word met eksklusiwiteit, verfynde smaak en verhoogde sosiale status. Daarteenoor word populêre kultuur as minderwaardig beskou, kommersieel van aard en gemik op ‘n kulturele palet wat nie erg onderskeidend is nie (vgl. Storey, 2009:6 e.v.). Die derde been van die Williams-omskrywing verwys na populêre kultuur as massakultuur wat gemik is op nie-diskriminerende massagehore en kultuurprodukte wat op groot skaal geproduseer of as formule-agtig en manipulerend beskou word. Gewoonlik word die gehore, kykers of lesers se deelname as passief bestempel word. Laastens, verwys populêre kultuur na volkskultuur, wat ontspring uit die praktyke en rituele van tradisionele gemeenskappe, die outentieke kultuur van die mense of in verwysing na werkersklaskultuur (vgl. Storey, 2009:8 e.v.).

Hoë kultuur in die Suid-Afrika word met geselekteerde uitings verbind wat hoofsaaklik op Europese tradisies van hoë kultuur berus. Dit sluit in die assosiasie met verfynde formele etiket en gedragskodes, kennis van en waardering vir die skone kunste soos bepaalde vorme van kunsmusiek, teater en opvoering, die skilderkuns, beeldhouwerk, asook gekanoniseerde vorme van letterkunde. Te danke aan ‘n uitgebreide netwerk ondersteun internasionale instellings hierdie kultuurvorme deur die uitwisseling van en finansiële steun aan kunstenaars, terwyl opleidingsinstansies soos universiteite onderrig verskaf. Verskeie Suid-Afrikaanse universiteite bied graadkursusse aan waar studente in die uitvoerende of beeldende kunste as operasangers, klassieke musici, balletdansers of beeldhouers en skilders opgelei word. Onderliggend aan hul opleiding is gevorderde teoretiese, strukturele en historiese kennis van die bepaalde tradisies en die ontwikkeling van gesofistikeerde smaak en waardering vir wat beskou word as “universele” norme van estetika.

Hierdie kultuurvorme wat belangstellendes, gehore of deelnemers betref, is op nismarkte – dus beperkte gehore – gemik, terwyl populêre kultuurvorme soos populêre musiek (popmusiek) op massagehore gemik is. Populêre musiek sluit verskeie vorme in soos hip-hop, R&B, blues, rock ’n roll, jazz, country-musiek wat internasionaal gevestig is en ook deur Suid-Afrikaanse musikante beoefen word. Daar is egter ook afgeleide vorme van populêre musiek wat spesifiek uit die Suid-Afrikaanse bodem ontstaan het. Dit sluit vorme in soos boeremusiek, goema, isicathamiya, Kaapse jazz, kwaito, marabi, maskandi en mbaqanga. Vorme soos isicathamiya sluit nou aan by wat algemeen as volkskultuur beskou word, naamlik musikale vorme wat met bepaalde gemeenskappe, hetsy nasionalistiese, etniese of godsdienstige gemeenskappe, verbind word.

Die Frankfurt-skool

Die versamelterm, die Frankfurt-skool, verwys na ‘n groep Duitse navorsers verbonde aan die Institut für Sozialforschung (Instituut vir Sosiaalwetenskaplike navorsing) aan die Universiteit Frankfurt am Main. Die bekendstes was Theodor Adorno (1903-1969), Max Horkheimer (1895-1973), Leo Löwenthal (1900-1993) en Herbert Marcuse (1898-1979), wat sedert die 1930’s belangrike kritieseteoriestudies gelewer het. Kritiese teorie moet hier verstaan word as kritiese beskouings wat tot maatskaplike verandering en intellektuele bevryding lei. Oorhoofs gesien, was hul navorsing marxisties georiënteerd en hul uitgangspunte ten opsigte van massakultuur afwysend. Adorno en Horkheimer het massakultuur as deel van die kultuurbedryf (Kulturindustrie) in Westerse kapitalisme beskou, wat die ervaring en kritiese belewing van kuns verwater en die verbruiker afgestomp het. (Kyk vir ‘n omvattende oorsig Jay, 1973.)

