Die perifrase (Gr.: periphrasis (circumlocutio): omskrywing) is ‘n stylfiguur waarin ‘n omskrywing (baie woorde) i.p.v. ‘n enkele woord/woorde gebruik word. Dit is ‘n omslagtige, indirekte manier van praat/skryf, bv. “die bliksemdraende voël van Jupiter” i.p.v. ‘n adelaar; “die vader van gode en mense” i.p.v. Zeus.
Quintilianus het twee soorte onderskei: die eufemistiese soort: die tydelike met die ewige verwissel i.p.v. doodgaan; en die beskrywende soort: wandelende sterre i.p.v. planete.
Die perifrase is dikwels die gevolg van lui, slordige dink, maar waar dit met die nodige selfbeheersing en met die juiste oogmerk gebruik word, kan dit ‘n effektiewe retoriese middel word: dit kan dien tot “elevation of thought” of dit kan ‘n bepaalde gedagte versterk.
Die sesde afdeling in T.T. Cloete se digbundel Idiolek (1986) is getitel “perifrase” en bevat nege tekste waarin die digter op kreatiewe wyse “omskrywings” maak van ‘n aantal brontekste. By voorbeeld die Bybelteks Job 26:14 wat só lui:
Dit is maar die begin van sy dade,
ons hoor net die gefluister
van sy woorde.
Maar die volle krag van sy dade,
wie kan dit verstaan?
word op “onpresiese” wyse met “tekenende besonderhede” (HAT) ter “elevation of thought” (Preminger (1975: 609) in Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics) soos volg geperifraseer:
daar word sonder lense neergekyk
op ons wit paddastoelkoepels
in die skoon lug van die kaal woestyne
waarmee ons af loer
af in die leegte fyn
en diep en soek
ver vurig donker en klein
na wat Hy fluisterend doen.
Die onoordeelkundige gebruik van hierdie stylfiguur kan egter lei, nie tot verhewenheid van styl nie, maar tot bombasme, geswollenheid en lompe vertonerigheid. Dit word dikwels gebruik t.w.v. die HUMORISTIESE en KOMIESE effek.
Dié stylfiguur is nou verwant aan die eufemisme (“die ontslapene sal vanmiddag 15:00 ter aarde bestel word”) en ook aan die IRONIE.
Bibliografie
Braak, I. 1964/1980. Poetik in Stichworten. Kiel: Hirt.
Cloete, T.T. 1986. Idiolek. Kaapstad: Tafelberg.
Réna Pretorius