Adorno en Horkheimer het die begrip “kultuurbedryf” vir die vermaaklikheidswêreld in Dialektik der Aufklärung (Dialektiek van die Verligting, 1944) gevestig met verwysing na die produkte en prosesse van massakultuur. Hul beskouings moet begryp word teen die agtergrond van die opkoms van Hollywood, die advertensiewese, radio en televisie, en hul eie ervaring van die rol van tegnologiese ontwikkelings in Nazi-Duitsland. Tegnologie, beweer hulle, bied die rasionaal vir oorheersing deur diegene wat ekonomiese mag het: “Dit is die dwingelandy van ‘n samelewing wat van homself vervreemd is” (Adorno & Horkheimer, 1979:121). Voorts ontleen hulle teoreties van hul insigte aan Marx se idee van kommoditeitsfetisj waarvolgens ruilwaarde belangriker as gebruikswaarde is (bv. ‘n duur – dus ruilwaarde – handelsmerkhandsak word waardevoller geag as ‘n goedkoop of gewone sak wat dieselfde funksie of gebruik – dus gebruikswaarde – vervul). Hulle vooronderstel dat denke geïnspireer deur die Verligting (hulle haal onder meer die filosowe Kant en Hume aan) krities teenoor die status quo sal staan. Die kultuurbedryf, in teenstelling, lewer werk waarvan elke onderdeel op die bevrediging van massaverbruik gemik is sodat die verbruiker se kritiese ingesteldheid en die belewing van kuns afgestomp word. Selfs dit wat individualisties voorkom, is ‘n pseudo-individualisme, ‘n toevalligheid wat die mag van die algemeenheid van massaproduksie benadruk (Adorno & Horkheimer, 1979:154). Die binêre teenstelling tussen hoë kultuur en die massakultuur van die middel-20ste eeu kleur hierdie navorsers se ontledings, sodat laasgenoemde meesal negatief beoordeel word.

Massakultuur, volgens Adorno & Horkheimer (1979:34 e.v.), vertoon twee kenmerke, naamlik eenvormigheid en voorspelbaarheid. Flieks, sepies, radio en tydskrifte is deel van ‘n stelsel waar elke onderdeel, inhoudelik, struktureel en tegnies, meewerk om uniformiteit te bewerkstellig. Flims en ligte musiek, jazz en populêre musiek is voorspelbaar en word keer op keer op dieselfde wyse deur verskillende kunstenaars gereproduseer: die onderdele is vooraf-gevestigde stereotipes wat onderling vervangbaar is. Sodra ‘n fliek begin, is dit duidelik hoe dit gaan afloop of sodra die aanvangsnote van ‘n liedjie gehoor word, kan voorspel word hoe dit verder gaan verloop (Adorno & Horkheimer, 1979:122, 125, 128, 137-138). Van die populêre vorme het gestandaardiseerd geraak, tot passiewe luister en onkritiese samehorigheid aanleiding gegee met ‘n gepaardgaande gedienstigheid aan die heersende kapitalistiese magstruktuur: “die gestandaardiseerde gemiddelde van laat-liberale smaak, gedikteer deur dreigemente van bo” (Adorno & Horkheimer, 1979:134). Massakultuur lei tot ‘n gedepolitiseerde werkersklas wat vir die Frankfurt-navorsers, vanuit ‘n revolusionêr-marxistiese oogpunt, lei tot gebrekkige insigte in die aard van kapitalisme. Dit is gemanipuleerde verbruikersgoedere wat standaardisering, stereotipering en behoudendheid in die hand werk. Die “massa” word polities afgestomp en verhoed om krities, verbeeldingryk en spontaan oor hul omstandighede na te dink (Adorno & Horkheimer, 1979:126). Hulle word verlei deur die drome, rykdom, mag, avontuur, skoonheid, erotiek en passievolle liefde wat massakultuur voorhou. (Kyk ook triviaalliteratuur.)

Die Centre for Contemporary Cultural Studies

‘n Positiewer benadering tot populêre of massakultuur kenmerk die werksaamhede van die Centre for Contemporary Cultural Studies (kyk Hall, 1990, 2006b, 2017). Hall (1990:16) beken dat hul projek nooit werklik van die grond sou afkom as dit nie vir die beskikbaarstelling van vertalings na Engels van die werke van die Frankfurt-navorsers en Walter Benjamin (1892-1940) of die Italianer Antonio Gramsci (1891-1937) was nie. Van meet af aan het die sentrum hom toegespits op eietydse populêre kultuurverskynsels en -praktyke sodat die studie van die dominante, elitêre kulturele vorme of hoë kultuur van mindere belang geword het. Die CCCS se meer simpatieke benadering tot die ondersoek van wat as lae kultuur beskou is en hul verbintenis tot die maatskaplike omgewing het verreikende gevolge gehad. Vandag kan die opkoms van kultuurstudie as ‘n onderskeibare dissipline toegeskryf word aan die navorsing wat aanvanklik aan hierdie navorsingsentrum gelewer is. Alhoewel die navorsers aan wêreldbekende universiteite opgelei is, het hulle hulleself aanvanklik buite die tradisionele voedingsgebied of invloedsfeer daarvan bevind. Williams was van ‘n Walliese werkersklasagtergrond, Hall was ‘n Jamaikaanse immigrant en beide was betrokke by buitemuurse onderrig. “Ons het van ‘n tradisie heeltemal op die rand van die sentra van die Engelse akademiese lewe gekom, en ons betrokkenheid by die vraagstukke van kulturele verandering […] het [ons] eers in die vuil buitewêreld teëgekom” (Hall, 1990:12).

Verskeie protesbewegings, onder meer studente-opstande, die anti-Viëtnamoorlogbeweging en maatskaplike strydkwessies kenmerk die periode na die Tweede Wêreldoorlog, wat volgens leidende navorsers van die CCCS tot ‘n bewustheid van hulle besondere historiese moment bygedra het (kyk Hall, 2006b, 2017). Hall (1990:12) voer aan dat kultuurstudie aanvanklik nie as ‘n akademiese dissipline gekonseptualiseer is nie, maar “as ‘n debat oor die aard van maatskaplike en kulturele verandering” in Brittanje na die oorlog. Die eerste generasie navorsers was in hoofsaak sosiaal-humanisties en anti-elitêr ingestel, sodat denkers soos Karl Marx en Friedrich Engels, en Gramsci ‘n deurslaggewende rol in hul vorming gespeel het.

Vroeë voorlopers en grondleggers soos Raymond Williams (1921-1988) en E. P. Thompson (1924-1993), het navorsers soos Richard Hoggart (1918-2014) en Stuart Hall (1932-2014) van die Birmingham-groep geïnspireer om hul opvattings van kultuur en die bestudering daarvan uit te brei. Die historikus Thompson se The Making of the English Working Class (1963) oor die opkoms in die laat-agtiende, begin-negentiende eeu van die Engelse werkersklas het ‘n vormende invloed op die ontluikende dissipline gehad. Sy boek handel oor die ervarings, waardes, idees en handelinge van “gewone mense”, die gevolge van die industriële omwenteling en populêre kultuur as ‘n reaksie teen industrialisasie en verstedeliking (Thompson, 1964:11-13). In dié opsig daag dit eng, elitêre beskouings van kultuur uit. Die boek dra daartoe by dat die Birmingham-navorsers die potensiaal van kultuurstudie as ‘n veranderingsagent in Engelse werkersklasgemeenskappe indringend begin ondersoek het. Hierdie verhoogde bewustheid van maatskaplike onreg lei tot toespitsing op aspekte soos representasie en klas in kulturele tekste en die impak en uitwerking van populêre media soos koerante, radio, televisie en films. Vernuwende navorsing oor veranderlikes soos maatskaplike klas, etnisiteit en geslag toon aan dat lesers en gehore die produksie en waardering van mediaprodukte dikwels op teenstellende wyses verbruik, ontleed en interpreteer (Storey, 2009:37). Hieronder word die opvattings van Williams en Hall van nader bekyk.

Raymond Williams

Raymond Williams se navorsing oor die aard van kultuur, sy omskrywing van kulturele praktyke en sy aandag aan die belang van populêre kultuuruitdrukkings soos radio, advertensie en televisie het grootliks tot die ontwikkeling van kultuurstudie as ‘n vakdissipline in Brittanje en elders in die Engelssprekende wêreld bygedra. Hy gaan krities om met die klassieke marxistiese basis-superstuktuur-konsep waar die ekonomiese of materiële produksie-onderbou van ‘n samelewing die ideologiese en kulturele bowestruktuur determineer. Kyk hieroor sy essay “Base and Superstructure in Marxist Cultural Theory” waarin hy aanvoer dat dié intellektuele konsepsie as “die sleutel tot marxistiese kultuuranalise” beskou word; waarmee bedoel word dat “‘n eksterne krag” bepaalde “inhoud […] voorafskadu, voorspel of beheer” (Williams, 1980:31, 32). Hy vind dié perspektief, soos onder meer later ook Stuart Hall, egter rigied en staties. Sy benadering in “Literature and Sociology,” voer hy aan, is om ‘n teorie van “sosiale totaliteit” te ontwikkel: “om die studie van kultuur te beskou as die studie van die verhoudings tussen elemente in ‘n omvattende wyse van lewe; om maniere te vind om struktuur te bestudeer, in bepaalde werke en tydvakke” en om “die formule van die basis/superstruktuur te vervang met ‘n meer aktiewe idee van ‘n veld met wederkerige en oneweredige determinerende kragte” (Williams, 1980:20). (Kyk ook literatuursosiologie.)

‘n Sentrale insig wat sy vroeë benadering tot kultuurstudies illustreer, is sy waarneming dat teorieë van kultuurpraktyke meesal “teorieë van konsumpsie” en die “geïsoleerde artefak” (bv. die gedig, die kunswerk) is, terwyl onder meer produksiepraktyke verontagsaam word. Hy doen voorspraak vir ‘n kultuurteoretiese benadering wat nie uitsluitlik op die geïsoleerde objek konsentreer nie, maar om die meervoudige “komponente” daarvan te ondersoek, insluitende “die aard van ‘n praktyk en dan die voorwaardes daarvan”  (Williams, 1980:47). In sy opstel “Ideas of Nature” voer hy aan dat die mens vervreemd van die natuur is en in die verwikkelde interaksie met die fisiese wêreld nie die “produkte van ons aktiwiteite” herken nie. “Ons moet na al ons produkte en aktiwiteite, goed en sleg, kyk om die verhoudings tussen hulle te sien wat ons eie werklike verhoudings is” (Williams, 1980:84).

In navolging van dié insig ontwikkel Williams (1977:5) die konsep “kulturele materialisme”, wat hy bestempel as “‘n teorie van die bepaaldhede (specificities) van materiële en literêre produksie binne historiese materialisme”, dus ‘n benadering wat die verhoudings tussen die ekonomiese, politieke, sosiale en kulturele fasette van ‘n samelewing onderling en in samehang in oënskou neem. “Die onontkombare materialiteit van kunswerke is die onvervangbare materialisering van vorme van ervaring, insluitende die ervaring van die produksie van objekte”, skryf Williams in Marxism and Literature (1977:162). Sodanige materiële kulturele produksie het hiervolgens ook ‘n bepaalde sosiale geskiedenis. Hierdie benadering fokus dus nie soos in formalistiese ondersoeke uitsluitlik op die geïsoleerde kultuurobjek of -praktyk nie, maar situeer en interpreteer dit binne breër verbande, insluitende onder meer bepaalde produksiewyses (bv. die produksie van massamedia), regulatoriese bereëling (bv. wetgewing), institusionele strukture (bv. die uitgewers-, musiek- of filmbedrywe), intellektuele tradisies (bv. Modernisme) en die aard en geskiedenis van genre-vorming (bv. die opkoms van die roman) (vgl. Williams, 1977:146 e.v.). In terme van die klassieke basis-superstruktuur-model is sosiokulturele aktiwiteite vir Williams nie net ‘n weerspieëling van ‘n ekonomiese produksiewyse nie, maar word individue se bewussyn in sosiale handeling gevorm (Macey, 2000:76-77). (kyk ook Marxisme en die literatuur.)

Williams (1977:131) formuleer ook die begrip “struktuur van gevoel” met verwysing na “‘n besondere kwaliteit van sosiale belewing en verhoudings, histories onderskeibaar van ander besondere ervarings, wat sin gee aan ‘n generasie of tydvak”. Te midde van ‘n dominante ideologie, gekodifiseer in wetgewing, beleidsrigtings en instellings, ontwikkel vanweë beleefde ervarings ontluikende persepsies, waardes wat gemeenskaplik aan ‘n bepaalde generasie of tydvak word, terwyl die oorblywende waardes, persepsies en toonaard van vorige tydvakke of generasies steeds aanwesig bly.

Sou die drieledige aspekte van “struktuur van gevoel” aan die hand van ‘n Suid-Afrikaanse voorbeeld geïllustreer word, kan aangetoon word dat omstreeks die eerste dekades van die 20ste eeu Britse imperiale ingesteldhede, praktyke, instellings en waardes die ekonomies-politieke en kulturele konteks oorheers (dus: die dominante ideologie), terwyl daar in die Afrikaanse literatuur aanduidings van ontluikende waardes en persepsies rondom onder meer armoedeverligting, die verskerping van Afrikanernasionalisme en die begronding van maatskaplike skeiding is (dus: die ontluikende ideologie), voorafskaduwings van waardes en beleidsrigtings wat later (ná 1948) in formele strukture onderskeidelik as Afrikaner verburgerliking en die apartheidsbeleid (en dus as die nuwe vervangende dominante ideologie) gekodifiseer is. Terselfdertyd bly in die 1920’s en 1930’s remnante waardes, persepsies en hunkeringe van die tydvak tydens en voor die Anglo-Boereoorlog steeds aanwesig (dus: restante van vorige ideologieë). Hierdie verskuiwende spanninge, ondertone, impulse, die “strukture van gevoel”, is vir Williams (1977:131-132) nie idiosinkraties of individualisties nie, maar het telkens ‘n sosiale begronding.

Stuart Hall

Die geskrifte van die marxistiese denkers, die Fransman Louis Althusser (1918-1990) en Antonio Gramsci, het ook ‘n rigtinggewende invloed op die Birmingham-navorsers gehad, omdat beide besondere aandag aan die rol van kultuur, kultuurproduksie en maatskaplike verandering gegee het. Vir Stuart Hall berus die belang van die figure in die teoretiese begrippe – “die gereedskap om mee te dink” – wat hulle geformuleer het, onder meer “ideologie” en “hegemonie” wat nie uit en uit op ‘n ekonomies-reduksionistiese siening van Marxisme berus nie (kyk Hall, 1997c; Hall & Connell, 2017).

Vanuit ‘n strukturele marxistiese oogpunt beskou Althusser (1984) ideologie nie net as stelle idees nie, maar ook as materiële praktyke, dit wil sê, handelinge, rituele en gebruike wat met ‘n bepaalde maatskaplike orde verbind kan word. Ideologie as representasie (beelde, mites, idees of konsepte) verwys na hoe mense in verhouding tot hul werklike bestaansomstandighede beleef. In hierdie opsig is “ideologie” ’n belangrike konseptuele kategorie in kultuurstudie wat onder meer afwisselend met “kultuur”, veral populêre kultuur, gebruik word (Storey, 2009:2). Ideologie is egter nie net stelle idees nie, maar word ook vergestalt in materiële praktyke – rituele, gebruike, gedrag – wat geproduseer word as uitings van die “ideologiese staatsapparaat” soos onderwys, georganiseerde godsdiens, die gesin, georganiseerde politieke formasies, die media en die kultuur- industrie.

Gramsci gebruik “hegemonie” met verwysing eerstens, na beheer of oorheersing en tweedens, na morele leierskap met die implikasie van instemming, dus mag plus toestemming (Storey, 2009:10). In die klassieke sin van die begrip, behou ’n klas sy dominansie nie net deur die uitoefening van mag nie, maar oefen ook morele en intellektuele leierskap in ‘n samelewing uit deur kompromieë met ‘n verskeidenheid ander klasvennote. Hiermee word ‘n basis van toestemming vir ‘n bepaalde sosiale orde gevestig. Hegemonie word geskep en herskep in ‘n netwerk van instansies, sosiale verhoudings en heersende idees met veral intellektuele wat ‘n belangrike organiserende rol daarin speel (Sassoon, 1983:201). Politieke en ekonomiese oorheersing kry dus ook uiting in ‘n besondere wéreldbeskouing met bepaalde menslike, sosiale en kulturele verhoudings, wat as “gesonde verstand” beskou word.

Hierdie beskouings van ideologie en hegemonie stuur weg van die klassieke marxistiese siening dat ideologie ’n superstrukturele refleksie of uitdrukking van magsverhoudinge van die ekonomiese basis van ‘n samelewing is. Kulturele praktyke representeer die wêreld op betekenisvolle wyses en kultuur as sodanig word dus ’n kragtige faktor in die samelewing. Hall (in Storey, 2009:3) verwys in dié opsig na populêre kultuur as “plek van kollektiewe begrip” in “die politiek van signifikasie” (of betekenisskepping).

In teenstelling tot Adorno en Horkheimer se uitgangspunt dat gehore, luisteraars en kykers passiewe ontvangers van die boodskappe van die oorheersende kultuurbedryf is, het Hall die klem op die aktiewe aard van resepsie laat val. In een van sy belangrikste vroeë artikels, “Encoding and decoding in television discourse” (1973, later: “Encoding/decoding”, 1980), ontwikkel Hall ‘n strukturalisties-, semioties- en marxisties-geïnspireerde perspektief wat massakommunikasie as ‘n verwikkelde proses van onderlinge verhoudings en stadia konseptualiseer. (Kyk die onderstaande figuur gebaseer op sy model.) (Kyk ook kode.) In stede van die gebruiklike liniêre kommunikasiemodel (sender —> boodskap —> ontvanger) pas hy sy resepsiemodel aan om rekenskap te gee van die ontvangers (wat hy verbruikers noem) se aktiewe produksie van betekenis. “Voordat die boodskap ‘n uitwerking kan hê . . . moet dit as ‘n betekenisvolle diskoers aangeneem en betekenisvol gedekodeer word.” Dit is hierdie stel gedekodeerde betekenisse wat “‘n uitwerking” het wat vertolk kan word as “beïnvloeding, vermaak, onderrig, opdraggewing of oortuiging” en aanleiding gee tot “verwikkelde perseptuele, kognitiewe, emosionele, ideologiese of gedrag” (Hall, 2006a:165).

Stuart Hall se resepsiemodel

Sy slotsom, vereenvoudigd, is dat samelewings hul besondere “klassifikasie van die sosiale, kulturele en politieke wêreld” voorskryf. Dit gee gevolg aan die dominant-hegemoniese of voorkeurbetekenisse wat die stempel van daardie besondere institusionele/politieke/ideologiese orde dra (Hall, 2006a:169, 171). In ‘n televisienuusberig, byvoorbeeld, sou kykers die voorkeurbetekenisse van die sender (in Hall se woorde: produsent) kon aanvaar, of ‘n opposisionele kode aanlê en so die aangebode diskoers teenstellend resepteer (Hall, 2006a:173). ‘n Tussen-in-posisie of onderhandelde weergawe sou sekere aspekte van die hegemoniese voorkeursiening aanvaar, maar ander aspekte verwerp of herinterpreteer, gebaseer op die kykers se “verskillende en ongelyke verhouding tot mag en die logika van mag” (Hall, 2006a:172).

Ter wille van illustrasie bekyk ons kortliks na die “betekenisvolle diskoers” van ‘n televisienuusberig van die SABC, die Suid-Afrikaanse openbare uitsaaier. Ten opsigte van die kennisraamwerk van en in die korporasie word verwys na individuele, beroeps- en institusionele en maatskaplike kennis. Die beroepsvaardighede en -kennis van sy werknemers wat met gevorderde studie of ervaring verwerf is, word aangevul deur die besondere rol wat die SABC in die samelewing speel.

Die oprigtingsakte of oktrooi van die SABC verskil byvoorbeeld van dié van kommersiële nuusorganisasies. As openbare uitsaaier is die instelling afhanklik van lisensiegelde van die publiek en geldelike toekennings van die parlement, wat ook sy raad aanstel. Die SABC word onder meer verplig om in al die amptelike landstale uit te saai, ‘n verskeidenheid van onderwys- en leeraktiwiteite te ondersteun en openbare uitsaaidienste aan alle landstreke en kultuurgemeenskappe te voorsien om “‘n gedeelde Suid-Afrikaanse bewustheid en identiteit” te bevorder. Die korporasie word wetlik verplig om die “hoogste standaarde van joernalistiek” na te streef, billike, gebalanseerde en onbevooroordeelde dekking te bied, “onafhanklik van regerings-, sake- of ander belange” (kyk The Presidency, 1999; artikel 10 van die Uitsaaiwet, Wet 4 van 1999).

Die tegniese infrastruktuur verwys hier byvoorbeeld na die beskikbaarheid van ateljees, apparatuur soos kameras en beligting, en sagte- en hardeware vir rekenaardienste. Bo en behalwe die tegniese en beroepsvaardighede van personeel as byvoorbeeld vervaardigers, kamerategnici, nuuslesers, redakteurs of korrespondente beïnvloed wetlike verpligtinge ook die demografie van personeelaanstellings. Hierdie produksieverhoudings dra by tot die enkodering van ‘n nuusbrokkie. Die beroepsmense moet besondere vaardighede aan die dag lê om klank- en visuele beelde te gebruik wat tot alle segmente van die bevolking in multikulturele Suid-Afrika sal spreek. Vir Hall is al hierdie fasette deel van wat hy beskou as “enkodering”, die daarstelling van “betekenisstruktuur 1”.

Om die boodskap te dekodeer, kom Hall tot die gevolgtrekking dat die verbruiker aktief meewerk aan die produksie van betekenis. ‘n Groot verskeidenheid van faktore bepaal die proses van dekodering of “betekenisstruktuur 2”. Hierdie faktore wat kennisraamwerke en produksieverhoudings betref, sluit onder meer aspekte soos geslag, ouderdom, maatskaplike klas en ekonomiese stand, godsdienstige en politieke oortuigings, afkoms en etnisiteit in. In Suid-Afrika sou byvoorbeeld die geletterdheidsvlak, die taalvaardigheid in ‘n bepaalde taal en die demografiese stand van die kyker tot die “dekodering” van die boodskap bydra. Nieteenstaande die uitdruklike bepalings van sy oktrooi het kritici die SABC in verlede beskuldig dat hy die regering ter wille is. ‘n Teenstander-kyker wat dié mening huldig, sal ‘n nuusbrokkie oor beleidskwessies of handelinge van die regering afwysend “dekodeer” in teenstelling tot ‘n kyker wat die regering goedgesind is of neutraal daarteenoor staan. In dié opsig sou die teenstander-kyker die dominant-hegemoniese of voorkeurbetekenis van die boodskap kon verwerp en ‘n opposisionele perspektief opper of sekere onderdele van die boodskap aanvaar, maar ander onderdele afwys of herinterpreteer.

Kultuur behels primêr “die produksie en uitruil van betekenis” tussen die lede van ’n gemeenskap of samelewing, ’n vertrekpunt wat beslag kry in kultuurstudie en die sosiologie van kultuur as die “kultuurwending” (Hall, 1997a:2). Objekte, dinge, gebeure en mense kry betekenis deur die “interpretasieraamwerke” of diskoerse waarmee hulle beskou word en hoe hulle in alledaagse praktyke gebruik en geïntegreer word (Hall, 1997a:3). In die praktyk behels dit alledaagse rituele, gebruike en praktyke, en in die moderne tegnologiese era, verskillende vorme van massa- en globale mediavorms. Vir Hall (1997a:4 e.v.) speel betekenis ook ’n regulerende rol deurdat dit meehelp om “die reëls, norme en konvensies waarmee sosiale lewe georden word” te vorm. Representasie, ’n kernkonsep in kultuurstudie, berus vir Hall daarin dat daar geen vaste betekenis van rituele, dinge, beelde of gebeure is nie. Representasie vind nie plaas ná die gebeurtenis (of beeld en ritueel) nie, maar is integraal tot die skepping van betekenis. Dit geld ook onder meer vir die representasie van etnisiteit, konsepsies oor ras en gender. In die opsig speel die massamedia ’n belangrike vormgewende rol. Binne die interpretasieraamwerke word kultuur syns insiens ’n primêre krag in die wêreld met betekenis wat berus op interpretasie en as sodanig deur prosesse van enkodering onderhou word (Hall, 1997a:73-74).

Hall (2005a:142-146), na aanleiding van die beskouings van Ernesto Laclau, gaan van die standpunt uit dat die ekonomiese produksiewyse in ’n samelewing nie noodwendig kulturele praktyke en vorme bepaal of determineer nie, maar wel in bemiddelde verhouding daarmee staan. Die kulturele sfeer word in dié opsig ’n primêre krag, relatief outonoom van ekonomiese produksiewyse. Daar is syns insiens “nie ’n noodwendige verbintenis (belongingness) . . . tussen ideologie en sosiale magte en verskillende elemente in ideologie nie”. Die insig, ook genoem “artikulasie”, beteken onder meer dat kulturele verhoudings en verandering nie op grond van eenvoudige een-tot-een- verbandleggings tussen ’n bepaalde produksiewyse of klasposisie verklaar kan word nie, maar die gevolg van prosesse van onderhandeling, teenstand en aanpassing is. Hy ontken egter nie die belang van die materiële omstandighede (dus die sosiale kragte) nie: “die ideologiese/kulturele/diskursiewe praktyke bly bestaan in die determinerende [raamwerk] van die kragte van materiële verhoudings” (Hall, 2005a:147).

Sedert die opkoms van kultuurstudie in die 1970’s en 1980’s het dit aanvanklik beslag gekry in geesteswetenskaplike dissiplines soos onder meer literatuurteorie, kommunikasie- en mediastudie (insluitende filmstudie) en sosiologie. Feministiese, marxistiese, semiotiese, strukturele en poststrukturele teorieë het benaderings tot sosiale aktivisme en betekenisvorming egter so grondliggend verander dat mag- en kennissisteme op talle uitgebreide vakterreine van toepassing gemaak is. Dit sluit terreine in so divers soos onder meer antropologie, filosofie, geskiedenis, kunsgeskiedenis, politieke wetenskap in. Die wye verspreiding van kultuurstudie het tot gevolg gehad dat uiteenlopende beklemtonings van die vakgebied in verskillende streke ontwikkel het. (Kyk byvoorbeeld Tomaselli, 1998.)

(Kyk ook kultuurkritiek.)

Hein Willemse

Bibliografie

Adorno, Theodor & Horkheimer, Max. 1979. [1972]. Dialectic of Enlightement. Vertaal deur John Cumming. Londen: Verso.

Althusser, Louis. 1984 [1971]. Essays on Ideology. Londen: Verso.

Bourdieu, Pierre & Passeron, Jean-Claude. 1990 [1977]. Reproduction in Education, Society and Culture. Vertaal deur Richard Nice. Londen: Sage.

Bourdieu, Pierre. 1996 [1984]. Distinction: A Social Critique of the Judgement of Taste. Vertaal deur Richard Nice. Londen: Routledge & Kegan Paul.

Featherstone, Norman. 2005. Postcolonial Cultures. N. P.: University Press of Mississipi.

Hall, Stuart. 1973. “Encoding and decoding in television discourse.” ePapers Repository. University of Birmingham. http://epapers.bham.ac.uk/2962/1/Hall%2C_1973%2C_Encoding_and_Decoding_in_the_Television_Discourse.pdf.

Hall, Stuart. 1990. “The Emergence of Cultural Studies and the Crisis of the Humanities.” October 53 (The Humanities as Social Technology), 11-23. https://doi-org.uplib.idm.oclc.org/10.2307/778912.

Hall, Stuart. 1997a. “Introduction.” In Hall, Stuart (red.). Representation: Cultural Representations and Signifying Practices. Londen: Sage Publications, 1-11.

Hall, Stuart. 1997b. “The work of representation.” In Hall, Stuart (red.). Representation: Cultural Representations and Signifying Practices. Londen: Sage Publications, 13-74.

Hall, Stuart, Segal, Lynn & Osborne, Peter. 1997c. Stuart Hall: Culture and Power. [Onderhoud]. Radical Philosophy 086, Nov/Dec 1997, pp. 24–41.

Hall, Stuart. 2005a [1996]. “On postmodernism and articulation. An interview with Stuart Hall.” In Morley, David & Chen, Kuan-Hsing (reds.). Stuart Hall. Critical Dialogues in Cultural Studies. Londen en New York: Routledge, 131-150.

Hall, Stuart. 2005b [1996]. “Cultural studies and its theoretical legacies.” In Morley, David & Chen, Kuan-Hsing (reds.). Stuart Hall. Critical Dialogues in Cultural Studies. Londen en New York: Routledge, 261-274.

Hall, Stuart. 2006a [2001]. “Encoding/decoding.” In Durham, Meenakshi Gigi; Kellner, Douglas M. (reds.), Media and Culture Studies. Keyworks. Malden: Blackwell, 163-173.

Hall, Stuart. 2006b. “The Origins of Cultural Studies.”  www.mediaed.org. Media Education Foundation. https://www.mediaed.org/transcripts/Stuart-Hall-the-Origins-of-Cultural-Studies-Transcript.pdf.

Hall, Stuart. 2013 [1989]. The Origins of Cultural Studies. Vimeo.

Hall, Stuart, Connell, Kieran. 2017. “Cultural Studies 50 years on.” Youtube.com.

Macey, David. 2000. The Penguin Dictionary of Critical Theory. Londen: Penguin Books.

Hay, Martin. 1973. The Dialectical Imagination: A History of the Frankfurt School and the Institute of Social Research, 1923-1950. Boston: Little, Brown.

John, Philip. 2010. André Groenewald, populêre letterkunde en die Afrikaanse literatuurgeskiedenis. LitNet Akademies, 7(3):35-46.

Merriam-Webster. 2021. “What is the metaverse?” Merriam-Webster.com. https://www.merriam-webster.com/words-at-play/meaning-of-metaverse.

Presidency, The. 1999. “Act No. 4 of 1999: Broadcasting Act, 1999”. Government Gazette, Vol. 407 No 20042, 7 May.

Rothman, Joshua. 2014. The Meaning of ‘Culture’. The New Yorker. Desember 26.

Sassoon, Anne Showstack. 1983. “Hegemony.” Tom Bottomore (red.). A Dictionary of Marxist Thought. Oxford: Basil Blackwell, bls. 201-203.

Storey, John. 2006. Cultural Theory and Popular Culture. A Reader. Londen: Pearson Longman.

Storey, John. 2009. Cultural Theory and Popular Culture. An Introduction. Londen: Pearson Longman.

Thompson, E. P.  1964. The Making of the English Working Class. New York: Vintage Books.

Tomaselli, Keyan G. 1998. Recovering praxis: cultural studies in Africa: The unnaming continues (Reply to Wright, 1998 and McNeil, 1998. European Journal of Cultural Studies 1(3): 387-402. https://doi-org.uplib.idm.oclc.org/10.1177/136754949800100305.

Williams, Raymond. 1961. The Long Revolution. Londen: Chatto & Windus.

Williams, Raymond. 1977. Marxism and Literature. Oxford: Oxford University Press.

Williams, Raymond. 1980. Problems in Materialism and Culture. Londen: Verso.

Williams, Raymond. 1985 [1976]. Keywords: A Vocabulary of Culture and Society. Revised edition. New York: Oxford University Press.

Woordeboek van die Afrikaanse Taal. https://www.woordeboek.co.za.

Wright, Handel K. 1998. “Dare we de-centre Birmingham?: Troubling the ‘origin’ and trajectories of cultural studies.” European Journal of Cultural Studies 1(1):33-56. https://doi-org.uplib.idm.oclc.org/10.1177/136754949800100103.